In die kloosterbiblioteek van Erfurt in Duitsland is daar ‘n skildery van ‘n jong monnik, Martin Luther. Voor hom lê ‘n oop Bybel. Die oggendson val helder deur ‘n venster op ‘n vers wat sy hele lewe sou beheers en die wêreldgeskiedenis ingrypend sou raak: "Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe" (Hab 2:4, OAV). Vroeg in sy monnikkelewe het hy reeds begin worstel om hierdie vers te verstaan. In sy hart het hy aangevoel dat dit ‘n wesentlik belangrike sleutel is om die ware geestelike lewe te begryp en te vind.
In nog ‘n biblioteek, 40 km suid-oos van Erfurt – die van Rudolstadt – is daar ‘n brief van Luther se jongste seun, Dr. Paul Luther, waarin hy skryf dat sy vader in 1544 aan die gesin vertel het van sy besoek jare vantevore aan Rome. Daar het hy op sy knieë uitgeklim teen die sg. trap van Pilatus en aanmekaar diePater Noster opgesê, in die hoop dat hy só siele uit die vagevuur sou red. Maar eensklaps het die woorde van Hab 2:4 deur sy gemoed gebrand, en het hy besef dat hy besig is met skreiende bygeloof en kettery.
Reeds vantevore, op pad Rome toe, het Luther ernstig siek geword. In Bologna word hy deur monnikke verpleeg. Emosioneel is hy in duisternis, en om dalk te sterf en voor God te gaan staan, is vir hom ‘n vreesaanjaende gedagte. Maar één ding hou hom aan die gang: die geheimenisvolle woorde wat weer en weer deur sy gemoed spoel: "Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe",
Terug in Duitsland, uiters ontnugter met wat hy in Rome beleef het, gaan die betekenis van Hab 2:4 mettertyd vir Luther oop. Spoedig bereik hy ‘n punt waarvan hy kan sê: "Toe het ek wedergebore gevoel soos ‘n nuwe mens, en ek het deur oop deure in die Paradys van God ingestap." Só begin die sestiende eeuse Reformasie dan. Niks sou ooit weer dieselfde wees nie. Opeens is al Europa se vensters oopgestoot om die sonskyn van waarheid orals te laat instroom en die duisternis van die Middeleeue te verdring.
Ons teks – slegs 3 woorde in die oorspronklike Hebreeus – is van die mees gelaaide en invloedryke uitsprake van alle tye. Ons kan trouens sê dat dit aan die hart lê van wat God deur Sy profete en apostels aan ons geopenbaar het. Aan meer wonderskone en betekenisvolle woorde kan geen ware gelowige dink nie!
GOD SE ANTWOORD OP HABAKUK SE VRAAG
□ Wat beteken hierdie woorde van Habakuk?
Die profeet skryf ongeveer 600 v.C. en worstel met onder meer die diepsinnige vraag waarom God die goddelose Chaldeërs, oftewel Babiloniërs wil gebruik om die verbondsvolk te straf. Hy aanvaar dat die volk as geheel skuldig staan voor God en gestraf moet word. Maar wat van die regverdiges – want saam met hom en Jeremia is daar nog baie ander wat werklik in opregte gehoorsaamheid aan die Here leef – wat gaan van hulle word in die gerig? En dan sit hy ten diepste steeds met sy morele vraag: waarom ‘n nóg sondiger volk as instrument gebruik om Juda te straf? Hoe kry mens dit gerym met God se heilige karakter?
Die essensie van God se antwoord kry ons in v.4. Die trotse Chaldeërs en die Here se regverdiges word teenoor mekaar gestel. Die ou Verklarende Bybel vertolk die eerste helfte van die vers só: "Kyk, die opgeblasene. My siel het in hom geen behae nie." Die Babiloniërs sal dus hul "verdiende loon kry" (NAV). Daarenteen sal die regverdige bly lewe – deur sy geloof, en nie deur sy eie krag nie. God se gunsgenote sal dus níé in oordeelstye onder gaan nie. En die enkelvoud in v.4 beklemtoon dat dit kop vir kop geld.
Dus sal God se regverdigheid uiteindelik tog seëvier: sondaars sal sterf en gehoorsames sal lewe.
VERDERE LIG UIT DIE NUWE TESTAMENT
□ Hab 2:4 word 3 keer in die Nuwe Testament aangehaal (Rom 1:17; Gal 3:11; Hab 10:38). So word die beginsel wat die Here aan Sy profeet deurgee verder oopgevou. Interessant is die feit dat elke aanhaling – en die betrokke brief waarin dit voorkom – ‘n ander een van die drie woorde in die Hebreeuse teks belig.
Die eerste Hebreeuse woord beteken "maar die regverdige". Rom 1:17 (en konteks) belig veral dít.
□ Hab 2:4 toon dat dit moontlik is vir ‘n mens om regverdig voor God te wees. God sê self so. Maar hoe kan dit wees? Ons almal is immers sondaars – en nie sommer net tot ‘n geringe mate nie. Juis dít was Luther se groot krisis. Só diep was sy sondebesef dat dit hom party dae amper tot waansin gedryf het. Niemand kon méér met Paulus se betoog in Rom 1:18-3:20 saamstem as hy nie: alle mense verdien om onder God se toorn te sterf! Dag na dag het Job se vraag deur sy hart gebrand: hoe tog sal ‘n skepsel regverdig voor sy Maker kan staan? (Job 4:17; 9:2).
Presies dit is wat die Romeinebrief verduidelik. Die antwoord lê in die lewensveranderende waarheid van regverdiging deur die geloof alleen.Regverdiging is God se vrye gawe – op grond van Sy Seun se soenverdienste alleen – aan elke sondaar wat Sy beloftes in Christus vanuit persoonlike gebrokenheid en bankrotskap van harte glo en omhels!
En hierdie gawe is ‘n volkome gawe. Dis ‘n juridiese verklaring deur God. Dis ‘n inskrywing in Sy boeke waarvolgens twee dinge gebeur. Eerstens word die een wat glo se sondeskuld volledig aan Christus toegereken, oftewel gedebiteer.Tweedens word Christus se volkome geregtigheid aan so ‘n persoon gekrediteer. In God se boeke het hy of sy dus die status van iemand wat nooit gesondig het nie; trouens, van iemand wat die Wet volmaak onderhou het.
Die tweede Hebreeuse woord beteken "deur sy geloof". Gal 3:11 (en konteks) belig veral dít.
□ Toe Paulus die gemeente in Galasië gevestig het, het hy die volle raad van God aan hulle verkondig: sondaars ontvang God se regverdigverklaring deur geloof alleen – geloof in die middelaarskap en verdienste van Jesus Christus.
Maar nadat die apostel weg is, het dwaalleraars daar opgedaag. Die Judaïste het verkondig dat geloof alleen nie genoeg is vir redding nie, maar dat die Joodse seremoniële wette ook onderhou moet word, veral die besnydenis. En kort voor lank het die gemeente dit begin glo. Dit ontstel Paulus tot in sy wese. Hy roep God se oordele uit oor hierdie vals leraars (1:6-10). En die gemeente waarsku hy teen geloofsafval. As julle jul nog laat besny, sê hy, "sal Christus vir julle geen betekenis hê nie". Dan het julle "julle band met Christus verbreek", en het julle "die genade van God verbeur" (5:2-4). En in 3:3 verwyt hy sy lesers: "Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig?"
□ Die Galasiërbrief wil dit dus tuisbring dat daar net één manier is om God se regverdigverklaring te bekom: om in Christus alléén te glo – sonder om op enige werke staat te maak. Trouens, om staat te maak op selfs net ‘n kriesel menslike verdienste addisioneel tot dié van Christus, is diskwalifiserend. Dan moet jy maar self sien en kom klaar. Dan bly daar net een manier oor om gered te word: jy moet die wet volkome onderhou (5:3)! En wie kan dit doen?
Die derde Hebreeuse woord beteken "sal lewe". Hab 10:38 (en konteks) belig veral dít verder.
□ Baie mense dink dat ‘n bloot eenmalige en tydelike geloof genoegsaam is om jou te red. Solank jy net iewers op ‘n punt die Here aangeneem het, is jy veilig vir tyd en ewigheid – ongeag hoe jou lewe daarná lyk.
Wat sulke mense nie besef nie, is dat reddende geloof iets baie uniek is. Dit mond áltyd uit in goeie werke en gehoorsaamheid en volharding (Jak 2:14-26). Waarom? Omdat die geloof wat God deur Sy Gees gee, altyd saamloop met die wedergeboorte wat Hy in so ‘n persoon werk. En ‘n herskepte hart kan nie anders as om lewenslank in die voetspore van Jesus te volg nie.
□ Dit is presies wat die Hebreërbrief wil tuisbring. Die brief is geskryf aan Joodse Christene wat begin lam raak het in die knieë. Die eise van dissipelskap het vir hulle te veel begin raak, sodat hulle oorweeg het om terug te keer na die Joodse godsdiens – wat gevrywaar was van vervolging, en wat bloot die onderhouding van ‘n klomp uiterlike seremonies vereis het. Die skrywer druk hulle dan op die hart dat gehoorsaamheid en geloofsvolharding tot die einde toe noodsaaklik is om die loon te bekom. Christenskap is ‘n wedloop – die eintlike prys kry jy eers by die wenpaal.
Dis nie dat gehoorsaamheid en volharding ‘n bydrae lewer tot Christus se verdienste nie. Dis omdat ware geloof is wat dit is – dis lewensveranderend, en hou uit en aan. Die ewige lewe wat ‘n mens deur die geloof in Christus ontvang, begin dus onmiddellik sodra jy glo.
□ Hab 11, wat net ná die skrywer se aanhaling van Hab 2:4 volg, handel dan ook oor geloof en die effekte daarvan. Een na die ander Ou Testamentiese geloofsheld word as voorbeeld voorgehou. Wat opval, is dat al hierdie mense se geloof sonder uitsondering oorgaan tot dade. Dit laat Abel ‘n beter offer bring. Dit laat Henog met God wandel. Dit laat Noag die ark bou. Dit laat Abraham wegtrek na die beloofde land, dit stel hom in staat om Isak se vader te word, dit laat hom Isak offer. En so gaan die hoofstuk aan en aan. Uiteindelik sluit dit af met die helde van v.32 wat onstuitbaar volhard op die geloofspad en die mees merkwaardige dinge vir die Here regkry (33-38).
□ Nooit mag ons die ou, ou gesegde vergeet nie: sola fides justificat, sed non fides sola est (geloof alleen regverdig, maar nie geloof wat alleen is nie). Die ware geloof, daardie geloof wat regverdig, is lewensveranderend. Dit bepaal jou lewe elke dag. En dit hou lewenslank; trouens, dit hou vir ewig!
Het die Here Jesus nie gesê nie: "Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie" (Jhn 11:25-26)?
SLOT
Die beginsel van Hab 2:4 lê aan die hart van God se openbaring aan ons, aan die hart van die evangelie, aan die hart van wat dit beteken om met Christus verenig te wees. Wie dit nie verstaan nie, is nog nie ‘n Christen nie. Maar wie dit verstaan en vanuit sy of haar sondegebrokenheid in Christus invlug en ten volle in Sy volkome Middelaarskap bly vertrou, sal deur God in die volste sin van die woord regverdig verklaar word. En so ‘n man of vrou of kind sal waarlik lewe – nou reeds, maar ook vir ewig!
Is jy geregverdig? Het jy die ewige lewe ontvang? Skuil jy gelowig vir tyd en ewigheid by Christus – en by Hom alleen? Is dit die beheersende beginsel van jou ganse lewe? Die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe!
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier