TAFELBERG GEMEENTE
Armageddon: Vrees of vreugde?
Openbaring 20: 7-10
Veral ons Afrikanermense in SA – het die afgelope 10jr ’n baie pessimistiese houding van “laat maar gaan” & “gee nie om” ontwikkel. Juis nou het ons die boodskap van Openbaring dringend nodig. Min dinge het die krag om ’n neerslagtige, uitsiglose mens uit die modderslyk van pessimisme te lig soos die boek Openbaring. Dis ’n boek wat ware hoop gee. Tema is NIE die wederkoms nie. Wel: die oorwinning van Christus-en-Sy-kerk oor die bose. Openbaring maak die uitslag van die wêreldgeskiedenis vooruit aan ons bekend.
Onthou: Net ná die sondeval het God ’n belofte gemaak: ’n Manlike Persoon uit Eva se nageslag gebore, sál die kop van die slang vermorsel, alhoewel die slang hom aan die hakskeen sal byt. (Gen 3:15). Die hele Bybel skarnier aan daardie belofte. Die Bybel is die getuienis van hoe daardie belofte vervul word – omdat God end-uit woord hou.
Die hele tydperk vanaf Adam tot die Nuwe Aarde word beheers deur ’n geestelike worstelstryd: beloofde nakomeling van Eva téénoor die slang & trawante. Elkeen van ons is steeds in hierdie stryd vasgevang. Ons voel dit soms aan ons vel. Daar is onsigbare geestelike magte wat – agter die skerms – invloed op die wêreld en op ons lewens uitoefen. Openbaring openbaar aan ons WIE hierdie magte is – wie is rolspelers? Hulle is: Draak (satan) >> sy helpers: Dier uit see (Antichris), Dier uit aarde (Valse profeet), Onsedelike Babilon (verleidelike wêreld), Mense wat die dier se merk het (ongelowiges) – wat ’n eendragtige eenheid vorm TEENOOR die Lam v God & Sy kerk.
Ja, die wêreldgeskiedenis word gedomineer deur sekere rolspelers: satan/ antichristelike politieke stelsels/ valse godsdiens/ verleidelike okkultistiese wêreld/ ongelowige verlore massas TEENOOR Jesus & almal wat aan Hom behoort. Openbaring is die onthulling van hoe hierdie stryd (tussen die saad van die vrou en die slang) tot ’n einde sal kom. Die stryd kulmineer/bou op na ’n klimaks/ finale krisisfase. ’n Finale botsing is onvermydelik. Die slang & sy trawante gaan kop-aan-kop bots met Christus & Sy bloedgekoopte kerk. Die wonderlike is: Die uitslag van die botsing is reeds bekend. Dit is al sedert Gen. 3:15 bekend, maar Openbaring spel dit in alle toonhoogtes uit. En dit is slégs die Here se mense wat dit weet en daarom op ’n totaal ánder manier na die wêreld/lewe kyk as wat die onkundige en verloregaande mense dit doen. Die kind van die Here wéét hy/sy is in die wenspan, al lyk/voel dit of die slang & sy helpers die oorhand het. Dinge is níé soos dit op die oog af lyk nie: Op die oog af lyk dit of die slang die wenner is. Maar in werklikheid is Eva se Nakomeling besig om die slang se kop te vermorsel. En vlak voor die wederkoms gaan dit finaal gebeur.
Dit is interessant dat daar dwarsdeur die Bybel telkens verwys word na só ’n finale oorlog/veldslag. In die paradys het God in beginsel beloof: die slang se kop gaan vermorsel word. En dan, soos die Bybel ontwikkel, word daar telkens gepraat van hierdie toekomstige kop-aan-kop-botsing. VOORBEELDE: Al die kere wat Israel se vyande verslaan is deur ’n Godswonder, is vooruitwysings na die finale oorwinning. Byvoorbeeld: Die oorwinnings in die vlakte van Megiddo >> Deborah verslaan Sisera (Rigt 5), Josia verslaan Neko (2 Kon 23), Elia oorwin die Baälpriesters (1 Kon 19). Hierdie Megiddo-vlakte het die simbool geword van die Here se oorwinning. Later kom Esegiël (38-39) en neem hy hierdie simbool verder deur profeties te praat van die Here se eindtyd-oorwinning oor Gog & Magog – simbool van Sy volk se vyande. Ook Daniël praat hiervan: Dan. 2 > Die klip tref die beeld (menslike koninkryke) en vernietig dit en word sélf ’n finale koninkryk wat die hele aarde vul. Dan. 7 > Oorlog van ’n Antichris teen die gelowiges. Hy ontvang mag om hulle te oorweldig vir ’n vasgestelde tyd lank, maar dán neem die hemelse hof sy mag weg en vernietig hom. 2 Thes. 2:8> Komende Antichris sal verdelg word deur die asem uit Jesus se mond wanneer Hy verskyn. Mat 24:15-27 > Net voor die koms van die Seun vd mens, sal daar ’n groot verdrukking wees soos daar nog nooit voorheen was nie, maar díé tyd sal ingekort word ter wille van die uitverkorenes. Vers 29: Onmiddelik ná díé verdrukking sal die Seun van die mens in die hemelruim verskyn.
Net in Openbaring alleen word daar 5 keer na hierdie finale botsing verwys. Onthou: Openbaringboek bestaan uit 7 rolprente wat die hele bedeling tussen Jesus se eerste & tweede koms vanuit verskillende kante belig (sien eerste preek in hierdie reeks). ’n Mens verwag dus dat elke rolprent van die finale botsing sal praat. 5 uit die 7 doen dit dan ook. Elke keer gaan dit oor ’n kort tydjie waar gelowiges hewig vervolg word – en wat skielik beeïndig word deur Jesus se koms. Elke keer gaan dit oor die slang & trawante wat van God ruimte ontvang om vir ’n laaste keer teen Hom in opstand te kom en dan vir ewig vernietig te word. Die slang ontvang ’n tou waaraan hy homself ophang. U sal telkens die interessante patroon in Openbaring sien: Die eindtyd word beskryf in terme van ’n LANG PERIODE, gevolg deur ’n KORT PERIODE en dan die OORDEEL. Die lang periode is die tyd waar die Here se kerk versamel word en die satan dit nie kan verhoed nie. Die baie kort periode is die tyd van beproewing. Dit word deur die wederkoms beeïndig. Presies só beskryf ook Open 20 die tyd tussen Jesus se eerste en tweede koms: Lang tyd, kort tyd, oordeel. Duisendjaar, kort tydjie en oordeel. Die tyd waarin ons tans leef (wat ’n lang periode is), sal dus afgesluit word deur ’n kortstondige tyd van groot beproewing (veral vir die kerk) gevolg deur Christus se koms. Só sal die Here se belofte aan Adam ten volle vervul word. Die slang se kop sal vermorsel wees.
Dit is opvallend dat Openbaring die gebeure & profesieë uit die OT opneem wanneer van hierdie finale oorlog gepraat word. In hfst 16 sê hy dit sal by ARMAGEDDON plaasvind. En in hfst 20: Die nasies wat die satan teen God sal mobiliseer sal die Gog & Magog wees. Armageddon: Berg van Megiddo > dáár waar die Here dikwels Israel se vyande verslaan het. Gog & Magog > Eseg. 38 se simboliese naam vir goddelose nasies. Ons moet ons nie blindstaar teen ’n letterlike Armageddon en letterlike Gog & Magog nie. Armageddon is ’n simbool van God se oorwinning – die vlakte van Megiddo. Ons moet sien wát Openbaring wil sê – in lyn met die hele Bybel: Alhoewel die satan & sy helpers vir ’n kort tydjie ruimte gaan ontvang om die kerk te verdruk, sál die Here met Sy verskyning ’n finale einde aan hom maak. Dit gaan nie oor die HOE nie. Dit gaan oor die DAT/Feit. God sal getrou bly aan Sy oerbelofte: Die Man uit Eva se geslag, sal die slang se kop vermorsel. Millenia se konflik sal beëindig word. Die oorwinning is vooruit reeds gedokumenteer. Christene mag vasklou aan die sekere wete dat die vyand se einde reeds opgeteken is en dat dít wat ons sien/hoor/voel/ervaar níé die laaste woord sal spreek nie. Armageddon beteken nie dat God se kinders aan die verloorkant is nie. Armageddon is God se afspraak met die slang van Genenis 3. Armageddon is nie die 3de wêreldoorlog waarvoor ons nou reeds blikkies kos moet opgaar nie. Armageddon is Gód se afspraak om ’n finale einde te bring aan die stryd tussen geloof & ongeloof. Vergeet al die Amerikaanse fiksieboekies wat uit Jesus se wederkoms wil geld maak en mense skrik op die lyf jaag. Hou net vas aan die blye boodskap wat Openbaring oopmaak.
Dit is dus NIE waar dat ons huidige wêreldbestel oppad is na ’n wonderlike utopia van wêreldvrede nie. Die waarheid is dat die lewende God die wêreld in ’n drukgang inforseer wat sal uitloop op die “kort tydjie van satan” – ’n groot verdrukking soos wat nog nooit geken is nie. Die slag van Armageddon. Die oorlog teen Gog & Magog. ‘n Mens sien tans ‘n duidelike ontwikkeling na wêreldeenheid in die wêreld. Wêreldpolitiek en wêreldekonomie streef na eenheid. Die bedoelings is seker goed, maar wat die wêreld nie weet nie, is dat dit die HERE is wat hulle so dryf na eenheid. Want, die Skrifte moet vervul word. Hierdie wêreldeenheid moet in plek wees vir die kort tydjie van satan, vlak voor die wederkoms, wanneer die satan losgelaat sal word om die nasies te mobiliseer teen Christus & Sy kerk. Hy sal toegelaat word om te doen wat hy in Genesis 11 (Toring van Babel) al wou gedoen het. Wêreldeenheid van nasies in opstand teen God. Dit is ‘n tyd waar die kerk sy geleenthede verloor en só swaar sal kry, dat, as Hy die tyd nie verkort nie, min sal oorleef.
Die uitverkorenes sal egter nie omkom nie. Christus bly deurentyd op Sy troon. Luk 21:28 gee die versekering dat die finale verlossing baie naby is wanneer die groot verdrukking op sy ergste is. Plotseling sal God self ‘n totale einde maak aan hierdie laaste “kort tydjie” van satan. Die Woord is daaroor eksplisiet duidelik dat God self sal ingryp. Soos in tyd van Elia sal daar weer vuur van die hemel kom. Daar sal dus definitiewe tekens in die natuur en hemelruim wees. Probleemloos word die “magtige” satan soos ‘n veertjie in die vuurpoel gewerp. So maklik en eenvoudig gaan dit wanneer die HERE Sy arm openbaar. Hy sal in die vuurpoel pyniging ervaar tot in ewigheid. Nimmereindigend.
Vraag: Is hierdie vuurpoel ook simboliese beeldspraak? Sommige gereformeerde Skrifuitleggers reken so. Dit is egter opvallend dat Christus se eie uitsprake ook konsekwent op ‘n werklike poel van vuur dui. Sien bv. Matt 13:42 – die gelykenis van die onkruid. Ons sou getrou aan die Skrif bly deur die hel as ‘n werklike plek van vuur te sien. Veral in die huidige tyd waar daar skynbaar so min mense is wat nog aan ‘n werklike hemel en hel glo.
Hoe bevoorreg is die ware gelowige om nou reeds met groot sekerheid te weet wat die uiteinde van die geskiedenis sal wees!! Dít gee die krag en volharding om ook in moeilike tye staande te bly. Selfs al sou ons self persoonlik die “kort tydjie” van die satan moet beleef.
Dr. Chris Saayman
NG Gemeente Tafelberg, Buitenkantstraat 39 Kaapstad
Tel: 021 – 551 6704
saay@isales.co.za