Die Here Jesus het jou baie lief deur Pieter Scholtz

DIE HERE JESUS CHRISTUS HET JOU BAIE LIEF! deur Pieter Scholtz

Pieter Scholtz (021=9397133)

HY SKENK SONDAARS ‘N NUWE GEBOORTE!


* Die wedergeboorte is lewensbelangrik; die ENIGSTE paspoort tot lewe in God se koninkryk! Jesus Christus het self gesê, ‘voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie … en, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.’ Johannes 3:3,5.


* Wedergeboorte is ’n geestelike ervaring, ʼn magtige wonderwerk wat God uit genade vir enige berouvolle sondaar doen deur die kragtige, lewegewende Woord van God en die openbarende werk van die Heilige Gees; die vrug van God se roepstem tot ontwaking: “Julle is wedergebore nie deur verganklike saad nie, maar deur onverganklike, deur die lewende Woord van God wat tot in ewigheid bly” 1 Petrus 1:23.


* Wedergeboorte is ’n opstanding uit geestelike dood. “Daar kom ’n uur en dit is NOU wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor en die wat dit gehoor het, sal LEWE.” Johannes 5:25. “Maar God … het ons … toe ons dood was deur die misdade, ons lewend gemaak saam met Christus …” Efesiërs 2:4.


* Wedergeboorte is genesing van die dodelike gif van die sonde. God red en verlos die angsvolle sondaar wat gehoorsaam na sy Verlosser toe KOM en gelowig na Hom kyk as sy Plaasvervanger aan die kruis! Soos die Israeliet deur net één gelowige kyk na die koperslang op die paal, oombliklik van die dodelike slanggif in sy liggaam genees was! Johannes 3:14.

* Wedergeboorte is die totale herskepping van die verlore sondaar tot ’n “nuwe skepsel” in Christus Jesus. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verby gegaan, kyk, alles het nuut geword” (2 Kor. 5:17). Inderdaad nou God se splinternuwe “maaksel”. Nie vrome vernis op ’n verrotte ding wat met ‘beter’ gewoontes, gedrag en voornemens gelap word nie! Ook nie net ’n nuwe blaadjie omslaan, of die oppervlakkige sogenaamde bekering van ’n ‘roekelose bose’ tot ’n meer ‘ordentlike goddelose’ nie! Inderdaad ’n nuwe skepsel van binne en buite, nuut “geskape in Christus Jesus tot goeie werke” Efesiërs 2:10.


* Wedergeboorte is ’n geestelike geboorte tot binne ’n ander familie. Maar niks word gebore sonder pyn nie; om die Kruis op te neem en Hom te volg, is die pyn van die prys om God se wil te doen! “Kyk, wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word …!” 1 Johannes 3:1. “…Om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie” Hebreërs 2:11; 11:16.


* Wedergeboorte is die koms van God self na die tempel van jou hart, wanneer jy in antwoord op Sý roepstem, na Hóm toe KOM, jouself volkome aan Jesus Christus oorgee en Hóm in geloof as jou persoonlike Verlosser aanneem. Dan kroon jy Hom as die Koning van jou lewe! Johannes 1:12.


N.B. Bou JY dalk op vals fondamente? Géén werke – hoe goed ook al; geen natuurlike geboorte in ʼn godsdienstige familie – hoe voortreflik ook al, en géén godsdienstige opvoeding of blote kerklidmaatskap – hoe noodsaaklik ook al, kan jou red nie! Wéét en erken dit tog asseblief!!! Die Skrif sê almal hét gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. Almal hét gedwaal soos skape en élkeen het sy eie pad geloop … in eiewil en in opstand teen God se weg en heerskappy! Jesaja 53:6.


Die Skrif waarsku ons dringend! Die tien maagde het uiterlik presies eners gelyk, maar die toets was innerlik, of hulle lampe middernag kon brand en skyn! Die ryk jongman het sy rug op Jesus gedraai terwyl hy tevergeefs op die dryfsand van die onderhouding van al die gebooie gepleit het. Jesus het gesê dat in daardie dag, wanneer Hy sal kom, sommige verbaas en vreesbevange sal sê: “Ons het in U Naam geprofeteer, in U Naam duiwels uitgedryf en in U Naam baie kragte gedoen.” Ander sal sê: “Ons het in teenwoordigheid geëet en gedrink en U het op ons strate geleer.” Die Here sal antwoord: “Ek het julle nooit geken nie … gaan WEG van My, al julle werkers van die ongeregtigheid …!” Mat. 7:21-23; Lukas 13:26.


Daar is net EEN manier: Besef en erken jou sonde, verlorenheid en skuld voor God, bely dit met afsku en berou en word by die Kruis met God versoen! Hy vergewe jou sonde en reinig jóú van alle ongeregtigheid! (1 Johannes 1:7,9). Bekering beteken net dit – dat jy en ek, net soos ons is, as verlore en helverdiende sondaars, en met hartgrondige berou by die kruis van Jesus Christus sal neerkniel. Dáár pleit ons om genade en vergifnis. Slegs dáár mag ons Hom in die geloof as persoonlike Plaasvervanger, Verlosser en Erekoning aanneem. Dáár verséker God jou dan dat Hy jou die mag gee om ʼn kind van God te word! Johannes 1;12; Johannes 6:37!


Wanner God jou aanneem, deel Hy Sy Gees jou mee en maak jou ʼn deelgenoot van die goddelike natuur 2 Petrus 1:4. Deur Sy nuwe skepping stroop Hy die ou lewe met al sy slawebande van sonde, vrees en twyfel van jou af en beklee jou met die wit kleed van Sý geregtigheid. Deur die genadewerk van regverdigmaking (hier onder verduidelik) wat gegrond is op die feit dat Jesus Christus in jóú plek gesterf het om jóú skuld, straf en blaam te dra, sien God jou aan asof jy NOOIT gesondig het nie en druk jou vas aan Sy hart van liefde! Jy sal dit verséker weet, want niemand anders nie as God self sê en waarborg dit in Sy onfeilbare Woord! 1 Johannes 5:12,13.


Wedergeboorte is die ontvang van die ewige lewe deur Jesus Christus (1 Johannes 5:12). Wat ʼn gawe!

Wedergeboorte is die ontvang van ’n nuwe, goddelike natuur – God se eie (2 Petrus 1:4). Wat ʼn verandering!

Wedergeboorte is die ontvang van die aanneming tot kinders van God (Galasiërs 4:5). Wat ʼn voorreg!

Wedergeboorte is die ontvang van die belofte van die Gees deur die geloof (Galasiërs 3:14). Wat ʼn skat!

Wedergeboorte is die ontvang van versekering dat jy wedergebore is (1 Johannes 3:14; 5:13). Wat ʼn vrede!


* Jy kan beslis wéét dat jy deur genade gered en ’n wedergebore kind van God is! (1 Joh.5:12,13)

* Jy kan NOU reeds wéét jy word en is dan Sy kind ás jy Hom aangeneem/ontvang het (Joh.1:12)

* Wéét dan God neem jóú ook aan as Sy kind: “Kom na My … Ek sal jou nooit uitwerp nie” (Joh.6:37)

* Jy kan vir séker wéét dat as die Seun jou vrygemaak het, jy waarlik vry sal wees (Joh.8:36)

* Dis ʼn feit, nie gevoel nie, dat God Sy onwankelbare Nuwe Verbond met jou sluit en waarborg!


REGVERDIGMAKING DIE BASIS VAN JOU REDDING


God se geregtigheid is gelyk aan Sy regverdigheid en heiligheid. Met betrekking tot die sondaar, het Sy regverdigmaking (vryspraak) twee kante, naamlik: Toegerekende en toegepaste geregtigheid.


Toegerekende geregtigheid is ʼn dubbele toerekening: Die geregtigheid van Christus word die sondaar wat GLO toegereken, want al sý ongeregtigheid is sy gekruisigde Plaasvervanger toegereken. Dit bepaal sy geregtelike welstand in sy verhouding tot God.


Toegepaste geregtigheid egter, word ook op twee maniere toegepas: Deur God word dit genadiglik toegepas op die verloste sondaar deurdat Hy hom ook deur Sy Gees lewend, nuut en sterk maak. Deur die verloste sondaar word dit prakties deur homself toegepas in sy nuwe, heilige lewenswandel. Dit bepaal sy werklike toestand voor God en mense.


Deur regverdigmaking word ʼn stewige fondament gelê; Christus se geregtigheid toegereken en deur die wedergeboorte Sy lewe meegedeel. Deur heiligmaking word dan in praktyk ʼn sierlike kroon gespan waar dit toegepas word en dit prakties uitwerk. ‘Toereken’ het te doen met ons geregtelike stand voor God en ‘toepas’ met die gevolglike praktiese reg wees en reg doen voor God en mens.


* ‘Regverdigmaking’ is ʼn geregtelike daad van God – L.W. – soos in ’n geregshof – waardeur Hy die berouvolle, gelowige sondaar volkome van sondeskuld vryspreek op grond van Christus, sy gekruisigde Plaasvervanger se verdienste en hom Christus se geregtigheid toereken, tot só ʼn mate dat Hy hom dan ‘in Christus’ aansien asof hy nooit gesondig het nie! Dit beteken egter nie net vryspraak van sondeskuld nie, ook die vrymaak van sondemag – ‘soos op ʼn slawemark’ – waar Jesus Christus deur Sy losprys die ‘sondeslaaf’ nie slegs VRY koop nie, maar ook ‘waarlik VRY’ maak!


* ‘Regverdigmaking’ is ’n genadedaad van God omdat geen verdienste deur goeie werke dit kan koop of eie krag dit kan vermag nie. Die skuldige en verlore sondaar word “deur Sy genade sonder verdienste geregverdig (vrygespreek) deur die verlossing wat daar in Christus Jesus is” Romeine 3:24.


* ‘Regverdigmaking’ is ook ’n versoeningsdaad deur God: Elke ongeredde mens leef in vyandskap met God, maar hy word met God versoen by en deur die Kruis en Kruisverdienste van Christus. “Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof” Romeine 3:25. Terwyl ons nog vyande was, is ons met God versoen deur die dood van Sy Seun. Romeine 5:10.


KENMERKE VAN DIE WEDERGEBORENE: Hy geniet:


Versekering in vaste geloofsvertroue van vergifnis van sondes en ‘aanneming’ as kind van God.

Verlossing van die bose mag van sonde en ʼn afkeer van en breek met elke vorm van sonde.

Volkome vergifnis teenoor ander … net soos Jesus jou vrywillig, verniet en volkome vergewe het.

ʼn Liefde vir God en mense wat uitwerk in vrywillige diensbaarheid, met die gesindheid van Jesus.

ʼn Heilige eerbied en eerbiedige vrees wat God vertrou en na Hom laat nader, na Homself laat vlug.

ʼn Honger en dors na die Woord. Jy verstaan dit beter … soos ʼn nuwe boek, vol lig en waarheid.

ʼn Passievolle drang na ʼn heilige lewenswandel en gelykvormigheid aan Jesus Christus.

ʼn Las en drang vir die redding van verlore sondaars en betrokke as getuie van God se genade.


BEKERINGSGEBED VIR HOM WAT NA VERSEKERING SMAG

* ’n Eerlike erkenning met afsku en berou: “O God, ek is ’n VERLORE sondaar; wees my asseblief genadig!”

* ’n Hartgrondige belydenis van sonde: “Ek bely al my sonde, vra vergifnis en draai my rug met afsku daarop!”

* ’n Gelowige aanvaarding: “Ek kom NOU na Jesus net soos ek is en ek wéét Hy sal my NOOIT uitwerp nie!”

* ’n Totale regsomkeer: “Ek draai doelbewus weg van sonde en kies en volg vir Jesus Christus, my Verlosser!

GEEN BETER TYD AS NOU! “Kom NOU en laat ons die saak uitmaak, sê die Here …” Jesaja 1:18


Indien u hulp, gebed of raad verlang, skakel gerus die bogenoemde nommer:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00