Reeks oor ESTER nr. 9
Tema: Die fees van rus
Skriflesing: Ester 9-10
Om tot rus te kom: dit is ware godsdiens. Wie die rus ken, wat die Here gebring het, kan op die koop toe ook die hele lewe beter hanteer. Selfs al raak die lewe hóé fel. Hoe bevoorreg is die gelowige om die rowwe lewe – met al sy moeites – te kan hanteer vanuit die rotsvaste RUS in Christus Jesus – ’n rus wat nie daarin berus hoe óns dit instandhou nie, maar wat in Gód se groot werke geanker is!
Het u geweet dat ál die Here se magtige werke altyd daarop gemik was om sy volk Israel ( OT gemeente) tot rús te bring? Rus van hulle verlorenheid, sondes, skuldgevoelens, kommer & vrese, rondswerf-sonder-heenkome, aaklige vyande. Daar was geen manier waarop die gemeente homsélf tot hierdie rus kon bring nie. Die Here moes magtige werke doen om hulle in Sy rus te bring & te hóú!
Dink maar net hoe het die Here Sy gemeente uit Egipte gered – droogvoets deur die Rooisee. Dink hoe het Hy hulle in die woestyn onderhou. Dink hoe het Hy goddelose nasies voor Israel verdryf… waarom? Om aan sy gemeente rus in die land Kanaän te gee. Maar dit alles was met die oog op die uiteindelike rus wat die beloofde Verlosser sou bring. Jer. 23:6: Wanneer die Spruit van Dawid gekom het, dán sal Juda rustig woon. Hierdie “Spruit” is die Verlosser wat gebore sou word – ons Here Jesus Christus. Die rus in Kanaän moes uiteindelik lei tot die rus in Christus en die rus in Christus sal lei tot die ewige rus in die Nuwe Jerusalem!
Die PURIMfees was dus ’n fees van rus. Vers 17: “Die 14e Adar het die gemeente gerus en dit ’n dag van feesviering en vreugde gemaak”. Hulle het tot rus gekom omdat die Here op die 13e Adar al hulle vyande vernietig het. Onthou: Dit het gegaan oor ’n doelbewuste aanslag van die antichris teen God self. Indien die Jode uitgewis sou word, sou die beloofde Verlosser se koms verydel word. Dit het gegaan oor die slang/satan se strategie om God se belofte te vernietig. Haman was ’n Amalakiet en die Amalakiete was deur die eeue haters van die Here en Sy gemeente. Geen wonder dat Haman se 10 seuns se lyke in die openbaar opgehang is nie : Géén nasate van Amalakiete wat verder die Here se planne kan ondermyn mag bly leef het nie. Dit het absoluut niks te doen met onnodige wreedheid nie. Onthou: Ín Haman en sy seuns … gaan dit oor die Antichris! Onthou verder: Die Jode het uit selfverdediging hulle vyande gedood. Daarom het hulle niks gebuit van hulle slagoffers se besittings nie (terwyl hulle daartoe die reg gehad het). Geen finansiële gewin. Selfverdediging.
Dit alles het op 13 Adar plaasgevind: Die dag waarop die Here se gemeente uitgewis moes word (vlgs Haman se plan). Maar die Here verhang die bordjies radikaal. Die dag waarop die Jode uitgewis moes word, word die dag waarop hulle feesvier! Dieselfde dag word byna 76000 van die Here se vyande uitgewis en Sy gemeente gaan Sy hemelse rus binne en vier fees!! Vers 2: Niemand kon voor hulle standhou nie!
Dit gaan nie oor onnodige wreedheid nie. Dit gaan oor die Here se wraak op Sý vyande – op die ongeloof/goddeloosheid. Die loon van die sonde is immers die dood (Rom 6:23). ’n Mens sien hier ’n prentjie van dit wat op die finale oordeelsdag sal plaasvind, wanneer die Here finaal sal klaarspeel met almal wat hardnekkiglik nie Sy Woorde geglo het nie. Wanneer sónde finaal en totaal uitgeroei sal word. Wanneer die Here se gemeente, wat meesal maar die klein (en veragte) minderheid in die wêreld was, die ewige RUS sal ingaan.
Dit is waarvan die Purimfees ’n simbool moes wees. Fees van rus omdat die Here Sy gemeente uitgered het uit die hand van die vyand – sodat die beloofde Verlosser gebore kon word. Dit moes ’n fees wees waar geroem word in die Here se eindelose genade omdat Hý die Jode bewaar het vir Christus se geboorte in Betlehem. Húlle was die skoot waaruit Jesus gebore sou word. Dit moes ’n fees wees waar almal gelowig uitsien na Jesus se geboorte. Ná afloop van Christus se koms, moes die Purimfees eintlik opgehou het, want toe hét die finale rus mos aangebreek – in Christus! Maar tog vier die Jode vandag nog Purimfees. Tot vandag verstaan hulle glad nie waarom die Here hulle in Ester se tyd van ondergang gered het nie!
Maar wat van óns wat in 2007 Christus se gemeente is? Ons is nie Jode nie en ons vier ook nie Purimfees nie. Tóg vier ons wél Purimfees, want ons het in Christus Jesus rus ontvang én ons sien uit na die ewige rus wanneer Jesus wéér kom. Ons verlang na Sy tweede koms, al weet ons dat Hy alreeds die draak se woede oorwin het (Open 12). Ons vier Purimfees omdat ons weet dat die Here die bordjies gaan verhang: Sy kinders – wat die minderheid was en dikwels moes tweede kom tydens hul aardse lewe – sál triomfeer en die ongelowiges – wat altyd in die wenspan was – sal vernietig word. Glo dit vanoggend: Álmal wat nie by die Here & Sy Woord geleef het nie, sál vernietig word. Ons vier Purimfees omdat ons – wanneer ons Ester lees – moed skep vir ons eie stryd teen anti-christelike magte wat aanhoudend probeer om ons weg te suig van die Here & Sy Woord af en wat probeer om die kerk te verwoes. Ons vier Purimfees wanneer ons hierdie vyande beveg – nie deur die swaard nie, maar deur die Woord van God – die swaard vd Gees. Ons vier Purimfees wanneer ons die rus geniet wat ons in Jesus ontvang het – die rus van ’n skuldige gewete, sondes van die verlede, verlorenheid, vrees vir die oordeel, vrees vir die dood, vrees vir die toekoms, ménse wat ons treiter ens. Ons vier ook Purimfees elke Sondag wanneer ons by die môre-offer saam met die gemeente, die Here aanbid vir die rus wat Hy ons kom gee het. Ons weeklikse Sondagviering is ons eintlike Purimfees, want dit is die dag wanneer ons saamkom om die Here se oorwinning oor al Sy vyande, te vier – die oorwinning van Sy opstanding. Die dag toe die bordjies finaal verhang is! Alles het daarop gedui dat Jesus vernietig sou word op Golgota. Maar, toe verhang God die bordjies en word dit ’n feesdag – die fees van rus!!
Is dit nie so dat ons almal vasgevang sit in die sleurgang van ons daaglikse lewens nie? Ons gedagtes word vasgevang in die sleur van elke dag. Al waarop ons elke dag fokus is die hier en die nou – Ons finansiële posisie, ons bekommernisse, ons kinders se toekoms, ons daaglikse rondjaery van punt A na punt B, ons werkslading ens.
Kon u uit Ester 9&10 agterkom dat daar eintlik ’n baie groter wêreld bestaan – waarvoor ons dikwels stokblind is. Kon u raaksien dat daar regtig so iets is soos ’n ánder dimensie, ’n wonder-wêreld van RUS te midde van onrus? Moenie dink – omdat u fisiese oë dit nie kan sien nie – dat dit oëverblindery is nie! Hierdie ánder wêreld, hierdie wêreld van RUS, is so werklik soos wat hierdie woorde van die Bybel wat op hierdie papier geskryf is, ’n werklikheid is. Dit is so werklik as wat die verhaal van Ester historiese feite is (sien 10:2 > Alles is in die koning se anale opgeteken). Dit is geen sprokie nie – dit is historiese feite. Hierdie ánder wêreld is so werklik as wat die doopwater eens oor u voorhoof gevloei het. Dit is so werklik as wat die woorde van hierdie preek aan u oordromme raak!
Die Here het hierdie wonder-wêreld van Sy RUS na elkeen van u gebring! Ek vra nie óf Hy Sy rus aan u gegee het nie! Ek sê – ek verkondig : Hy HET! Dis u s’n. Dit is u rykdom. U mag die lewe van RUS in Christus Jesus omhels en daaruit gaan lewe. U mag elke dag Purimfees hou. U mag toelaat dat Sy RUS u daaglikse lewe van onrus totaal binnedring en gans en al omkeer . U mag gaan leef soos iemand vir wie Jesus-en-Sy-rus die bron van lewensblydskap is. Nie maar net so vroom-vroom SÊ dat Hy die blydskap van u lewe is nie, maar dat Hy dit werklik is! – want, Hy IS dit!