KROONDIAMANT

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

KROONDIAMANT

 

KROONGEHALTE DIAMANTE Lees 1 Petrus 5: 6 – 10 Ou Vertaling “En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!” (10). Dr. H. A. Ironside skryf oor ’n diamant wat in ’n myn in Suid-Afrika gevind is en wat nou ’n kroondiamant is. Ek sou graag wou hê dat dit die “Ster van Suid-Afrika” is waaroor hy skryf, want die geskiedkundige verhaal van die “Ster van Suid-Afrika” is self so mooi, dat ek dit graag met die diamant in hierdie storie, sou wou verbind. Die diamant waaroor dr. Ironside skryf, kom egter uit ’n myn, terwyl die “Ster van Suid-Afrika”, ’n diamant van 83½ karaat, d.w.s. bietjie meer as ’n ½-ons in gewig (140 karaat = 1 ons) in 1869 op die plaas Sandfontein, in Hopetown distrik, naby die Oranjerivier deur ’n Griekwa-skaapwagtertjie opgetel is. Die optrede van Schalk van Niekerk, die boer aan wie die skaapwagtertjie die groot diamant gaan gee het, was egter so mooi dat dit, dink ek, pas by die kroondiamant se storie. Schalk het die klip dadelik as ’n diamant herken. Die diamant was natuurlik nog dof en ongeslyp, maar dit het anders as die ander klippe gelyk. Hy kon die skaapwagtertjie twee of drie skape gegee het, en hy sou dood gelukkig gewees het oor die groot beloning wat hy kry. Schalk van Niekerk het egter sy kraal leeg gemaak en vir hom 500 skape, 10 beeste en ’n perd gegee. Self het hy die diamant later vir elf duisend pond verkoop. Die “Ster van Suid-Afrika”, soos die Griekwatjie hom opgetel en vir Schalk gegee het, was wel reeds baie kosbaar, maar nog nie kroongehalte nie. Dr. Ironside sê dat die diamant wat kroon toe gegaan het, eers vrygemaak moes word van die dowwe dopsteen wat van nature om ’n diamant is. Die diamant kom nie skitterende uit die grond nie. Die dowwe omhulsel moet eers afgekap of weggeslyp word voor dit die glansende, skitterende juweel is wat ons in verloofringe, borsspelde en krone ken. Die diamant wat kroon toe sou gaan, is weke lank deur die steensnyer, dr. Ironside noem hom die “lapidary”, bestudeer, totdat hy al die nate van die steen geken het. Toe sit hy dit in sy kapinstrument en gee dit een hou. Die dofsteen het afgespring en die skitterende diamant het tevoorskyn gekom. Na dit nog geslyp en gepoleer is, is dit in die kroon gemonteer.

 

Die bekeerde mens is reeds vir God ’n kosbare juweel, ’n kosbare diamant. Die mens se sondige natuur, soos die diamant se natuurlike dofrots, is om ’n mens se kosbare siel gevou. Dit is hierdie sondige aard, die menslike dofrots, wat die Christen van sy glans beroof. Die Here Jesus is die steensnyer, die “lapidary”, wat elke naat van ons natuur ken. Hy weet hoe Hy die hou, deur sy Woord, of ’n versoeking wat op ons pad kom, of ’n beproewing wat ons tref, dit wat reg sal meewerk om die glinsterende diamant te voorskyn te bring, moet gebruik om ons kroongehalte diamante te maak.

 

GEBED

 

“Here, vandag vra ek dat U, deur u Gees se werking in my hart deur u Woord en die bestuur van my omstandighede, om my te toets, van my ’n kroongehalte diamant vir U sal maak.” Amen                                               OORSPRONG ONBEKEND

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00