GROND MAAK MOOI!

’n Klein dogterjie het eendag in die tuin geloop en na al die pragtige blomme gekyk. Sy het toe een van die mooiste blomme in die tuin gesien en dit begin bewonder. “Dit is so mooi!” het sy verklaar aan die wêreld. Sy het die blom bewonder en toe so met die stingel af gekyk en gesien dat die blom staan in die lelikste grond. “ Hierdie blom is te mooi om in sulke lelike grond te staan en groei!” Sy het die hele blomplant uitgetrek en al die grond aan die wortels by die kraan afgespoel. Natuurlik was dit nie lank nie en die blom het verwelk en dood gegaan.

Die tuinier was glad nie beindruk met dit wat die dogterjie gedoen het nie.  “ Kyk wat het jy gedoen! Jy het die mooiste blom in die tuin vernietig!” “ Ek is so jammer, maar ek het nie daarvan gehou dat dit in die grond staan nie!” Die tuinier het geantword:- “ Ek het daardie gedeelte van die tuin uitgekies en dit met die beste bemesting gemeng sodat die blom kan groei na sy potensiaal!”

Hoe baie murmureer mense nie oor die omstandighede waarin God hulle – baie versigtig – geplaas het nie? Mense sien en besef nie, dat God die druk waarin hulle is, die moeilike omstandighede en die stryd gebruik om hulle tot die mooiste geestelike lewe te begelei nie.  God is besig met ’n plan! Hy wil elkeen tot ’n hoër geestelike graad laat groei.

Vergenoegdheid kom wanneer ons aanvaar, dit waarmee God besig is en Hom daarvoor dank.

Daarom – wat ookal die week oor jou pad kom – sien dit raak dat God jou geestelik wil laat groei asook dat God jou wil gebruik om te blom tot ’n lieflike geur vir Hom.

2 KOR. 2:14  Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei.

2 KOR. 2:15  Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan;

2 KOR. 2:16  vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam?

GEBED

Here, baie dankie vir die plek waar U my geplaas het en wil gebruik. Gee dat ek U sal behaag in alles wat ek doen of sê? AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00