TAFELBERG GEMEENTE
HANDELINGE – REEKS NO 22
Skrif: Handelinge 19
Tema: Die impak van die Evangelieboodskap
Ná die 1,5 jr wat die Apostel Paulus in Korinte die Woord bedien het, het hy van Griekeland af na die Turkse stad EFESE gegaan en sommige hoofmomente word deur Lukas in Hand 19 beskryf met die doel om aan te toon watter geweldige impak die lewende Woord van God op verskillende aspekte van die samelewing maak. Ja, die Woord ís lewend & kragtig (Hebr 4:12) en dit impakteer mense se lewens. Kom ons kyk ‘n bietjie na die verskillende tipes impak wat die Woord destyds in Efese gemaak het – en vandag steeds in ons eie konteks maak.
1) Die Evangelieboodskap impakteer die lewens van “halfgebakte” Christene > Verse 1-7 > Paulus was nog skaars in Efese, toe ontmoet hy 12 “dissipels/volgelinge” van Christus. By nadere navraag blyk dit egter dat hulle eintlik glad nie Christene is nie, hoewel hulle dalk gedink het hulle is! Hulle was volgelinge van Johannes die Doper en nie van Christus nie. Tewens, hulle het nie eens geweet dat die Heilige Gees gekom het nie. Daar wás destyds sulke groepies volgelinge van Johannes wat later ver van Jerusalem gewoon het en nie geweet het dát díé Jesus – wie se koms Johannes voorspel het – regtig gekom het, gesterf het en opgestaan het nie! Hulle het Johannes se doop ontvang, maar nie die Heilige Gees na Wie Johannes vooruitgewys het nie. Opvallend egter is dat Paulus vir hulle nie op die Gees wys nie, maar op Christus Jesus – Hý van wie se koms Johannes gepreek het. Sien u? Hierdie mense was nie (soos vndag in sommige kerklike kringe gesê word) ware Christene wat nog sonder die Gees was en toe die Gees ontvang deur handoplegging nie! Hierdie is geen voorbeeld vir óns, dat ‘n mens ‘n ware Christen kan wees sonder die Heilige Gees nie – en dat latere handoplegging en spreek-in-tale nodig is nie. Hierdie mense was nog glad nie Christene nie! Daarom het hulle nie die Gees geken nie. Sien Rom 8:9. Hulle word egter Christene toe Paulus aan hulle Christus verkondig. En die sigbare ontvangs van die Gees en die talepraat-wonder is die Here se bevestiging dat hulle nou werklik deel het aan dít wat op Pinksterdag gebeur het. Mense, wat nie Jode is nie, het nou werklik deel aan die Here se gawe – al woon hulle ver van Jerusalem. Sien u hoe impakteer die Woord hierdie halfgebakte “dissipels”? Natuurlik is daar nie meer vandag ‘n Johannes-die-Doper-kultus nie. Dis ook nie meer vandag nodig dat daar sigbare manifestasies moet wees dat mense Christene word en die Heilige Gees ontvang nie. Wat wél vandag steeds die geval is, is dat mense met ‘n halfgebaktheid sit en dat hulle lewens nie werklik innerlik & uiterlik verander het nie! Waarom? Wel, jy ken dalk ‘n klompie aspekte van die evangelieboodskap, maar verstáán nog nie werklik hoe alles inmekaarsteek nie. Vraag is nie of jy ‘n klompie goed weet nie, maar of jou lewe innerlik deur die krag van God verander is en jy werklik geestelik lewend geword het.
2) Die Evangelieboodskap impakteer ‘n ganse omgewing > Verse 8-10 > Iets fenominaals. Paulus het vir 3 maande lank in die Efesiese sinagoge met die Jode geredeneer oor die Evangelie, maar hulle het hulle verhard & die Woord belaglik probeer maak. Toe besluit hy om hom te onttrek van die Sinagoge en in ‘n private lokaal, die “saal van Tirannus”, op ‘n daaglikse basis diégene wat reeds tot geloof & bekering gekom het, te onderrig. Dit het hy vir 2 jaar lank gedoen. Op hierdie manier het AL die inwoners van Asië die Woord gehoor. Kyk mooi wat daar staan: Paulus het vir 2 jaar lank op DAAGLIKSE basis die gelowiges Bybelskoolopleiding gegee. Hy het slegs die gelowiges toegerus. Let nou op: Só het AL die mense in Asië na 2 jaar die Woord gehoor. Is dit nie ongelooflik nie? Wat ‘n skuddende impak het die Woord op ‘n samelewing – dat a) gelowiges bereid is om vir 2 jr lank ELKE DAG Bybelskoolopleiding te ontvang en b) dat DIT die onbereikte mense bereik. Hoe geweldig belangrik is die toerusting/onderrig van die gelowiges. En hoe belangrik dat die Christene hulself géé daarvoor. Wat verder gebeur het is dat daardie opgeleide Christene die Woord na buite gaan uitdra het. Hulle harte & monde het oorgeloop. En verder moes die buitestaanders die Woordskoolklasse in die Saal v Tirannus gaan bywoon het. En só het die Woord soos ‘n veldbrand binne 2 jaar versprei. Dít is die soort impak wat die Woord op ‘n samelewing kan maak! Is daar één goeie rede waarom dit nie in Kaapstad kan gebeur nie – en vanuit Tafelberg Gemeente nie??
3) Die Evangelieboodskap impakteer valse geestelikheid > Verse 11-16 > Die Here het wonderlike dinge deur Paulus gedoen. Selfs doeke/voorskote wat aan sy lyf geraak het, is op siekes gesit en is hulle genees en het bose geeste uit hulle uitgegaan. Ons weet dat hierdie wondertekens nie die normale gang van sake in die Here se kerk is nie, maar dat Hy dit veral d.m.v. die Apostels (2 Kor 12:12) gedoen het om hulle unieke prediking te bekragtig. Nie dat ons enigsins mag dink dat sulke tekens nie vandag steeds kán plaasvind nie (God is soewerein), maar dit is nie die normale nie. Die uitgaan van bose geeste in Jesus se Naam, het die mense beïndruk. Só was daar 7 seuns van ‘n Joodse priester Skeva wat ook probeer geeste uitdryf het, maar hulle was nie bekeerd nie. Hulle was ongered. Die Heilige Gees was nie in hul lewens nie. Hulle het nie die Here persoonlik geken nie. Tóg probeer hulle bose geeste uit mense dryf en sê vir die geeste: “Ons besweer julle in die Naam van díé Jesus wat deur Paulus verkondig word.” Die volgende oomblik antwoord een van die bose geeste – d.m.v. die mens in wie die gees was se mond: “Jesus ken ek en van Paulus weet ek, maar wie is julle?” Die man in wie die geeste was, bespring toe die seuns van Skeva en slaan hulle stukkend en ruk al hulle klere af. Ons leer ‘n klompie dinge uit hierdie insident: 1) wanneer iemand met demone besete is, gebruik daardie geeste die menslike fakulteite soos oë, brein, stembande, arms & bene en kan ‘n geweldige krag openbaar. 2) Die bose geeste weet presies wie Jesus is. Geen demoon is ‘n ateïs nie. Hulle weet beter as baie slim geleerde mense. Terwyl sommige teoloë debateer oor wie die Here Jesus Christus is, het die bose geeste geen twyfel oor wie Hy is nie 3) Die bose geeste weet wie die Here se kinders is. Hulle het van Paulus geweet. Ja, die kind van God met sy/haar vlammende liefde vir die Heiland, is goed bekend in die ryk van die duisternis 4) Die geeste weet of iemand ongered is en steur hulle nie aan só iemand nie. Die 7 seuns van Skeva was vir hulle onbekend en geen faktor nie. Die punt is: hier maak die Woord ‘n impak op valse geestelikheid. Hierdie 7 kêrels wou Jesus se Naam gebruik vir eie gewin, maar hulle kom gou agter dat Hy Hom nie laat gebruik nie. Ons weet dat valse geestelikheid aan die orde van die dag is. Eintlik sit dit diep in ons almal se sondige harte: om die Here vir eie gewin te wil gebruik. Om Hom te dien op ons eie voorwaardes. Om Hom soos ‘n spaarwiel te gebruik. Hy is eintlik net daar om ons te dien/bedien. Indien jy Hom ken, sal Hy jou materiële voorspoed gee en jou laat goed voel oor jouself (deesdae se TV predikers). Sien egter hoe die Here se Woord hierdie valse geestelikheid impakteer: Vers 17: Baie mense het gehoor wat met die 7 seuns van Skeva gebeur het en vrees het hulle oorval en die Naam van die Here Jesus is geprys. En dit was nie sommer net so-so nie: die mense wat in die Here Jesus begin glo het, het hulle diepgrondiglik bekéér. Sonder dat dit enigsins ‘n voorwaarde was, het hulle spontaan hulle towerpraktyke in die openbaar bely en hulle towerboeke in ‘n groot vuur verbrand. Ja, die Woord het hulle lewens op ‘n baie diep vlak geïmpakteer….
4) Die Evangelieboodskap impakteer lewens op ‘n baie diep vlak > Verse 17-22 > Vers 20: Die Woord het sy krag dáárin getoon dat hierdie mense uit eie oorweging ‘n groot openbare vuur gemaak het en hulle toorboeke verbrand het. En dit was baie geld werd. Nêrens het die Here dit egter as ‘n voorwaarde gestel nie. ‘n Mens wórd immers nie gered deurdat jy aan allerlei voorwaardes voldoen nie. ‘n Mens word slégs gered o.g.v. die verlossingswerk wat Christus op die kruis verrig het. Maar, die evangelie het hierdie mense se lewens só diep geraak, dat hulle vanself hul toorboeke verbrand het. Hulle het alle brûe wat hulle dalk kon verbind met die ou lewe wat agter is, vernietig. Hulle het werklik berou gehad oor hulle ongeredde lewens. Indien ‘n mens werklik berou het, voel jy mos of jy berge kan versit om dit net te bewys of dit genoegsaam te sê. Ons moet baie mooi luister na hierdie Woord, want ís dit nie só dat talle welmenende Christene in hul geestelike lewe stagneer omdat hulle nie skoonbreek met die wêreldse dinge nie? Dis asof die evangelie hulle nie diep genoeg impakteer nie. Daar is steeds verbindingslyne met die verlede & die dinge van die wêreld wat God minag. Maar wanneer die Woord jou diep impakteer, breek jy spontaan met alles – uit pure dankbaarheid. Jy maak ‘n groot vuur en verbrand alles. Soos die man wat nie kon loskom van internetpornografie nie. Hy het die Here gesmeek vir verlossing. Toe verskuif hy sy rekenaar na ‘n plek in die huis waar almal kon sien waarna hy kyk. En hy installeer rekenaarsagteware wat alle toegang tot pornografiese webblaaie weier. Daarnaas reël hy dat ‘n uitdruk met ál die internetadresse wat hy elke week besoek, na ‘n vriend van hom gestuur word sodat díé kan sien watter adresse hy besoek het. U sien? Hy neem radikale stappe. Hy bekeer hom diepgrondig. Hy verbrand sy towerboeke. Hy sê: “Ek sal met God wandel!” Of wat van die dame wat haar intekening op ‘n sekere tydskrif gekanselleer het omdat sy ontdek het dat die tydskrif ‘n ontevredenheid in haar hart opwek. Ontevrede met wat sy besit en begerig na alles wat béter is. Soms moet ‘n mens ‘n groot vuur maak en boeke, CD’s, DVD’s, tydskrifte verbrand. Alles wat die klank & melodie het van die ongelowige wêreld in jou ore/oë/denke indra. Kan u sê dat die evangelieboodskap u siel baie diep geïmpakteer het en dat u één hart het? ‘n Hart vir God!!
5) Die Evangelieboodskap impakteer selfgerigte materialisme > Verse 23-41 > In die hele episode van die reuse skare Efesiërs wat hulle afgod Artemis ure lank besing (en byna vir Paulus vertrap het) moet ‘n mens goed raaksien waaroor dit éíntlik gaan. Kyk mooi, dan sal u sien dat dit ten diepste gaan oor gierigheid & materialisme. Dit gaan oor daardie silwersmid, Demetrius, wat bang was dat hy sy inkomste sal inboet indien Paulus die mense wegrokkel van die aanbidding van Artemis af. Dan sal hulle nie meer die afgodsbeeldjies koop nie. Hy vervaardig die beeldjies! Dáárom het hy die mense opgestook teen Paulus. Want, die evangelieboodskap het sy geld bedreig! Hy het nie daarmee ‘n saak óf Paulus se boodskap dalk die Waarheid is nie! Hy stel nie belang in die Waarheid of in geestelike sake nie. En tog verbloem hy op ‘n sluwe wyse sy ware motiewe: “Die groot godin Artemis sal van haar grootheid beroof word indien ons hierdie Paulus laat begaan.” Hy maak of dit vir hom oor Artemis se eer gaan. Intussen gaan dit oor geld! Sien u die materialisme? Die Woord impakteer hierdie tipe mens. Die “Demetrius-gees” wat teen Christene draai wanneer sy pret bedreig word. Kyk maar: die oomblik wanneer één kind op skool die ander se goddeloosheid teëgaan – kyk hoe haat hulle só ‘n kind. Kyk wat gebeur met jou op kantoor wanneer jy die groep teëstaan. Kyk wat gebeur wanneer jy sê: “Aborsie is nie dieselfde as mangels-uithaal nie. Dis ‘n menselewe wat op die spel is.” Kyk wat gebeur wanneer ongeredde mense se materialistiese plesier teëgestaan word. Dan kom die Demetrius-gees in mense na vore. Die evangelie van Christus impakteer hierdie Demetrius-gees & wek teenstand op. Die Evangelie impakteer halfgebakte Christene, ganse samelewing, valse geestelikheid. En dit alles op ‘n baie diep vlak wat tot voortgaande diepgrondige bekering lei.
O, hoe wonderlik is die magtige Woord van die Blye Boodskap van ons Here Jesus Christus!! Laat ons ons nooit daarvoor skaam nie.