TAFELBERG GEMEENTEHoe leef ‘n mens die Christelike lewe?
Johannes 15: 1-9
Ons praat tot vervelens toe oor wat dit beteken om ‘n Christen te wórd. Ons praat egter selde oor hoe ‘n mens die christelike lewe lééf. Op hierdie vraag gee die Bybel ’n absoluut skokkende antwoord: geen mens kan enigsins die christelike lewe leef nie! Dit is totaal onmoontlik – volgens die Woord. Dit lê hoegenaamd nie binne die gevalle mens se vermoë nie. Die christelike geloof is iets absoluut bonatuurliks. Geen mens is daartoe instaat om dit uit te leef nie.
By die Christelike Geloof werk dit nie soos by al die duisende ander godsdienste nie: Dáár word ‘n voorgeskrewe moralistiese & wettiese paadjie presies aangedui en elkeen moet dit probeer nastreef na die beste van vermoë & inspanning. Die Christelike Geloof bestaan egter nie uit ’n voorgeskrewe morele kode wat mense (met ’n bietjie goddelike hulp) moet probeer nastreef – en verder hoop-vir-die-beste nie. ‘n Bietjie hulp-van-Bo is nie genoeg nie. Die gedagte leef by só baie mense: ‘n Christen is iemand wat ‘n mooi idealistiese lewe probeer nastrewe en God stoot hom/haar daartoe soos ‘n mens ‘n kruiwa stoot. Hy help my dus (van Sy kant af) en ek probeer my bes (van my kant af). Dit is volstrek nie die boodskap van die Bybel nie.
Volgens die Skrif lê dit nie binne die vermoë van die gevalle mens om die christelike lewe te leef nie, ook nie met God se hulp nie!! Die hele idee van: “Ek moet probeer doen en die Here se hulp vra”, is ’n onbybelse manier van dink wat uitstekend by die nie-Christelike godsdienste pas, maar nie by die Here se gemeente nie.
Om die christelike lewe te leef, is iets wat slegs die Here self kan doen!! Indien Hy self Sy eie lewe deur my kan kom leef, dan alleen kan ek in beweging kom en reageer en doen. Ek kan alleenlik die christelike lewe leef, indien die drie-enige God self dit deur my kom doen. Want, daar is net één Persoon wat die Christelike lewe kán leef en dit is God self. Dit is die radikaliteit van die Bybelse boodskap teenoor alle ander godsdienste en menslike filosofieë.
Die beeld wat die Heiland gebruik om dit te illustreer is die beeld van die loot en die wingerdstok. Die loot besit geen eie vermoë om vrug te dra nie. Opsigself genome, is die loot totaal leweloos. Die loot kan alleenlik vrug dra vanuit ‘n posisie van rus-in-die-wingerdstok. Die wingerdstok alleen kan die vrug dra en hy doen dit deur die loot wanneer die loot in hom (wat wingerdstok is) tot rus gekom het/ ingesluit is. Indien die loot in die wingerdstok rus, vloei die wingerdstok se lewensappe spontaan deur die loot en produseer die loot outomaties die vrug.
Daar is slegs een manier om die christelike lewe te leef: vanuit ‘n posisie van geloofsrus. ‘n Rus wat vasgesement lê in die groot dade wat die Here aan ons gedoen het en steeds doen. Ek kon vind Hy het my gekry! Hy het my gekry nog voor ek my skuld kon bely (Lied 190:2). Ek kon ontdek dat my naam van voor die grondlegging van die wêreld in die boek van die lewe staan (Open 13:8). Ek mag my baai in die onsterflike son van God se ewige liefde vir my in Christus. Ek mag rus in die dinamiese dade wat die Here aan my doen. Ek mag rus in hoe Hy deur Sy Woord en Gees voortdurend na my toe kom. Ek verlustig my in die permanente en onafgebroke teenwoordigheid en werking van Sy Gees.
‘n Mens leef dus die christelike lewe deur te rus in die werk wat die Here besig is om te doen. Jy fokus nie op jou eie potensiaal / eie vermoë om vroom te probeer wees en soos ‘n christen te probeer leef nie. ‘n Mens leef nie as Christen deur gedurig rond te krap in jouself om dáár die vrug van die Gees te vind nie. Ook nie deur te roem op allerlei uiterlike dinge wat jy vir die koninkryk probeer doen nie. Ook nie deur gedurig jou eie onvermoë en skuld raak te sien en daardeur moedeloos & depressief te word nie. Sodoende verwyder die loot homself van die wingerdstok – deur op homself te gaan fokus.
Die dinamika van Christenwees lê juis in die teenoorgestelde: Ek leef geknoop aan Hom omdat Hy Hom permanent aan my geknoop het deur Sy verbond met my toe ek nog glad nie aan Hom geknoop wou wees nie. VERBOND beteken tog VERBIND. Dit beteken VASGEKNOOP. Ek het dus sekerheid omdat Sy beloftewoord vas en seker is. Ek het nie sekerheid omdat ek die een of ander soort gevoel/ervaring het nie. Dit gaan ook nie oor wat in my innerlike aangaan nie. Dit gaan oor die sekerheid van Sy verbond met my. Dááraan klou ek vas. Soos die loot aan die wingerdstok vashou.
Ek het krag omdat die krag van Sy Gees in my werk. Ek getuig omdat die Gees in my getuig. Ek leef in alle omstandighede omdat Christus se opstandingslewe in alle omstandighede in my woon. DIT bring natuurlik egte emosies en ervarings na vore. Maar die fokus is nie meer op die ervarings nie, maar op Christus. Dit is wat ‘n lewe uit genade beteken: ‘n Stuk geloofsrus in die belowende Christus. ’n Geloofsrus in die Here wat gedurig weer met Sy beloftewoorde na my toe kom.
Dit is presies wat in Joh. 15: 1-9 beskryf word. Hierdie geloofsrus het ‘n besliste uitwerking binne in my. Dit bring egte belewenisse en aktiwiteite by my/ in my na vore. Sy liefde waarmee Hy Hom aan my kom verbind het toe ek nie aan Hom verbind wou wees, begin nou werk in my. Dit begin my innerlik wring en buig en skep in my allerlei belewenisse en emosies. Die christelike lewe is hoegenaamd geen koue, dooie steriele “kopkennis-geloofslewe” nie. Dit is vol emosie en passie en aktiwiteit. Maar, dit is nie “ek-en-my-vroomheid / ek-en-my-ervaring” wat voorop staan nie, maar “die belowende Christus.” Dan is dit HY wat die christelike lewe deur my leef en nie meer “ek en my probeerslae” nie. Daarom slaag dit, want HY doen dit, nie ek nie. Net soos ’n loot vrug SAL dra, omdat dit die wingerdstok is wat die vrug produseer.
Kom ons bring dit ’n bietjie praktyk toe. Wat maak ’n gelowige in allerlei alledaagse lewensomstandighede om die Christelike lewe te kan leef? Byvoorbeeld: Wanneer versoekings lewensgroot voor jou kom staan? Of wanneer besluite geneem moet word. Of wanneer bekommernisse jou beetpak – dalk omdat die finansiële situasie in SA besig is om skielik minder rooskleurig te lyk.
Bid jy dan om hulp van Bo – moet jy ’n bietjie hemelse hulp inroep sodat jý die oorwinningslewe kan lewe? Moet die wingerdstok die loot help sodat die loot die vrug kan dra? (Die nie-Christelike godsdienste). Of moet die wingerdstok SELF die vrug deur die loot dra? (Die Bybelse geloof). Hoor u die hemelsbreë verskil?
Hoe werk dit prakties? Hoe gebeur dit dat die wingerdstok SELF Sy eie vrug deur my – – as loot – kom dra wanneer ek my in wátse alledaagse omstandighede bevind? Antwoord: Ek glo Hom daarvoor. Ek glo dát Hy dit doen, want Hy belowe dit dan. Dit is dan wat Sy testament aan my toesê. So eenvoudig soos dit. Dalk is dit juis omdat dit so eenvoudig is, wat ons dit nie verstaan nie. Maar, dink ’n bietjie mooi: wat is meer eenvoudig as ’n nietige lootjie wat rus in die wingerstok? Dit is die geheim van die Christelike lewe.