DIT IS ’N LEUEN!
Jare gelede in die beroemde Louvre museum in Parys was daar ’n skildery met die titel “Skaakmat”. Dit het die Satan uitgebeeld wat smaalend oor sy skaak-opponent uittroon, omdat hy sy opponent se siel gewen het. Die opponent word uitgebeeld as ’n jong man, sy kop gebuig in vernedering – hy is verslaan en verslae. Sy gesig is vertrek van pyn – en die Satan lag oorwinnend. Daar is ’n paar van die skaak stukkies oor op die skaakbord en die woord “Skaakmat” staan oor die skildery geskryf.
’n Ouerige man stap eendag deur die Louvre en stop by die sataniese skaakspel. Hy het vir baie lank doodstil gestaan en die skildery bestudeer. Die volgende oomblik het die ou man lewe gekry en toe hard uitgeroep: “Dit is ’n leuen, dit is ’n leuen!”.
Die ander mense in die gallery het dadelik na die ou man toe gestorm en kom kyk wat aangaan. Die Kurator van die museum het ook gekom. Hy het dadelik vir die ou man gevra:- “Meneer is hier ’n probleem, kan ek help?” “Ek is die Franse skaakkampioen en ek sê vir jou hierdie skildery is ’n leuen.” Die man het na die skaakbord gewys en toe gesê:- “Die skilder sal die skildery moet verander of die titel van die skildery. Kyk die spel is nie oor nie, dit is ’n leuen, die spel is nie klaar nie. Kyk die koning het nog ’n skuif!”.
DIE KONING HET NOG ’N SKUIF!!!
Daniël was in die leeukuil –dit is ’n leuen – maar die Koning het nog ’n skuif!
Lasarus is in die graf – dood – dit is ’n leuen – maar die Koning het nog ’n skuif!
Die owerspelige vrou moet met klippe dood gegooi word – dit is ’n leuen – die Koning het nog ’n skuif!
Die rower aan die kruis moet sterf – dit is ’n leuen – vandag sal jy saam met My in die paradys wees. Die Koning het nog ’n skuif!
Mense skreeu oor die Lam van God – Kruisig Hom! Kruisig Hom- en later roep Hy uit :- My God, my God waarom het U my verlaat! Later sterf Hy en mense is verheug – dit is ’n leuen – Hy lewe! Hy lewe! Die graf is leeg – die Koning het nog ’n skuif!
Uit:-Nutrimalaika Dagboek
My vriend/in jy is in ‘n situasie waar jy dink daar is nie uitkoms nie! Jy dink God kan jou nie jou sonde verlos nie! Jy dink jy is in die kuil van smart en daarmee moet jy maar saam leef. Jy sien geen oplossing vir jou lewe en jy begin al die ergste beplan. Jy dink dit is die einde van jouself en jou lewe! DIT IS ‘n LEUEN!!!!!!!!! DIE KONING HET NOG ’N SKUIF!!!!
LUK. 24:6 “Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan.”
GEBED
Vader , die Satan wil my vernietig met sy leuens. Vader, ek vertrou op U en dankie dat U my sal help! MATT. 19:26 “Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.” Baie dankie dat ek NOU my vertroue in U kan plaas vir die onmoontlike in my lewe! AMEN