JOHANNES 1:14
Die enigste Seun van die Vader

DIE GRIEKSE WOORD WAT DIE NAV MET "ENIGSTE SEUN" VERTAAL, het vir baie drama in die geskiedenis gesorg.
Vroeg in die 4de eeu was 'n sekere Alexander biskop van Alexandria, die leidende gemeente in Egipte. Op 'n keer was Alexander besig met 'n lesing oor die leerstuk van die Drie-eenheid. Skielik is hy in die rede geval deur een van die jong ouderlinge, Arius. Hy het die ouer man daarvan beskuldig dat hy die onderskeid tussen die drie Persone van die Godheid onderspeel, en het aangevoer dat die Seun deur die Vader geskep is  –  weliswaar voor die begin van die tyd. Maar ewig is Hy nie. Arius was heeltemal bereid om toe te gee dat die Seun ver verhewe bo die mens is, maar hy het daarop aangedring dat Hy van 'n mindere orde as die Vader is (soos die Jehowa Getuies).
Arius het onmiddellik sy standpunt begin versprei, en spoedig het hy 'n sterk gevolg gehad.

DIE ENIGGEBORENE?

GOD SE MAN VIR DIE OOMBLIK

Algaande het die Arianisme soveel onrus in die kerk veroorsaak  –  en gedreig om dit uitmekaar te ruk  –  dat Keiser Konstantyn in 325 'n sinode in Nicea (naby Konstantinopel) byeengeroep het om eens en vir altyd klarigheid oor die kwessie te kry.
Alexander het 'n briljante jong diaken, Atanasius, as sekretaris saamgeneem  –  iemand wat 'n reus in die kerkgeskiedenis sou word. Hoewel sonder spreekreg op die sinode, was hy eintlik die denker agter Alexander se kragtige vertoë.
Uiteindelik is 'n sterk besluit teen Arius se beskouing geneem. In hierdie eerste formulering van die belydenis van Nicea word die godheid van Christus sterk beklemtoon. Later sou die Sinode van Konstantinopel die belydenis finaliseer (in 381).

'N ENKELE LETTERTJIE

'n Sleutelbeklemtoning in die belydenis is dat die Seun "van dieselfde wese" as die Vader is. Agter dit sit 'n hele stuk intrige. Die stryd met Arius het gegaan oor 2 Griekse woorde wat beroemd geraak het in die dogmageskiedenis: homoousios (van dieselfde natuur) enhomoiousios (van 'n soortgelyke natuur). Die verskil sit in die twee voorvoegsels: homo-(dieselfde) en homoi- (soortgelyk). Al verskil tussen die twee woorde is die Griekse letter, iota, oftewel 'n enkele vertikale strepie  –  die kleinste lettertjie in die Griekse alfabet. 
Arius was heeltemal bereid om te sê dat die Seun homoiousios aan die Vader is (soortgelyk), maar nie dat Hy homoousios is nie (van dieselfde natuur). Maar die sinode het begryp hoe belangrik die verskil tussen die twee standpunte is. As Christus nie presies van dieselfde natuur as die Vader is nie, is Hy nie waarlik God nie. Maar homoousios is aanvaar  –  van dieselfde natuur.

'N MEEDOËNLOSE STRYD

Dit was helaas nie die einde van Arianisme nie.
Drie jaar later, in 328, word Atanasius die nuwe biskop van Alexandrië  –  en so word hy die speerpunt in die felle stryd teen die Arianisme. Trouens, dit sou sy lewe grootliks oorheers.  Die stryd van die volgende amper 5 dekades lees soos 'n riller. Verskeie kere lyk dit asof Arianisme die oorhand kry. Maar steeds stry Atanasius onvermoeid vir die waarheid. Daarvoor betaal hy 'n duur prys. Hy is etlike kere in ballingskap, en een keer moet hy vir 5 jaar in die woestyn voor die keiser se soldate vlug. Maar steeds verkondig hy die ware evangelie tydig en ontydig.
Uiteindelik, 8 jaar na Atanasius se dood in 373, word Arianisme finaal die nek ingeslaan deur die Sinode van Konstantinopel. Daarin het niemand 'n groter rol gespeel as die Biskop van Alexandrië nie. Trouens, dit word algemeen aanvaar dat Arianisme die botoon sou gevoer het as dit nie vir hom was nie.

LEWENSBELANGRIK

Waarom is hierdie so 'n belangrike saak? Waarom gee Atanasius sy alles om iets te verdedig wat in elk geval vir ons 'n geheimenis is? Hy het verstaan wat op die spel was  –  die suiwerheid van die evangelie en die realiteit van ons redding! Presies wie en wat Christus is, is lewensbelangrik. Slegs iemand wat waarlik en in die volste sin van die woord én God én mens is, kan 'n Verlosser van sondaars wees! Arius se Christus is nie waarlik God nie, maar 'n skepsel. As sodanig kan Hy nie ons sondeskuld dra sonder om self onder te gaan nie.
Dwarsdeur sy lewe het dit vir Atanasius oor een saak gegaan: die eer en die heerlikheid van Christus. En hy het geweet die evangelie staan en val by die goddelikheid van Jesus Christus.

TOEPASSING

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00