Geskryf deur F. B. Meyer
“Elkeen dan wat My Sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.” – Matt. 10: 32.
Christus se uiteindelike doel is om vrede vir ons sondige mensdom te verkry, en die verkondiging van die boodskap van vrede is reeds besig om dwarsdeur die wêreld te versprei. Ons moet in ons getuienis nie weifel of in ons hart die waarheid verberg wat aan ons toevertrou is nie, aangesien daardeur smaad en lyding oor ons gebring kan word. Daar is niks wat vir ons eie erns en toewyding so bevorderlik sal wees as ons gedurige getuienis vir Christus nie. Die bevordering van die koninkryk van God word nie soseer bepaal deur merkwaardige veldtogte en preke nie, as deurdat ons elkeen vir ons naaste sou sê: “Ken die Here!”
Ons behoort by ons naaste familie te begin. Andreas se getuienis en belydenis het Petrus na Jesus gebring (Joh. 1:40 – 42). En watter seën ook al tot die Kerk en die wêreld gekom het deur die getuienis en belydenis van Petrus, moet deels toegeskryf word aan sy broer Andreas.
Ons moet Christus aan ons naaste vriende bely. Filippus het Natanael gebring. Ons vriende verwag dat ons hulle sal toelaat om ons innerlike gedagtes en ondervinding te deel. Soms kan ons net ons eenvoudige belydenis bring: “Ons het die Christus gevind,” maar terwyl ons diegene wat ons liefhet, na Christus lei, sal ons Hom altyd simpatiek en gewillig vind om ons pogings met Sy magshulp en gemeenskap te steun en aan te vul. Hoe het Hy Petrus nie verwelkom nie en die karakter van Natanael gelees!
Ons persoonlike getuienis is onskatbaar. Die vrou van Samaria het met haar belydenis die hele stad aan die voete van Jesus gebring. Baie van die Samaritane het in Hom geglo deur die woord van die vrou wat getuig het: “Kom kyk ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het.” Dit was die aanvang van ’n groot herlewing.
Dit was Moody se gewoonte om elke dag persoonlik met iemand oor die Here Jesus te praat. As iemand sou beweer dat hierdie gewoonte meganies en formeel sou kon word, kan ek maar net antwoord dat die dae dat ek self so geleef het, die vrugbaarste van my hele lewe was. Dis nie noodsaaklik om altyd jou uitdrukkinge met verwysings na die godsdiens te deurspek nie, dog die lig in ons moet nie weggesteek word nie (Matt. 5:14 – 16).
Hoe groot sal die eer nie wees om deur Christus voor die hele wêreld bely te word en deur Hom voor die heerlikheid van die Vader met gejuig gestel te word nie (Judas v. 24)! “As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.”
GEBED: Gee dat ons Christus, ons Here, so in hierdie wêreld sal voorstel, dat mense Hom mag liefhê oor die beeltenis wat hulle van Hom in ons sien. Amen.
Geneem uit Wandel met God deur Dr. F. B. Meyer. Publieke gebruik.