TEMA:HERE, LEER ONS BID!

SKRIFLESING: Luk 11:1 en Matt. 6:5-13

TEKS VAN OORDENKING: Luk 11:1

Die dissipels het Jesus hoor preek, maar het nie uitgeroep, leer ons preek nie, maar “leer ons bid”. Daar is iets dieper wat geleer moet word en dít kan nie geleer word deur na iemand te luister wat bid nie.

Die uitroep van die dissipels dui ook op ‘n biddeloosheid wat geheers het; en tereg kan ons ook in die dag uitroep, daar is ‘n biddeloosheid tussen die kinders van God, in ons gemeentes heers daar ‘n biddeloosheid, in ons land is daar nie meer ‘n ernstige soeke na God in gebed nie, daar is ‘n biddeloosheid in ons midde. Kyk maar na die omstandighede rondom ons, oral oor.

Ons hoor nie meer van “half-nagte” en “deur-nagte” van gebed nie. Daar is nie meer ‘n behoefte na so ‘n byeenkoms nie.

Mense skram weg van die saak oor gebed; net soos daar weggeskram word van die boodskappe oor Heiligmaking en ‘n lewe van Heiligheid. Gebed gaan hand-aan-hand met ‘n lewe van Heiligheid. As ek nie daardie toegewyde lewe van Heiligheid en Reinheid nastreef en uitleef, kan ek nie daardie kragtige gebedslewe ervaar wat God vir my in gedagte het nie. Ek laat dinge toe in my lewe wat my onverskillig maak teenoor die Woord van God, teenoor my stiltetye, teenoor my getuienis. Ek bestudeer die Woord van God nie meer ywerig en met oorgawe nie.

Ek verwaarloos my stiltetye, die byeenkomste van die Heiliges, terwyl die Here vir ons opdrag gee in Sy Woord: “2Tim 2:22 ……en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ‘n rein hart aanroep.”

Hoe lyk ons gebedslewe? Hoe lyk dit vandag en hoe het dit vanoggend gelyk voordat u en ek met ons daaglikse take begin het? Weet ek en is ek bewus dat ek vanoggend in die teenwoordigheid van God was. Het ek vanoggend die stem van die Here gehoor?

Ons lees in Jesaja 59: 15(b) en 16 die volgende; “..Toe het die HERE dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie. En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie;

God staan verbaas dat daar niemand is wat tussenbeide tree nie. Die oorspronklike taal beteken om in die gaping te staan, die gaping te vul. Daar is ‘n groot behoefte in ons tyd vandag om die gapings te vul. Verskeie getroue voorbidders se stoele raak leeg en daar ontstaan gapings, en God is verbaas dat niemand bereid/begerig is om die gaping op te vul nie. Die verg ‘n toegewyde lewe, ‘n afgesonderde lewe, om hierdie gaping te vul en om in die teenwoordigheid van God te staan.

Luk 21:36 gee nog ‘n gedagte, en dit is “waak dan en bid altyd deur”. Die oorspronklike taal beteken om aan geestelike slaaploosheid te ly; om geestelik sonder slaap te wees, die slaap moet dus geestelik heeltemal wyk. Dus moet ek wakker wees en voortdurend bid, altyd, gereeld, tydig en ontydig wanneer die geleentheid daar is.

E.M. Bounds skryf “ Slegs deur gebed word God beweeg om arbeiders te roep tot diens, om mense op te roep as voorbidders. Die  aarde se velde is besig om te verrot, want dit is nie bewerk nie, want daar word nie gebid nie.

 Hoe lyk ons geestelike altare; van Wedergeboorte tot nou, is daar altare waarheen ek kan verwys waar ontmoetings met God was, waar ek sake en mense na Hom toe kon bring in gebed. Waar ek offers wat aanneemlik was en is na Hom toe kon bring.

Hoe lyk my as hoof van die huis, se huisaltaar. Sien my mense dat ek in afsondering is voor God, weet hulle ek is in afsondering voor God besig om hulle name ook op te hou na God?

Hoe weet ek dat my gebed verhoor sal word?

Daar is vier (4) “gedagtes” vir verhoring van gebed wat in die Woord van God gevind word.

Ons hart moet ons nie veroordeel nie.

1Joh.3:21,22 “Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God; en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.”

Jes. 59: 1,2 “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.” Skeidsmuur in Hebreërs beteken om uitgesluit te word.

Die oorspronklike taal word God vertaal met Elohim. Die Drie-Eenheid, Vader, Seun en Heilige Gees. As ons hart ons veroordeel, as daar on-belyde sonde is, dan is daar ‘n skeidsmuur, dan is God die Drie-Eenheid  se aangesig vir ons verberg, ons is uitgesluit. In Romeine 8:26 lees ons hoe die Drie-Eenheid tydens gebed in ons lewens inwerk.

En dit is belangrik om hier te let dat God nie die oorsaak van bogenoemde is nie, maar ons ongeregtigheid en sonde. As ons hart ons nie veroordeel nie.

Die hand van God verwys na ‘n helpende hand wat oop uitgestrek gehou word, gereed om te help, ‘n oor (die woord “Shama” word oorspronklik gebruik) wat gespits is om te luister met die doel om te hoor en te reageer. Te luister of daar iemand is wat tot Hom roep in geregtigheid, in verootmoediging, in opregtheid.

Hoe staan u vandag teenoor God? Is daar ‘n hart wat veroordeel?

Om in die regte gesindheid tot God te nader.

Wat moet die gesindheid nie wees nie?

Uit Matt.6:5 is dit duidelik dat daar nie ‘n gesindheid van geveinsdheid, hoogmoed(geestelik), hooghartigheid, en trots moet wees nie. Gebed moet nie gebid word in die openbaar om ander te beïndruk, of deur ander gesien en gehoor te word nie.

Wat moet die gesindheid wees? (Matt.6:6)

Gaan in die binnekamer.

Dit dui op afsondering in die teenwoordigheid van God. Daar waar niemand my sien of hoor of sal steur nie.

Dit spreek van ‘n gevestigde plek en afspraak. ‘n Plek wat afgespreek is waar ek God sal ontmoet.

Dui op ‘n tweegesprek tussen God en myself.

Gebed in smeking en danksegging. (Filip. 4: 6)

“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”

“Gebed en smeking” dui op verootmoediging voor God in alle nederigheid en in erkentlikheid van my afhanklikheid teenoor God.

Glo dat God is. Joh.16:23 en Heb.11:6.

Glo u dat God is? Nie met die verstand nie, maar met u hart.

Ken u God en het u Hom ondervind as die Groot Ek Is?

Ek kan alleen getuig dat ek God ken uit die hart as ek weergebore en vervul is met die Heilige Gees.

Glo dat God die Beloner is. Heb.11:6.

Ons moet glo dat God die Waarmaker is van Sy Woord.

As ons vas glo in God se bestaan en Sy Woord glo dan kan ons bid en God sal voorsien. As ons soos God voorskryf in Sy Woord Hom in waarheid en geregtigheid dien, Hom aanbid uit ‘n rein hart,  rein hande ophef tot Sy Heiligdom, dan sal ons roep en God sal antwoord.

As daar enigsins ‘n verstopping, hoe klein ook-al, in ons geestelike lewe voorkom, dan sal ons nie tot God kan roep en Sy antwoord hoor nie.

As ek voor God buig en die Heilige Gees oortuig my daar op my knieë dat daar ‘n saak is wat reggestel moet word, moet nie huiwer nie, stel dit onmiddellik in die reine.

Roep God aan uit ‘n rein hart.

Omgang met Gods Woord is belangrik in die gebedslewe.

Ek moet God se Woord:

a)    Koester,

b)    Bewaar in my binneste,

c)    Bestudeer,

d)    oordink/bepeins Psalm 1:1,2.

Deur so met God se Woord om te gaan sal ek ‘n gesonde gebedslewe ervaar en ondervind. Daardeur bly ek in Jesus, die Wingerd, Joh. 15:17. Ek moet soos daardie vrug, die druiwetros, vasgeanker wees aan die wingerd. Dan sal daardie lewend- gewende sap deurvloei en die vrug laat swel tot die ryp-stadium bereik is. So moet ek geanker wees in die Woord van God sodat ek daardie voeding kan ontvang en ‘n gesonde gebedslewe kan lei.

As ek al die genoemde kan nakom en voor God kan wandel soos Hy verlang dan kom hierdie 8 beloftes na ons toe uit Psalm 91:14-16. “Omdat hy My liefhet, sê God, daarom:

a) sal Ek hom red; (Uit alle omstandighede)

b) Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken. Hy sal My aanroep,

c) en Ek sal hom verhoor;

d) in die nood sal Ek by hom wees;

e) Ek sal hom uitred en

f) eer aan hom gee.

g) Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en

h) Ek sal hom my heil laat sien.”

Wanneer moet ons bid?

In die oggend.

Ps.5: 4 “In die môre, HERE, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag.”

Markus 1:35

“En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy (Jesus) opgestaan en uitgegaan en na ‘n eensame plek vertrek en daar gebid.”

E.M. Bounds skryf is sy boek oor gebed dat een uur gebed in die oggend is gelykstaande aan twee uur gebed in die aand. Die rede: ek is nog vars en kan al my konsentrasie, al my fakulteite (eienskappe), aan God wy in gebed.

Die Hele dag. Ps.119:97; Jos 1:8 en Ps.1:2

In die aand Ps. 119:148

Daar moet ‘n vaste patroon wees.

Jesus het hierin vir ons die voorbeeld gestel.

a)    Kies ‘n vaste tyd.

b)    Kies ‘n vaste plek.

c)    Bid binne die wil van God. Ons harte moet ons nie veroordeel nie. 1 Joh.5:14-15 en 1 Joh.3:21.

d)    Bely alle sonde Ps.66:18. Vra dat die Here u sal was in Sy Kosbare Bloed en bid om ‘n nuwe salwing van die Heilige Gees.

Onthou, God sal besluit oor die antwoord.

Dit kan onmiddellik of dalk later wees. Moet nie haastig wees en voorskriftelik word teenoor God nie.

Jes. 28:16(b) “hy wat glo, sal nie haastig wees nie.”

Dit is belangrik om God se antwoord te aanvaar op enige gebedsversoek. Romeine 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”

OP MY KNIEË SAL EK NOOIT STRUIKEL NIE.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00