LUKAS 2:14
TRADISIONEEL EN WÊRELDWYD WORD KERSFEES GEASSOSIEER MET WELWILLENDHEID, MEDEMENSLIKHEID, FAMILIEBYEENKOMSTE, KERSLIEDERE EN DIE UITRUIL VAN GESKENKE.
Hiermee op sig self hoef ons as Christene natuurlik nie probleme te hê nie. Maar wat ons hard en duidelik moet sê, is dat die Seun se menswording oor baie, baie meer gaan. En terwyl ons vreugdevol kan meedoen aan uitdrukkings van medemenslikheid, moet ons kompromieloos daarop staan dat dit nie eers naastenby was waaroor die engele in die eerste instansie gejubel het daardie nag nie. Dit gaan oor iets oneindig dieper.
As ‘n mens deur al die argumente vir en teen die viering van Kersfees waad, sien jy dat die ongemak wat Christene met populêre Kersfeespraktyke het, ten diepste die sentimentele mensgesentreerdheid daarvan is. Want, as die engele Christus se geboorte aankondig, is hulle boodskap deur en deur Godgesentreerd. En, natuurlik, dit word oor en oor deur die res van die Nuwe Testament bevestig.
‘N PAAR OPMERKINGS OOR LK 2:14
Sonder twyfel het die eeu-oue en invloedryke King James Version se nie-korrekte weergawe van Lk 2:14 baie bygedra tot die vestiging van die mensgesentreerde benadering tot Kersfees: "Glory to God in the highest, and on earth peace, good will toward men." Ongelukkig het die NKJV, wat vir seker van beter moes geweet het, sy voorganger hierin nagevolg. So ook ons eie OAV.
Die NAV is die korrekte weergawe van die engele se lied: "Eer aan God in die hoogste hemel,en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het" (vgl. ook NIV; ESV; NASB ens.).
Hierdie verskil tussen die vertalings is te wyte aan die feit dat die KJV en OAV gebasseer is op die Textus Receptus. Dis ‘n Griekse grondteks van die Nuwe Testament wat – nadat die Latynse Vulgaat vir eeue ál beskikbare Bybel was – inderhaas binne minder as ‘n jaar deur die Rooms-Katoliek, Desiderius Erasmus, saamgestel is. Dit het in Maart 1516 verskyn. Vanwee bepaalde faktore (ons het nie tyd om aandag daaraan te gee nie) het die TR sekere gebreke gehad, waarvan Lk 2:14 een is.
Vandag, na baie jare se verantwoordelike navorsing, weet ons feitlik vir seker wat die oorspronklike teks was. En dit is wat ons in ons NAV (en alle moderne vertalings) kry.
Die engele het dus nie oor vrede en welwillendheid vir alle mense sonder meer gesing nie, maar oor vrede vir die mense in wie God ‘n welbehae het – en net vir hulle. En jy sal begryp dat die verskil wesentlik is.
WAT SÊ DIT ONDER MEER VIR ONS VANDAG?
- Let daarop dat die openbaring heel eerste aan die geringes en nederiges gegee word.
In hierdie verse lees ons hoe die geboorte van God se Seun, ons Saligmaker, vir die eerste keer aan mense geopenbaar is. Gewoonlik word die geboorte van koninklike babas met groot fanfare aangekondig. Maar hier lees ons dat die heel belangrikste geboorte van alle tye een nag aan ‘n groepie nederige skaapwagters bekend gemaak is. Hoewel dit sonder seremonies en vertonerigheid geskied het, moes die leërskare engele sekerlik ‘n oorweldigende en onvergeetlike indruk op die klompie herders gelaat het.
Waarom aan skaapwagters, en nie aan die godsdiensleiers nie? Só gering is hierdie mense in die samelewing geag dat hulle nie eers toegelaat is om in ‘n hof getuienis te gee nie (W. Hendriksen, 149). Waarskynlik lê die antwoord in die beginsel wat Jakobus so verwoord: "Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?" (2:5).
Altyd moet ons onthou dat ‘n gebrek aan geleerdheid of geld of status niemand ooit vir God se genadeguns diskwalifiseer nie. Hoewel dit op sigself jou nie laat kwalifiseer nie, is Jakobus se uitspraak – saam met talle ander in die Skrif – glashelder duidelik dat God se hart baie sag is vir die minderbevoorregtes. En baie dikwels is dit juis die geringes vir wie die diepste geheimenisse van God se koninkryk oopgebreek word.
Amos was ‘n eenvoudige boer, Gideon was op die dorsvloer toe die Here hom geroep het, en Elisa het geploeg. Dis ‘n leuen van Satan dat gespierde Christenskap net vir geleerdes is. - Dis ‘n vreugdeboodskap vir álle mense (10)
As ons Afrikaanse vertalings in v.10 sê dat die boodskap "vir die hele volk bestem is", moet ons dit nie verkeerd verstaan nie. Dis nie bloot ‘n boodskap vir die Joodse volk nie. Volgens die oorspronklike taal is dit ‘n boodskap vir alle mense.
Dis "goeie tyding van groot blydskap" vir almal. Die geestelike duister wat die hele wêreld vir millennia versmoor het, se dae is getel. Hierdie geboorte gaan die einde beteken van miljoene se onkunde en uitsigloosheid. Dit gaan meebring dat ontelbaar baie in die toekoms gered gaan word van die ewige verdoemenis. Die kop van Satan is op die punt om verbrysel te word.
Die oorwinning wat hierdie kind gaan behaal, en Sy wonderlike regering, gaan meebring dat kennis van die ware God nie meer tot die Jode beperk bly nie. In elke nasie, stam, volk en taal gaan groot skares mense vorentoe die Here dank – nie net op Kersdag nie, maar elke dag van die jaar – vir die Kind wat daardie nag gebore is. - Die heel eerstes wat God prys, is engele
Dit is betekenisvol dat die heel eerste lofuitinge oor die wondergeboorte van Jesus van ‘n leërskare engele kom. Eintlik is hulle buitestaanders. Dis nie vir húlle wat die Seun vlees geword het nie. Tog weet hulle beter as enige gevalle mens hoe noodsaaklik en groots Sy geboorte is.
As volmaakte wesens wat nog nooit die sonde aan eie lyf gevoel het nie, het hulle ‘n intense liefde vir hulle mede-skepsele wat sonder hoop en sonder God op die klein planetjie, aarde, vasgekeer sit. Vir millennia reeds breek hulle harte oor die onuitspreeklike ellende wat sonde vir die mens gebring het. Daarenteen het hulle ‘n intieme kennis van die hemel se welgeluksaligheid. En nou, uiteindelik, is die Bouer gebore wat die kloof tussen hierdie twee uiterstes gaan brug. Geen wonder dat ons bietjie later in hierdie selfde evangelie lees dat daar blydskap in die hemel is wanneer ‘n sondaar tot bekering kom nie (Lk 15:7, 10).
Bowenal weet hulle dat hierdie Kind hulle geliefde God gaan verheerlik soos niemand voor Hom en niemand na Hom nie.
Al is dit óns wat die voorreg van kindskap van God ontvang – nie die engele nie – skiet ons tans nog ver te kort aan hulle insig in ewigheidsake, ervaring van gemeenskap met God, en liefde vir andere. Maar spoedig sal ons hulle inhaal, en ver verbysteek. Want dis nie hulle wat genade ontvang nie; dis ons wat dit proefondervindelik leer ken. - Ook in hierdie engelelied word God as die groot inisiatiefnemer besing
Let mooi op wat die engele sing. Hulle sing nié: God sal ‘n welbehae hê in diegene wat met Hom vrede maak nie. Nee, dít is wat hulle sing: diegene in wie God ‘n welbehae het, sal vrede kry.
Terwyl die Bybel nooit die mens se verantwoordelikheid misken nie, en terwyl ‘n mens nie passief bly in sy redding nie, gaan alle eerste inisiatief altyd van die Here God uit. Alle redding begin by Hom. God het nie ‘n reddende welbehae in álle mense nie, maar as Hy wel so ‘n welbehae in jou het, sál jy gered word – want Hý sal jou red.
Dit is presies wat Jesus in Lk 12:32 sê: "Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee" (OAV).
Laat ons nooit hierdie konsekwente Bybelbeklemtoning uit die oog verloor nie. Dat my redding geheel en al te danke is aan die Here se verlossingsinisiatiewe, is deel van die evangelie se skering en inslag. Tas dit aan, en jy doen geweld aan iets essensiëels in die Christelike geloof, en iets wat ononderhandelbaar kosbaar is vir God.
Dis waarom die Galasiërbrief sonder blik of bloos God se vloek oor die Judaïste afroep – dwaalleraars wat menslike rituele wou voeg by Christus se volkome werk, mense wat God se soewereine en inisiatiefnemende genade wou aanvul met die besnydenis (1:6-10; 5:1-6).
Waarlik, die Arminianisme en selfs Pelagianisme wat Christene se denke vandag so oorheers, en amper deur die bank deur die kerke in ons land gepreek word, is nie bloot ‘n onskuldige en naïewe mistasting van die Bybelboodskap nie; dis sielsvernietigende kettery! - Mense in wie God ‘n welbehae het, kry vrede
As jy mensgesentreerd dink, sal jy nou onmiddellik ‘n vrede van innerlike vergenoegdheid en harmonie in gedagte hê. Maar, hoewel dit nie uitgesluit is nie, is dit nie in die eerste instansie waaroor die engele hier sing nie.
Dis voor die hand liggend dat die engele dit nie hier het oor iets wat op die rand lê van wat die pasgebore Kind gaan kom doen nie. Nee, vir seker sing hulle oor die essensie van Sy missie. As ons dan vir die Bybel vra wat hierdie essensie is, is daar net een antwoord: dit gaan oor vrede met God. Dit, sê Rm 5:1, is die heel eerste vrug van redding en regverdiging deur die geloof alleen.
Die Bybel huiwer nie om die verwydering tussen God en die gevalle mens as vyandskapte tipeer nie. Só diepgaande is hierdie verwydering, dat diegene wat nie betyds versoen raak met Hom nie, gedoem is om die ewigheid in die hel deur te bring.
Maar natuurlik, as dit aan die hart lê van dit wat die Kind gaan bewerkstellig, kan ons aanvaar dat versoening met God nie ‘n onbereikbare droom is nie. Trouens, die Woord van God laat geen steen onaangeroerd nie om die boodskap tuis te bring dat die Vader se hart en arms oop is vir élke sondaar wat sy toevlug tot hierdie Kind neem. En wees verseker, die uitnodiging tot versoening staan vandag nog net so vas soos destyds.
Daarom staan die vraag vierkantig voor jou: het jy al in Christus ingevlug, en skuil jy vir tyd en ewigheid in Hom? En indien nie, wat weerhou jou? - Dis veral hoe God Homself verheerlik
Jy het dit seker al raak gesien, dit gaan oor nog iets. Dit gaan eintlik oor "eer aan God in die hoogste hemel". Ons kan dit só stel: God verheerlik Homself deur vrede te gee vir die mense van Sy welbehae.
HET JY HIERDIE VREDE ONTVANG?
Word jou verhouding met die drie-enige God deur vrede en versoening gekenmerk? Het jy Hom waarlik lief? Is ‘n lewe sonder Hom vir jou ondenkbaar? Het jy tot rus gekom in Christus?
En is jy oortuig van Sy liefde vir jou – ten spyte van jou swakhede en mislukkings? Staan jy weer en weer in verwondering oor Sy genade vir jou? Berus jou ewige sekuriteit op wat Hy gedoen het, steeds doen, en tot in ewigheid sal doen – en daarop alleen? Is jou oë op Christus alleen vasgenael?
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier