JOHANNES 3:16

MISKIEN IS JH 3:16 DIE BEKENDSTE VERS IN DIE BYBEL. Tog verstaan sovele dit oppervlakkig. Kom ons kyk dus vir ‘n slag deeglik daarna.

VERSTOMMEND:GOD HET DIE WÊRELD LIEF!

Dit is duidelik dat die wedergeboorte en ewige lewe gewortel is in die kruisiging van die Seun (14-15). Maar die kruisiging ontspring weer vanuit God se liefde (16a). Dis die bron van alles!
  Niemand praat méér oor liefde as Johannes nie. En as mens kyk hoe hy oor liefde praat, sien jy dat dit deurgaans oor die onderlinge liefde tussen die Vader, die Seun, en die dissipels gaan. Hier is egter ‘n uitsondering. Hier word gepraat van God se liefde vir die wêreld. Hierdie is dus nie ‘n tipiese manier van Johannes om oor God se liefde te praat nie. 
  Dit onderstreep die belangrikheid van ons teks. Hier wil Johannes op die treffendste manier moontlik sê hoe groots en heerlik die Here se liefde is.
As ons dan die God wat liefde is wil ken, móét ons agter die kap van Jh 3:16 se byl kom.

DIE WÊRELD SE GETALRYKHEID?

  Meeste mense, as hulle oor hierdie vers en sy beklemtoning van die Here se liefde dink, dink aan die biljoene mense wat leef en geleef het. Hulle roep dan as ‘t ware uit: om te dink dat Jesus vir een en elkeen van hierdie miljoene der miljoene gesterf het! O, hoe groot moet God se liefde nie wees nie!
Die probleem is dat so ‘n beskouing Bybels nie water hou nie. Alle Bybelgelowiges aanvaar dat baie mense nooit gered word nie. As Jesus dan vir almal, kop vir kop, gesterf het, beteken dit dat Sy dood nie red nie, maar net die moontlikheid van redding daarstel. Dan was Golgota net die oopmaak van ‘n hek, sodat diegene wat wil, kan deurstap  –  en effektief hulleself red.
  Verheerlik só ‘n beskouing God se liefde in Christus? Laat ‘n verlossing wat uiteindelik van die mens afhang, ons sprakeloos? Sal ons in aanbidding kniel voor ‘n liefde wat almal graag wil red, maar uiteindelik niemand régtig kan red nie?
  In Jh 3:16 gaan dit oor iets baie dieper as bloot die oopmaak van ‘n verlossingshek. Nee, Christus se middelaarswerk maak nie net redding moontlik nie; dit red volledig  –  van A tot Z.

DIE REDDING VAN DIE UITVERKORENES?

  In die lig van bogemelde probleme, argumenteer sommige dat ons die begrip "wêreld" nie as een en elke mens moet verstaan nie, maar as die wêreldwye Godsvolk  –  die universele versameling van uitverkorenes. Dit is immers húlle vir wie God van voor die grondlegging van die aarde af liefhet en wat volkome deur Christus gered word.
   Waarom word daar dan van die "wêreld" gepraat as net na die uitverkorenes verwys word? Dis om die universaliteit van Christus se liggaam te beklemtoon, word gesê. Die apostels moes aanmekaar inbeur teen Joodse eksklusiwisme wat die evangelie ernstig gekniehalter het. Maar die Seun se bruid kom uit elke nasie, stam, volk en taal!
  Hierdie vertolking werk sekerlik met Bybelse waarheid  –  anders as die populêre idee waarna ons eerste gekyk het. En dit lig God se liefde uit tot veel hoër hoogtes. Dit werk immers met ‘n liefde wat alles doen wat nodig is  –  wat deur niks gestuit word om die geliefdes veilig en finaal tot binne-in in die Vader se omhelsing te voer nie.
  Maar die vraag is of dít die regte verklaring van die vers is? Dit laat mens steeds met ‘n gevoel van ongemak. Het ons nie dalk ‘n dogmatiese denkkonstruksie  –  Bybels soos dit mag wees  –  op die vers afgedwing nie? Ons moet nóg dieper dink.

DRIE SLEUTELS

Om ons teks reg te verstaan, moet ons drie begrippe daarin nader bekyk  –  drie sleutels wat hierdie skatkamer oopsluit.

Eerstens, God, die Inisiatiefnemer

Wie tog is hierdie God wat Sy Seun na die wêreld toe gestuur het?
As ons aan Hom dink, of oor Hom praat, moet ons gemoedere elke keer oorspoel word deur aanbiddende verwondering  –  oor Sy onmeetlike majesteit, Sy hoë verhewenheid en Sy gansandere transendensie. Hy bewoon ‘n ontoeganklike lig. Geen mens kan Hom sien en bly lewe nie. Hy is in die hemel en doen wat Hy wil. Die heelal lê soos ‘n stoffie in die palm van Sy hand. Niks kan Hom verras nie. Niks kan Hom bedreig nie. Hy is aan niemand enige verantwoording verskuldig nie. Niks of niemand het Hom voortgebring nie; Hy is van ewigheid tot ewigheid. Hy is die allerhoogste in gesag, die alleen-heersende Vors van die ganse skepping, tydloos in Sy bestaan, verbysterend vindingryk in Sy skeppingsvernuf, volkome alleen-eienaar van alles wat is. Hy is ontsagwekkend in Sy heiligheid, majestueus en glinsterend in Sy heerlikheid, onbeperk in Sy krag, onbetwisbaar soewerein. Hy is die Alleen-aanbiddelike  –  oor Sy vlekkelose karakter, Sy oneindige kennis en wysheid, Sy onkreukbare geregtigheid, Sy onwankelbare getrouheid, Sy onuitputlike barmhartigheid, Sy weergalose genade, Sy angswekkende toorn teen alle sonde. Sy skoonheid is verblindend, Sy persoonlikheid steeds bekorend, Sy sagmoedigheid onbegryplik, Sy begrip ondeurgrondelik, Sy liefde onpeilbaar.
  Dis híérdie God wat die wêreld so liefhet dat Hy Sy enigste Seun op Sy reddingsmissie gestuur het!

Tweedens, die wêreld

Ons sukkel om hierdie vers reg te verstaan omdat ons ‘n gebrekkige insig het in die begrip "wêreld".
Die Bybel gebruik die woord op verskillende maniere, maar meestal om van die gevalle mensheid in hulle weerstand en rebellie teen Jesus Christus te praat. Veral in Johannes se geskrifte dui die woord op die geordende opponering en verwerping van die Here en Sy regering. Dis die God-vyandiggesinde wêreldsisteem  –  gedryf deur menslike selfsug en georkestreer deur die Duiwel.
  
Hierdie begrip word uiters negatief deur die Bybel aangebied. Christene moet niks daarmee te doen hê nie (1Jh 2:15-17). As iemand die wêreld liefhet, toon hy dat die liefde van die Vader nie in hom is nie en dat hy ‘n vyand van God is (Jk 4:4). Ja, ons is ín die wêreld, maar hoegenaamd nie ván die wêreld nie. Saam met sy twee bondgenote, die vlees en die Duiwel, het ons geen groter vyand nie. Dit mag ons nie oorrompel nie; ons moet daaroor heers. En om dit te oorwin, is ‘n onmiskenbare merkteken van wedergeboorte (1Jh 5:4). 
  Die begrip "wêreld" is ‘n sambreelterm vir alles in die gevalle mensheid wat goddeloos is en teenoor God staan. Ons teks stel dus die ondenkbare voor ons: dis híérdie bose wêreld waarvoor God so lief is!

Derdens, God se enigste Seun

Wie is deur die Vader gestuur om hierdie sondige en vyandiggesinde wêreld te red?Sy enigste Seun, niemand minder nie!
Die begrip "enigste" (Gr. monogenes) is belangrik. Vyf keer word dit van die Here Jesus gesê, elke keer deur Johannes (Jh 1:14, 18; 3:16, 18; 1Jh 4:9). Dit beklemtoon Sy unieke seunskap. Baie ander mag ook kinders van God word, maar Jesus se seunskap is wesentlik anders. Die Seun, hoewel waarlik mens, bly ook waarlik God. Hy bly Skepper en die res van God se kinders skepsele.
Voorts gebruik die Skrif die woord nóg 4 keer. Dit werp verdere lig op die Here Jesus se unieke seunskap. Elke keer word dit gebruik om die innige liefdesverhouding tussen ouers en ‘n bepaalde kind te beklemtoon  –  ‘n oogappel-verhouding: die weduwee van Nain wat op pad was om haar enigste seun te gaan begrawe (Lk 7:12); Jesus wat Jaïrus se enigste dogtertjie lewend maak uit die dood (Lk 8:42); die man wat by Jesus pleit om sy enigste seun van demoniese besetting te bevry (Lk 9:38); Abraham wat sy enigste moes offer (Hb 11:17).
As ons teks dus van die Here Jesus praat as God se "enigste", beklemtoon dit 2 dinge. Eerstens is Hy die Vader se absoluut unieke gawe  –  die beste wat Hy kon gee, algeheel onvervangbaar. Tweedens het die Vader Hom op Sy doodsending gestuur ten spyte van die diep, innige en onverbreekbare liefdesband tussen hulle.
Kan dit wees dat die Vader híérdie Seun gestuur het om vir ‘n sondige en Godvyandiggesinde wêreld te kom sterf! Waarlik, dit was nie ‘n minderwaardige offer nie! Die Bybel besing die Seun se lof op bykans elke bladsy. Geen woorde kan reg laat geskied aan Sy heerlikheid nie. Hy is die ewige Woord, die Vader se agent in die skepping van die ganse heelal, die afskynsel van God se heerlikheid en die afdruksel van Sy wese, die Alfa en die Omega, die begin en die einde.
Dis híérdie Seun wat die driemaal-heilige God opgeoffer het ter wille van die wêreld wat Hom haat!

KONKLUSIE

As ons teks oor die wêreld praat, wil dit nie sê dat dit so groot is dat dit ‘n enorme hoeveelheid liefde verg om dit te omhels nie. Nee, dit wil sê dat dit so sleg is dat dit ‘n enorme sterk liefde verg om dit te omhels. Dit wil nie sê dat God se liefde so groot is dat dit biljoene mense kan omarm nie, maar dat dit so groot is dat dit God se heilige afsku van sonde kan oorkom. Dit gaan nie oor kwantiteit nie, maar oor kwaliteit.
Dis presies wat Rm 5:8 sê: "Maar God bewys Sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was" (1Jh 4:9).
Ons teks wil dus geen uitspraak lewer oor die vraag of God se reddende liefde op alle mense gerig is, en of dit net gerig is op die uitverkorenes nie. Nee, dit wil ons harte vul met ‘n stomgeslane verwondering oor die geheimenis van God se liefde vir sondegevalle mense vol rebellie teen Hom.

Soek deur elke hoekie van die heelal, deur elke dag van die geskiedenis  –  só ‘n liefde sal jy nêrens kry nie! Só ‘n waardige Minnaar; só ‘n afstootlike beminde; só ‘n kosbare Offer

TOEPASSING

  1. Jou dankbaarheid en verwondering oor God se liefde en jou verlossing mag nooit vervaag nie. Bepeins dit weer en weer.
  2. As só duur vir jou betaal is, hoe oneindig kosbaar moet jy nie vir God wees nie!
  3. Met só ‘n liefde wat só ‘n prys vir jou betaal het, moet jou verlossing finaal afgehandel wees. Moenie God beledig of Sy Seun se middelaarswerk besmet deur jou eie verdienste daarby in te roer nie.
  4. Is dit moontlik dat iemand afsydig na die uitleg van hierdie vers kan luister en onaangeraak huis toe gaan? Wat kan die hardvogtige en onwedergebore staat van ‘n hart duideliker onderstreep as dit?
  5. Kan enige sondaar té diep gesonke wees vir so ‘n liefde om hom of haar by te kom?
  6. Is jou hart dalk vir die eerste maal tot in sy dieptes deur God se liefde geroer? Besef jy uiteindelik hoe jy God beledig het deur jou rug vir jare op Sy gawe te keer? Kom dan in nederigheid na Christus toe. Watter duiselingwekkende offer is nie vir jou verlossing gebring nie! Kom drink sonder versuim diep teue van die water van die lewe. Dis verniet  –  want dis reeds betaal!

 

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00