TAFELBERG GEMEENTE Tema: Die Dinamietkrag van Sy koms
No. 5: Die dinamietkrag van ware kennis (Kersdiens)
Skrif: 1 Joh 5: 13-21 (vers 20)

Vanoggend die laaste boodskap in ‘n reeks getiteld: “Die dinamietkrag van Jesus se koms.” Ons kyk vanuit die apostel Johannes se geskrifte na die krag van Jesus se koms na die wêreld. Dit gee ‘n vars perspektief op die diepe betekenis van Kersfees. Die afgelope paar Sondae het ons die dinamietkrag van Sy koms gesien in …. 1) genesing 2) oorwinning oor geestelike én fisiese dood 3) oorwinning oor satan 4) die gee van ware lewe.

Vanoggend die 5de: Jesus het gekom om ons begrip & sekerheid te gee (1 Joh 5:20 – “Ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken..”). Dit was tewens die hele rede waarom Johannes hierdie brief geskryf het. Kyk na vers 13: “hierdie brief skryf ek aan julle sodat julle kan WEET dat julle die ewige lewe hét..” Hy wil die Christene help aan ware sekerheid & vertroue. Onthou: Die algemene gevoel onder mense – wanneer dit by geloofsake kom – is vrees & wantroue & onsekerheid. Amper ‘n soort agnostisisme: kan niks met sekerheid weet nie. Tóg is die Apostel daaroor duidelik: Daar is ‘n sekere vertroue wat álle Christene moet hê. Die gelowiges – aan wie hy skryf – se vertroue is juis geskud deur sommige kerkleiers, wat stelselmatig wegbeweeg het van die grondwaarhede wat die Apostels gelê het. Hierdie dwaalleraars het juis gepeuter aan die waarheid dat Jesus werklik mens geword het en dat Hy ten volle God is én ten volle mens is. Hulle het gesê húlle ontvang spesiale openbarings en woorde van kennis van God af. Húlle het dus spesiale insig wat die apostels nie gehad het nie. Daarom kón hulle maar afwyk van die apostoliese waarheid van die evangelie. Dit het die gelowiges geskud, want gerespekteerde kerkleiers praat nou skielik ‘n ander storie en hulle sê hulle het dit deur spesiale openbarings ontvang. Dit is waarom die Apostel Johannes hierdie brief aan hulle geskryf het: Om hul vertroue te herstel. Ons moenie miskyk hoe dikwels & hoe sterk hy vanaf vers 13 die woord WEET gebruik nie. a) WEET dat julle die ewige lewe het (v 13) b) WEET dat gebed effektief verhoor word (v 14). c) WEET dat ‘n gelowige nie aanhou met sonde nie en dat die duiwel geen houvas op hom/haar het nie (v 18). WEET dat julle aan God behoort, dat julle ‘n nuwe identiteit het (v 19). WEET dat Jesus na die wêreld gekom het om ons die verstand te gee om God waarlik te ken en te verstaan ons in eenheid met Hom lewe (v 20). Om dit in ‘n neutedop saam te vat: Met apostoliese gesag herstel Johannes sy aanvanklike lesers én óns vertroue om te weet dat Jesus na die aarde gekom het om ons nuwe sekere begrip/verstaan te gee dat ons in verhouding met God leef en dat daar eenheid met Hom is – deur die geloof in die Apostels se woorde, geen verdere nuwe openbarings is nodig nie. En dit doen Hy in die lig van al die dwaalleer wat ons (vandag nog) wil ontwrig en van ons agnostici wil maak – mense wat van niks heeltemal seker is nie.

Jesus het na die wêreld gekom om aan ons ‘n nuwe verstaan te gee – om aan ons openbaring te gee. Openbaringskennis. Sodat ons sekerheid kan hê van 1) God se verhouding met ons 2) ons eenheid met Hom. Baie diepsinnig, nie waar nie?! Dít is waar ons Kersfees se betekenis moet vind. Want IN Jesus van Nasaret, openbaar God Homself ten volle en finaal. Jesus is die afskynsel van God se heerlikheid (Hebreërs 1). Kyk ons na Jesus, sien ons God self – volmaak geopenbaar. Die sluier/doek wat ons almal se hart en verstand bedek sodat ons nie die waarheid kan onderskei nie, is deur Jesus se koms weggeneem. Die onvermoë om die waarheid te eien/sien/ken, is verbreek. Volgens die Skrif is ons denke/verstand mos deur die sondeval verduister. Van nature is ons blind vir die Waarheid. Jesus se koms het dit verander. Hoe? Deur Sy geboorte in Betlehem en deur Sy kruisdood en deur Sy opstanding en deur die Heilige Gees se uitstorting. Ons moenie Kersfees losmaak van Pinkster nie, want dit is deur die werk van die Gees wat ons oë oopgaan en die wonderwerk van ‘n hartsverandering plaasvind. Maar, daar sou geen Pinkster wees sonder Kersfees nie. Deur Jesus se geboorte en koms, het die Gees in volheid gekom en só is ons verstand/begrip vernuwe. Die Apostel Johannes is daaroor duidelik: die gelowige HET die begrip, wat die wêreld nie het nie. Maar dit is nie net ‘n verstandelike tipe begrip, soos wat ‘n mens wiskundeformules ken nie. In die Grieks staan daar: “persoonlike kennis”. U sien: Dit is begrip/kennis van ‘n persoonlike verhouding wat die Here met jou het. Al jou aangebore valse idees oor God het soos mis voor die son verdwyn. Dink net daaraan: ‘n Persoonlike verhouding met die groot en oneindige ware lewende God! Dit is nie maar net ‘n baie belangrike méns wat jy ken nie! Geen wonder dat die apostel Paulus in Filip 3 sê dat hy alles as drek beskou om Christus te kan KEN nie. Dis gewoon die beste ding in die lewe.

En ons mag dit nie miskyk nie: Hierdie verhouding is deur God self geskep en word deur Hom in stand gehou. Ons mag dalk voel of die verhouding maar swak en treurig is. Dalk kyk ons terug na die jaar wat haas verby is en voel dit of ons hierdie verhouding afgeskeep het. Ons het nog gedink ons wil nog.. en sal nog.. dit of dat … en die maande het gewoon verbygevlieg. Mag die Here deur die krag van die Apostel Johannes se woorde in 1 Joh 5 u weer opnuut optel en ‘n stuk versekering onder u voete inskuif.

Ten slotte: Jesus se koms gee aan ons ‘n nuwe begrip van ons EENHEID met Hom. Die kind van die Here is IN HOM, staan daar. Tewens, Johannes gebruik hierdie uitdrukking 10 maal in sy brief. IN HOM dui op ‘n diepe eenheid. Natuurlik is dit nie letterlik/fisies bedoel nie. Dit is onmoontlik vir ‘n mens om EEN met God te wees. Dit was juis die oerleuen van satan aan die eerste mensepaar: “Julle sal soos God word”. Dit is sederdien die oersonde van alle mense: Om god te wil speel en om ‘n mistieke eenheid met Hom te wil hê d.m.v. meditasie en allerhande Oorterse New Age tegnieke. Nee, hierdie woorde IN HOM dui op ‘n geloofseenheid. Namate ons die evangelieboodskap van ons redding-in-Christus – wat die Apostels met hul unieke, onvervangbare en onherhaalbare apostoliese gesag verkondig het en wat in die Bybel neergeskryf is – omhels, leef ons nader aan Hom (en Hy aan ons) as wat ons eie asems aan ons is. Daar is ‘n nabyheid. ‘n Geloofsnabyheid déúr die Woord wat ons glo – en die “glo” kom deur die Gees. Dieselfde Johannes sê in 1 Joh 1:3 dat indien ons gemeenskap het met die APOSTELS se getuienis/leer, leef ons in gemeenskap met God. Ons geloofseenheid met die ware leer van die apostels, plaas ons in eenheid met God. Soveel so dat ons IN HOM is. En dit is iets wat nie van gevoelens (emosies) afhanklik is nie. Die Woord sê dit. En ons glo dit.

Soms voel ons die verlange om tog net ‘n meer nabye wandel met God te mag geniet. Iets van Psalm 42.. Dit is omdat ons ervaring van IN HOM-wees nie nou reeds is wat dit dán sal wees nie. En tog kan dit nie eendag náder wees as wat dit tans is nie. Ons besit tog nou reeds die volheid in Hom. Tog is ons ervaring daarvan baie gebrekkig. Ons huidige ervaring, is nie wat dit dán sal wees nie. Dit is waarom ons die innerlike smagting ervaar na ‘n dieper wandel met God. ‘n Smagting wat sonder twyfel die werk van die Gees is. Die mens wat hierdie smagting beleef kan wéét dat dit van die Gees kom.

Ons moenie afsluit voordat ons gelet het op die laaste sinnetjie van vers 20 nie: Jesus Christus is a) die ware God en b) die ewige lewe. Waarvan is die kind van die Here dus seker? Seker dat: om met Christus verenig te wees beteken dat ek a) met die ware God verenig is en b) dat ek die lewe-tot-in-ewigheid besit.

En daar het ons nou ‘n prentjie van die 3 grootste Kersgeskenke wat ons diepste menslike verlange en behoefte bevredig: Jesus het gekom om my sekerheid te gee van 3 Kersgeskenke: a) die waarheid wat vir my oopgegaan het b) die verhouding wat Hy met my het & instandhou en c) my eenheid met Hom. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00