JOB 36:22-37:24 [8]

DIE KONFRONTASIE TUSSEN JOB EN SY 3 VRIENDE, ELIFAS, BILDAD EN SOFAR, IS VERBY. Maar nou kom ‘n vierde vriend, Elihu, na vore. Omdat hy jonger is as die ander (32:6), het hy tot nou toe geswyg. Hy was egter waarskynlik by toe die ander drie met Job geredekawel het.
Elihu het duidelik gehoor dat die 3 vriende se oplossings geen water hou nie. En hoewel Job die argument gewen het deur aan te toon dat die drie heeltemal verkeerd redeneer, is dit vir Elihu duidelik dat ook hy wat Job is nog nie die antwoord het nie.

LEWENSVERANDERENDE NUWE INSIG

ENKELE PUNTE VAN TOEPASSING

  1. Wat lyding in hierdie lewe betref, is daar baie wat ons nooit hier en nou sal deurgrond nie. 
    God is oneindig groter as ons, en Hy het nie alles aan ons geopenbaar nie. Hy het planne waarvan ons nou niks weet nie. Dit is dus volwassenheid om tevrede te wees om nie alles te verstaan nie, en om bereid te wees om die Here met alles te vertrou, ook met jou smarte.
  2. Daar is dikwels geen simplistiese oorsaak-gevolg verband tussen jou lewe en jou belewinge nie. 
    Met sondaars gaan dit dikwels baie goed. En met die regverdiges gaan dit dikwels sleg. Sekerlik skuif daar baie reg in ons lewens as ons tot bekering kom. En daar is baie wonderlike kompensasies verbonde aan radikale Christen-wees. Maar daar is vir seker ook ‘n kruis om te dra. Daarom, al lei sonde dikwels tot siekte, is jy ‘n dwase Jobstrooster as jy sonder meer die standpunt huldig dat alle siekte die gevolg van sonde is.
  3. Watter lyding en smarte God ook al oor my bring  –  Hy mag. 
    Niemand durf die algehele soewereiniteit van God betwis nie. En selfs al sou jy teen die prikkels skop, sal dit nie die vasstaande feitelikheid daarvan verander nie. Hy doen wat Hy wil, en net wat Hy wil. Hy het alles geskape, en dit behoort aan Hom. En ons, Sy kinders  –  geskape en herskape  –  behoort op ‘n dubbele manier aan Hom.
  4. Dit beteken nie dat God noodwendig op ‘n direkte manier vir my lyding verantwoordelik is nie. 
    In Sy soewereiniteit werk Hy gewoonlik middellik  –  wat beteken dat Hy die kragte in hierdie wêreld gebruik om Sy wil uit te werk. Ons lewe eenvoudig in ‘n gebroke wêreld. En lyding is so deel van die lewe hier en nou soos elke dag se sonsopkoms. Daarbenewens is Satan die god en owerste van hierdie wêreld (Jh 12:31; 14:30; 2Kor 4:4). Hoewel ons nie meer onder sy gesag staan en hy met ons kan doen wat hy wil nie, leef ons in vyandelike gebied met al die gevare daaraan verbonde.
    Maar, en dit staan vas, niks gebeur ooit in my lewe wat die Here nie toelaat nie.
  5. God se soewereiniteit beteken nie fatalisme nie. 
    Alle lyding is die gevolg van die sondeval. Daarenteen is ons as God se kinders deel van Sy nuwe ryk wat lynreg staan teenoor alles wat verband hou met sonde. As sodanig moet ons alle lyding hand en tand beveg  –  in onsself en in ander. Of ons dit nou as medici doen, of as politici, of as wat ook al, dit moet ons erns wees. Natuurlik sal dit vir ons altyd eerstens gaan oor die uitdra van die evangelie  –  die allerantwoord op die gevalle wêreld se heel grootste nood. Maar dit impliseer nie dat ons apaties sal wees oor die "tydelike" terugdryf van verrottingskragte in ons wêreld nie. Dit staan immers dikwels in diens van die alleroplossing.
  6. Die eintlike vraag met betrekking tot lyding is nie vanwaar dit kom nie, maar hoe mens daarop reageer. 
    Wat lyding betref, roep die Skrif ons weer en weer op om dit in ewigheidsbelang in ons lewens te kanaliseer. "… julle moet baie bly wees as allerlei beproewings oor julle kom …" (Jk 1:2-4; 1Pt 1:6-7; 4:12-13). Omdat ons nie net verstaan wat Job by Elihu geleer het nie, maar inderdaad die lig van God se volle openbaring het, verstaan ons immers watter ewigheidsvrug swaarkry in ons lewens kan voortbring.
  7. Lyding in my lewe beteken nie dat God ‘n mosie van wantroue in my stel nie; inteendeel. 
    Soos in Job se geval is lyding in ‘n kind van God se lewe veel eerder ‘n mosie van vertroue. Want die Here "tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kastei elke seun wat Hy aanneem" (Hb 12:6, OAV). Dis juis omdat Hy ons na die beeld van Christus vorm, dat Hy ons nie bederf nie.
  8. In die ware gelowige bring lyding altyd ‘n goeie vrug voort (Hb 12:11). 
    Laat ons veral in tye van swaarkry hierdie belofte vasgryp. Maar om dit in krisistye reg te kry, moet ek dit in tye van voorspoed my eie maak.
  9. God soek ons vrywillige liefde  ongeag. 
    Dis waarom dit eintlik in Job gegaan het. Hy moes leer, as jy die Here het, het jy alles. In teëspoed het jy nie minder nie, en in voorspoed het jy nie meer nie.

 

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00