Skrifverwysing: Markus 1: 21 – 28.
Christus se Gesag deur Victor Muller
Skrifverwysing: Markus 1: 21 – 28.
Gesag… Dit is, volgens die Times tydskrif, die een onderwerp wat vir die laaste 50 jaar erger rondvlieg in filosofiese kringe as ‘n bal in 20/20 krieket. Vrae word gevra soos: Wat is Gesag? Aan wie behoort dit? Hoekom jaag sekere mense dit na? Waarom verag ander dit? Verder bevraagteken die Pop kultuur ook die gesag van die staat oor burgers van ‘n land; die gesag van onderwysers oor studente en selfs die gesag van ouers oor kinders.
Tog moet ons besef dat ‘gesag’ nie ‘n nuut gevonde onderwerp is nie en dat dit al van die begin af ‘n kontroversieële konsep is (verwysend na sondeval in Gen 3). Ons sien dat hierdie onderwerp hier ook aangeraak word met die volgende woorde: “…want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het…” Christus se gesag word:
1) Impliseer deur sy metode van leering (Verw. verse 21, 22)
a. Dit was al ‘n langdurige tradisie en metode vir die Skrifgeleerdes om in oormaat die lering van hul voorgangers aan te haal. In die ware sin van wettiesheid was hulle vasgevang in hul voorgangers se opinies en hulle klem het swaar geleuen op die interepretasie en toepassing van wette.
b. Jesus het staat gemaak op geen menslike voorganger of tradisie nie. Hy het geleer soos een wat reeds die stempel van God se bevestiging op SY lewe gehad het en het daardeur sy verklarings afgelê. Hy het geen ‘kenner’ aangehaal nie, want hy was alreeds die hoogste gesag op God se Woord en SY wil.
2) Oponeer deur ‘n onreine Gees. (Vew. Verse 23, 24)
a. Hierdie geestelike gedrog het Jesus uitgedaag oor Sy reg om in te gryp, terwyl hy besig was om ‘n hulpelose siel te teister. Die gedrog het selfs probeer om Jesus op agtervoet te stel deur ‘n eeu oue truuk te gebruik en Hom op die naam genoem.
b. Die veragting van Christus se gesag, selfs deur ‘n bonatuurlike wese, is nie aan te beveel nie. Ons as mense kan ons self nie een tree meer as hierdie wese teen Sy gesag verset nie. Selfs die gedrog het erken dat Hy die Heilige van God is.
3) Komplementeer deur Sy wonderwerkende krag (verw. Verse 25, 26)
a. In teenstelling met die ‘unieke’ geeestesbanner van die dag het Jesus glad nie gebruik gemaak van towerkuns of enige ander rituele nie. Hy het slegs ‘n woord met Goddelike gesag gespreek en die wese was gehoorsaam.
b. Hierdie een wonderwerk sou enige moontlike oorblywende twyfel by die omstanders uit die weg geruim het. Christus het verby blote veronderstalling beweeg en en SY gesag ook deurgevoer tot op die praktiese uitwerking daarvan.
4) Bevestig deur die manier waarop mense verbaas reageer. (verw vers 27)
a. Die oorspronklike taal, wat vertaal is met woord ‘verbaas’, dra ook die gedagte van skok, eerbied en vrees oor. Die mense wat hierdie daad aanskou het, sou waarskynlik ‘n tuimeldroër van hierdie spesifieke emosies in hul binneste ervaar het.
b. Mense, wat nog dink hulle is hul eie baas, mag dalk ontnugter word en onstellende gevoelens oor SY gesag ervaar. Hulle sal dan vir die eerste keer besef dat Jesus nie net nog ‘n godsdienstige figuur in die anale van geskiedenis is nie, maar God die Seun is wat die reg van heerskappy oor ELKE lewe gekoop het deur Sy bloed aan die kruis te stort en ook daardie reg tot en ewigheid sal besit.
5) Propageer. (Verw vers 28)
a. Meer en meer mense het Hom begin opsoek weens die gerugte wat hulle gehoor het. Baie van hierdie mense het dan op hul beurt navolgers van Hom geword.
b. Die gesag van Christus word vandag nog deur Sy troue navolgers versprei. Hierdie navolgers word deur Christus instaat gestel om SY gesag aan die wêreld bekend te maak.
Een oggend het ek baie ontmoedig opgestaan… Ek het geweet wat die dag vir my voorlê: ‘n besoek aan binnelandse sake vir die doel van ‘n paspoort. My motiverings vlakke was so hoog soos die aandeelprys van ‘n sandkorrel in die Sahara. Ten spyte van my poging om voor sewe die oggend daar te kom, was my vrese vir ‘n lang dag in ‘n oomblik bewaarheid toe ek die ry tot onder in die hoofstraat en om die blok sien uitslang… Let wel: Die department is op die eerste vloer van die gebou.
Tog na enkele oomblikke in die ry, merk ek dat ons redelik vinnig vorentoe beweeg. Binne ‘n halfuur was ek by die ingang van die kantore op die eerste vloer. Hier sien ek toe dat daar by elke toonbank personeel was wat vinnig en vlytig gewerk het. Ek was sowaar beïndruk en binne die volgende vyftien minute by ‘n toonbank met my vorms, deur na vinger afdrukke en by die eindpunt het ek my kwitansie ontvang met die belofte van ‘n gerustellende glimlag dat ek my paspoort binne vier weke sal hê.
Ek vra toe vir die persoon wat aan die gang is. Dit is defnitief nie die normale gang van sake by ‘n binnelandse sake nie. Hy antwoord my toe in gebroke engels: “Don’t you no sir? Authority is here.” Met nadere ondersoek vind ek uit dat die minister van binnelandse sake en ander onafhanklike ouditeure daar was.
Die teenwoordigheid van die regte gesag het daarde dag die verskil gemaak in die houding en gesindheid van die werkers.
‘n Diepe geestelike waarheid tref my toe soos wat ek oor daardie woorde die oggend oppad huistoe gepeins het. “Authority is here.”
Die ware besef van Christus se gesag behoort ‘n verskil te maak in ons alledaagse lewenswyse, houding en gesindheid.
“Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,
sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.”
Filippense 2: 9 – 11.
Deur Victor Muller
Epos: vmul0702@gmail.com
Vir verdere tekspreke en inligting kyk gerus by:
http://www.preke.net/index.php/victor-muller