HOE OM STILTETYD TE HOU!
1 SAMUEL 2:30 Maar nou spreek die HERE: Dit is ver van My; want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.
Daar is drie belangrike aspekte wat jy moet doen:-
1. VIND ‘n PLEK. Jy benodig ‘n plek met goeie beligting en tafel waar jy kan sit en notas skryf.
2. BESLUIT OP ‘N TYD. Die meeste mense hou dit vroeg in die more. Soos die
musikant sy instrument voor die konsert instem so moet jy met God, aan die
begin van die dag, Sy stem hoor. MARKUS 1:35 En vroeg in die môre, nog
diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ‘n eensame plek vertrek en
daar gebid.
3. HANDEL MET ‘n PLAN. Jy kan begin met gebed om die Here te vra om jou te lei. Dan kan jy die Woord van die Here lees. Moenie deur die Woord jaag nie – vat jou tyd en bedink die Woord. Dit gebeur dan dat ‘n sekere vers vir jou baie sal beteken en vir jou sal uitstaan. Skryf dit neer en leer dit.
Jy kan dan weer in gebed gaan en die Here aanbid, dan jou sonde bely, dank Hom vir jou seëninge, bid vir sekere sake of vir persone en dan kan jy Hom vra vir leiding deur die dag en Hom weer aanbid!
Die vraag wat in baie mense se gemoed is:- Hoe lank moet my stiltetyd wees? Wel, dit verskil van persoon tot persoon. Die belangrikste is dat jy kontak maak met die God van die hemel en die aarde. WEET dat die Here het met jou gespreek! Jou stiltetyd moet – net ‘n riglyn – nie korter as ‘n halfuur wees nie.
Bly by jou plek, tyd en plan. Indien jy toelaat dat iets jou stiltetyd steur, dan sal jy baie gou geen stiltetyd besit nie. MATT. 6:33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Dus wat is die sleutel tot sukses vir die kind van God:- “want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees. “
GEBED
Dankie Here, dat ek tyd met U kan spandeer en U kan aanbid! AMEN