Reeks oor ESTER nr. 6 Tema: Deur slapeloosheid gee die Here aan Sy volk verlossing in hul slaap
Skriflesing: Ester 6
Min van ons sal seker dink dat iets soos slapeloosheid góéd kan wees. Vir die meeste van ons is dit ’n allemintige frustrasie. Wie sou ooit kon dink dat een van die grootste draaipunte in die geskiedenis een nag plaasgevind het toe twee manne nie kon slaap nie: Koning Ahasveros & Haman. Indien ons Ester fyn lees, sien ons hoe die eintlike draaipunt in hfst 6 kom – toe hierdie 2 mans nie kon slaap nie. Ons moet in gedagte hou dat die boek Ester die wentelpunt in die Bybel is. Want, dit beskryf die allergrootste aanslag van die bose téén die koms van die beloofde Verlosser: Haman se plan wat ’n wet van Mede & Perse geword het – dat ál die Jode op een dag uitgewis sou word. Indien hierdie plan sou slaag, sou God se paradysbelofte nooit kon realiseer nie en sou Jesus Christus nie na die wêreld kom nie, want Jesus sou/moes juis uit die stam van Juda gebore word. Dit is werklik ’n kwessie van maak of breek in die gang van wêreldgeskiedenis. Gaan die satan dit regkry om te veroorsaak dat God nie Sy beloftewoord hou nie?? — En ons álmal reguit hel toe gaan – vir ewig verlore in sondeskuld – sónder die verlossing van die kruis?
Dít is waaroor die boek Ester handel. Dit is ’n vreugdeboodskap van begin tot end. Pure tintelende vreugde om te sien hoedat die Here God regéér – ja, ook deur die satan se planne. ’n Vreugde om te sien hoedat die Here tot in die fynste detail regeer en voorsien. Let op: fynste detail. Hoe so? Maak u oë skrefies en kyk goed, dan sal u dit sien! In een nag, hou die Gees van die lewende God twee manne uit die slaap. Net dit. En dáár kom die draaipunt – sodat die Jode uiteindelik nie uitgewis word nie en God se paradysbelofte end-uit vervul sal word, ja tot in Betlehem en die krip. Maar wáár kom die draaipunt? Die nag van slapeloosheid!
Die eerste man wat nie kon slaap nie, is Haman. Want, hy het (op advies van sy vrou Seres) ’n galgpaal opgerig waaraan hy die volgende dag vir Mordegai wil laat ophang. Díé Mordegai wat nie aan hom (Haman) eerbied wil bewys nie. Hy moet nou net gou by die koning toestemming kry om vir Mordegai op te hang. En daarby het koningin Ester mos net vir hom genooi na haar ete. Hy kon byna nie wag nie … Daarom besluit hy om sommer in die nag reeds na die koning te gaan om sy planne deur te voer.
Maar, die Here was vir Haman een voor. Want die koning kon ook nie slaap nie. Daarom soek hy iets om te lees. Hy beveel dat daar vir hom voorgelees moet word uit sy ou annale (amper soos ’n dagboek). En wat hoor hy daar? Hy hoor hoe Mordegai ’n tyd tevore sy (die koning) se lewe gered het. Onthou u? Ons het dit in hfst 2 gelees. Onthou u dat Mordegai nie deur die koning beloon was nie? Nou vra die koning: “Watter beloning het Mordegai ontvang?” “Hy was nie beloon nie”, kom die antwoord. U sien: Die Here het in Sy detail-regering gesorg dat Mordegai nie beloon was nie – in Sy voorsienigheid. En die Here het gesorg dat die koning nie kan slaap nie. Die Gees van God het die koning uit die slaap gehou. En die Here het die koning juis hierdie boek laat lees – waar daar van Mordegai se heldedaad geskryf is. Verstaan u: Die Here regeer tot in die fynste detail.
Maar nou kom die heel fynste detail. Die tydsberekening van die lewende God wat tot op die sekonde presies is. Die óómblik toe die koning hoor dat Mordegai nooit beloon was nie, kom Haman in die paleis in om vir die koning te vra dat Mordegai gehang moet word!! En toe die koning vir Haman sien, praat hy voordat Haman kan praat. Ons moet baie mooi hierop let. Die Here se tydsberekening is só presies dat die koning praat vóórdat Haman praat. Dink wat sou gebeur het indien dit andersom was…!? Dit was op ’n sekonde-na of Haman het gevra dat Mordegai opgehang word, maar die Here verhoed dit. Sien u die detail-regering van die Here?
Die koning praat eerste en hy vra vir Haman: “Wat moet gedoen word met iemand aan wie die koning eer wil bewys?” Wat dink Haman by homself? “Ag natuurlik, dit kan tog aan niemand anders as aan MY wees wat die koning eer wil bewys nie!!” Nou dink Haman wat hy aan homself gedoen wil hê … Hy sou graag vir een dag lank sélf koning wou wees. Gelykwees met die koning: Kleed wat die koning gedra het – Perd waarop die koning gery het – die hoogste amptenaar moet dan die man-op-die-perd oor die stadsplein laat ry en roep: Só doen die koning met een aan wie hy eer bewys!
Toe sê die koning vir Haman: “Gaan maak jý nou presies só met Mordegai – die Jood”. Dit is onbeskryflik wat hier gebeur! Die manier waarop die Here Sy vyand verneder. Sommer so maklik! Die Here gee dat ’n Amalakiet (die aardsvyande van die Jode) aan ’n verbondskind koninklike eer bewys!! Die een wie hy wou laat ophang!! Die bordjies word 100% verhang!
Wat meer is: Hier is die Here vrymagtig besig om Sy volk se redding te bewerk, terwyl hulle dit glad nie eens weet nie. Terwyl die Here hier in die nág werk, SLAAP Sy volk tog te lekker! Deur die slapeloosheid van Ahasveros & Haman, bewerk die Here die verlossing van Sy verbondsvolk TERWYL HULLE SLAAP!! Ester en Mordegai slaap lekker. Dit is mos nag. Nie Ester of Mordegai is enigsins bewus van wat werklik gebeur het nie! Mordegai weet nie eens van die galg wat Haman laat bou het nie. Ester ook nie. Mordegai weet nie van die ete waarheen Ester vir Haman genooi het nie. Onder hulle neuse is die Here besig om hulle redding te bewerk – deur in die stilte van die nag twee manne uit die slaap te hou en deur tot in detail – tot op die sekonde – te regeer en te beskik en te voorsien. Natuurlik was dit nog steeds die Here se antwoord op Ester-hulle se drie-dae vas. Maar kyk wánneer bewerk die Here die antwoord: Terwyl hulle slaap! Terwyl hulle niks doen nie. Terwyl hulle dit die minste verwag! Dit laat ’n mens dink aan die gelykenis van die saad wat vanself groei (Markus 4). Die boer saai die saad en gaan slaap EN DAN: Vanself bring die aarde die graan voort…. Dit laat ’n mens ook dink aan Genesis 15: Hoe die Here met Abraham ’n verbond gesluit het terwyl Abraham slaap. Die HERE alleen gaan tussen die stukke vleis deur – om daarvan ’n egte GENADEverbond te maak!!
Maar die Here is nog nie klaar nie. Haman blaas die aftog. Hy is skaam en ontnugter. Hy vlug na sy vrou en sy “raadgewers” ( Die heidense toordokters wat te vore die PUR gewerp het…) om troos te soek. Maar, dan kry hy die grootste skok: Hy vind geen troos by hulle nie! Inteendeel: Die Heilige Gees profeteer deur hulle dat Haman heeltemal sal val voor Mordegai – omdat Mordegai ’n lid van God se verbondsvolk is! Hierdie laaste verse van hfst 6 is absoluut verbysterend. Dieselfde vrou (Seres) wat die vorige dag nog vir Haman die raad gegee het om die galgpaal op te rig, praat nou woorde wat geheel en al anders klink! Dieselfde geld vir die raadgewers (toordokters). Nou voorspel hulle letterlik dat Haman se einde naby is. Wíé is besig om hier te praat?? Wíé manipuleer hier heidense goddelose mense se denke? Wíé is hier besig om Haman se afgode te verneder & beskaam? Is dit nie die Here nie? Die God wat ’n verbond gesluit het met Abraham en sy nageslag – sy geloofsnageslag.
Dit is onmoontlik om te hóór wat die Heilige Gees deur Ester 6 sê – en dan nóg steeds te twyfel oor die lewende God se detail-regering …. in jou eie lewe, jou omstandighede, die kerk, die samelewing — MAAR IN BESONDER: In die GELOWIGE se lewe en die kerk wat Hy met Sy bloed gekoop het. ’n Kind van God se lewe staan nie op die wankelrige fondament van TOEVAL nie. Die duiwel & sy helpers het nie die gang van die geskiedenis in hulle hande nie. Die gelowige ontvang gebedsantwoorde terwyl hy slaap (Psalm 127:2). Want, terwyl ons slaap, slaap die Here nie (Psalm 121:4).
Die vraag is: Is ons bereid om ons lewens geheel en al aan só ’n Here oor te gee? Wanneer die Here so ’n geweldige stuk rotsvaste getuienis onder ons voete kom inskuif – ’n getuienis soos díé van Ester 6 – ’n magtige getuienis van Sy detail-regering – IS ONS BEREID OM DAAROP TE REAGEER óf maar net weer daarvan kennis te neem – vir die soveelste keer? Kán ’n mens daardie getuienis vertrou? Kán jy jou lewe daarop waag? Kan jy, op grond van daardie getuienis, jouself geheel en al oorgee/weggee aan Hom? Of is dit dalk ’n waagstuk/risiko? Stem u saam: ’n Mens kan nie anders as om hierdie formidabele getuienis te vertrou nie! Jy kan nie anders as om jou lewe daaraan prys te gee nie! Dit is mos Gód se getuienis. En die getuienis handel ten diepste oor die Here Jesus Christus. Want toe Hy ons ewige redding op Golgota bewerk het, het ons ook geslaap! In die sin van: dat ons toe nog Sy vyande was en Hom nie kon/wou help met die redding nie (Rom 5:10). Ons het nie eens gekies vír die redding nie (Joh 15:16). Só vas het ons geslaap. Toe Hy ons met Sy bloed verlos het, was ons vas aan die slaap. Hy het dit alleen gedoen en volmaak gedoen. Soos Hy Sy volk eiehandig gered het in die tyd van Ester. Dit is rotsvaste getuienis! En jy is totaal dwaas om jou nie geheel en al aan só ‘n Here weg te gee nie! Dis geen waagstuk nie! Dis wysheid!
Kom vanoggend en gee uself – vir die eerste keer óf by hernuwing – wég aan die lewende God van die Woord, want Sy getuienis is rotsvas.
Gebed
Here, ek kom agter dat dít wat in die boek Ester geskryf staan, nie maar net ‘n mooi storietjie is nie en allermins net ‘n stukkie geskiedenis. Dit is ‘n openbaring van hoe rotsvas U getuienis is en hoe U mense verlos terwyl hulle slaap. Ook EK is ingesluit by die verlossing. U Gees oortuig my daarvan deur die Woord. Here ek kan nie anders nie: ek gee myself aan U om algeheel deur U beheers te word en ‘n lewe te leef van opregte toewyding aan U.