SKRIFLESING: Nehemia 1:1-11
SKRIF VIR OORDENKING: (Neh. 1:3) “En hulle het vir my gesê: Die oorgeblewenes wat vrygekom het uit die gevangenskap daar in die provinsie, verkeer in groot ellende en in smaad, en die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur verbrand.”
TEMA: HERSTEL DIE POORTE
INLEIDING
Die geestelike mure is vervalle, die geestelike poorte is afgebrand, vandag meer as ooit tevore, wie sal reageer, wie sal opstaan en sê “hier is ek, stuur my.”
In Nehemia 3 beskryf die Woord van God vir ons waar die herstelwerk begin het. Die herstelwerk het begin by die Skaappoort, daarna die Vispoort, die Ou Poort, die Dalpoort, die Aspoort, die Fonteinpoort, Waterpoort, die Perdepoort, die Oospoort, daarna die Wagpoort en die beskrywing eindig weer by die Skaappoort.
’n Spesifieke volgorde en as ons geestelik daarna kyk dan sien ons die groei van die kind van God daarin.
Die woord bou in hoofstuk 3 verwys om te herstel, Hebr. Baw-naw betekenis: “to rebuild”.
Dit beteken dat geen nuwe materiaal benodig was nie. Al die materiaal was daar behalwe die houtwerk wat Nehemia vanaf die koning ontvang het.
Waarom moet ons vandag soveel nuwe metodes “invoer” om mense by die kruis te kry, om mense te trek om by God uit te kom. Die regte metode is daar, ons moet dit net raaksien, die Ou Ou Evangelie, “Bring my die Ou-ou tyding” is die lied wat ons so dikwels sing.
Rom 1:16 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”
Die woord “herstel” word 35 keer gebruik in hoofstuk 3 en een keer in hoofstuk 4.
Dit beteken om te versterk, om sterk te maak. Nehemia was nie bereid om ’n kits metode, goedkoop metodes te vind om die muur gou te herstel nie. Nee, hy het die muur versterk en sterker gemaak. Daar is nie iets soos kits-bekerings, goedkoop bekerings nie. Dit kos ’n prys en as u nie bereid is om die prys te betaal nie, moet ons maar hier stop en nie vêrder gaan nie. Dan moet ons maar iemand kry wat u in die gehoor sal streel.
Luk 14:28 “Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie?”
2Ti 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,”
As ons ’n studie maak van die name van die mense wat die poorte herstel en die mure opgebou het dan sien ons dat elkeen vir ’n spesifieke deel verantwoordelik was en die betekenis van die naam wys dit vir ons uit.
Byvoorbeeld: Eljasib – God herstel; Sénaä – Skerp rots; Sakkur – verstandelik; Jojada (Ou Poort) Kennis van die Here/die Here weet. Dalpoort – Hanun – genadevol/begunstigde; Malkia (Aspoort) – My God is die Here; Semaja (Oospoort) gehoor deur die Here.
Vriende, elkeen van ons het ’n spesifieke doel waarom die Here ons red en roep. Ons moet gehoorsaam wees om daardie gedeelte te herstel wat verwoes lê.
Waarom is die mure vervalle en die poorte verbrand?
“Die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur verbrand.”
Ons lees “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.” Ps.34:8
Ps 125:2 “Rondom Jerusalem is berge; so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid.”
Ps 34:10 “Vrees die HERE, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie.”
Die vrees vir die Here was nie meer daar nie, en daarom het die mure verval, is die poorte verbrand.
Eseg. 11:9, 12 “En Ek sal julle daar uitbring en julle oorgee in die hand van vreemdes en strafgerigte onder julle oefen. (12) En julle sal weet dat Ek die HERE is, omdat julle nie in my insettinge gewandel en my verordeninge nie gehou het nie, maar gehandel het volgens verordeninge van die nasies wat rondom julle is.
Dan lees ons hierdie verskriklike woorde in Esegiël 11:23 “En die heerlikheid van die HERE het opgestyg uit die stad uit weg en het gaan staan op die berg wat oos van die stad lê.”
Kom ons begin by die Skaappoort.
(Neh 3:1) “En Éljasib, die hoëpriester, het hom klaargemaak met sy broers, die priesters, en hulle het die Skaapspoort gebou;”
Eljasib – God herstel.
Die Skaappoort was naby die tempel geleë. Daardeur was die diere vir die offer doeleindes gebring na die priesters.
Die enigste poort wat nie sluitbalke en grendels het nie. Ons kan enige tyd na Jesus toe kom.
Die Skaappoort herinner ons dan ook aan Jesus, ons Verlosser.
Joh. 10:11 “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”
Joh. 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Jesus is vir ons die ware Skaappoort waardeur ons moet gaan om gered te word. Geen ander naam is gegee in die hemel of op of onder die aarde waardeur iemand gered kan word nie, behalwe Jesus Christus die Seun van God.
Ons as sondaars het soos skape verstrooid, elkeen ons eie pad geloop.
Jes. 53:6 “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”
1Pe 2:25 “Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.”
Jesus het self ook gesê “(Joh. 3:3) “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
(Hand 16:31) “Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
As u vandag nie hierdie sekerheid het dat u wedergebore is nie, wil ek vir u sê met die outoriteit van die Woord van God, nie u lidmaatskap, goeie werke, mooi gedrag ens. sal vir u ’n plek in die koninkryk van God verseker nie, maar wel ’n plek in die ewige verdoemenis. Wat is u keuse vandag?
Dit was dan ook gepas dat die priesters hier begin het met die herstelwerk. As u gered is deur die genade van God, gewas deur die Kosbare Bloed van Jesus, dan is u priester.
1Pe 2:9 “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,”
Openb.1:5, 6 “en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.”
Broeder, waarmee is u besig terwyl die mure en die poorte verwoes lê?
U ontvang die boodskappe daagliks, op die nuusberigte, lewens van mense rondom u, koerante ens. wat gaan u doen?
Nehemia het genoeg omgegee om te vra.
Neh. 1:2(b) “en ek het hulle gevra na die Jode, die vrygeraaktes wat oorgebly het uit die gevangenskap, en na Jerusalem.”
Sommige mense verkies om nie te weet wat aangaan nie, want kennis mag dalk verantwoordelikheid bring. “Wat ek nie weet nie kan nie seer maak nie” is mos die gesegde.
Was u al eerlik met uself gewees, hoe gaan dit geestelik vanaand? Weet u vandag verseker dat Jesus u siel gered het uit genade? Is u hart gereinig en vervul met die Heilige Gees, lewe u heilige lewenswandel? Of is daar geheime sonde, gewoontes wat u weet nie voor God stand kan hou nie in u lewe? O my vriend, moenie langer uitstel nie, vra vanaand God uit na u lewe, na die muur en die poorte van u geestelike lewe.
Nehemia het genoeg omgegee om te ween.
(Neh. 1:4) “En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel”
Wanneer God ’n las op u hart plaas, moenie daarvan probeer weghardloop of vlug nie, want as jy dit doen, weet verseker dat jy die seëninge wat God vir jou in gedagte het, sal mis.
Ween voor God oor u toestand vanaand, ween oor die toestand van u volk en land want die mure en poorte is verwaarloos.
Die boek van Nehemia begin met groot hartseer, verdriet en ook verdrukking maar net voor die einde is daar blydskap en vreugde.
Ps 30:6(b) “saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig.”
’n Kommentaar skrywer stel dit so: “ons trane is die besproeiing vir die sade van voorsiening wat God op ons pad geplant het, en sonder daardie trane sal daardie sade nooit ontkiem en vrug dra nie.”
My broer, om voor God te ween vir die toestand van u siel, vir ander siele, vir u kinders en familie se siele, vir die land is nie ’n skande nie, dit is nie ’n teken van swakheid nie. Jeremia het geween Jer.9:1; Paulus Hand.20:19 en ons Here Jesus Christus. Nehemia het die erns besef en geweet iemand moet iets doen.
Nehemia het genoeg omgegee sodat hy gebid het.
Neh. 1:4(b) “en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel”
Nehemia het sy gebed begin deur God te loof, maar die grootste gedeelte van sy gebed het gegaan oor sonde en sonde-belydenis.
Dieselfde God wat die oordeel uitspreek as ons nie in die vrese van God en volgens Sy insettinge wandel nie, is ook die God wat vergifnis belowe as ons na Hom toe terugkeer, as ons tot Hom met ons hele hart en lewe bekeer.
Nehemia begin deur sonde te bely.
(Neh. 1:6) laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag, vir die kinders van Israel, u knegte, terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig.
Dit is opmerksaam dat Nehemia homself nie vrywaar en na die kinders van Israel verwys nie, nee, hy gebruik die woord “ons”. Hy sluit hom daarmee in as deel van ’n volk wat gesondig het. Hy bely ook spesifiek waar hulle oortree het.
Nehemia herinner God aan Sy beloftes.
Vanaf Neh.1:8-10 herinner Nehemia God aan Sy beloftes sou die volk hulle bekeer en terugkeer tot God.
U en ek moet in hierdie tyd voor God buig en Sy Woord neem en ons eie maak en God aan Sy beloftes herinner. Jes. 62:6, 7 “o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!
2Kor 1:20 “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.”