TEMA DIE BLOED VAN DIE LAM VAN GOD
SKRIFLESING Lev.17:10-12; 1Pet.1:17-21.
SKRIF VAN OORDENKING (Hebreërs 9:11, 12) “Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.”
INLEIDING
Die Bloed van die Lam vind ons soos ’n goue draad deur die Skrif vanaf Genesis tot en met Openbaring.
Die Bloed van die Lam word deur God geëer as kosbaar. Ons sien die Gerubs wat oor die Versoendeksel neerbuig met uitgespreide vlerke, afkyk na die bloed op die Versoendeksel.
(1 Petrus 1:18) “omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,”
Daar is verskeie verwysings in die Skrif wat heenwys na die Bloed van Jesus Christus, die Lam van God.
Kom ons kyk na hierdie ooreenkomste
DIE BLOED AAN DIE BO-DRUMPEL EN DEURPOSTE.
Eks.12:7 “En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet.”
(Eksodus 12:13) Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie.
Onder die bloed was hulle veilig. Dit simboliseer dan die Verlossende Bloed van die Lam.
Ons lewens is gedoem tot die dood volgens Rom.6:23, maar ons is losgekoop. (1 Petrus 1:18) “omdat julle weet dat julle losgekoop is uit julle ydele lewenswandel deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,”
Jesus het ons losgekoop en Sy bewys van Verlossing is bokant ons hoofde geplaas.
Open 5:12 “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.”
Jesus het ons verlos, Hy het my persoonlik en u elkeen persoonlik losgekoop.
Hy het u en my gesien in ons sondige toestand en ons geneem met ons verantwoordelikhede ten opsigte van die sondige toestand, vir ons gely, individueel liefgehad en deur Sy eie kosbare Bloed ons teruggebring vanuit slawerny en die doodstraf a.g.v. die sonde.
DIE BLOED AAN DIE ALTAAR
Lev 7:2 “Op die plek waar hulle die brandoffer slag, moet hulle die skuldoffer slag, en hy moet die bloed rondom teen die altaar uitgooi.”
Hierdie bloed is gestorte bloed; die is bloed wat deur die aarde opgedrink was; dit is die bloed van versoening. So ook die Bloed aan die kruis.
Bloed wat ons skuld afwas en uitdelg; Bloed wat die prys wat ons moes betaal, reeds betaal het. Bloed wat ons verpligtinge nagekom het, m.a.w. dood in stede van my dood. Dit het die betekenis van boetedoening, versoening. Christus is die Versoening vir ons sonde. Hy het die prys van ons sonde gedra en ons is nou vry. Kan u vanoggend met sekerheid sê dat u vrygemaak is deur die kosbare Bloed van die Lam?
DIE BLOED AAN DIE MELAATSE.
(Levitikus 14:6, 7) “Die lewendige voël moet hy neem, sowel as die sederhout en die skarlakendraad en die hisop, en dié en die lewendige voël insteek in die bloed van die voël wat oor die vars water geslag is. En hy moet op hom wat van die melaatsheid gereinig moet word, sewe maal sprinkel en hom reinig, en die lewendige voël moet hy oor die oop veld laat wegvlieg.”
Die melaatse is ’n tipe van onheilige lewenswandel en melaatsheid die tipe van sonde.
Ons sien hoe die melaatse na die priester gebring word, ons sien die bloed word op hom gesprinkel, die bloed van die jongduif word aan die regter oorlel, die duim van sy regterhand en die groottoon van sy regtervoet aangebring as teken dat hy gereinig is deur die bloed.
Dit is die bloed van reiniging.
1 Johannes 1:7(b) en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.
Dit reining ons van geestelike melaatsheid, dit was alle vlekke uit en reinig ons voor God die Vader.
Kan u vanoggend saam die lied sing: “I am glad there is cleansing in the blood, I am glad there is cleansing in the blood, Tell the world there is cleansing; All the world there is cleansing, There is cleansing in the Saviour’s blood.”
DIE BLOED OP DIE VERBONDSTAFELS
(Hebreërs 9:18-21) “Daarom is ook die eerste testament nie sonder bloed ingewy nie; want toe elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk aangekondig is, het hy die bloed van die kalwers en bokke saam met water en skarlakenrooi wol en hisop geneem en die boek self en die hele volk besprinkel en gesê: Dit is die bloed van die testament wat God met die oog op julle verorden het. En hy het ook die tabernakel en al die gereedskap van die diens net so met die bloed besprinkel.”
Ons sien ook hierdie Bloed besprinkel oor die volk en oor die Boek van die Wet. Die eerste Testament.
Hier sien ons dus die bloed van die verbond. Elke opdrag van God in die Wet was besprinkel deur die bloed. Dit is weereens ’n tipe van die Bloed van Jesus.
Waarom is dit die Bloed van die Nuwe Verbond?
(Hebreërs 9:14, 15) “hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien. En daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.”
Die Bloed van Jesus het die verbond verseël; die Bloed is die waarborg van die beloftes; dit is die antwoord of teenmiddel vir ons mislukkings.
Dit waarborg ons seëninge in Christus Jesus.
Efese 1:3 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,”
Die Bloed van Jesus is op ons Bybels, op die insettinge van God daarin, op al die beloftes in die Bybel. Daar is nie ’n belofte in die Woord wat ons as kinders van God kan toeëien wat nie deur die Bloed van Jesus geraak is nie. Jesus se Bloed het dit vir ons moontlik gemaak.
DIE BLOED OP DIE PRIESTERS EN GEREEDSKAP VAN DIE TABERNAKEL.
Al die gereedskap in die Tabernakel was toegewy en afgesonder aan God tot Sy diens.
So ook die priesters deur die aanraking deur bloed van die regterduim, die regteroor en die regtervoet.
So is ons ook afgesonder en toegewy deur die kosbare Bloed van Jesus Christus.
Ons durf nie die regop onsself toeëien nie. As ons dit doen dan is dit net so goed dat ons opkyk na die hemel en bid; “Vader, U het my verlos en nou gaan ek dit doen wat ek wil en in gedagte het.”
Die wete dat ons verlos is deur die Bloed van Jesus, laat ons besef ons behoort nie aan ons self nie, maar aan Christus.
1Ko 6:20 “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
Dus, bring u regteroor en daarsonder af om slegs na God te luister, u regterduim om te werk vir God en jou regtervoet om te loop waar en hoe Jesus geloop het.
DIE BLOED OP DIE VERSOENDEKSEL.
Die pleitende Bloed. Die Bloed wat vir ons smeek in die teenwoordigheid van God.
Die lewe is in die Bloed.
Jesus het gesê dat Hy mag het om sy lewe af te lê en ook weer op te neem. En dit is hierdie lewe wat Jesus ingedra het tot by die genadetroon van God en waar Hy vir ons versoening gedoen het en nou vir ons intree as ons Middelaar.
Rom 8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.”
DIE LEWEGEWENDE BLOED.
Joh 6:54, 56 “Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.”
Die Bloed van Jesus is Sy lewe, dit is die lewe van ons siel; dit is die lewe vir ons liggame. Dit is die daaglikse lewegewende lewe wat ons as kinders van God nodig het. Maar dit is iets wat ons elke dag moet afbid en toeëien van Jesus-self.
Daar is krag in die Bloed van die Lam.
Wil u nie vanoggend opnuut die Here vertrou om u opnuut te reinig, af te sonder en te heilig deur Sy kosbare Bloed nie?