TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 21
Skrif: Handelinge 18
Tema: Wonderwerk in Korinthe
Menslik gesproke was die kans dat die Here se kerk in die Griekse stad Korinthe kon posvat/ontstaan, ‘n ronde NUL. Die feit dát daar juis in Korinthe ‘n gemeente van Christus wortelgeskiet & gegroei het, kan slegs toegeskryf word aan die vrye genade van God & die krag van die werking van Sy Woord en Gees. Ja, waar die Heilige Gees & die gepredikte Woord soos twee elektriese drade bymekaar kom, kom die Here se kerk onvermydelik tot stand. ‘n Nuwe skepping vind plaas. ‘n Wonder van Bo. Daarvan getuig Hand 18 só duidelik.
Kyk, die heel laaste ding wat in Korinthe kon wérk, was die Boodskap van Jesus Christus. Die geestelike korintiese grond was net nie geskik vir die saad van die Woord om in te ontkiem nie. Korinthe was/is steeds geleë presies op die plek waar die suidelike skiereiland van Griekeland d.m.v. ‘n smal seestraat by die noordelike deel aansluit. Letterlik alle verkeer tussen noord & suid moes deur Korinthe gaan. Die stad was welvarend & BAIE trots. Geld was nie ‘n probleem nie. Dit was ‘n plesierstad waar mense se luste bevredig is. Die tempel van Afrodite (godin van liefde) was daar met 1000 tempelprostitute wat gereeld die stad inbeweeg het. Immoraliteit was aan die orde van die dag. Tewens, oor die hele destydse wêreld het Korinthe ‘n slegte naam gehad wat dít betref. Voeg daarby die intellektuele hoogmoed wat eie was aan die Griekse kultuur. En onthou: die boodskap van Jesus se kruisdood & opstanding het 100% gebots met die heidense Griekse filosofie waarvolgens die menslike liggaam niks is nie. Volgens antieke Griekse filosofie is die liggaam die tronk/kerker waarin die siel vasgehou word. M.a.w wie wil nou uit die dood opstaan en ‘n nuwe liggaam hê? Jy wil juis van die vlees ontslae wees! Wie wil ‘n Verlosser hê wat liggaamlik opgestaan het? Wie wil ‘n Verlosser hê wat aan ‘n vervloekte Romeinse kruis gesterf het? Dis ‘n vloek, nie ‘n seën nie. Hoe kan só iemand ‘n Verlosser wees? U sien: die Boodskap van Christus het allermins ‘n indruk gemaak op die Griekse gemoed. Ook nie op die Joodse gemoed nie.
Korinthe was beslis nie ‘n geskikte plek vir die kerk van Christus om wortel te skiet nie!
Voeg daarby dat die Here se boodskapper, Paulus, baie swak was. Hy skryf later aan die Korinthiërs in 1 Kor 2:3 dat hy aanvanklik in baie swakheid en met vrees & bewing na hulle toe gekom het. Dink hoeveel swaarkry, probleme, isolasie, verwerping, armoede, liggaamlike foltering het hy ondergaan tydens sy vorige sendingtogte – dit alles t.w.v. die Boodskap wat hy verkondig, nie omdat hy iets verkeerd gedoen het nie. Hy was allermins ‘n dinamiese goeie instrument om in Korinthe te begin preek! Geen wonder dat die Here in ‘n spesiale gesig aan hom verskyn het om hom moed in te praat (v 9): “Moenie bang wees nie. Hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.” M.a.w. “daar is baie mense in hierdie stad wat tot die ewige lewe verkies is en wat tot bekering sal kom wanneer hulle jou verkondiging hoor. Daarom sál jou prediking vrug dra.” Daarom het Paulus hom toegespits slegs op prediking & onderrig in die Bybel (vv 5, 11). Hy het geglo dat Woordprediking die deurslag gee.
En kyk hoe het die Here woord gehou: Kyk net hoe hou Hy Sy dienskneg staande deur a) Priscilla & Akwilla se vriendskap, wat ook Christene was en tentmakers van beroep – nes hyself. (vv 1-3). Hulle was ook bekeerde Jode wat uit Italië na Korinthe is omdat Keiser Claudius alle Jode uit Rome verdryf het – wat ook die Here se beskikking was, want nou kon hulle vir Paulus ondersteun. In Rom 16:3 sê Paulus dat hulle hul lewe vir hom gewaag het b) Goewereur Gallio, wat besluit om vir Paulus geen kwaad aan te doen, toe die onbekeerde Jode teen hom ‘n opstand aanhits en hom voor die goewerneur daag (vv 12-17). Gallio het egter deur hulle sluheid gekyk en vir Paulus vryheid gegee. Soveel so dat hy 1,5 jaar (v 11) in Korinthe gebly het en die Woord verkondig het.
Geen wonder dat die Apostel sy dankbaarheid teenoor die Here wou bewys d.m.v. die aflê van ‘n Nasireërgelofte nie (v 18)! ‘n Mens lees van die Nasireërgelofte in Numeri 6. Vlgs Num 6 kon die Jode hulleself spesiaal aan die Here wy vir ‘n sekere tydsperiode indien hulle ernstig oor iets wou bid óf baie dankbaarheid aan die Here wou bewys. Dan gebruik hulle geen wyn nie en sny nie hulle hare nie. Maar ná die tydperk sny hulle al hulle hare af en laat dit – te same met ‘n diere-offer – verbrand by die tempel in Jerusalem. Dit is byna 100% seker dat die Apostel sy diepe dankbaarheid teenoor die Here sigbaar wou betoon, vir die tyd wat Hy hom in Korinte bewaar & gebruik het en toe van hierdie Nasireërgelofte gebruik gemaak het. Hy het werklik uit die Here se hand geleef, nie uit sy eie vermoë nie.
Dit bring ons by die groot boodskap van Handelinge 18: Uit die klipharde ondeurdringbare korintiese grond van heidendom/ ongeloof/ afgodery/ demoniese verblinding/ intellektuele hoogmoed/ geld & welvaart/ immoraliteit & losbandigheid/ weerstandigheid teen die Christelike Geloof – skiet daar ‘n grasgroen plantjie op: ‘n Gemeente van Christus begin wonder bo wonder daar groei! Die Boodskap van redding deur ons Here Jesus se kruisdood & liggaamlike opstanding uit die dood, oorwin wonderbaarlik baie mense se harte & lewens. Ons lees van die bekering van die hoof van die Joodse Sinagoge: Krispus & sy hele huisgesin (v 8). Dink wat ‘n opskudding moes dít nie veroorsaak het nie! Verder het “nog baie ander mense” tot bekering gekom toe hulle die Boodskap hoor (v 8). Ons lees ook van die wonderlike werk wat Priscilla & Akwilla buite Korinthe in Efese gaan doen het, en hoe hulle vir Apollos gehelp het om tot beter insig in die Skrif te kom (vv 24-26). Apollos was ‘n bekeerde Jood, maar hy het nog nie die Evangelieboodskap so goed verstaan nie. Waarskynlik het hy nie goed verstaan wat presies die krag & diepte van ons Here Jesus se opstanding/hemelvaart/troonsbestyging/uitstorting van die Heilige Gees beteken het nie. Tog het hy met groot vrymoedigheid gepreek. Maar sy prediking het mank gegaan aan diepte & insig. Daarom het Priscilla & Akwilla hom in privaatsessies geneem en hom deegliker onderrig. En só was Apollos tot geweldige seën vir die Here se gemeentes. In 1 Kor 3 sien ons dat Paulus vir Apollos hoog ag as medewerker in die gemeente.
Ek glo dat Handelinge 18 ‘n moed-skep/ moedgewende/ hoopgewende hoofstuk in die Bybel is. Op die oog af lýk die teenkanting so geweldig. Die intellektuele hoogmoed lyk so sterk. Die mag & krag van sedeloosheid & immoraliteit lyk soos ‘n onderdringbare bose vesting. Op die oog af lýk – daarenteen – die Here se boodskap so swak. Sy boodskapper lyk so swak. Maar kyk wat gebeur: twee elektriese drade maak kontak en die vonke spat – ‘n wonderwerk gebeur. Die Gees & Woord maak kontak en ‘n nuwe gemeente van Christus ontstaan en groei. Dinge gebeur. Die duisternis kan nie stand hou voor die Lig nie!
Op ‘n Internetbladsy vir toeriste aan die moderne Korinthe (http://www.greeceathensaegeaninfo.com/p_corinth_city_corinth.htm), skryf die sekulêre skrywer o.a. ook iets oor die die stad se antieke geskiedenis. Hy is baie duidelik nie goedgesind teenoor die Christelike Geloof nie, maar hy skryf: “Paulus se prediking het nie die stad goed gedoen nie. Dit het meer as een aardbewing (figuurlik gesproke)gekos om alles weer rustig te kry nadat Paulus daar was.” Wat ‘n ongelooflike onbedoelde getuienis uit ‘n moderne sekulêre pen oor die groot dinge wat die Here in 50nC in Korinthe gedoen het!
Daarom hoef ons nie ons só blind te staar teen ‘n vyandige wêreld nie. Ook nie teen ons eie swakheid & broosheid nie. Die Boodskap van die Evangelie is ‘n groot krag. Oral is daar mense wat uit vrye genade tot die ewige lewe verkies is en wat nog tot geloof moet kom. Wanneer die Woord uitgaan, sál hulle uit genade tot die Here kom. Al was hulle vasgevang in allerlei rasionele argumente teen die Evangelie. Al was hulle vasgevang in immoraliteit. Die Woord breek deur die sterkste padblokkades.