TAFELBERG GEMEENTE

Tema: Die gemeenskap van die Heilige Gees (Pinksterfees)
2 Korinthiërs 13:13

 

Daar in gemeente van Korinthe het ál die geestelike leiers die een of ander tyd weggegaan. Paulus het ná 18 maande vertrek. So ook Silas en Timoteus. Akwilla en Priscilla het na Efese vertrek. Apollos het gekom en gegaan. Petrus was vir ‘n wyle daar. Maar ALMAL het uiteindelik weggegaan. Daarenteen, het die Heilige Gees – deur wie die gemeentetjie tot stand gekom het en gegroei het – gebly. Omdat Hy UITGESTORT is op Pinksterdag. Daarom het Hy gebly en kon Hy/ sou Hy nie weer weggaan nie. Die Vader het Hom in die Naam van die Seun gestuur. Joh 14:26:…. om EWIG by ons te bly. Dit is wat “uitstort” beteken: dit is onherhaalbaar & finaal & ewig. Die “uitstorting” bring GEMEENSKAP met ons mee. Hierdie gemeenskap word weer en weer en weer aan ons geskenk aan die einde van elke erediens wanneer die seën uit die Skrif uitgespreek word! Daardie deel van die erediens is beslis nie die tyd om seker te maak dat ons al ons boeke byderhand het of om rond te kyk of onrustig en haastig te wees nie! Dikwels doen ons dit onnadenkend omdat ons dink die seën is maar net ‘n gepaste slot vir die erediens en dat dit maar die leraar se mooi woordjies is of omdat ons al so gewoond is daaraan. O nee! Dit is die Here se woorde waarmee Hy my die wêreld instuur. Maar kyk waarmee: Met die toesegging van die pinkstergawe van die gemeenskap van die Heilige Gees! Dit moet telkens weer in geloof aangeneem word.

Hierdie UITSTORTING kan ons ons nie met ons logika en verstand voorstel nie. Hy is uitgestort op die aarde sonder dat Hy die hemel verlaat het. Want die Gees is net soos die Vader en Seun alomteenwoordig. Hy is volwaardig God en moet daarom aanbid word. Net so min kan ons die wonderdaad van die uitstorting vd Gees gaan inpak in ons eie klein skematjies & metodetjies. Baie mense probeer dit doen. Sekere boeke: “5 stappe om vervul te word met Heilige Gees. Tien stappe om die uitstorting vd Gees in jou gemeente te verseker en herlewing te verkry. Tien stappe om die Gees so in gemeente te laat deurbreek dat groot herlewing plaasvind en dit moet alles red wat verkeerd is.” Asof dit in ONS hande lê – ons moet net die aksiestappe neem! Nee, ons kan nie op hierdie manier ons hande op hierdie wonderdaad van God lê nie.

Net soos ons Here Jesus se geboorte, kruisiging, begrafnis, opstanding en hemelvaart, is ook die uitstorting van die Heilige Gees, soos die Bybel daarvan praat in Joh. 20, Hand. 2, Hand. 10, Hand. 19, ‘n onnaspeurlike genadedaad van God-soewerein. Dit kom van Hom af na vore. Dit is onvergelyklik, onbegryplik, onnadoenlik, ‘n genadedaad van God. Die Bybel sê Hy is uitgestort om ewig by ons te bly. Dus : gemeenskap met ons tot stand te bring. Daar is soveel vreesaanjaende onkunde oor die Bybelse leer vd Heilige Gees. Sommige mense dink dat die gemeenskap van die Gees moet iets bonatuurliks/snaaks wees. Iets van ‘n ander wêreld. Gepaardgaande met allerlei tekens en wonders en manifestasies. Die eenvoud vd Bybelse boodskap is vir sommige hopeloos te vervelig en sonder aksie. Te lig. Te liggewig…

Maar, weet u wat leer die Bybel oor die Gees? Dalk mag dit vir u vreemd klink. Die Gees se gemeenskap stel jou instaat om net ‘n gewone/egte MENS te wees. ‘n Mens in wie CHRISTUS meer gestalte kry. ‘n MENS soos God dit bedoel het. En, ‘daarom merk n mens die kragtige gemeenskap van die Gees op in die gewone sleurgang van elke dag. Sy gemeenskap is dáár, al is alle ander hulp weg. Al lyk dit of alles tevergeefs is. Al het al die geestelike leiers weggegaan. Al is ons lewe in ‘n hoek. Al kan niemand ons help nie. Kyk, daar kom mos tye waar NIEMAND instaat is om jou te help nie. Wanneer absoluut NIEMAND verstaan wat in jou hart omgaan nie. Wanneer jy NIEMAND het om mee te deel nie. Ook veral wanneer jy daardie finale muur in jou lewe bereik het. Net jy alleen moet dan sterf. Maar dan is die GEES by ons. Daarom noem Bybel Hom ‘n Trooster. Hy skep gemeenskap met ons. Hy troos ons. Hy gaan met ons om, al is ons hoe onwaardig.

Dit is die rede waarom ons dit kan vat wanneer ons t.w.v die Here Jesus verag word. Honger en dors moet verduur. Wanneer dinge taai raak. Wanneer ons mishandel word of onreg moet sluk en sluk en sluk. Daarom kry ons soms woorde en wyshede en krag op die regte oomblikke. Dis waarom ons dit kan vat as ons gehaat word. Wanneer ons verdruk word, nie teneergedruk is nie. Daarom ervara ons ‘n eienaardige innerlike vreugde selfs in die mees benouende omstandighede. Dikwels oor raad verleë is, maar nie radeloos nie. As ons alleen voel, is ons nie deur God verlate nie. In al ons moeites kan ons juis oorwin omdat Heilige Gees uitgestort is en gemeenskap met ons hou en kan ons bemoedig wanneer ons bemoediging nodig het. Kan ons versterk as onsself eintlik die versterking nodig het. Al gaan dit ver bo ons kragte uit, dan bly ons vertrou op God. Blydskap. Dit is die krag – die detonerende krag – van die gemeenskap wat die Heilige Gees skep. Daarom is dit NOU AL ‘n salwing en ‘n seën. ( 1 Joh 2:27). ELKE mens wat werklik tot geloof in Jesus Christus gekom het DEEL 100% in hierdie salwing. Dit is geen ekstra wat slegs sommige gelowiges ontvang nadat hulle die regte stappe gevolg het nie!! Dis nié iets waarop gewag moet word nie. VOORBEELD: Klein kind van 6 jr oud hoor “Ek is by jou.”

Natuurlik, bring Sy gemeenskap met ons ook daardie sake, wat ons agter die hand hou, aan die lig. As jy jou verbeel dat jy beter is as ander, weet jy dit onmiddelik. Weet jy: hier is iets verkeerd. As jy jouself aanmatig, dan is dit die Gees van ons Here Jesus wat Sy vinger daarop lê. Dit is wat die gemeenskap met die Heilige Gees beteken. Dit is ‘n reinigingsvuur. Daarom moet ons nie onsself om die bos lei nie: Onsedelikes, afgodsdienaars, egbrekers en diegene wat homoseksualiteit beoefen, diewe, geldgieriges (ek haal aan uit 1 Kor 6: 9-11), dronkaards, kwaaddoeners, kwaadpraters, bedrieers, hulle sal nie deel kry aan die koninkryk van God nie. Maar, dis nou juis van hierdie sake wat die Heilige Gees ons kom losmaak en vrymaak as Hy gemeenskap met ons kom skep. Vers 11: “Maar júlle het julle laat afwas. Julle iIS geheilig deur die Gees.” Hoor dit! Dit is die blye boodskap. Die gemeenskap van die Gees is STERKER as die sondes! O, die mooiste dinge gebeur in jou lewe as die Gees Sy gemeenskap met jou kom vestig. In Sy gemeenskap gee Hy aan ons alles wat nodig is om Christus te verheerlik. Juis vanweë hierdie gemeenskap, wat Hy in ons skep en instandhou, sal daar ook geen aanklag kan wees wanneer die Here Jesus op die wolke kom nie. As die laaste trompet blaas (1 Kor 15). Dan, wanneer Hy kom op wolke, word die gemeenskap van die Gees, wat ons nou reeds so goed ken, die volle gemeenskap met die Vader en die Seun vir ewig en altyd.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00