DIE MENSVRETER HASIES!
’n Berader by een van die kinderkampe het hierdie ondervinding van hom gedeel.
Die kinders was na die eerste dag van die kamp almal in die bed. Die oomblik toe hulle die ligte afskakel het een van die seuntjies, nege jaar oud , droewig begin huil. Hulle het vir hom gevra of hy bang is vir die donker. Sy antwoord was nee. Hulle het hom gevra of hy nog honger is – weereens nee. Wat dan? Dit is die mensvreter hasies waarvoor hy bang is. Mensvreter hasies? Ja, die ouer kinders by die huis het vir die outjie vertel dat in die nag kom die mensvreter hasies uit sodra die ligte af is om die kinders te kom eet. Die vrees vir die mensvreter hasies het hierdie seun beet gepak.
Jesus, toe Hy op aarde was, het vir die dissipels voortdurend geleer om nie te vrees nie. Vrees neem die geloof weg!
Indien ons Bybelstudie doen , dan neem ons waar dat reg deur die Bybel vind ons dat die mens voortdurend bewus gemaak moet word van God se teenwoordigheid. Kinders van God moet ook voortdurend herinner word aan God se teenwoordigheid en sodoende rustig word.
Pasop vir die mensvreter hasies van die geloof! Hierdie tipe gedagtes kan jou geloof vernietig in die lewe.
Vriend/in , wat is daar wat jou geloof in hierdie tyd aanval? Is jy nie besig om te vrees vir “mensvreter hasies” wat nie eers bestaan nie? Is dit nie nou die tyd om jou oë op die Here te fokus en Hom te glo en te vertrou met jou hele lewe nie? Jy weet wat die waarheid is!!! Vertrou die Here!!!
JOH. 6:20 Maar Hy sê vir hulle: Dit is Ek, moenie vrees nie. Dit is wat die Here vir jou sê vir hierdie dag en tyd waarin jy jou begeef!
LUKAS 12:32 Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.
GEBED
Vader, U ken my weg en my lewe! Vrees steel my geloof! Ek gee totaal oor aan U en vertrou U met my hele lewe! AMEN