DIE REGTE NOOT!
Daar was ’n skaapherder wat in die berge gebly het. Hy het ’n viool gehad maar die viool het uit stem gegaan. Hy het alles gedoen wat hy kon om die viool weer ingestem te kry, maar kon dit net nie reg kry nie. Hy het vir ’n sekere radio stasie geskryf en vir hulle gevra of hulle nie op ’n sekere dag op ’n sekere tyd en minuut vir hom die noot sal speel sodat hy sy viool kan instem nie. Hierdie goeie mense het op daardie dag, op daardie tyd alles tot doodse stilte oor die radio gebring. Hulle het die noot vir hom ’n paar keer gespeel. Hy het in die berge in sy hut die noot oor die radio gehoor en so kon hy sy viool weer instem.
Vriende, dit is nou die tyd om die Here te aanbid. Om die Here te aanbid, beteken dat ons ingestem met Hom sal wees. Daar het so baie dinge hierdie week gebeur. So baie, dat jy baie mooi moet dink waaroor die predikant laas Sondag gepreek het. Sien jy hoe die duiwel die Woord kan steel? Daarom ons is weer oppad na Sondag om die Woord te hoor. Is jy ingestem met die Meester om Sy Woord te ontvang? Dit is by hierdie bepaalde tyd en uur en minuut geleenthede, dat ons die hart van God hoor sodat ons ingestem met Hom kan wees. Hy sal jou die regte noot gee wat jy moet gebruik om jou lewe in te stem.
EXODUS 23:21 Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie;
JOHANNES 10:27 My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
HEBR. 3:7 Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor,
HEBR. 3:8 verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie,
GEBED
Vader, ek stem myself in met U! Dankie dat U my help om voortdurend die regte noot te leef! AMEN