JAKOBUS-REEKS NR 8
Jakobus 4:1 – 5:6
Tema: Hand in eie boesem

Belangrik om in gedagte te hou: Jakobus praat met mense wat regtig kinders van die Here is – wat Wysheid “van Bo” ontvang het. In die vorige paragraaf: konflik tussen “2 wyshede” wat stry om die Christen se hart te wil besit. Nou: hoe lyk daardie konflik in die praktyk? Hoe kan dit wees dat ‘n mens regtig aan Christus behoort, maar dinge loop soms so deurmekaar? Wat is die tipiese dinge waarteen ‘n kind van die Here voortdurend moet stry en waak? Jakobus identifiseer dit alles as “vriendskap met die wêreld” TEENOOR ‘n lewe van heiligheid. Wysheid-van-Bo mond uit in ‘n heilige lewe. “Aardse wysheid” mond uit in vriendskap met die wêreld. Opvallend: ‘n Kind van die Here kies nie voluit vir vriendskap met die wêreld nie – v 4 – wie dit wel doen is nie ‘n kind van God nie, maar ‘n vyand van God. Tog, al kies die ware gelowige nie opsetlik vir vriendskap met die wêreld nie, sit dit so diep vasgemessel in die Adamnatuur en aard van die mens – jy wórd eenvoudig vasgevang. Voorbeeld: ‘n Kat wil verby die modderpoel kom, maar val per ongeluk in. ‘n Vark mik reguit vir die modderpoel en geniet dit daar.

Wat is die “vriendskap met die wêreld” – vlgs Jakobus? Dalk iets totaal anders as wat óns sou dink. In ons volksmond is dit “wêreldse goed” en dit behels gewoonlik ‘n lysie goedjies van moets & moenies. Die Woord praat egter nie daardie taal nie. Jakobus wys die wortel aan. Jakobus gaan te werk soos ‘n mediese dokter. Hy gee ‘n diagnose en ‘n voorskrif. ‘n Goeie dokter speel nie en praat reguit. Hoe diagnoseer Jakobus hierdie vriendskap met die wêreld (wêreldse gees)? Hy sê die wortel daarvan is dat VIER gesindhede/verhoudings kromtrek (vv 1-5). 1) Verstaan jouself verkeerd. 2) Verstaan materiële besittings verkeerd. 3) Verstaan verhoudings met mense verkeerd. 4) Verstaan verhouding met God verkeerd. Wêreldse gees van buite af gesien: besittings & self. Wêreldse gees dieper gesien: affekteer verhouding met God en naaste. Dus: Vier verhoudings wat kromtrek: self, goed, God, naaste. Hierdie 4 goed is weer met ‘n draadjie aan mekaar verbind. Daar is “iets” wat hulle brandstof gee: selfsug. Eie self staan in die sentrum van alles. In belang van myself is ek bereid om ‘n oorlog met ander aan te gaan. Ek is bereid om enigiets wat in die pad van selfverwesenliking kom, weg te vee. Dit is die kern van alle wanverhoudings tussen mense, noem maar op: huwelik, gesin, families onderling, gemeente. Die sentrum van alles is daardie innerlike neiging van om ‘n afgod in die sentrum te hê: EKSELF. Verse 1 & 3: SELFSUG – trek alles krom. Vriendskap met die wêreld.

Vir elkeen van hierdie 4 het Jakobus ‘n evangeliese voorskrif: 1) kom in harmonie met God (vv 6-10). 2) gebrokenheid teenoor mekaar (vv11-12). 3) Nuwe gesindheid teenoor jouself (vv13-17). 4) Nuwe siening t.o.v. besittings (5: 1-6). Ons kom net nou na hierdie helingsterapie terug.

Laat ons egter eers goed raaksien wat die Skrif bedoel met ‘n wêreldse gees: Vier kromgetrekte verhoudings: EERSTENS: om jouself in verkeerde perspektief te sien. Kromgetrekte verhouding tot jouself. Alles draai om myself. En só kan dit wees terwyl ‘n mens, uiterlik gesien, ver weg leef van ooglopende wêreldse praktyke & wêreldse sondes. Maar jy kan nog steeds ‘n “wêreldse mens” wees. Dit gaan oor ‘n beginsel in die innerlike mens. Byna alle blootstelling aan die media versterk hierdie innerlike beginsel. Byvoorbeeld TV sepies. Die mens wat ‘n brandende begeerte koester na ‘n heilige lewenswandel, vlug letterlik weg van alles wat klem lê op die SELF. Dit is vir jou ‘n klip in die skoen.

Die onvermydelike gevolg van hierdie hele beginsel is (TWEEDENS) dat jy ‘n skewe benadering sal ontwikkel teenoor besittings. Gierigheid neem oor. Jy palm in en klou vas ten einde jouself in ‘n beter lig te plaas. En wanneer jy nie kry wat jy wil hê nie, lei dit weer tot hernude wanverhoudings.

DERDENS: Kromgetrekte verhouding tot jou medemens: 4:1 – Rusies & stryd. Vers 2: Jaloesie en bakleiery. Vers 11: Kwaadpraat van ander. Regter-speel oor ander. Skokkend: veroordeling van die naaste IS veroordeling van die Here se wet/wil (v 11). Dit is nie so ‘n onskuldige sakie soos ons dikwels voorgee nie. Dit is byna of Jakobus sê: Vat aan ‘n ander skepsel van die Here en jy vat aan die Here self. En die fontein wat dit die heeltyd voed is – volgens vers 1 – is ‘n ding wat nimmereindigend binne-in ons woed, naamlik die sug om sélf in die sentrum te wil staan.

VIERDENS die onvermydelike gevolg : jou persoonlike verhouding met Christus word vervelig en donker. Gebedslewe word gedreineer. Jy het later nie meer ‘n kragtige lewe met die Here nie. Vers 3: gebedslewe sentreer ook rondom eie belange. Jy wil die Here gebruik om bo uit te kom. Dit is soos die slang in die Tuin van Eden. Dit vernietig gebed nog voordat jy klaar gebid het!

Die kosbare en verbysterende in dit alles is die Here se konstante gevoel/houding. Verse 5-6: Hy maak nie die krag van die wedergeboorte tot niet nie. Hy het ‘n jaloerse passie dat ons menslike gees absoluut aan Hom toegewy sal wees. “Homesick” – intense verlange. Wanneer Hy Sy kind sien loop met ‘n wêreldse gees, is Hy stukkend in Sy liefde. Hy voel die pyn van verwerping. In Sy hart is ‘n heilige jaloesie om ons 100% te besit. Tweedens: vers 6: Hy gee méér genade. Wat ‘n verstommende stelling! Dit maak nie saak hoe ons droogmaak nie, Hý word nie verslaan nie. Selfs wanneer ek Sy hart breek, dan reageer Hy deur meer genade te skenk. Sy inisiatief stop net eenvoudig nooit. En dit is van hieruit dat die voorskrif vir genesing kom (vanaf vers 7). Op die oog af lyk dit alles na dinge wat ons moet doen om van die wêreldse vriendskap ontslae te raak. En dit ís inderdaad so. Dit is opdragte. Maar, al is dit opdragte, kom dit voort vanuit SY jaloesie, SY inisiatief, SY genade. Omdat Sy liefde so sterk is en Hy meer genade gee, is die opdragte nie moeilik nie en kan Jakobus dit baie reguit stel. Omdat dit opkom vanuit God se voortdurende inisiatief, kan Jakobus ons oproep om radikaal te handel met die wortel van sonde: UITRUK! Ons moet daardie 4 monsters (4 kromgetrekte verhoudings) beetkry en hulle UITPLUK! Moenie jouself spaar nie! Paulus: Kasty myself. Hou op mooi broodjies bak en staan op van die varkpeule af!

Enigste manier om ware selfvervulling te beleef, is om laag voor die Here te buig (v 7 & 8). Wie sy lewe aflê, sal dit vind. Daarom Jakobus se oproep: kom ten alle koste op ‘n plek om jouself voor die Here te verneder (v 10). Waar daar ‘n hart vol ootmoed is, is die Here baie naby. En jy moet iets DOEN om daar te kom! Gaan worstel deur! Hiermee saam – outomaties – word die satan weerstaan (v7). Dit is die manier hoe satan weerstaan word, hoe sy planne verbreek word, hoe geestelike oorlogvoering plaasvind. Nie noodwendig deur met die duiwel sélf te praat en hom te bestraf nie, maar deur in ootmoed na die Hére te kom!

Daarmee saam: soek doelbewus toenadering tot God. Dan sal Hy na jou toe kom (v8). Hier: doelbewuste daad van die mens! So-ook wat betref die skoonmaak van die hande en die hart. Moenie sit en wag op die Here nie! Reinig jou! Stop met sonde! Soos wat jy onkruid uitroei. Dit is ware en egte “repentance”. Berou, hartseer, pyn, trane, rou. Vers 9. Hou op lag terwyl daar niks is om oor te lag nie. Vers 10. Humble yourselves before the Lord. And He will lift you up. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here en Hy SAL julle verhoog!!

Dieselfde geld ook vir ons verhouding tot ons naaste. Vers 11. Stop dit eenvoudig om te praat van ander. Al is dit ook selfs die waarheid. Al het jy volste reg om te mag praat. Hou op om jouself as regter oor ander aan te stel. In Christus is alle gelowiges broers & susters en op dieselfde vlak. Almal het bediening nodig. Wees eerder ‘n Samaritaan vir almal. Lig hulle op. Bedien hulle.

Dit geld ook vir ons verstaan van onsself. Die verskriklike ding wat in Genesis 3 gebeur het, is dat ons van toe af ons verbeel dat ons godjies is. Onafhanklik wees. Ons verbeel ons ons is iets wat ons glad nie is nie. Ons lewe in hierdie illusie : “Vandag, môre, oor ‘n jaar, sal ek dit of dat doen. Ek sal aanhou lewe tot dan. Ek sal self kies. Môre sál ek… Ek is here oor my lewe.” Hierdie manier van dink is so algemeen dat ons nie eens meer agterkom dat dit pure hoogmoed is nie. En dat dit die wesenlike aard van die sonde is nie. “My lewe behoort aan myself”. Terwyl ons eintlik só pateties is. Eintlik weet ons glad nie wat anderkant die volgende 60 sekondes lê nie. Ons het geen kennis, geen mag, geen keusekrag nie. Ons is baie broos. Soos ‘n damp wat verskyn en verdwyn. Ons is daarom veronderstel om afhanklik te wees van die Here.

Dieselfde voorskrif geld ook vir ons gesindheid teenoor ons besittings. Natuurlik is dit nie verkeerd om te besit nie. Wanneer word dit wêrelds? Wat is die mag van materiële dinge? Eerstens is dit die nommer een manier om jou visie op die koninkryk weg te neem. Vers 3: dis die laaste dae en jy gaar op! Geen verwagting van die komende koms van die Here nie. Tweedens maak dit jou oneerlik & skelm & kul waar jy kan. Jy betaal nie wat jy moet betaal nie. Jy wil meer vir jouself hou. Vers 4: betaal werksmense te min. Hulle geroep kom tot by die Here. Opsommend: verdeelde lojaliteite.

So ernstig: moet dadelik ophou! Ruk die onkruid uit! Kap die ongewenste plant by die wortel af! VANUIT die besef a) hoe jaloers die Here op my is, b) dat Hy meer genade gee terwyl ek ver weg is – MOET ek kragtig opstaan en die onkruid uitroei. Dit het niks daarmee te make dat ons as mense die Here in beweging bring met ons skoonmaak-aksies nie. Die Here is in elk geval in beweging! Daar is nie so ‘n ding dat die Here eenkant ver weg staan en duimerol en wag tot ék die eerste tree nie! Terwyl ek nog ver ronddwaal, gee Hy alreeds meer genade (v6). Dit is Jakobus se heldere boodskap! Juis vanuit daardie genade, roep ek die vriendskap met die wêreld vaarwel toe. Indien ek besef hoe oorweldigend Sy liefde vir my is, kan/sal ek nie ánders nie!

Dít alleen breek die mag van inkonsekwentheid & geestelike dubbelhartigheid & verdeelde lojaliteite in ons kosbare lewens. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00