Geskryf deur THEUNIS

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

VOLKOME OORGAWE!

Bruce Larson vertel hierdie verhaal hoe hy mense gehelp het om aan God oor te gee.

Hy het in New York ’n kantoor gehad waar hy mense beraad en gehelp het. Somtyds het daar mense gekom wat ’n stryd het met die ja-nee-besluit. Bruce het dan voorgestel dat hulle saam met hom stap na ’n sekere gebou. By die ingang van hierdie gebou was daar die standbeeld van Atlas ,die man wat die mooiste en beste gebou was met al die nodige krag en met die wêreld op sy skouers. Atlas kan skaars regop kom met die wêreld op hom. Die wêreld is ’n las op hierdie sterk man se skouers. Nou – dit is een manier om te lewe met die wêreld op jou skouers.

Oorkant die straat was daar ’n katedraal en binne was daar ’n standbeeld van die Here Jesus as kind – so om en by agt- of nege jaar oud – en hy het die wêreld sonder moeite en las in sy hand gehou.                                   UIT:-BELIEVE AND BELONG

Vriende – ons het elke dag ’n keuse! Ons dra die wêreld op ons skouers as ’n las of ons gee totaal oor aan die Here. Jy kan dit vir Hom sê:- “Here ek gee MY wêreld aan U , my hele wêreld!”

Waarom bekommerd wees oor al die dinge wat rondom jou gebeur terwyl God verlang dat ons in Hom moet rus? Alles is in Sy hande! Hy beheer dit, al verstaan ons nie altyd waarom sekere dinge op sekere maniere gebeur nie. Wil jy nie rus in die Here nie?

MATT 6:25  Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?

:26  Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

:27  Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?

:28  En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie;

:29  en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.

:30  As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?

:31  Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?

:32  Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.

:33  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

:34  Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.

GEBED

Vader, baie dankie dat ek alles aan U kan gee – MY hele wêreld en dat ek kan weet U hou my, met my wêreld, in U hand. AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00