TEMA DIE LAM VAN GOD

SKRIFLESING  Johannes 1:15-34

SKRIF VAN OORDENKING  (Johannes 1:29)  Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

INLEIDING

As daar ooit ’n tyd was dat hierdie woorde van Johannes uitgebasuin moet word, nadruklik herhaal moet word deur al die kinders van God, dan is dit vandag. ’n Tyd waar teoloë, kerkgenootskappe enigiets sal proklameer, behalwe Jesus as die ware Seun van God, gebore uit die maagd Maria, die Lam van God, wat God self geproklameer het by die Jordaan en Sy Bloed gestort het, geoffer het aan die kruis.

Praat en preek oor enigiets maar moet nie praat oor die feit dat Jesus Sy bloed gestort het en dat die wêreld deur hierdie kosbare Bloed gered kan word nie. Dat daar reiniging is en heilige lewe moontlik is deur die Kosbare Bloed van Jesus nie.

Daar is soveel argumente vandag om die kruiswerk van Jesus af te skaal na die mens se intellektuele vlak. Maar verseker Jesus het nie die kruis gedra nie – Hy het dit gebruik. Ons benodig vandag nie kultuur nie, maat verseker benodig ons Golgota. Die kruis was God se plus-teken vir ’n behoeftige, soekende wêreld.

Ons kyk vandag na die kruis en ons fokus op die aakligheid van die kruis, maar dan mis ons die innerlike heerlikheid en heiligheid van die kruis, die ware boodskap van die kruis; die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!“.

Daar is soveel Titels in die Woord van God ten opsigte van Jesus, maar die eerste en die belangrikste is die Lam van God.

Ons sien vir Abraham en Isak op die berg in Gén 22:7  “Toe spreek Isak met sy vader Abraham en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek, my seun! En hy sê: Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir ‘n brandoffer?”

Hierdie vraag glo ek het regdeur die Ou-Testament geleef, die uitleg van die Tabernakel en vêrder aan tot en met die begin van die Nuwe Testament en selfs vandag is daar nog mense wat in verlorenheid vra, waar is die Lam?; sommige in hul hardheid van hart roep uit waar is die Lam?

Met die Tabernakel het die mens (sondaar) die lam vir sy sondes en oortredinge na die mens (priester) by die koperaltaar gebring as versoening vir sy/haar sonde. So het dit voortgeduur tot die dag wat die voorhangsel heen geskeur is van bo na onder.

Maar hier by die Jordaan, openbaar God die Vader, die Lam van God, wat van die hemel gekom en gestuur is vir die versoening van die mense se sonde. Die Lam wat op die altaar – Golgota – geoffer sou word as Plaasvervanger

“Behold the Lamb of God.”

Kom ons kyk na die Koperaltaar en die ooreenkomste en sien hoe die Nuwe in die Oue verberg is en die Oue in die Nuwe geopenbaar word

1.    KOPERALTAAR

a.    Simboliseer die Kruis van Jesus

b.    Grootste meubelstuk in Tabernakel.

Dit was oorgetrek met koper, gemaak van akasia hout sodat dit die swaarste las en sonde kan dra en die strome van bloed wat dit oordek het. Ook moes dit die voortdurende vuur daarop kon verdra.  Dit was baie beskeie met ’n  afgryslike voorkoms, nie aantreklik. Dit was ’n plek van lyding en bloed en het die voortdurende merk van sonde gedra. So was ook die Kruis op Golgota, die dood van Jesus Christus.

c.    Hoogte 3 el – na 3 dae is die Volbragte werk en Volmaakte Offer aangeneem deur God die Vader. Heb.9:22, 24, 26(b)

d.    Dit was vierkantig – By die Kruis van Jesus is almal gelyk – geen verskil. (Romeine 1:16)  Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.

e.    Posisie – net binnekant die poort. Onvermybaar en toeganklik. Jesus se offer aan die kruis staan in die opening, die poort wat lei tot die toegang en alle gemeenskap met God.  Erken sonde, bely dit, breek daarmee, gaan na die kruis.

f.     Al die ander meubelstukke in Tabernakel is gesprenkel met die bloed van die offer op die Altaar. So is dit verbind aan die altaar. Wonderlike waarheid; As ons Jesus in geloof aanneem as ons Verlosser en Saligmaker, mag ons ingaan in al die seëninge van Sy opstanding en lewe.

Efese 1:3  Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,

Dit dui ook aan dat net soos die bloed vanaf die altaar nodig was om te kon ingaan na die Allerheiligste; so is die Bloed van Jesus die enigste weg tot die teenwoordigheid van God hier op aarde en so ook in die hemel.  

g.    Altaar beteken om op te lig. (Johannes 12:32)  En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.

h.    Deur die altaar was Israel opgelig in gemeenskap met God, so ook die sondaar.

Die Kruis van Jesus is ’n leer wat reik tot in die hemel; dit is die weg tot God die Vader.

i.      Deur die altaar het die brandoffer in rook opgegaan na die hemel; ’n harts-ondersoekende waarheid:

                                          i.    Is u bereid om toe te laat dat u liggaam en lewe in rook sal opgaan tot verheerliking van God, is u al op die altaar?

ii.    Is ek opgelig, gekruisig met Jesus?

                                        iii.    Is die vuur van die Heilige Gees besig om my lewe te verteer? Is ek totaal oorgegee aan Hom?

                                       iv.    Is die vuur van die Heilige Gees besig om my hele wese te laat opgaan as reukoffer tot God?

Kom ons kyk na Die traliewerk van die altaar (waar die offer neergelê is).

m.    Was 1,5 el (die helfte van die altaar se hoogte) waarom?

                    i.        Dit was dieselfde hoogte as die versoendeksel (Genadetroon van God) in die Allerheiligste.

                     ii.      Die Offer moes gelyk wees met die versoendeksel, andersins was dit minderwaardig. Dus die Kruis van Jesus was gelyk met die Genadetroon van God en aanneembaar. In die dood van Jesus Christus aan die Kruis is aan die vereiste van God voldoen.

(Johannes 1:29)  Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Die Volmaakte Offer.

n.    Altaar gereedskap

                      i.      Koperpotte vir die as – deeglikheid van die Kruiswerk van Jesus – ’n bewys die offer is gebring. “Dit is volbring” Joh.19:30

                     ii.      Skoppe – getrouheid van Jesus se kruiswerk – nooit die koste van die kruis probeer vermy nie. (Filippense 2:8)  en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Mat 26:39  En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.

                    iii.      Komme – bloed van offers opgevang – onselfsugtigheid van Jesus – ontledig van Homself 2 Kor.8:9

 iv.          Vurke – om die offer te skuif en in posisie te hou – onwrikbaarheid van Jesus se Kruiswerk. Markus 10:33 – ook aan die Kruis toe Jesus gespot was. Luk. 23:39 en 2 Kor.13:4

Jesus het nie die spykers nodig gehad om aan die kruis te bly nie – Sy liefde vir elkeen van ons, het Hom aan die kruis gehou.

  v.          Vuurpanne – dra van gloeiende kole – Vurigheid en ywer van Jesus om met sonde te deel. Joh.2:17

Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Die eerste verwysing na die Lam van God, staan vir ons uit as die Plaasvervangende Offer vir die wêreld se sonde.

(Johannes 3:16)  “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Jesus is die Verlosser, dit is die waarheid van die Evangelie. Dit is waarom Johannes na Jesus gewys en gesê het: “daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”

Hy is die plaasvervangende sonde-skuld-draer, Hy het ons oordeel op Hom geneem; Hy was die offer in stede van ons.

(1 Johannes 2:2) “En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”

’n Ongelowige het eenkeer aan ’n Christen gesê: “ek kan net nie glo in die maagdelike geboorte van Jesus nie, want daar was nog nooit ’n ander soortgelyke geboorte gewees nie.” Die Christen het gereageer “Dit is die waarheid, daar was nog nooit weer ’n soortgelyke geboorte nie, eenvoudig omrede daar net die Een Verlosser is.”

Het u vanoggend vrede in u hart, of moet u vanoggend na die kruis kom en kniel.

Martin Luther het gesê: The recognition of sin is the beginning of salvation.

As Christus dan die weg is, waarom tyd mors om op ’n ander weg te probeer gaan?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00