TEMA: Die aard en weg van sonde.
SKRIFLESING: NUM.20:1-13, 22-24; 21:5-9; Joh.3:14-15 en 1Joh.3:4-5
SKRIF VAN OORDENKING: 1 Joh.3:4-5
INLEIDING
Al die probleme wat ooit in hierdie wêreld ingekom het, het as gevolg van 2 dinge ingekom: Luister na die leuens van Satan en ongehoorsaamheid aan God.
Wat is sonde? Sonde beteken om die doel te mis, die merk te mis. Ons sien ook in Spreuke 8 vers 35 en 36 die volgende “Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry ‘n welbehae van die HERE. Maar hy wat my mis, benadeel sy eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief.”
Soms word dit ook verklaar deur kommentaar skrywers dat dit die moedswillige verbreking is van die Heilige verordeninge van God soos Hy dit in Sy Woord vir ons voorhou.
In die Skrif sien ons twee begrippe naamlik, sonde en sondes.
Sonde is die gevolg van die val van Adam en Eva en wat vanaf Adam oorgegaan het of oorgeërf is deur ons. Ons noem dit die erfsmet sonde, inwonende sonde. Daardie erfsmet waarmee by die kruis gedeel moet word. Ons sien verskillende terme daarvoor in die Woord.
Die Liggaam van die sonde.
(Rom 6:6) aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.
Die liggaam van hierdie dood
(Rom 7:24) Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?
Die liggaam van die vlees
(Kol 2:11) in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus,
Sonde is dus daardie innerlike geestelike bederf wat besoedeling teweegbring waarvan ons bevry en verlos moet word; dit is ’n vyandige mag waarvan ons bevry en verlos moet word. Dit vind plaas by die Kruis van Jesus wanneer ek in geloof na Jesus toe kom en deur Sy kosbare Bloed, aangewend deur die Heilige Gees, gereinig, gered en regverdig verklaar word.
In 1993 het ’n artikel aangedui dat daar in Angola 20 miljoen landmyne iewers steeds onder die grond lê en geaktiveer kan word; in Afghanistan 10 miljoen en Kambodja 4,5 miljoen. Die koste om dit op te spoor en te verwyder is meer as wat die nasies kan bekostig; dus die oorlog mag oor wees, maar die gevare het nie verdwyn nie. Sondes is die dade van die inwonende sonde, van die sonde val, dit wat in my lewe na vore kom en sigbaar is. Ons kan dit vergelyk met ’n boom. Sondes is die vrugte van die boom en sonde by die wortel en stam van die boom.
Hoekom is die sondes geneig om na vore te kom?
As ek ’n gevaarlike kiem onder lede het, dan moet ek van die kiem genees word. Die tekens aan my liggaam soos koors uitslag ens. moet behandel word en so ook die oorsaak van die kiem. As die kiem vernietig is bly daar nagevolge oor in my liggaam, soos bv. ’n swak hart of geheue probleme of sig probleme ens. Daarom moet ons waak en versigtig wees in ons Geestelike lewens ook.
Kom ons kyk na die gelese gedeeltes en hoe sonde se karakter, die weg van sonde, die vloek van sonde en die genesing/verlossing van sonde na vore kom. Laat toe dat die Soeklig van die Hemel, die Heilige Gees ons harte vanaand verlig en na vore bring wat daar verborge is “want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.” Rom.15:4
Sonde se karakter
Dit besoedel.
Gewoonlik wanneer daar gekla of gerebelleer word is daar twee redes wat daarvoor aangevoer kan word.
i. Publieke rede. Num.20: 2,3.
ii. Verskuilde rede. Dit wat werklik die rede is. Sonde en ongehoorsaamheid, ongelowigheid.
(Heb 3:17, 18) “En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie? En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames?
God het die volk uit Egipte uitgelei, feitlik oornag, dit was maklik, maar dit was moeilik om Egipte uit die volk te haal. So is dit ook met die sonde. Die Here red ons uit genade vanuit die wêreld-moeras van sonde, maar dit is soms moeilik om die wêreld uit ons te kry.
Daar was ’n voortdurende hunker na Egipte en die lewe daar en dit alles as gevolg van die besoedeling van die sonde.
Rebellie/ Opstand.
(Núm 21:5) En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos.
(Efs 2:2) waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,
Sondes bring ons in opstand, in rebellie teen God. Twyfel in ons gemoed bring ongeloof na vore en ongeloof is opstand/rebellie teen God.
As ons kyk waar alles vir die volk begin het voor die 40 jaar in die woestyn Num 13. Uit ’n militêre oogpunt was die verspieding van die land Kanaän ’n goeie stap maar geestelik ’n katastrofe. Hulle het alles gesien wat God reeds vir hulle gesê het daar sal wees. Hulle moes net glo en gehoorsaam. Hulle het gewandel in aanskoue en nie in geloof nie. So het tien van die verspieders twyfel gesaai onder die volk Num.13: 31-33.
Sonde bind ons
Joh 8:34 Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is.
Daar is die spreuk wat sê “Sonde baar sonde”.
Sonde bring die dood
(Efs 2:1) En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes
Sonde bring skeiding/geestelike doodsheid. Weg van die aangesig van God. Sonder gemeenskap met God.
Die weg van sonde
Rom 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het
Moses en Aaron se optrede by Meriba spreek tot ons ten opsigte van die pad/weg van sonde.
Kom ons lees Num 20: 7 – 12.
Moses moes praat met die volk in vers 10.
a. Arrogansie kom na vore wat teenstrydig is met die karakter van Moses. Die weg van sonde openbaar karakter eienskappe wat voorheen nie daar was nie. Moses faal op sy sterkpunte van nederigheid en sagmoedigheid.
b. Moses slaan die rots. Ongehoorsaamheid wat lei tot die verdoemende woorde van God dat hy nie die beloofde land sal ingaan nie.
Versoeking tot sondes gaan verseker kom op ons sterkpunte. Abraham het op sy sterk geloof gefaal Gen 20. Dawid het gefaal op sy sterk integriteit.
Petrus in sy dapperheid.
Wat is die gevolge van Sonde?
i. Dood van Aaron Num.20:28
ii. Dood tree in onder die volk Num.21
iii. Dood van Moses Deut. 34:5, 6.
In Num 21:5-6 sien ons die gevolge van die volk se murmurering.
(Núm 21:5, 6) “En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos. Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe.
‘n Gees van murmurering is ‘n bewys van ’n ondankbare hart en ’n wil wat nog nie totaal oorgegee is aan God nie. Dit is sonde.
Ons leer uit hierdie optrede van die volk ook ’n ander kosbare les.
Ek kan volhard in ’n sonde sonder om dit uiterlik te herhaal. Iemand kan skuldig wees aan ’n groot sonde wat hy/sy nie weer herhaal nie, maar tog is dit ’n sonde waarin volhard is. Finney skryf dat as ek nie die sonde bely by die naam voor God en herstelwerk is nie gedoen nie dan is dit nog op my gewete en volhard ek dus nog daarin. Herstelwerk beteken ook restitusie wat gedoen moet word wanneer nodig. As ek iemand belaster/beswadder het of seergemaak het deur skinderstories wag daar restitusie wat gedoen sal moet word, voordat ek volkome verlossing daarvan sal ondervind.
Onthou dat jou sonde jou sal uitvind. Ek kan dit probeer wegsteek, verdoesel, toepleister met ’n voorgee gedrag, maar dit sal uitkom.
Num. 32:23 Maar as julle nie so doen nie, kyk, dan sondig julle teen die HERE, en weet dan dat julle sonde julle sal uitvind.
(Rom 3:23) want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,
Rom 6:23 “Want die loon van die sonde is die dood, ……..”
Ons sien die volk trek weg van Kades na Hor. Num 20:22
Die name in die Bybel veral die Ou-Testament het soveel ryke betekenis.
Kades beteken heilig. Daar waar hulle Heiligheid kon ervaar, in die teenwoordigheid van God kon wees, moes hulle as gevolg van sonde weg trek.
(Jes. 59:1, 2 “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.”
Hor beteken bergagtig. Ongelyke area. Met sonde in my lewe sal ek soos die volk ’n op en af lewe lei. Val-en-staan lewe omdat ek nie volkome vrygemaak is nie.
4.Wat is die genesing/verlossing van Sonde?
(2Ko 5:21) Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
(Gal 3:13) Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang—
Soos die sonde in die wêreld gekom het deur ’n kyk so het verlossing gekom vir die wêreld deur te kyk na die Kruis van Jesus.
(Núm 21:8) Daarop sê die HERE aan Moses: Maak vir jou ‘n giftige slang en sit dit op ‘n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe.
(Joh 3:14, 15 “En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
(Jes 1:18) Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
Joh 8:36 As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.
Rom 6:14 Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.
Gén 4:7 “—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.”
As u vanaand nie weet van ’n dag waar u volkome oorgegee het aan Jesus nie, wil u nie vanaand die Here ’n kans in u lewe gee nie?
Kind van God, u het nie nodig dat die sondige gewoontes oor jou heers nie. Vlug na Jesus wat alreeds die sonde aan die Kruis vir ons oorwin het en waar ons die oorwinning oor sondes kan verkry. Al die seëninge wat ontvang kan word kom deur twee dinge: Gee ’n dowe oor vir al Satan se leuens en glo God ten volle. Bly ’n oomblik agter sodat ons saam met u kan bid.