DIE GEWONDE SOLDAAT.
Paul Stanley was ’n bevelvoerder van ’n infanterie kompanie in Vietnam. Hy het talle soldate gesien wat hulself oorgegee het. Sommige se koppe het gehang en hulle gesigsuitdrukkings het van totale oorgawe getuig. Daar was ook die wat regop gestaan het – trots – en die vyand in die oë gekyk het , in gedagte – verstand – het hulle nie oorgegee nie alhoewel hulle dit fisies gedoen het.
By geleentheid het hy ’n groep soldate gesien wat rondom ’n gewonde Vietnam soldaat staan. Hierdie soldaat was in die onder gedeelte van sy been geskiet en indien die soldate wil nader kom gooi hy hulle met modder en skop met die gesonde been. Dit is toe hy nader staan dat die soldate hom vra wat om te doen want die gewonde verloor baie bloed. Die gewonde soldaat was ’n jong seun van 16-17 jaar oud. Paul het sy wapens afgehaal en sy handgrenate op die grond gesit en toe kalm met die seun gepraat en nader gestaan. Die gewonde het met vrees na hom gekyk terwyl hy by die soldaat kniel en sy arms versigtig onder hom insteek en hom optel. Terwyl hy met die seun na die helikopter stap het die seun begin huil en al hoe stywer aan Paul vasgehou. Hulle het in die helikopter geklim en soos wat hulle vlieg het die seun hom vasgehou. Nadat hulle geland het , het hy die seun na die mediese tent gedra en dit is toe dat hy voel dat die seun ontspan en sy greep verslap. Sy oë het sag geword , sy vrees het verdwyn en daar was nie meer weerstand gewees nie – hy het totaal oorgegee.
Is dit nie hoe ons as mens ook is nie? Eers sien ons God as ons vyand en ons veg Hom met alles wat ons het! Ons is besig om ons eie gebied te beskerm asook die reg van ons eie lewens. Dit is eers wanneer ons gewond op die grond van die lewe lê dat ons besef dat ons God nie kan oorweldig nie asook dat die God aan wie ons oorgee is nie ons vyand nie. Hy is die een wat vir jou omgee , jou dra , jou gesond wil maak , ja, jou totaal red uit jou benarde toestand. Die dag en week is voor jou – wat hou dit in? Dit maak nie saak nie – gee jy net totaal oor aan God en laat toe dat Hy jou begelei en dra.
ROMEINE 10:11 Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie
beskaam word nie.
ROMEINE 10:13 Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal
gered word.
GEBED
Here baie dankie dat ek hierdie nuwe dag en week aan U kan afgee! Dankie dat ek nie meer hoef te veg en te spartel nie maar myself aan U kan oorgee. Dankie dat U my verlos van die vrees vir die toekoms en dat ek in U kan rus. Vader word U verheerlik in EN deur my lewe? Amen.