JY WORD AGTERVOLG!

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

JY WORD AGTERVOLG!

 

Die klein seuntjie het angstig gewag dat die week  moet verby gaan sodat hy na sy vriend se verjaardag kon gaan. Hy het so uitgesien na die partytjie. Ja, en sy maatjie het maar net twee blokke van hom gewoon.

 

Dit is Saterdag en hy kan nie wag vir die uur dat hy partytjie toe moet gaan nie. ’n Paar minute voordat hy moet loop is daar ’n hewige sneeustorm. Die wind waai en die sneeu val sommer in sulke dik vlae. Die paaie word gesluit en niemand kan eers ry nie. Die seuntjie se pa het gehuiwer om sy kind te laat gaan na die partytjie maar die seuntjie het gepleit want al die ander maatjies sal daar wees en dan is hy nie daar nie. Pa het weer gedink en toe vir hom toestemming gegee om te gaan.

 

Die seuntjie was verbaas maar die vreugde het hom oorweldig en dadelik het hy sy warmste jas aangetrek en sy hoed op gesit en in die sneeustorm in gestap. Die wind het sterk gewaai en die sneeu, wat in sy gesig waai, het bykans gemaak dat hy nie die pad sien nie. Die kort entjie, twee blokke, het hom ’n uur geneem om te loop. Hy het die klokkie gelui en so vinnig terug gekyk en ’n donker skaduwee gesien in die sneeu wat omdraai. Dit was sy pa, wat hom gevolg het en seker gemaak het dat hy veilig by die partytjie aankom.

 

In hierdie storie is daar talle wonderlike aspekte wat ons kan leer. Ek wil net twee met u deel. Lees die stukkie weer en weer deur asseblief?

 

 Die Here is altyd daar by jou! Dit maak nie saak waar jy gaan nie. Stap jy die kerk in, of die hofsaal, na die partytjie of die werk, waar ookal, Hy is daar saam met jou. Hy sal jou nooit verlaat nie en Hy is besorg oor jou veiligheid. Daar waar jy is, sal Hy ook graag daar wil wees? Sal jy skaam kry as Hy Hom visueel in die plek waar jy jou bevind aan jou toon? Hy agtervolg jou!

 

PS. 139:7  Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?

 

PS. 139:8  Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!

 

PS. 139:9  Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon,

 

PS. 139:10  ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.

 

Die tweede wat ek met jou wil deel is oor die kinders. Is jy regtig lief vir jou kind? Ek vra nie wat jy vir hulle koop en gee en mee bederf nie! Gee jy jou tyd vir hulle? Luister jy na hulle? Praat jy met hulle? Deel jy in hulle vreugde en trane? Ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor ons kinders!

 

MATT. 19:14  Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.

 

GEBED

 

Here, dankie dat ek altyd bewus kan wees van U teenwoordigheid. Dit maak nie saak in watter omstandighede ek is nie, ek kan U vertrou vir U teenwoordigheid. Here, dan wil ek ook my kinders begelei in U weë en daarom vra ek U hulp en leiding in elke saak. AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00