Skriflesing: 1 Samuel 8
Titel: Die Koning staan terug (Intreepreek)

 

Die Kerstyd is ‘n tyd van blydskap. Maar, dis ‘n blydskap wat ‘n mens nederig maak. Dis ‘n skaam-vreugde. Veral as jy begin verstaan waaroor Kersfees regtig gaan. Ons DINK baie keer ons verstaan waaroor dit regtig gaan. Ons het mos grootgeword met die Bybelse feite. Dit gaan mos oor die Seun v God wat mens geword het. NATUURLIK!! Wie weet dit tog nie? Dit beteken egter nog nie dat ‘n mens werklik verstaan nie!!

Verstaan ons bv. dat dit in Kersfees gaan oor die KONING wat teruggestaan het? Stel uself voor: ‘n KONING wat TERUGSTAAN….. Totaal ondenkbaar. ‘n Mens sien iets hiervan in die OT in 1 Samuel 8 waar die volk Israel die Here as Koning verwerp het en ‘n aardse koning wou hê, soos al die ander volke het. Dan lees ons dat die Here hulle hul sin gee. Die Here staan letterlik terug vir ‘n ander koning. Hy offer op. Hy buig agteroor. Sodat SAUL kon koning word. Kyk, jou totale logika draai dwars wanneer jy dit raaksien. ‘n KONING wat terugstaan? Nooit! ‘n Mens moenie 1 Sam 8 bo-langs lees nie. Ons moet mooi raaksien wát hier gebeur. Die volk Israel wou nie langer VRY wees nie. Hulle wou bitter graag weer SLAWE word, want die verantwoordelikheid van vryheid was te groot. Onthou: Hulle WAS vry! Die Here het hulle vrygemaak. Die Here het hulle uit Egipte verlos en hulle die beloofde land gegee. Maar, dit het op ‘n katastrofe uitgeloop. Hulle het die Here verruil vir die natuurgode. Die Here was SELF Koning oor hulle, maar hulle het die natuur aanbid.

Toe gee die Here vir hulle RIGTERS om hulle te lei. Maar die Rigtertydperk was een van die mees skandaligste tye in menseheugenis.

Toe roep die Here vir Samuel – wat baie goed regeer het – omdat hy vir God toegelaat het om te regeer en Koning te wees. Daarom het dit goed gegaan. Want die HERE het hulle vrygemaak.

Maar, toe Samuel oud word, gaan staan die gemeente voor hom en smeek hom vir ‘n koning – soos die heidene het. ‘n Koning wat kan oorloë voer. Hulle wil soos die nasies wees. Hulle wil nie ANDERS wees nie. Hulle dank letterlik vir Samuel af EN hulle dank die Here af – om nie langer oor hulle Koning te wees nie. Grusame mosie van wantroue in die Here as Koning.

‘n Mens wil huil wanneer jy lees watter gesprek die Here toe met Samuel voer. "Toemaar Samuel, hulle het JOU nie verwerp nie. Hulle het MY verwerp. Hulle maak nou met jou soos hulle eeuelank al met MY maak. Maar, gee hulle hulle sin. Maak soos hulle vra. Gee vir hulle ‘n koning na hulle sin – Ek sal terugstaan."

Hoor u hoedat die Here iets sê ten koste van Homself? Hoe Hy opoffer? DIT is die lewende God vd Bybel. Hy loop nie soos ‘n gevoellose robot bo-oor hulle nie. Hy is geen gevoellose robot wat nie van plan kan verander nie en wat SY WIL deurvoer nie – buig of bars. Hy is geen stootskraper wat jou platloop wanneer jy nie in jou spoor trap om Hom gelukkig te hou nie! In teendeel: Hy het gou berou oor die onheil waarop Hy besluit het. Hy is haastig om vry te spreek. Maar, is Hy dan nie onveranderlik nie? Ja, Hy is. Maar, dit is Sy TROU wat onveranderlik is. "God, wat van geen wankel weet nie, sal nimmer Sy verbond vergeet nie". Sy onveranderlikheid lê in Sy jammerhartigheid. Sy onveranderlikheid lê vas in Sy voorneme om Sy mense te red – al kos dit ALLES. Al kos dit opoffering. Al moet Hy ook terugstaan en toelaat dat Sy Seun MENS word en VERWERP word en GEKRUISIG word.

Dit is immers wat Sy gemeente voor Pilatus geskreeu het: "Laat Barabbas los! Kruisig Jesus! Ons wil nie ‘n hemelse koning hê nie! Ons wil ‘n koning hê soos die heidene het! Ons wil nie vry wees nie – ons wil slawe wees en verlore gaan". En wat maak die Koning toe? Toe staan Hy terug – ten koste van Homself.

Dit is wat in Betlehem gebeur het. Die Koning wat bereid is om terug te staan. Verstaan u waarom ons Kersvreugde ‘n skaam-vreugde is. Wanneer ons Hom verstaan as geen gevoellose Robot wat soos ‘n stoomroller oor mense loop nie. Hy is oneindig jammerhartig. Dit is dikwels ONS wat soos stootskrapers oor HOM loop, ja. Maar, in Betlehem sien ons hoe die hart van die lewende God klop. Hoe Hy agteroor buig. Hoe Hy ons red / Hoe Hy ons puin opruim / Hoe Hy ons skoonmaak – deur Sy eie vernedering.

Wanneer jy iets hiervan verstaan, val die hele Kersverhaal meteens vir jou oop. Dan sien jy al die bekende dinge vd Kersverhaal in ‘n nuwe lig. Dinge soos byvoorbeeld waarom Jesus in ‘n arm familie gebore moes word. Waarom Hy in ‘n krip moes lê – die voerplek van diere. Waarom daar nie eens ‘n vroedvrou was om te help met die geboorte nie. Waarom Hy in die gehuggie Betlehem gebore is en in die veragte Nasaret grootgeword het. Waarom nie die Paleis-elite van Herodes die geboorteberig vd engele gehoor het nie, maar vuil skaapwagters. Waarom daar ‘n spesiale ster verskyn het, maar Sy eie gemeente volg dit nie. Die enigste mense wie dit volg is heidense sterrekykers. So het Hy letterlik vuil-werk kom doen. Hy moes Homself kom besoedel. Om ons PUIN op te ruim.

Wanneer ons so na ons Here Jesus kyk – hoe Hy terugstaan, dan sien ons iets van onsself. Sien hoe geweldig ons eie verdorwenheid regtig is. Baie dieper as wat ons ooit sal wil erken. Ja, kyk na Jesus in die gestalte van ‘n slaaf, en jy sien die naakte FEITE – oor jouself!

Dan verstaan ons waarom daar geen ander manier was om ONS te bevry van ons verlorenheid nie. Hy moes offer. Hy moes Homself verloën. Hy moes MENS word presies soos wat ons is. Hy red ons deur ‘n dienskneg te word wat die skuld vir alles kry EN onreg verduur. Hy red ons deurdat Hy self ‘n paar tree terug gee. ‘n Koning wat terugstaan!

Het die besef al regtig tot u deurgedring dat God die Vader vir u in Jesus se vernedering werklik skoongemaak het?? Dit wat op Kersdag gebeur het was nie maar net ‘n mooi gebaar van liefde na ons kant toe nie. En nou moet ons onsself in die hemel probeer kry deur ook nog ons kant te bring nie!! O nee!!! DAAR het die Koning-wat-terugstaan REEDS u lewe se puin opgeruim. Indien ons nog met PUIN in ons lewens worstel is dit omdat ons nie GLO dat die Koning ons verlos het deur terug te staan nie. Ongeloof sê vir die Here: "Dit is nie waar dat U my verlos het nie". En wat gebeur dan? Dan ervaar ons nie die TROOS van die evangelie nie! Dan verkies jy om ‘n slaaf te wees terwyl jy reeds vrygemaak is. Maar, wie van ons sal so vreeslik dom wees??

Gemeente, al rede waarom ek na u gestuur is, is om hierdie ou-ou tyding te kom verkondig – in die openbaar elke Sondag en ook in u huise op huisbesoek. Ek kom nie na u met enigiets ánders nie. Ek het geen geheime agenda nie. Ek beskik oor geen towerformules en blinknuwe idees wat hierdie gemeente sal baat nie. Ek kom net met die vertroue dat die Here getrou is en dat Hy Sy Woord in mense se lewens sal seën en dat Hy Sy kerk vergader deur die bediening van die Woord en die gepaardgaande werk van Sy Heilige Gees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00