SKRIFLESING: Nehemia 3:1-6
SKRIF VIR OORDENKING: Mat 4:19 En Hy (Jesus) sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.
TEMA: HERSTEL DIE POORTE: JOU GETUIENIS
INLEIDING
In Engeland het daar twee broers gewoon. Al het hulle in een huis grootgeword was die een “goed” en die ander “sleg”. Al die mense het geweet dat die verskil gelê het in hulle geloof in Jesus Christus: die een was ’n gelowige en die ander ’n ongelowige.
Een namiddag laat was die “goeie” broer op pad na een van sy vele kerklike verpligtings met die Bybel onder die arm.
Op die dieselfde oomblik het die slegte broer al slingerend en onder die invloed by die tuinhekkie ingestrompel. Toe hulle bymekaar kom staar die slegte broer sy goeie broer aan en vra met ’n sleeptong en dronkmanswysheid: “Glo jy wat in daardie Bybel staan?”
“Natuurlik” sê sy broer, “ek glo elke woord daarvan!”
“Glo jy as die Bybel sê dat ook slegtes gered kan word?” vra die slegte broer.
“Ja, Jesus is magtig om enigeen te red” antwoord sy broer.
“My liewe broer” sê die half besope broer met pyn in sy oë, “ek en jy woon nou reeds 22 jaar onder dieselfde dak en jy het dit nog nooit vir my gesê nie. As ek sulke goeie nuus gehad het en ’n slegte broer soos ek gehad het, sou ek op my knieë op stukkende bottelstukke oor die breedte van Engeland gekruip het om dit vir hom te gaan sê. En jy het dit nog nooit vir my gesê nie!”
Wat ’n aanklag! Moet ons enigsins vêrder gaan?
(Mat 10:32, 33) “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.”
DIE VISPOORT: BOODSKAP VAN VREDE.
Christus se uiteindelike doel is om vrede vir ons sondige mensdom te verkry, en die verkondiging van die boodskap van vrede is reeds besig om dwarsdeur die wêreld te versprei.
Jes. 52:7 “Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!”
Rom 10:15 “En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!”
Efese 6:15 “en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.”
Ons moet in ons getuienis nie huiwer of in ons hart die waarheid verberg wat aan ons toevertrou is nie, aangesien daardeur smaad en lyding oor ons gebring kan word. (FB Meyer)
Daar is niks wat vir ons eie erns en toewyding so bevorderlik sal wees as ons gedurige getuienis vir Christus nie. Die bevordering van die koninkryk van God word nie soseer bepaal deur merkwaardige veldtogte en preke nie, as deurdat ons elkeen vir ons naaste sou sê: “Ken die Here!” “Maak reg met die Here”.
BEGIN BY JOU NAASTE FAMILIE.
Andreas se getuienis en belydenis het Petrus na Jesus gebring (Joh.1:40-43(a).
Die seën wat ook al tot die Kerk en die wêreld gekom het deur die bediening, getuienis en belydenis van Petrus, moet deels toegeskryf word aan sy broer Andreas.
BELY CHRISTUS AAN JOU NAASTE VRIENDE.
Ons lees ook in Joh.1: 46 hoe Filippus vir Natanael vertel het van Jesus.
Ons vriende verwag dat ons hulle sal toelaat om ons innerlike gedagtes en ondervindinge te deel. Soms kan ons net ons eenvoudige belydenis bring: “Ons het Hom (Christus) gevind.”
Terwyl ons diegene wat ons liefhet, na Christus lei, sal ons ondervind hoe Jesus ons altyd simpatiek en gewillig ondersteun met Sy magshulp en ons aan te vul.
ONS PERSOONLIKE GETUIENIS IS ONSKATBAAR.
(Joh. 4:28, 29) “Die vrou het toe haar waterkan laat staan en na die stad gegaan en vir die mense gesê: Kom kyk ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”
Die Samaritaanse vrou het ’n hele stad aan die voete van Jesus gebring met haar belydenis. Baie Samaritane het in Jesus geglo deur die woord van die vrou wat sy getuig het. Dit was die aanvang van ’n groot herlewing vir die stad Sigar.
Dit was DL Moody se gewoonte om elke dag met iemand oor Jesus te praat. FB Meyer skryf dat in sy bediening hy dieselfde toegepas het en dit was die mees vrugbaarste tye van sy bediening.
DEUR TE GETUIG BEHAAL ONS OORWINNING.
(Open 12:11) “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.”
As ons nie getuig nie sal die siele vyand aanhoudend oorwinning oor ons behaal
Hoe lyk dit met u, my broeder? Wat verhinder u getuienis? Sonde in u lewe.
Dan word die volgende waar: “Some Christians are like arctic rivers – frozen at the mouth”.
(Jes. 1:18) “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.”
Kom vandag en herstel ook hierdie poort, herstel die balke en grendels van hierdie belangrike poort.
Wanneer ons deur die Vispoort gegaan het en getuig wat Christus vir ons gedoen het en kan doen vir ander, ondervind ons dat hierdie nuwe geloof in Christus word getoets en dit raak moeiliker; dan is dit tyd om deur die Ou Poort te gaan, om die waarhede van ouds te leer.
(Deut 32:7) “Dink aan die dae van die ou tyd, let op die jare, van geslag tot geslag; vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak; die ou mense, dat hulle jou dit sê.”
DIE OU POORT.
Nadat ons deur die Skaappoort van redding, deur die Vispoort van getuienis gegaan het, moet ons deur die Ou Poort van die kennis van God’s Woord gaan.
(Neh. 3:6) “En die Ou Poort het Jójada, die seun van Paséag, en Mesúllam, die seun van Besódja, herstel; hulle het dit met balke uitgelê en sy deure en sy sluitbalke en sy grendels ingesit.”
Die woord “OU” verwys na iets wat verbygegaan het, maar dit spreek ook van iets solied, en onveranderlik soos ’n fondament.
Jójada beteken “Die Here weet” of “kennis van die Here”
Wanneer ons begin getuig (Vispoort) nadat ons by die Skaappoort was, ons redding, kom ons gou agter dat ons by die fondament moet bly.
Die kennis van die Woord van God. Jer. 6:16(a) “So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.”
Vandag, meer as ooit tevore word die beginsels, die waarhede waarop die Kerk van Jesus “gebou” is, uitgegooi en as verouderd beskou. Nuwe idees, nuwe metodes moet gevind en geïmplementeer word. Wanneer ons hierdie Bybelse waarhede en beginsels soos redding, heiligmaking, heilige lewenswandel, ens. uitgooi/verwerp sal ons vind dat die mure verbrokkel en die poorte verbreek word en die vyand wat buite moet wees het toegang tot ons siele.
Joh. 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
(2Ko 4:2) Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan.
(2Ti 2:15) Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.
Maar dit verwys ook na die ou-mens wat moet sterf.
Wanneer ek by die Vispoort deurgaan wag die Oupoort waar ek die ou-mens, die “eie ek” sal moet afsterf. Ek kan nie getuig as die “eie-ek” nog in die pad is nie.
Jesus herstel nie die “ou-mens” nie, Nee ek word verander.
Rom 7:24, 25 “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!”
(2Ko 5:17) “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
Deur die werking van die Heilige Gees word hierdie neiging van die ou mens om te sondig dood gemaak en daardeur word ons afgesonder van sonde en beklee met ’n geheiligde karakter, aanneemlik om aan God te behoort.
(Gal 5:16) “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”
Die Ou Poort is ’n belangrike poort in die lewe van ’n kind van God want daarsonder kan ons nie wandel volgens en in die wil van God nie.
Die Ou Poort verwys ook na gemeenskap. Jer.6:16
Laastens, as ons kyk na die bouers: Die Skaappoort is gebou deur die Priesters, die Vispoort deur broers, maar die Ou Poort is herstel deur twee nie-verwante mense. Hieruit leer ons ook dat ek nie alles alleen kan doen nie. Ek moet leer om deel van die liggaam te word.
(Heb 3:13) “Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.”
Heb 10:25 “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”
Onthou, Christus is met ons in alles en daarom wanneer die pad of die taak moeilik lyk of word dan is ook die liggaam van Christus daar om ons te ondersteun.
Gal 6:2 “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.”
1Kor 12:24(b) “maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, (25) sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. (26) En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”
Reik uit na u mede-broeders en susters in Christus en die pad vorentoe, die stryd om die Evangelie uit te dra lyk dan nie meer so moeilik en onoorkombaar nie.