JAKOBUS-REEKS NR 2

Jakobus 1: 12-18
Tema: Versoekings kan maak of breek!

 

Verlede Sondag het ons in Jak 1: 1-11 gesien hoedat die Here beproewings gebruik om ons geestelik volwasse te maak. In verse 12-18 gaan hy voort met dieselfde tema, maar verskuif die fokus na versoekings. Interessant : presies dieselfde Griekse woord vir beproewing & versoeking! M.a.w. dit is twee kante van dieselfde munt, waarin die Here én die innerlike sondige natuur ‘n rol speel. Die Here hanteer ‘n sekere lewensituasie (uiterlik) om Sy kind te toets/louter en nader aan Hom te bring. Dáárom moet ons daaroor bly wees, het ons verlede week gesien. Terselftertyd probeer die gevalle sondige natuur om die gelowige dood te maak d.m.v. dieselfde lewensituasie (innerlik) en probeer die Here se kind die afgrond intrek. Jakobus is daaroor duidelik: Versoeking kom nie van God nie! Wat wél gebeur is dat dieselfde ding wat die Here beskik, deur die sondige natuur misbruik word om die mens af te breek. Daarom is die hemelse Wysheid – waarvan ons verlede keer gehoor het – so belangrik.

Klassieke voorbeeld: Boom in die Tuin van Eden. Dit is deur die Here goed bedoel as ‘n beproewing, maar die slang misbruik dit as ‘n versoeking en doen hom voor as ‘n engel van die lig. Die gevolg was: die grootste fiasko in die geskiedenis. Daar is geen woorde om te sê hóé belangrik hierdie saak vir elke weergebore mens is nie. Dit klop ook 100% met die daaglikse lewenservaring van die gelowige .. en die prosesse wat gedurig aan die gang is: a) Léwensproses van die Here en b) Doodsproses uit die mens en aangehits deur die Bose. Dit lei tot twee soorte aanvegtinge: Van buite en van binne. Dit wat van buite inwerk: beproewinge – om by ons geestelike rypheid te kweek. In daardie selfde situasie lê egter die dood en loer en probeer die sondige natuur & Bose om beproewing om te swaai tot ‘n versoeking wat tot die dood kan lei. Wat laasgenoemde so uiters gevaarlik maak, is dat dit van binne kom: in die gedagtes, in die hart. Dit is nie ‘n uiterlike ding waarvan jy kan wegvlug nie. Daar bestaan op aarde geen groter oorlogsgebied as dít nie: die gedagtes & innerlike hart van ‘n kind van God. Dit is ‘n slagveld, waar duisende helde sneuwel en wat ons so wonderlik kan kamoefleer en wegsteek vir ander. Uiterlik: pragtig. Innerlik: neerlae op neerlae.

Jakobus is daaroor baie duidelik: Innerlike versoekings is nie die Here se werk nie. Net soos beproewings wél Sy werk is. Hy is só ongemengd heilig dat Hy self nie versoek kán word nie. Hy kan ook niemand versoek nie. Die stemmetjie wat vir jou sê: “Kies jou eie wil. Kies jou eie self. Verheerlik jouself. Bevredig jou begeertes. Gee moed op. Klim af van jou hoë geestelike standaarde”, is nie van die Here se Gees nie. Daardie stemmetjie kom uit u & my eie hart, die ou/gevalle natuur. Opvallend dat Jakobus glad nie melding maak van die duiwel nie. Ook nie van omstandighede nie. Só sou óns mos redeneer = “versoekings kom van die duiwel & ons eie omstandighede soos byvoorbeeld ledigheid of verveeldheid. Daarom moet ek die duiwel die stryd aansê en hom bestraf om oorwinning te kry! Of ek moet net my lewensomstandighede verander. Dáár lê die knoop.” Wel, nie volgens Jakobus nie. Volgens Jakobus lê die probleem 100% binne-in ons eie harte – ons innerlike gevalle sondige natuur is die probleem. Ons sal netnou sien hóé dit hanteer moet word.

Maar eers spel Jakobus presies uit hóé ‘n versoeking werk. Hy sê dit is ‘n proses – ‘n doodsproses. Dit begin alles by eie innerlike begeertes. Nie dat ‘n begeerte opsigself verkeerd is nie. Dit gaan hier om ‘n begeerte wat slegs toegespits is op die eie self en dit is iets wat diep in die innerlike gesetel is. Niemand anders sal vermoed dat dit in jou is nie. Verder word ons dan daardeur weggevoer, sê Jakobus. Ons begin dit vertroetel en oordink dit. Ons gee dit bemesting. Daarná kom die daad. En dan die sonde (mis God se bedoeling). En die sonde baar die dood (verwoesting/disintegrasie).

U sien, ons loop rond met ‘n verraaier in ons binneste. Die beeld wat Jakobus gebruik is díé van VIS & AAS. Aas lýk so fantasties en aanloklik. Die vis dink & dink & dink en swem rondom die aas en ruik en kyk. Sodra hy byt, word hy wal toe gesleep – met ‘n hoek in die bek. Die probleem is nie dat die aas uitgegooi word nie. Die probleem is die dink & dink & ruik & vertroetel & kyk. Satan vind dus ‘n aanknopingspunt by die verraaier ín ons: begeertes & siek wil. Selfs al ís jy ‘n weergebore mens, kan jy NIE op jouself vertrou nie. Jeremia 17:9: Hart is bedriegliker as enigiets. Jy kan NIE ‘n bedrieglike verraaier vertrou nie, al is hy so bekend en vriendelik. Wie was Uria se verraaier? Sy eie vrou Batseba. Wie was sy moordenaar? Sy eie koning Dawid. Waar is hy doodgemaak? In sy eie land. Die groot versoeking is egter altyd om net na die hier en die nou te kyk. Soos Esau. Sien nie die verskuilde dood raak nie. “Ai, as ek net nóú ‘n winsie kan maak. Net so ‘n half miljoen in my sak kan kry. Dit sal my deurhelp. Of dalk kan ek die groot miljoene wen met die geluksgodin se hulp. Of dalk ‘n bietjie plesier kry uit die bloufilmpie op TV.” Dit is altyd, altyd, altyd die aas: “Moet ek nie liewer toegee en geniet dit wat NOU voorhande is nie?” “Wat sal ek nou sukkel om ééndag deur die Here beloon te word? Wat sal ek my tog bekommer om geestelike seën & lewe te hê? Ek wil NOU ‘n plesiertjie geniet.” En die uiteinde? Uitgevang deur die Bose.

Jakobus wys vir ons uit dat die uiteinde van alles die dood is. Beteken hierdie “dood” dat ‘n ware kind van die Here weer verlore kan gaan? Dat hy/sy sy/haar redding kan verloor vanweë sonde en versoekings? Natuurlik nie. Joh 6:39 = Jesus beloof dat Hy nie één van Sy kinders sal verloor nie. Hierdie “dood” beteken egter wél dat ‘n gelowige erg kan verongeluk. Dawid is natuurlik die klassieke voorbeeld. Kompromië en geselsies met die duiwel het hom – ás ware gelowige – tydens sy aardse lewe duur te staan gekom alhoewel hy vandag by die Here in heerlikheid is. Maar hy het gedurende sy aardse lewe verwoesting en disintergrasie beleef. Met “dood” word bedoel die verwoesting/disintegrasie wat ‘n gelowige in hierdie lewe kan ervaar – en wat glad nie die moeite werd is nie.

‘n Versoeking opsigself is dus nie sonde nie. Jesus is ook versoek. Geen mens is daaraan skuldig dat ‘n voël oor sy/haar kop vlieg nie, maar wel dat die voël in sy hare nes maak. Dit hang dus alles daarvan af wát ons met versoekings doen. Wat is ons keuse? Wat sê ons wil? Ons vind dikwels ernstige Christene wat ‘n begeerte het om die Here te dien en daarna soek om met Hom te wandel. En dan kom daar ‘n versoeking na so ‘n persoon toe. En dan gaan lê hy/sy in sak en as van skuldgevoelens en bely dit as sonde. Verkeerd! Daardie aanvanklike versoeking was geen sonde nie! Dit mag dalk so vóél, maar dit is nie.

Die groot geheim is dat die weergebore mens in staat is om sy/haar wil te kan gebruik. Nie wilskrag, maar wilskeuse. As iemand wat deur die Here lewend gemaak ís en die Gees inwonend ontvang het, is die Christen se wil lewend gemaak. Ons Here Jesus – byvoorbeeld – het ná 40 dae sonder kos, en die duiwel Hom versoek, steeds ‘n wilskeuse gehad. Hy was ‘n mens net soos ons.

Die groot vraag is nou: hoe kan die wedergebore kind van God OORWINNEND lewe te midde van versoekings? Indien dit nie nodig is om met die duiwel te baklei nie (Jakobus noem hom nie eens nie) en ek nie my lewensomstandighede die skuld kan gee nie (Jakobus noem dit ook nie) en nét my eie innerlike gevalle natuur die skuldige is, WAAR moet ek die oorwinning vind? Hoe maak ‘n mens met jou eie hart – daar bestaan tog nie ‘n soort tang waarmee jy hom kan uittrek nie! Kán ‘n mens ooit oorwinnend lewe? Die antwoord is 1000 maal JA! En dit staan in verse 12-18 van Jakobus 1. Die verrassende is dat Jakobus nie minder nie as VIER oorwinningsbeginsels aandui waarmee ‘n mens jou innerlike gevalle natuur onder Christus se heerskappy kan hou – nie eenmalig nie, maar in ‘n lewenslange proses.

NOMMER EEN & TWEE: (Vers 12). Daar is net één waaragtige manier om sterk te staan in versoekings: om die Here deur & deur lief te hê. Dit klink afgesaag en elementêr, maar vers 12 sê: wie die toets deurstaan, is hy/sy wat die Here liefhet. Dit is die man & vrou wat ‘n brandende hart het. ‘n Vol hart. ‘n Vlammende hart. O, indien jy daagliks iets wil bid, bid dan dat die vuur van die Gees jou hart brandende sal maak. Indien jou glas vól is, kan niks anders ekstra inkom nie! Natuurlik sal versoekings steeds aankom ná die vol glas. Maar daar is nie ekstra plek in die glas om te kan inkom nie. Hierdie liefde vir die Here fokus op “kroon van die lewe” wat God belowe het (ook vers 12). Dit is die tweede oorwinningsbeginsel. Begin lewe vanuit ‘n nuwe perspektief. Kry jou fokus reg. Kry die HERE in die fokuspunt en die kroon wat Hy uithou. ‘n Mens se sondige natuur fokus altyd binnetoe. Die oorwinning lê in die buitentoe fokus – die kroon wat vir jou wag. God se heldere toekoms.

NOMMERS DRIE & VIER: (Verse 17 & 18) Daar is één magtige oorwinningswapen wat elke Christen rééds besit. Dit is ‘n kwessie van: gebruik dit, ja of nee! As ‘n ware geredde mens, is jy reeds lewend gemaak deur ‘n almagsdaad van God. Wanneer ‘n kind van God versoek word, besit hy/sy reeds die Goddelike lewe om oorwinnend te lewe. Kan eintlik nie ánders as om te oorwin nie. Het die goddelike lewe ín hom/haar. Dit is nie vanuit my eie swakheid wat ek keuses moet probeer uitwurg nie. Maar dit is vanuit die goddelike lewe wat reeds my deel is in Christus. Ek is nie oorgelaat aan my sondige natuur nie. Ek is nie uitgelewer nie. Jakobus sê: onthou dat jy reeds oorgebring is uit die dood na die lewe deur die Woord van die Waarheid wat jy gehoor het en geglo het. Jy is wederbaar vanuit Gód se keuse & besluit. Jy kan nie die nuwe lewe verloor nie net so min as wat God Sý besluit kan verander. Dit lê in Hom ge-anker. Onthou verder (4de beginsel) dat die Here alles wat jy denkbaar nodig het, vryelik vir jou gee. Hy gee dit mildelik en oorvloedig. Hy is die God van Lig. En Hy is onveranderlik. Nooit kan Hy verander of onwillig wees of nie-instaat wees nie. Hy is nie soos Sy skepping, wat kan verander nie. Hy staan bó alles. En Hý gee mildelik wat ons nodig het om staande te bly in versoekings. Wanneer die versoeking kom, probeer infokus op die feit dat die Here – in daardie oomblik – alles gee wat jy nodig het. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00