NG KERK TAFELBERG
No. 3: Preekreeks uit Matteus 26 vir LydenstydTema: Simon Petrus
Skrif: Matteus 26: 31-35, 69-75
As daar één gedeelte in die Bybel is wat ons altyd weer geneig is om verkeerd-om te verstaan, is dit sekerlik híérdie een: Petrus wat vir Jesus verloën. Gewoonlik dink ons min of meer soos volg hieroor: “Petrus het vreeslik laag gedaal, maar gelukkig was hy darem goed genoeg om berou te kon hê. Hy was gelukkig ’n beter mens as Judas. Die boodskap vir óns (so dink ons) is: Ons moet hard probeer om nie te doen wat Petrus gedoen het nie. En indien ons wel faal, moet ons ook probeer berou hê soos Petrus gehad het.”
Indien ons egter van naderby na die Skrif self gaan kyk, maak ons die verrassende ontdekking dat die Bybel op ’n heel ánder manier oor Petrus praat. Ek wil u nooi om vanoggend hierdie ontdekking saam met my mee te maak. Die groot ding wat ons moet ontdek is dat dit in Petrus se dade EINTLIK oor Jesus se groot dade gaan. En, dat Jesus se groot dade vir Petrus hoop gee en ook vir ons hoop gee. Kyk of u dit saam met my kan raaksien en daaroor opgewonde kan raak. Dalk sou u nooit kon dink dat ’n mens opgewonde kan raak oor ’n gedeelte soos Petrus-se-verloëning-van-Jesus nie. Nooit! Dis mos ’n neerdrukkende gedeelte oor sonde en mislukking. Dis mos ’n gedeelte wat ’n mens laat inmekaarkrimp van skuldgevoelens. Ja, natuurlik gaan dit oor sonde en mislukking. Maar kyk net mooi en sien raak wat EINTLIK daar gebeur het .
Dit wat voorop staan, is nie Petrus-se-verloëning nie. Wat voorop staan is die manier waarop Jesus – nog voordat Sy dissipels faal (Ja! ALMAL van hulle en nie nét Petrus nie) – vooruit voorsorg tref om hulle uiteindelik almal te behou – al hét hulle totaal gefaal. Petrus se uiteindelike herstel, was te danke aan die voorsorg wat JESUS getref het nog voordat Petrus geval het!! Kom ons sien hoe dit gebeur het.
Net ná die Pasgamaal en nádat Jesus die Nagmaal ingestel het en almal vol goeie moed ’n lofsang gesing het (26:30), kom Jesus se woorde soos ’n emmer koue water in hulle gesig: “Julle ALMAL (nie net Petrus) gaan My VANNAG nog in die steek laat. Binne enkele ure. Soos die Gees deur Sagaria voorspel het: ‘Die Herder sal deur God doodgemaak word en die skape uitmekaar gejaag word.’ Maar, Ek gaan uit die dood opgewek word en dan sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.”
Jesus sê: “Omdat julle nie verstaan dat/waarom Ek moet ly & sterf nie, gaan julle almal My in die steek laat en sodoende gaan julle júís My lyding bevorder. Tog gaan My lyding – wat julle My aandoen – juis julle verkeerdheid & sonde regmaak. En dit sal alles volgens die Skrif gebeur. Dit móét gebeur, want die Skrif sê so. Maar kyk! Julle sal nie in wanhoop verval nadat julle My verloën het nie. Want Ek sal deur die Vader uit die dood opgewek word en sal julle vooruitgaan na Galilea.”
Sien u hoe Jesus – met Sy woorde – voorsorg tref vir wat nog gaan gebeur! “Al gaan julle totaal val, verval en faal, kondig Ek nou reeds julle oorwinning aan! EK doen dit. EK sal dit doen. Ek sal My dissipels wat My loslaat nie loslaat nie! Ek gee vir julle selfs ’n WAGWOORD sodat – wanneer Ek uit die dood opgestaan het – julle sal weet dat dit regtig EK is. Die wagwoord (pinkode) is: GALILEA. Volgende week, ná My opstanding, sal ’n klompie vroue daarvan getuies wees en húlle sal weer die woord GALILEA gebruik. Dan sal julle weet hulle getuienis eg is – wanneer julle hoor hulle praat van GALILEA.”
Hoor u wat/Wie beheers die hele proses? Nie Petrus in sy swakheid nie, maar Jesus wat vooruit weet dat Sy skape binnekort sonder Herder sal ronddwaal, maar dan magtiglik vooruit sorg dat hulle uiteindelik déúr hulle verwarring gelei sal word. En Hý sal voor stap. Vóórdat die dissipels vlug en val, beskerm Jesus hulle reeds teen die wanhoop daarná. En HOE beskerm Hy hulle vooraf? Met ‘n belofteWOORD.
’n Mens wonder onwillekeurig: Hoe sal die dissipels nou op hierdie woorde reageer? Petrus reageer onmiddelik. Maar, toe hy sy mond oopmaak om te praat, begin hy onmiddelik Jesus se woorde vervul. Juis wat hy nie wil doen nie, doen hy. Hy sê: “al sal húlle almal U in die steek laat – ék sal dit nooit doen nie. Ek sal eerder saam met U sterf.” U sien – dit klink vroom (en Petrus het dit ongetwyfeld opreg bedoel), maar eintlik verhard hy hom teen Jesus se woorde. Sy verloëning van Jesus begin eintlik al reeds hier – hier waar hy op sy eie kragte en toewyding vertrou om staande te bly – en aanstoot neem aan Jesus se woorde. Hy besef nie dat hy eintlik ontken dat Jesus se komende dood ’n Godsroeping is nie. Hy verstaan nog nie die werklike betekenis van Jesus se lyding & sterwe nie. En toe sê Jesus: “Jy wat voorloop in vroomheid, jy sal voorloop wanneer almal begin aanstoot neem. Binne slegs enkele ure sal jy My DRIE maal verloën.” Jesus kón dit só vlymskerp radikaal stel, want onthou: Hy het reeds voorsorg getref. Hy het reeds Petrus se herstel beloof. Hy het reeds beloof dat die pad nie afgebreek sal word nie – dat opstanding op die sterwe sál volg. Daarom kon Hy skerp en reguit oor sonde praat.
Daar is min plekke in die Bybel, waar ’n mens jou eie onbeskryflike swakheid & broosheid so diep raaksien, as juis in Petrus se optrede daardie nag toe Jesus voor die Joodse Raad verskyn het. Let op: Dit was slegs enkele ure nadat Petrus vurig verklaar het hoe HY bereid is om saam met Jesus te sterf. Slegs enkele ure. Toe tuimel Petrus se kragtige “commitment” ineen. En onthou: AL die dissipels het gevlug. Dus: hierdie inherente swakheid kleef aan ALMAL. Ook aan my. Ook aan ú. Dit is ’n fatale misverstand om te dink ons kan onsself “by die Here hou” d.m.v. ONS keuses/inspanning/besluite/toewyding/bekerings/berou/trane. Petrus het GEDINK dat HY baie toegewyd aan Jesus is. Dat hy ’n diepgeestelike gelowige is. Maar, toe die geringste teenstand kom, toe stort die kaartehuis van SY toewyding, inmekaar. Hy moes eers later besef dat WAT hom eintlik staande gehou het NIE sý toewyding-aan-Jesus was nie, maar Jesus se toewyding aan hóm. Jesus se belofte van herstel – nog voor Petrus se val – het hom gered. Het Jesus dan nie in Lukas 22:31 vir Petrus gesê: “Simon, Simon, satan het vurig begeer om jou soos koring te sif, maar EK het vir jou gebid” nie? Nie Petrus se beloftes aan Jesus nie. Maar Jesus se belofte aan hom. Nie Petrus se gebede nie, maar Jesus se gebede. Juis die einste lyding & sterwe van Jesus – wat Petrus nie verstaan het nie – was sy redding en behoud.
U sien: Die wáre “keuse-vir-Jesus” & “toewyding-aan-Jesus” is JUIS om van jou inspannende keuses en toewyding te vergeet en vas te klem aan Sy keuse vir jou/ Sy belofte aan jou/ Sy lyding en dood wat jou van die helse straf gered het. Ons kies-vir-Jesus is om vas te klem aan Sy keuse vir ons – wat Hy met Sy eie bloed beseël het. Ons aanneem-van-Jesus is om aan te neem dat Hy ons op die kruis aangeneem het – ook al voel dit of ons faal om Hom aangeneem te kry. Ook al voel dit soms asof ons Hom nog nooit regtig aangeneem het nie, moet ons vaskleef aan Sy aanneem van ons – DIT is wat dit beteken om Hom aan te neem!! Kleef vas aan SY belofte. Kleef vas aan Sy lyding, sterwe en opstanding!!
Maar, ’n mens moet eers jou eie ellendige swakheid leer ken voordat jy hierdie dinge regtig begin verstaan. Jy moet eers die totale ontoereikendheid van jou eie godsdienstigheid leer ken, voordat jy leer om op Christus se verdienste ALLEEN te vertrou. En waar leer ’n mens jou eie ontoereikendheid beter ken as om vir Petrus dop te hou? Dit is byna menslik-ondenkbaar dat Petrus, slegs enkele ure ná sy vurige liefdesverklaring aan Jesus EN nadat Jesus vir hom gesê het dat hy Hom sal verloën, letterlik oopoë in die gevaarzone instap en Hom gaan verloën. En dit terwyl daar geen dwang op hom toegepas was nie. Geen gevaar. Geen mishandeling. Selfs toe die haan die eerste keer kraai ná die éérste verloëning (volgens Markus 14: 68), ruk dit hom nie tot stilstand nie. Jesus se woorde van enkele ure tevore kom nie in sy gedagtes op nie! Hy word wel ’n bietjie onrustig, want hy verlaat die binnehof en gaan na die voorportaal toe. Maar, toe hy dáár wéér ontken dat hy iets met Jesus te make het, bly hy net daar in die voorportaal staan. U sien: dit gaan al hoe makliker – en erger. Want die derde keer ontken hy met eedswering en vervloekinge dat hy Jesus nie ken nie.
Op daardie moment gebruik die Here die tweede hanekraai om Jesus se woorde skielik tot Petrus se gemoed te laat deurbreek. Jesus draai om en kyk vir Petrus. Skielik besef hy dat hy presies DIT gedoen het wat hy ’n paar uur te vore ontken het OOIT sal gebeur! Skaamte en verdriet oorval hom. Nie wanhoop nie. Want hy word gedra deur die woorde-van-voorsorg wat Jesus hom vroeër die aand gegee het. Maar wel skaam-verdriet en berou. Berou omdat die Here hom eintlik al vergewe het nog voordat hy gesondig het. Die opstanding was mos al ‘n feit nog voordat die kruisiging plaasgevind het. Jesus SAL mos vir Petrus vooruitgaan na Galilea! Daarom kon hy berou hê en herstel word. Hoe wonderlik dat die krisisse in ons lewens – wat onssélf veroorsaak – nie die einde van die Here se heerskappy in ons lewens beteken nie. Telkens hoor ons weer: “Ek gaan vooruit. Ek kry jou aan die anderkant. Anderkant jou duistere probleem. Anderkant jou stryd en smart. Selfs anderkant jou dood.”