DEEL 3
GEREGTIGHEID VOLBRING (5:12 - 8:39)
DIE SKAKEL TUSSEN DEEL 2 & 3 is Romeine 5:12-25. Let noukeurig op hierdie skakel.
Hierdie gedeelte is ‘n belangrike skakel tussen DEEL 2 en DEEL 3 en kan beskryf word as die klimaks van vryspraak deur die geloof en die voortsetting tot heiligheid/heiligmaking soos dit aan ons gestel word in Hoofstukke 6-8. Tot hiertoe het Paulus meer die probleem van die SONDAAR in sy sondige/verlore toestand, sy vryspraak deur geloof in Christus, sy stand in Christus en sy nuwe staat van volwassenheid in Christus meesterlik hanteer. Hier is egter nou ‘n belangrike klemverskuiwing – Paulus gaan nou na die wortel/oorsprong van die SONDE of sondeprobleem en hoe God daarmee handel.
·
· DEEL 1 handel met die verlorenheid van die sondaar sonder God.
· DEEL 2 met die sondaar se redding – wat Christus vir hom gedoen het.
· DEEL 3 handel met sy heiligmaking – wat Christus dan verder in en deur hom doen.
·
· DEEL 1 en 2 het te doen met sondes, misdade en oortredinge wat vergewe word. DEEL 3 het te doen met vrymaking van “dié sondé” wat die oorsaak is waarom die sondaar sondes doen. God vergewe sondes, maar van DIE SONDE maak Hy vry deur ons te verlos, dit te verwyder en ons daarvan te reinig.
·
· Die Sendbrief aan die Romeine is UNIEK in die sin dat dit, soos geen ander Skrifgedeelte nie, belangrike woorde en leerstellings duidelik onderskei en definieer. Tot hiertoe in die Sendbrief (behalwe in 4:8, soos ons reeds daarop gewys het), het ons slegs gehoor van die dade of vrug van sonde in die meervoud, maar vanaf 5:12 is dit nie alleen “die sonde” in die enkelvoud nie, maar in Grieks verleen die voorsetsel “díé” ‘n besondere betekenis aan die klemverskuiwing, soos ‘n vingerwysing na ‘n spesifieke, bepaalde toestand of beginsel – die WORTEL / BRON / OORSPRONG van die werklike sondeprobleem!
·
· TOEGEREKENDE geregtigheid het te doen met ons regverdigmaking en met ons stand in Christus. TOEGEPASTE geregtigheid het te doen met ons heiligmaking en met ons geestelike toestand in praktyk. TOEGEREKENDE geregtigheid word bewys deur die uitwerking van TOEGEPASTE geregtigheid, in elke deel van ons praktiese ondervinding. Anders sou dit sou ons met géén antwoord gelaat het op die uitroep in 7:24 nie: “Ek ellendige mens, ‘WIE’ sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?”
· A. TWEE HOOFDE
· 1. Die ‘een mens’ – ADAM. Hy was nie net die verteenwoordiger van die hele menslike ras en die hele menslike ras was nie alleen reeds in hom as voorvader toe hy gesondig het nie, maar bowenal was hy die voortplanter van sy eie geslag “na sy gelykenis, na sy ewebeeld” (Gen.5:1,3). Aanvanklik was Adam geskape na die “beeld en gelykenis” van God, maar dit het deur die sondeval verlore gegaan en toe is ERFSONDE deur oorerwing op die nageslag oorgedra, van die een geslag na die ander en na elke mens, en prakties deur ‘n “ydele lewenswandel … deur die vaders oorgelewer” (1 Pet.1:18).
· Die koms/oorsprong van sonde in die wêreld was deur “een mens” (v.12). Die krag van en oordeel op sonde, was die dood (v.12b). Die kennis van sonde was deur die wet (v.13); die omvang van sonde was, dat dit tot “alle mense” deurgedring het (v.12b).
· 2. Die (ander) ‘een Mens’ – CHRISTUS – die “laaste Adam” (1 Kor.15:45). Soos die hele mensdom van nature uit die ‘eerste Adam’ gebore is, só word die sondaar wat in Hom glo geestelik, uit die ‘laaste Adam’, wedergebore. Jesus Christus het die groot verskil kom maak! Die wonder daarvan is eenvoudig dat Hy die sondaar wat IN die ‘eerste Adam’ se lendene was toe hý gesondig het en dus saam met hom gesondig het, deur die GELOOF in Hom as die Christus, UIT die ‘eerste Adam’ verplaas tot IN Homself, die ‘laaste Adam’. Hierdie verplasing/verandering waarvoor God deur Christus aan die kruis voorsiening gemaak het, is volkome! Let op 1 Korinthiërs 15:48 en op die volgende punte:
·
·
·
· – 12 –
·
· B. TWEE HANDELINGE
·
· Soos Adam deur één doelbewuste DAAD van ongehoorsaamheid in oortreding (‘in sonde’) gekom het – só het Christus ook deur één doelbewuste DAAD van gehoorsaamheid aan die Kruis, baie sondaars (‘in Christus’) tot regverdiges gestel v.18,19! Let daarop: ‘in sonde’ en dan ‘in Christus’.
· C. TWEE HEERSKAPPYE
· Die dood/sonde (v.17a,21), verwys meer na geestelike dood IN sonde, as na fisiese dood AS GEVOLG van sonde. Adam het byvoorbeeld fisies nog lank ná die sondeval geleef, maar geestelik het sonde en die dood in en oor hom en sy nageslag GEHEERS van die oomblik af toe hy gesondig het!
· Christus Jesus het deur die oorvloed van Sy genade vryspraak en lewe bewerk – die heerskappy OORGENEEM – en maak alle gelowiges VRY en deelgenote in en van Sy heerskappy (v.17,21)!
·
· 3. HOE GOD ONS VRYGEMAAK HET
· 3.1 ONS VRYMAKING VAN DIÉ SONDE (Rom 6-8).
· In die oorspronklike manuskrip is geen onderbreking tussen Hoofstukke 5 & 6 nie. Hfst. 6 begin met ‘n baie belangrike vraag: “Sal ons in DIE SONDE (“hamartia”) bly . . . . ?” (Vgl. v.15 waar dieselfde vraag voorkom, met die verskil dat sonde (“hamartoo”) daar, al kom dit net soos in 6:1, ook in die enkelvoud voor, nie die bepaalde lidwoord “die” vooraan het nie en dui op ‘n enkele daad of oortreding. Hier is dit ʼn “vrug” van “die sonde”. Romeine 6:1 dui meer op die beginsel). Vers 15 kan dus ook so gelees word: “Sal ons sondig, (eenkeer)?” of “Sal ons (‘n) sonde doen, dat die genade meer kan word?”
·
· In beide gevalle reageer Paulus met die sterkste moontlike negatief in Grieks – “Nee, stellig nie . . . beslis nie!” ‘n Paar Engelse vertalings: NEB – NO! NO! Young – let it not be! Phillips – what a ghastly thought! L.B. – of course not! Amp Bible – certainly not! Wuest – away with the thought . . . may such a thing never occur! In beide gevalle (v.3 en 16) volg dan ook die uitroep: “Of wéét julle nie . . . ?”
· Let op die baie belangrike onderskeid wat Paulus tref tussen “die sonde” as bron of oorsprong van die bose, verslawende, besoedelende beginsel en mag wat hier verpersoonlik word as ‘n wrede “heerser”, gelyk aan ‘n slawedrywer (v.12,14,20,22), of “inwoner” (7:17,20); teenoor “sondes” (3:25; 4:7), “ongeregtighede” (4:7), “misdade” (4:25) en “oortredinge” waarvan God gelowiges vrygespreek het.
·
· Van sondes word die sondaar vry gespreek, maar van dié sonde word hy vry gemaak! Die vraag in v.1 gaan dus nie net oor of gereddes moet aanhou om sondes, wat net die vrug van die sonde is, te doen nie; maar of ons durf bly in die beginsel en onder die mag van DIE SONDE as heerser! Anders gestel, beteken dit God vergewe sondes, maar díé sonde kan Hy nie vergewe nie; daarvan wil Hy ons reinig en vrymaak! Sy heiligheid kan dit nie verdra en Sy geregtigheid dit nie langer in gelowiges verskoon nie!
· Nog ‘n baie belangrike faktor om hier noukeurig op te let, is die tyd én wyse waarin die werkwoorde gebruik word – veral in hoofstuk ses – in beide vryspraak en vrymaking. Werkwoorde mag in die verlede, teenswoordige, toekomstige of tyd gebruik word. Die Griekse aoristus is egter tydloos. Wanneer die werkwoord Griekse ‘aoristus’ is, dui dit op ‘n eens en vir altyd volmaakte, afgehandelde, punthandeling; op ‘n eenmalige, in-een-oomblik voltooide gebeurtenis in die verlede, teenswoordige of toekomstige tyd!
· Dit is ook baie belangrik om noukeurig daarop te let wanneer werkwoorde in die aantonende of bevelende wyse gebruik word, want die aantonende wys dui op belangrike feite of gebeurtenisse wat ons móét en behoort te weet. Die bevelende daarenteen, dui op gevolglike bevele wat ons moet gehoorsaam op grond van die feite wat ons weet. As die werkwoord dus in die aoristus tyd én tegelykertyd in die aantonende wys is, soos byvoorbeeld “afgesterf het” in 6:2, “gekruisig is” en “tot niet gemaak sou word” 6:6, “gesterf het” in v.8, “eens en vir altyd gesterwe” v.10, “vrygemaak” in v.18, en “vrygemaak is” in v.22, dui dit op ‘n KRISIS gebeurtenis of handeling wat plaasvind, afgehandel is in die verlede tyd of afgehandel word in die teenwoordige tyd. Dan staan dit as ʼn geloofbare, voltooide feit. Diebewyse waarop geloof kan staan, is feite uit God se Woordwat ons weet en bevele wat ons gehoorsaam het.
– 13 –
·
· Wanneer Paulus AL die werkwoorde in Hfst ses, tot by vers 10, in die aantonende wys gebruik wat net feite ‘aangetoon’ het, verander dit na die bevelende wys by verse 11,12,13 en v.19! Nou is dit óns plig om gehoorsaam en gelowig te reageer op bogenoemde onweerlegbare feite! Die bevele in hoofstuk ses in verse 11,12 en 13a, is egter in die teenwoordige tyd met die uitsondering in verse 13b en 19, waar dit ook in die aoristus tyd is. Hier moet ons nou (GROOT asseblief!) onderskei waar dit aandui, waar ‘krisis’ eindig en ʼn proses dan begin wat steeds voortgaan ná die krisis afgehandel is. Let byvoorbeeld daarop dat die bevel, ‘moenie julle lede stel’ vers 13, net in die teenwoordige tyd is endui op daaglikse toewyding. Maar die volgende bevel in dieselfde vers, ‘maar stel julleself én julle lede’ (aoristus tyd), dui op ʼn daad van onvoorwaardelike oorgawe.
· Enige aksie van ons kant in die KRISIS van heiligmaking wat volle en onvoorwaardelike oorgawe en gehoorsaamheid insluit, moet HIER in Romeine 6:13b, aoristus tyd … bevelende wys (“stel julleself …”) en v.19b (“so moet julle nou julle lede diensbaar stel”) gesoek word! In verse 11,12 en 13a is die bevele egter in die teenwoordige tyd wat dui op ʼn prosesvan aanhou rekening en van gehoorsaamheid. Laat ons dit herhaal: Die oomblik van werklike krisisondervinding is jou geloofsaanvaarding en volkome oorgawe, gehoorsaamheid aan God se bevel, aoristus tyd (v.13b,19b). Die proses van gesonde groei tot geestelike volwassenheid en gelykvormigheid aan Christus – kan net volg en is net moontlik wanneer jy waarlik vrygemaak IS van die sonde en vervul IS met die Heilige Gees.
· Die woord “VRYMAAK” wat Paulus gebruik, wat goed bekend was met die slawediens en hulle vrymaking in daardie tyd, was verstaanbaar vir die heidense gelowiges. Johannes, wat meer aan Joodse gelowiges skryf, beskryf dieselfde ondervinding met die woord, “REINIG” wat meer van toepassing was op die Joodse godsdiens en die Tempeldiens. Om by praktiese VRYMAKING te kom, is daar in Romeine 6 DRIE baie belangrike werkwoorde, waarop die soeker na vrymaking baie noukeurig moet let:-
· 3.1.1 WEET (v.2,6,9,16):
·
· Dit is duidelik dat daar FEITE was wat hierdie Christene blykbaar nog NIE geweet het nie – wat hulle reeds moes/behoort te geweet het! Hierdie onkunde het hulle beroof van ware, volkome vrymaking wat deel was van God se volledige ‘pakket’ in Christus se verlossing en volheid wat alreeds by hulle wedergeboorte as ‘kinders’ aan hulle toegesê was. Dit was die hoofoorsaak van hulle mislukking, geestelike neerlaag en armoede! Let op VIER uiters belangrike dinge wat elke Christen MOET weet:-
· 3.1.1.1 Daar ís vrymaking – van dié sonde : daarom begin die hoofstuk met die uiters belangrike vraag, “Sal ons in ‘die sonde’ bly …?” waarop Paulus duidelik en verontwaardig uitroep – NEE, STELLIG NIE! Hulle het reeds geweet van vergifnis vir die “VRUG” van sondige dade, oortredinge en misdade, maar nie ook van die vrymaking van die “BOOM” wat die vrug dra, van “dié sonde” as ʼn magtige, wrede slawedrywer wat van binne, uitwaarts regeer en ‘n val-en-opstaan bestaan veroorsaak nie!
·
· 3.1.1.2 Vrymaking kom deur vereenselwiging – “saam met Christus gesterf” (v.8). Die weg na geestelike lewe is deur die dood. Sy sterwe vír my, bring vryspraak. Waarvan? – van my sondes. My sterwe mét Hom, bring vrymaking. Waarvan? – van die “liggaam van die sonde” – op grond van die FEIT dat “ons oue mens” saam gekruisig IS! Vanaf v.2-8 kom “DOOD … saam met Hom” in die een of ander vorm, in ELKE versie voor! Dis duidelik dat “DOOD” ‘n onverbiddelike vereiste vir vrymaking is! By dit is die enigste ‘dood’ wat effektief met ons “oue mens” afreken, waardeur ons finaal “die sonde” kan “afsterf” (v.2), die dood van KRUISIGING (v.6)! Vir ons is effektiewe kruisiging slegs moontlik deur vereenselwiging deur geloof en volkome oorgawe, “saam met Christus” waar Hy uit- en oorgelewer is aan ‘n pynlike, openbare, skandelike, gewelddadige en seker dood – die DOOD VAN DIE KRUIS!
·
· Laat ons dit weer sê – dit is ‘n feit van geskiedenis, dat die hele menslike ras 6000 jr gelede reeds in en saam met die “eerste Adam” geval en gesondig het. Net so ‘n feit van geskiedenis is dit dat 2,000 jaar gelede – die DAG toe Christus gekruisig is – is ook “ons oue mens” of die verlorenheid, die boosheid en die sondigheid van die hele menslike geslag – saam met Hom tot die dood veroordeel. Dit is saam na die kruis geneem, waar dit volkome in al sy aakligheid geopenbaar, ten toon gestel en die DOODVONNIS van God se kant voltrek is. In die individu wat sy/haar porsie daarvan by geboorte geërf het, word dit slegs voltrek wanneer hy/sy dit herken, erken en eerlik en desperaat uitlewer om te sterf, om dit ‘af te sterf’. Die algemene “ons oue mens” van die ganse gevalle mensdom, word dan die spesifieke – “my oue mens” – in geloof op die kruis gewerp waar dit hoort, omdat dit dáár klaar met Christus gesterf het.
· – 14 –
·
· ‘Jou’ oue mens, is nie ‘n “stokou man met harde baard en kierie” buite jouself nie, maar dit is IN jou en my! Dit is die “EK” en “JY” in ons absoluut doemwaardige, verlore, verdorwe, arrogante en onrein toestand, apart van God se genade! Maar selfs as deur die wedergeboorte jou oë daarvoor oopgaan, kan jy nie self van jou “oue mens” ontslae raak bloot deur dit te beveg, te onderdruk, te verbeter, op te voed, te dissiplineer of te probeer oorwin nie! Dit word wel by die wedergeboorte deur die nuwe lewe aan bande gelê, maar word dan gewoonlik meer listig en gaan “ondergronds” waar dit “stil” is as dit pas, maar onverwags sy lelike kop uitsteek en uitbars, juis wanneer jy dit die minste verwag en dit nie kan bekostig dat ander ontdek hoe diep jy in jou innerlike wese deur die sonde ontaard is nie!
· Ons “oue mens” maak ons geslepe, wreed, selfsugtig, hoogmoedig en arrogant. (Vgl. Kol.3:5-9 en Efes.4:22,25,26,28,29). Wanneer dit STERF moet dit ook afgelê word, maar dit sterf nooit maklik of vrywillig nie – veral nie die DOOD van die KRUIS nie! “Dit” moet gelowig vasgevat, eerlik in die oë gekyk en onverbiddelik deur gebed aangeklaag en veroordeel word en deur gehoorsaamheid gewelddadig oorgelewer word; net soos die Here Jesus oorgelewer was tot die dood van die Kruis! Só sal deur die KRUIS, die doodvonnis voltrek en die gelowige bevry, verlos en gereinig word van die stuk ou lewe wat hom/haar ná sy wedergeboorte nog verbind aan die mag en heerskappy van DIE SONDE wat hom aankleef. As dit nie gebeur nie, is dit gewoonlik – óf omdat die gelowige nog nie “weet” dat ons oue mens reeds met Christus gekruisig is nie, of ás hy dit wel weet, hy nog nie gewillig is vir die “dood van die Kruis” daarvoor nie!
· Elke sondaar wat egter deur die wedergeboorte uit die “eerste Adam” in die “laaste Adam” geplaas word, ontvang dan so, van God se kant, sy volle deel van die kruis-verdienste en verlossing wat reeds in Christus aan die kruis verdien is. Alles hang egter af wat jy self daarmee doen. As sondaar “in Adam” toe Adam gesondig het, is hy deur GELOOF in Christus, tot “in Christus” – aan die Kruis verplaas. Die TYD toe die kruisiging van “ons oue mens” gebeur het (van God se kant), was toe Christus aan die Kruis gesterf het! Die tyd wanneer die kruisiging van óns “oue mens” huidig plaasvind, is wanneer dit deur die lig van die Heilige Gees en die Woord aan ons geopenbaar word en ons dit PERSOONLIK en gelowig vir ons self aanvaar, erken en self kies om ons ‘oue mens’ aan mede kruisiging met Christus oor te gee! AS ons sy werklike aard met afgryse en afsku ontdek, kan dit ons desperaat genoeg maak om dit oor te gee tot waar dit hoort – die dood van die Kruis!
·
· Hierdie “weet” kan begin deurskemer wanneer die sondaar by die eerste LIG van wedergeboorte hierdie waarhede geestelik begin onderskei en so die volle ontdekking van die “oue mens” in sy ware wese, deur die Heilige Gees, in die lig van Woord en die Kruis maak! So ‘n openbaring van God, bring ook die heerlike ‘weet’ van versekering – van die FEIT dat dit reeds saam met Christus gekruisig IS! Maar … L.W.! – Hierdie kruisiging vind plaas “sodat ….” (6:6b).
· 3.1.1.3 Vrymaking verkry word deur vernietiging (“katargeo”) van die “liggaam van die sonde” (6:6b). Die Griekse werkwoord “katargeo” word algemeen, deur die betroubaarste taalkundiges en teoloë, verklaar as sou dit beteken – volkome buite werking stel, ophou bestaan, verlos, wegdoen, vernietig, verban. Dieselfde woord word gebruik vir die nutteloos maak van geloof (Rom.3:3); die uitkom onder ’n wet (Rom.7:2); die wegdoen met kennis en profesie (1 Kor.13:8) of van ’n belofte (Gal.3:17), of van die ontwyking van die smaad van die kruis (Gal.5:11), óf die vernietiging van die dood (1 Kor.15:26). Hier, in die vernietiging van “die liggaam van die sonde.” Maar wát is hierdie “liggaam van die sonde” waarvan die gelowige vrygemaak word AS ons “oue mens” gekruisig IS?
·
· Die “liggaam van die sonde” is die volle omvang, inhoud en aanwesigheid van die bose mag en vernietigende invloed van DIE SONDE – al die ongeloof, onreinheid en goddeloosheid wat in die HELE wêreld aanwesig is en sal wees, totdat Christus kom – waaraan ELKE MENS, vanaf sy geboorte, deur sy verbintenis met “ons oue mens” gekoppel is en daaraan blootgestel is in die wêreld. “Ons oue mens” is so oud soos die sondeval en het ontstaan toe die indringer, die “liggaam van die sonde” die mens van nature, in sy diepste wese ongeneeslik verrot, bedorwe, besoedel en doemwaardig gelaat het!
·
· Deur die herskepping tot ʼn “nuwe mens”, word die “oue mens” nie net uitgedruk nie: dit moet STERWE en afgelê word! Wanneer dit STERF word die skakel, konneksie of die ‘naelstring’ van die “liggaam van die sonde” met die gelowige verbreek! Met die verstand wéét hy die FEIT (6:6), in geloof réken hy daarop met die hart (6:11) en met sy wil stél hy homself volkome en onvoorwaardelik tot God se beskikking (6:13b). Oombliklik en waarlik word hy van die “liggaam van die sonde” VRY gemaak!
· – 15 –
·
· As God se Woord waar is, word dit dan – sovêr dit die gelowige aanbetref – “vernietig … volkome buite werking gestel … weggedoen … verban … ” (“katargeo”).
·
· Sommige Skrifverklaarders meen dat die “liggaam van die sonde” die fisiese liggaam (“soma”) van die mens soos dit deur die sonde as werktuig gebruik word. Dat daar ʼn mate van waarheid in hierdie siening is, wil ons nie betwis nie, maar in konteks pas hier eerder ‘n mistieke “liggaam van sonde” in, net soos die mistieke “liggaam van Christus” Sy kerk is. Die gebruik van die werkwoord, “katargeo” kan nie in sy volle betekenis by ‘n fisiese liggaam toegepas word nie. In v.12 onderskei Paulus duidelik tussen die sterflike liggaam van die mens en sonde. Wanneer hy praat van die sonde wat IN ons sterflike liggaam nie moet “heers” nie, beteken dit nie dat sonde se heerskappy net gedemp moet word nie. Ons word van sonde vry gemaak en ons liggame is ʼn heilige tempel waarin die Heilige Gees woon! In 8:3 lees ons dat Christus die “sonde IN die vlees” veroordeel het. Dit is immers nie soseer ons sterflike menslike liggaam wat t.o.v. die sonde “tot niet gemaak” (“katargeo”) moet word nie, want sonde is baie dieper as die blote liggaam in die mens se wese gesetel!
·
· Volgens Oswald Chambers is “die liggaam van sonde” ‘n mistieke liggaam, net soos die mistieke liggaam van Christus – die Kerk (Ecclesia) – wat bestaan uit alle ware gelowiges: “The body of sin is this tremendous possibility of solid atheism underlying humanity. The share of individual men and women in that body is “the old man”. Every time a man or a woman enters into the experimental knowledge that this “old man” is crucified with Christ, the ultimate defeat and destruction of the body of sin becomes clearer. The body of sin is not in a man; what is in a man is the old man, the carnal mind, which connects him with the body of sin. Paul’s argument, that the purpose of the old man being crucified with Christ, is that the body of sin might be destroyed i.e. that the connection with the body of sin might be severed.” Ons wil met Oswald Chambers saamstem, want dis nie die mistieke liggaam van die sonde wat gekruisig is nie, maar wel ons oue mens!
·
· Deur geloofsaanvaarding van dit wat ons WEET en volle oorgawe deur die “nuwe mens”, word dan die konneksie met die “liggaam van die sonde” verbreek en kan daar weggedoen word met die “liggaam van die sonde” uit die “nuwe mens” se lewe! Híer is die baie goeie nuus: al is hierdie GIF (die liggaam van die sonde) nog in die wêreld aanwesig deur die bedrywigheid en versoekinge van die Satan – die gehoorsame gelowige word en is daarvan VRYGEMAAK wanneer die “bloedstroom” van die “oue mens”, deur kruisiging, in hom/haar opgedroog het! Met die “oue mens” aan die Kruis, het die “liggaam van die sonde” geen mag/reg/outoriteit, en geen vastrapplek werkplek of woonplek in die gelowige nie! Dít is die KRISIS van heiligmaking!
· 3.1.1.4 Vrymaking is vereniging met Christus . Nie net is ons met Christus verenig in die “doop” van sy DOOD nie (v.3), maar ook met Hom verenig en saam “opgewek” (v.4) in ‘n heerlike, nuwe, opstandingsLEWE! Benewens die beelde tot verduideliking van vrymaking – van “doop in Sy dood … opwekking …. kruisiging …”, gebruik Paulus ook in v.5 dié van INENTING. In die natuur word die inplanting of oorplanting van die natuur en eienskappe van die een plant op ‘n ander, met sukses toegepas. Verbind met Christus deur geloof, is ons deur mede-kruisiging met Hom “gedoop in Sy dood”; gevolglik dan ook saam met Hom opgewek tot Sy kragtige, oorwinnende opstandingslewe waarin ons kan deel en GROEI, waardeur ons vrugbaar en aan Hóm gelykvormig kan word.
·
· 3.1.2 REKEN (v.11):
·
· Die vers begin met, “So . . . ” (Likewise . . . ) en verwys terug na al die feite wat ons moet WEET om daarop te kan reken! Om op te som: v.3 sê ons behoort te weet dat as ons deur GELOOF in Christus as ons Verlosser, IN Hom geplaas is, dan hét ons (van God se kant) saam met Hom gesterf, dan IS ons saam met Hom begrawe in die doop van Sy dood, en saam met Hom IS ons dan ook opgewek in ‘n nuwe lewe, waarin ons met Hom saam groei en deel in Sy lewe, deur inenting.
·
· Deur hierdie vereenselwiging met Hom, hét ons die sonde “afgesterf” en leef ons nou met Hom! Vers 6 sê ons weet ook ons oue mens IS gekruisig, en dat ons daardeur bevry IS van die besoedeling en die bose mag van die ‘liggaam’ van die sonde! Vers 9 sê, dat ons ook weet dat Christus klaar en finaal gesterf het – dat Sy dood vir en namens ons, eens en vir altyd voldoende was vir die sonde – en dat die lewe wat Hy nou leef, nooit weer deur die dood geraak of beïnvloed kan word nie!
– 16 –
·
· Ná “WEET” is die volgende belangrike woord, “REKEN” (6:11). Dit is ‘n boekhou term en as jy op ‘n FEIT reken wat jy reeds WEET, beteken dit dat, volgens onveranderlike wette, soos van rekenkunde, voldoende “krediet” op jou rekening geplaas is waarop jy kan handel. Dit verleen aan jou die reg om dit – omdat jy dit GLO – vir jouself toe te eien en onmiddellik prakties in werking te stel!
·
· Die bevel om te REKEN, kom na elkeen wat reeds in Christus GLO, in Hom opgeneem is in Sy dood en deel het in Sy opstanding. Aan diesulkes is alles wat Christus namens húlle verdien en behaal het, reeds van God se kant as ‘krediet’ op hulle naam en rekening gedeponeer. Nou moet húlle wat van dié ‘krediet’ weet wat God hulle ‘toegereken’ het, begin om dit vir hulleself ‘toe te reken’. Dit is om dit te GLO, dit met ʼn morele en besliste wilsbesluit in ontvangs te neem en onmiddellik in werking te stel. Alle ware wedergebore mense aan wie alles reeds toegesê is, maar prakties min daarvan weet en gebruik, beweeg nog in ‘n soort ‘niemandsland’ van geestelike swakheid, armoede, stagnasie en innerlike tweestryd; tussen ’n “wandel na die Gees” en ’n “wandel na die vlees”!
·
· Christene nie WEET of die feite voldoende WEET nie, kan NIE ten volle op Christus se volmaakte verlossingswerk REKEN wat hulle tot die vlak van ‘n oorwinningslewe verhef nie! Ander mag die feite wel WEET, maar by die verdere wete van die volle prys en al die implikasies van volkome vereenselwiging met Christus, deins hulle terug! Alleen die desperate, gewillige persoon wat smag en dors na God se lewe en oorvloed – om met die Heilige Gees vervul en deur Hom beheer te kan wees – sal hierdie kosbare waarhede tot die dubbele rekening van DOOD vir die sonde, maar LEWEND vir God, onmiddellik en onvoorwaardelik aanvaar! (“Reken” in v.11, is in die teenwoordige tyd, gebiedende wys).
· 3.1.3 STEL! (v.13):
·
· In Romeine 6:12-20 word sonde duidelik voorgestel as ‘n “SLAWEMEESTER” (v.15-20) en ‘n “HEERSER” (v.12-14). Ná die “weet” wat met die verstand te doen het, en die “reken”, wat met die hart te doen het, kom die woord, “stel” wat te doen het met die wil! Al drie dié fakulteite van die mens moet saam in werking kom om die historiese feit van Christus se kruisdood vir ons te omskep in persoonlike, praktiese ondervinding!
· 3.1.3.1 “Moenie julle lede stel” (13a): Hierdie werkwoord, “moenie stel” is in die teenwoordige tyd, gebiedende wys, net soos “reken” in v.11. Albei dui op ‘n houding wat voortdurend gehandhaaf moet word ná die krisis van volle oorgawe, van v.13b.
· 3.1.3.2 “Stel julleself” (Eng “yield” – 13b): Presies dieselfde werkwoord as in 12:1 (Engels “present”) en beide is in die Griekse aoristus tyd, gebiedende wys, wat ‘n krisis handeling aandui, waardeur die gelowige doelbewus sy eie soewereiniteit – die reg op homself, oorgee en afteken, soos die liefdeslaaf in Ex.21:5,6 – en waarvolgens God dit só aanvaar en volle heerskappy oor sy lewe oorneem.
· Net híér vind die krisis van heiligmaking plaas – wanneer die gelowige homself doelbewus, in volle en onvoorwaardelike oorgawe tot God se beskikking “STEL”! Niemand kan sonder ʼn oorgawe aan God gered word nie, maar dit is dikwels sonder die volle besef en bewustheid van die volle prys en omvang van wat ‘volkome oorgawe’ werklik behels. ‘n Eenmalige, heelhartige en onvoorwaardelike oorgawe is niks minder nie as ʼn ‘afteken’ van die reg op jouself, jou eie soewereiniteit as gelowige. Dit gaan gepaard met die uitlewer en oorgee van “ons oue mens” tot kruisiging op grond van die “weet” van 6:6 en die “reken” van 6:11. Die vrygemaakte “nuwe mens” kan dan ten volle, homself en al sy lede en ook sy liggaam, oorgee en tot beskikking van God ‘stel’ deur die geloof, op grond van 6:13b in die krisis van heiligmaking. Ná die ‘stel’ van ‘julleself’ volg die proses van heiligmaking dan in voortdurende verdere kleiner oorgawes van gehoorsaamheid aan verdere lig wat negatief as die ‘aflê’ van skadelike of hinderlike dinge en positief as vrywillige liefdesoffers aan God en in Sy diens vir ander beskou kan word. Dit kan ook beskryf word as hernude TOEWYDING en gehoorsaamheid – ook deur die geloof op grond van 6:11 en 6:13a.
· 3.1.4 DIE VRUG VAN VRYMAKING (Rom 6:14-23):
·
· In hierdie kosbare, opwindende verse vind ons nou die bevestiging van die EGTHEID en werklikheid van ware vrymaking. Praktiese GEREGTIGHEID lei tot kwaliteit gehoorsaamheid en effektiewe diensbaarheid wat die “vrug” van heiligmaking is!
· – 17 –
·
· 3.1.4.1 Vrymaking tot geregtigheid: Gehoorsaamheid aan die sonde tot die dood het plek gemaak vir vrymaking van die sonde, en gehoorsaamheid tot geregtigheid! (v.16). “Want die sonde sal oor julle NIE heers nie” (v.14). “Julle wel diensknegte van die sonde WAS . . . toe julle diensknegte WAS van die sonde” (v.17,20) “en VRYGEMAAK van die sonde” (v.18) “Maar nou dat julle vrygemaak IS van die sonde . . . ” (v.22). God laat beslis nie ruimte vir die gelowige om in DIE SONDE te BLY, daarmee voort te gaan en daarin gelukkig te wees nie!
· 3.1.4.2 Geregtigheid tot heiligmaking :
·
· ‘n Belangrike woord is weer hier “GEHOORSAAMHEID”.
· Doelgerigte gehoorsaamheid – “gehoorsaamheid tot geregtigheid” (v.16b)
· Daadwerklike gehoorsaamheid – “Van harte gehoorsaam geword” (v.17).
· Diensbare gehoorsaamheid – “Diensbaar aan die geregtigheid” (v.18).
· “Diensbaar” (“doulos”) aan geregtigheid (v.18) … tot heiligmaking (v.19b) … aan God (v.22), is die geheim van “VRUG TOT HEILIGMAKING”, of díé soort heiligmaking wat WERK!
·
· Die gelowige se probleem met GEHOORSAAMHEID aan die Wil en Woord van God, word besweer deur sy vrymaking van DIE SONDE, met die vernaamste drie kenmerke: a) Die gewaande REG op homself. b) Sy BOSE HART van ongeloof. c) Sy selfstandigheid en onafhanklikheid van God, wat dikwels as lydelike verset beskou kan word, maar in werklikheid opstand teen God is!
·
·
· 3.2 VRYMAKING VAN DIE WET – Romeine 7
· NOG STEEDS GEREGTIGHEID TOEGEPAS (Romeine 7): Die “sleutel” tot die onderskeiding van die belangrike onderwerpe wat in dié drie hoofstukke beklemtoon word, hang aan die “voordeur” – d.w.s in die eerste vers van elke hoofstuk. “Genade” in 6:1; “wet” in 7:1 en “Gees” in 8:1.
· Deur die jare heen was daar ernstige meningsverskille – nie net oor die korrekte verklaring van hierdie hoofstuk nie, maar waarom dit juis híer, tussen Romeine 6 en 8, geplaas is. Ons is daarvan oortuig dat dit volkome korrek en baie belangrik is, want daardeur word aangetoon dat bo en behalwe die “weet” van vrymaking van “die sonde” in Hfst 6, daar nog ‘n “weet” van vrymaking in Hfst 7 is – van die wet! Nie net van die “wet van die man” (v.2), of die “ander wet in my lede”, van (“die vlees”, v.23), of die “wet van my gemoed” (v.23), of die “wet van die sonde” (v.23,26) en die “wet van die sonde en die dood” (8:2) nie, maar ook van die onverbiddelike oordeel van die onveranderlike “heilige” (v.12) en “geestelike” (v.14) wet van God.
·
· Die wet van God is op sigself “heilig en regverdig en goed” (7:12), maar dit is “kragteloos deur die vlees” (Rom. 8:3) om die verslaafde, gebonde en kragtelose sondaar van die sonde te verlos en in staat te stel om aan die hoë eise daarvan te voldoen! Let asseblief daarop, dat die Heilige Gees hier ‘n heel nuwe term, nl., “DIE VLEES” (6:19; 7:5,14,18) begin gebruik om aan die Christen, wat die betekenisse van “weet … stel … reken” ontdek het, nóg ‘n aspek van sy menswees te laat ontdek nl., “die vlees”, en dat God anders daarmee handel as met die sonde.
·
· Dit wil voorkom asof “die vlees” in enige atmosfeer of houding van wettiese strengheid, hardheid, gebondenheid of doen-en-verdien-godsdiens, gedy: enigiets waarop mense mag staatmaak as verdienste tot vryspraak of sukses tot vrymaking, of selfs tot ‘meer heiligheid’. Die hele trant van Romeine 7 bewys dit! Onder die wet moet ék iets vir God doen. Onder genade doen GOD dit vir my! Hý stel my daartoe in staat dat “die reg van die wet vervul kan word” (8:4) deur Sy nuwe dinamiese, motiverende wet van liefde in my binneste! “Wet” kom 20 en “gebod” 6 keer in hierdie hoofstuk voor.
In Romeine 7 gaan dit steeds ook nog oor “dié sonde” wat 12 keer voorkom, met die lidwoord “dié” vooraan wat bepaal watter soort of aard van sonde bedoel word. L.W. – Ander duidelike sinonieme van “die sonde” in hierdie hoofstuk is “sondige hartstogte” (v.5), “die begeerlikheid” (v.7), “allerhande begeerlikheid” (v.8), “die liggaam van hierdie dood” (v.24) en “die sonde wat in my woon” (v.17,20).
·
· – 18 –
·
· Let eers op die DRIE van die mees ALGEMENE VERKLARINGS VAN Romeine 7:
·
· a) DIE ONDERVINDING VAN DIE GODSDIENSTIGE, MAAR ONGEREDDE MENS … wat diep in sy gemoed smag en verlang na ‘n beter lewe. Die “ek” in v.14 en verder aan, praat van ‘n Jood wat onder die wet is – soos Paulus in sy ontwaakte, maar ongeredde toestand nádat hy ooggetuie was van Stéfanus se steniging. Dít is dan die ondervinding van ‘n ernstigdenkende, godsdienstige moralis.
·
· Diegene wat hierdie siening huldig, voer aan dat geen wedergebore mens “verkoop” is onder die sonde nie (v.14) en dat selfs onwedergebore mense ook wel kan sê, “ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens” (v.22), deurdat hulle diegene admireer wat die wet onderhou en self ook sou begeer om dit so te ondervind.
· b) DIE ‘NORMALE’ ONDERVINDING VAN ALLE WEDERGEBORE MENSE: Volgens hierdie siening word hierdie hele, treurige, lamlendige ondervinding dan toegeskryf, as sou dit die onvermydelike en blywende lot en ondervinding van almal wees – selfs ook dié van Paulus toe hy die brief geskryf het! Mense wat hierdie siening huldig, kan blykbaar nie die skerp kontras van hierdie hoofstuk met Romeine 6 en 8 raaksien nie en “weet” nie waaroor en waarom dit in díé drie hoofstukke gaan nie. Ook kan hulle nie onderskei tussen “sondes” en ” die sonde” nie. Hulle ruk die hele hoofstuk uit sy verband. Hulle beperk Paulus se ondervinding, teen hulle beterwete, dan tot die “ellendige mens” van 7:24, ten koste van die triomfantlike mens wat “meer as oorwinnaar” is in 8:37! Wat sou hulle sê, is die antwoord op die betekenis van tekste soos Romeine 6:14,22 en 8:2,4 dan eintlik?
· Ds. J Fletcher verduidelik die gebruik van “ek” in Romeine 7:14 ens. as volg: “Paulus verklaar homself geensins as ‘n vleeslike mens in 7:14 nie, net so min as wat hy homself as ‘n leuenaar verklaar in 3:7, of as Jakobus homself ‘n vloeker, in Jakobus 3:9! Só ’n gebruik van die “ek” in die redenaarskuns, is slegs die gebruik van veronderstelling waardeur die skrywer die teenwoordige tyd (in die eerste persoon – ‘ek’) gebruik, om meer krag aan sy vertelling te verleen”.
· Ons gee toe dat Romeine 7 wel Paulus se ondervinding kon gewees het vanaf die tyd toe die Heilige Gees hom begin oortuig het (moontlik vanaf sy aanskoue van die steniging van Stéfanus), tot en met sy vervulling met die Heilige Gees drie dae ná sy kragdadige bekering op die pad na Damaskus). Maar dit was beslis NIE sy ondervinding daarná nie, want dit sou beteken het dat dít wat hy in Christus gevind het, hom in nog groter ellende gedompel het as toe hy met alle mag vir die wet geywer het. Romeine 7, en veral v.14-24, is beslis NIE bedoel om die normale en blywende ondervinding van die ware wedergebore mens te wees nie, hoewel dit sy tydelike en verbygaande ondervinding kán wees, totdat hy die groot en heerlike ontdekking van v.25 maak! Indien dit die ondervinding van ‘n wedergebore mens bly, het so ‘n mens nog NOOIT eers by die begin van ware verlossing gekom nie!
·
· c) ROMEINE 7 BESKRYF AL DIE MOONTLIKE FASES VAN GEESTELIKE ONDERVINDING: By ‘n noukeurige ontleding van die hele hoofstuk, vind ons dat daar ‘n duidelike onderskeid getref word tussen die GEESTELIKE MENS (1.Kor 3:1) wat vrygemaak is (7:3) van die wet deur vereenselwiging met die liggaam van Christus (7:1-6); die NATUURLIKE MENS (1 Kor.2:14) wat veroordeel is deur die wet (7:7-13) om hom tot Christus te dryf, en die VLEESLIKE MENS (1 Kor.3:1) wat verslaan is deur die sonde wat werk deur die wet (7:14-25). Só word ’n mens dan nie tot wanhoop nie, maar tot volkome VERLOSSING gelei (v.24,24). Daarvan oortuig dat hierdie metode van uitleg die veiligste en mees korrekte is, gaan ons voort om Romeine 7 volgens laasgenoemde siening te ontleed.
·
· 3.2.1 VRYGEMAAK van die WET – DIE GEESTELIKE MENS (7:1-6)
· 3.2.1.1 a) Dood vir die wet (v.4,6): Hoofstuk 6 toon ons die weg van bevryding aan van die SONDE, in die beeld van ‘n slawemeester en sy slaaf. Hoofstuk 7 toon die weg van bevryding van die WET aan in die beeld van twee mans (Christus en die Wet) en ‘n vrou (die Christen). Die “vrou” kan slegs aan één behoort. Die een met wie sy “getroud” is (die wet), is ‘n goeie man – presies, noukeurig en onverbiddellik streng. Hy stel geweldige hoë eise aan haar – wat wel reg is – maar wat sý, weens haar eie swakheid en magteloosheid, nie kan uitvoer nie. Hý DOEN egter niks om haar te help om die eise uit te voer nie! Alhoewel hy ten volle geregtig is op sy eise, het hy ongelukkig die verkeerde vrou. Tog is sy deur die “wet van die man” onverbreekbaar aan hom verbonde, maar sy is magteloos om aan sy strawwe eise te voldoen, dus verkeer SY in groot ellende!
– 19 –
·
· Die ander “man” (Christus) se eise is net so hoog en selfs nog hoër (Mat.5:21-48). As sy maar net met Hóm kan trou, sal Hý haar help om al daardie eise uit te voer! As sy maar net wettig en volkome deur ‘n huweliksverbintenis met die tweede “Man” verenig kon word … maar die wet bepaal dat haar verbintenis met die “eerste man” eers verbreek moet word. Hierdie ‘man’ weier egter hardnekkig om te sterf en dood is die enigste wettige manier waardeur dié verbintenis met hom verbreek kan word! Nie egskeiding nie; dít sal hom nog altyd laat “leef” om oral teenwoordig te wees en in haar sake in te meng. Maar dan ONTDEK sy iets wonderliks! As ‘hý’ nie kan of wil sterf nie, kan ‘sý’ sterf en só “die wet van die man” wat haar aan hom verbind, tot niet maak!
·
· Nou is die vraag – deur wátter dood kan sy haar eerste man “afsterf” wat háár nog sal laat voortleef om met die tweede een verenig te word? Toe ontdek sy (v.4) dat toe Christus gesterf hét en Sy liggaam aan die Kruis verbrysel is – sy reeds deur die geloof IN HOM geplaas is waardeur Hy (en ook sy saam met Hom) deur die wet, maar ook vir die wet, gesterf HET! In Hom, is sy dus saam met Hom, “DOOD VIR DIE WET” deurdat sy opgeneem is in “die liggaam van Christus!” (v.4). Uiteindelik is sy wettig verlos van die harde man se onmoontlike eise, oordele, en dreigemente! Maar dis nie al nie, nou kan sy:-
·
· 3.2.1.2 Deel met Christus (v.4): Deur haar vereenselwiging met Christus in Sy DOOD, deel sy ook met Hom in Sy opstandingslewe en so vind die vereniging – gelyk aan ‘n huwelik – met Hom plaas, “om aan ‘n ‘ANDER’ te behoort.” Vrygemaak met die vryheid waarmee Christus alleen kan vrymaak, deel sy nou in sy lewe, krag en verheerliking, IS sy waarlik vry en vind sy die krag vir Sý hoë eise! Sy leef in Sy oorvloed en is daardeur ryk en sterk want sy en Hy DEEL alles saam!
· 3.2.1.3 Demonstreer verbintenis deur vrugbaarheid – “dat ons tot eer van God VRUGTE kan dra … ” (v.4). In haar verbintenis met die ‘eerste man’ het sy vir die dood vrugte gedra (v.5). Nou dien sy in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie. Haar “vrug tot heiligmaking” (6:22) is versterk deurdat sy deel in Sy opstandingslewe en in die nuwigheid van die Gees! Haar verlustiging en motivering is nou: “tot eer van God . . . ” (v.4b).
·
· Wettiese gebondenheid is die wanbegrip dat ek heilig of verdienstelik kan word deur wette te hou, werke vir God te doen en my geestelikheid te meet aan ‘n reeks negatiewe “moenies” en “moete”. So ‘n gesindheid oordeel net uiterlik en kan nie die ware doel van God met die wet, of die verhouding tussen wet en genade, begryp nie. Wettiese gebondenheid lei gewoonlik terug na sonde gebondenheid!
· 3.2.2 VEROORDEEL deur die WET – DIE NATUURLIKE MENS (7:7-13)
· Om alle misverstand uit die weg te ruim, as sou die wet onnodig, self sondig (v.7) of onredelik (v.13) kan wees, is by beide hierdie verse die sterk, dubbele ontkenning: “NEE, STELLIG NIE!” Die wet speel ‘n uiters belangrike rol in die mens se redding!
· 3.2.2.1 Die wet openbaar sonde (v.7) “Ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie!” Dank God dus vir die wet wat sonde in sy ware wese aan die sondaar openbaar, sodat hy daarvan oortuig en verlos kan word! L.W. dat Paulus hier spesifiek na sonde in die vorm van “begeerlikheid” verwys – dit wat diep innerlik skuil en selfs ‘n morele en na die letter wetsgehoorsame sondaar, soos die ryk jongman, ook as SONDAAR ontmasker as hy op daardie punt getoets word!
·
· Begeerlikheid is inderdaad die één ding wat bewys dat die hart van die mens só bedrieglik en dus só gevaarlik kan wees dat dit hom AL die gebooie innerlik kan laat oortree, sonder dat dit uiterlik sigbaar word in sondige dade! Juis hier kom die wet die eerlike mens tot hulp as dit die sonde – selfs in sy kiemvorm van “begeerlikheid” – uitwys sodat daarmee gehandel kan word, want die wet sê: “Jy mag nie begeer nie!” Vir die mens wat gewillig en eerlik genoeg is om dit erken, is daar hoop!
· 3.2.2.2 Die wet ontketen sonde (v.8,9). Die enigste twee soorte mense met onverdeelde harte is dié een wat heeltemal aan die sonde oorgegee is en die een wat heeltemal aan God oorgegee is! V.9 sê: “sonder die wet het ek vroeër gelewe”. Dit beteken dat toe hy nog aan die sonde oorgegee was en voluit daarin geleef het, was hy met homself só tevrede dat niks hom gehinder het nie! “Maar toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe …” (wakker geword en uitgewys deur die gebod). Vers 8 verduidelik meesterlik hoe die wet die “sneller trek” en die lading begeerlikheid wat in hom skuil, laat ontplof! Hy het eers gedink hy “lewe” en dit het ook so gevoel, maar in werklikheid was hy dood in sonde! Die wet
– 20 –
·
· stimuleer en stel enige moontlike innerlike sondige, verkeerde beginsels en begeertes in werking. Die rebellie en opstand teen daardie wet wat dit aanwakker en uitwys, is genoegsame bewys dit is daar, al is dit eers passief en onaktief. Dank God vir die wet wat die sonde wakker maak en tot lig bring!
· 3.2.2.3 Die wet oordeel die sondaar (v10-13). Die wet het nie net die sondaar ontbloot deur sonde te openbaar/ontketen nie. Dit is ook “heilig, regverdig en goed” en rond dan sy volmaakte voorbereiding (van die sondaar wat tot redding moet kom) af deur hom tot die dood te veroordeel! Daarsonder sal hy mos nooit hierdie “lewende – maar – dooie” toestand kan of wil verruil vir die DOOD MET CHRISTUS van die Kruis, wat vir hom lewe bring nie!
· Die sondigheid van sonde in sy ware werking, word verder openbaar deur die bewys in v.13 dat dit selfs iets goeds – soos die wet – kan gebruik of misbruik om die sondaar tot die dood te veroordeel. Só word die “uitermate sondigheid” van sonde bewys (v.13b).
· 3.2.3 VERSLAAN deur die WET – DIE VLEESLIKE MENS (7:14-26)
· Hier is werklik sprake van burgeroorlog – iets wat altyd ‘n tragedie is, al is die goeie kant ook aan die wenkant! Dit woed hier vanweë VIER verskillende botsende wette/beginsels wat in EEN MENS werksaam kan wees. Dat daar wel verlossing – innerlike vrede/harmonie – kan kom, word bewys deur die juigkreet in v.24 en die oorwinningskreet in 8:37! Wat ‘n heerlike ontdekking as die betekenis, werking en doel van God deur hierdie wette aan ons duidelik word! Daarom is Romeine 7 so uiters belangrik!
·
· 3.2.3.1 Die wet van God (v.14,16,22,26). Die DRIE funksies/eienskappe van die wet is:-
·
· 1. Dit verklaar en spel in duidelike terme, God se standaard/verwagting uit vir die een wat in Hom GLO. Sy doel vir Israel deur die seremoniële wette (feeste, offers, tempeldiens en heilige dae ens.) en die morele wette (10 gebooie) was dat Israel, afgesonder van al die volkere, vir Hóm ‘n heilige, toegewyde volk sou wees. Vir Sy KERK (alle wedergeborenes uit alle nasies, ook die Jode) is Sy ganse WOORD nou die standaard!
·
· 2. Dit verbied die mens om in die minste af te wyk van die duidelik geopenbaarde standaard!
·
· 3. Dit veroordeel die skuldige oortreder tot die dood! Daar is hoegenaamd geen genade, vryspraak, verlossing of redding in die wet nie! Dit is regverdig en onverbiddelik in sy eise, en ongenaakbaar in sy uitsprake en veroordeling!
·
· 3.2.3.2 Die wet van my gemoed (v.23). Dit is die setel van die mens se bewussyn, die vermoë om dinge/feite te onderskei, teen mekaar op te weeg, keuses te doen en uitspraak te lewer. Hierdie vermoë onderskei die mens van die dier; dit verhef hom bo diere en maak van hom ‘n redelike wese. Dit gee ‘n innerlike bewussyn en individuele persoonlikheidsgevoel met alle persoonlike eienskappe. Die feit dat hier in v.23, die “wet van my gemoed”, blykbaar aan God en Sy wil se kant is en dat hierdie persoon se wil ook aan die kant van die “goeie” (v.15,18,19,22) is, bewys dat hierdie inderdaad ‘n ontwaakte, deur God verligte gemoed is wat hier voorgehou word soos dit die wet en wil van God onderskei en vrywilliglik aanvaar.
·
· 3.2.3.3 Die wet van die sonde (v.17,20,21,23b,24,26) . . . en die DOOD (8:2).
·
· Omdat dit ‘n WET is, is dit ‘n sondige BEGINSEL – die totaliteit van oorerflike, inwonende verdorwenheid in die hele menseras (Rom.6:6 – soos reeds verduidelik). Vir hierdie sondige beginsel het die Here Jesus vir eens en vir altyd GESTERWE en die lewe wat Hy nou leef, leef Hy vir God (6:10). Hiér ontdek ons die oorsaak van die burgeroorlog – die vyfde kolonne van inwonende sonde – die indringer van buite – wat lewend en werkend “in my woon” en my liggaam wat neutraal geskape is, gekaap en onder sy beheer gebring het totdat die “kaper” en sy gekaapte “liggaam” nou saam, die “liggaam van hierdie dood”, van die ‘ellendige mens’ geword het! Paulus het die straf wat moordenaars in daardie tyd opgelê was, in gedagte gehad nl., dat die lyk van die vermoorde aan die moordenaar vasgebind was, totdat ook hy, deur die ontbinding/ontsteking daarvan gesterf het! Daar is geen twyfel nie dat daar verlossing is – deur IEMAND, nie IETS nie want Paulus vra: “WIE sal my verlos?”
·
– 21 –
· 3.2.3.4 Die ander wet in my lede (v.23). Hier is die openbaring van ‘n baie belangrike waarheid/geheim wat ons moet verstaan, anders sal ons altyd probleme met die proses van heiligmaking hê. Dit WEMEL in Romeine 8 van die term “VLEES” wat aan ons voorgestel is in 6:19 en wat DRIE keer in Romeine 7 voorkom! Hierdie nuwe term/woord verduidelik aan ons ‘n groot waarheid. Om dit korrek te verklaar, moet ons dit altyd in verband of konteks probeer verstaan soos byv. die sagte dele van die menslike liggaam (1 Kor.15:39), óf die hele fisiese liggaam (2 Kor.4:11), die vleeswording van Christus (Joh.1:14), die hele menslike geslag (Hand.2:17), óf in ‘n sedelike sin, soos dit hier voorkom.
·
· Hierdie “ander wet” of wet van die vlees, is my natuurlike samestelling of menslike natuur – my aptyte, oorerflikheid, temperament, begeertes, instinkte, hartstogte, seksuele drang ens., wat oorspronklik deur God goed geskape is, maar deur die sondeval onderworpe geword het aan die “wet van die sonde” as werktuie tot ongeregtigheid (Rom 6:13).
·
Dit is noodsaaklik om Skriftuurlik tussen “vlees”, as die werktuig van sonde en “die sonde” as die werklike bose beginsel self, te onderskei. In sekere Skrifgedeeltes (vgl 8:7; Kol.2:11) klink dit asof “die vlees” onder die beheer en mag van die sonde, feitlik identies met die sonde is. Oral waar die term “vlees” in ‘n sedelike sin voorkom en verband het met óf ons “sinnelike natuur” (wat ons met ons sintuie kan waarneem en onderskei) soos dit geloof opponeer (Joh.8:15; 2 Kor,5:16; Fil.3:3-7), óf ons “sondige natuur” soos dit die Heilige Gees opponeer (Rom.8:7; Kol.2:11; Gal.5:17), word dit in die Skrif in ‘n negatiewe sin, met ‘n negatiewe konnotasie, aan ons gevalle toestand verbind. Die Kruis van Christus bied ons die enigste oplossing en verlossing!
· ‘Die VLEES’ en ‘die SONDE’ is nie identies nie. Waar die Skrif leer hoe God met DIE SONDE handel, is werkwoorde soos “reinig … verlos … vrymaak … tot niet maak” duidelik omskrywend en boonop in die Griekse aoristus tyd. Vir ons dui dit op ʼn krisis ervaring wanneer God die voorsiening wat Hy klaar 2000 jr gelede daarvoor gemaak het, toepas aan die gelowige wat Hom daarvoor vertrou.
·
· In Romeine 8:3 lees ons dat Christus selfs ook die “sonde IN die vlees” veroordeel het. Waar die sonde ons natuurlike menswees deurdring en ons ‘lede’ as werktuie van ongeregtigheid beheer, besoedel en misbruik het, is dit logies dat ook die hele natuurlike deel van ons menswees reiniging en verlossing nodig het. “Ons oue mens” IS klaar, 2000 jaar gelede, saam met Christus gekruisig. Daarmee is die ‘sonde in die vlees veroordeel’ en vir ‘vlees’ is daar nou bevryding en reiniging moontlik! Galasiërs 5:24 stel dit duidelik dat “die wat aan Christus behoort, HET die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.” In Romeine 6:6 word die aoristus tyd vir “kruisig” gebruik, maar in Galasiërs 5:24 die volmaakte tyd vir “het gekruisig” wat dui op iets wat gebeur het en op grond daarvan daagliks voortgaan. Dit moet m.a.w. gekruisig bly – elke dag – en mag nie langer, of weer die werktuig van sonde word nie!
·
· ‘VLEES’ word dus gereinig, reg ingestel en gedissiplineer. Alhoewel die vlees nie vernietig word nie, mag die Christen nie meer in sy handelwyse en gesindheid “vleeslik” optree, lewe en reageer nie! In die stryd teen die vlees vra God ons heelhartige, voortdurende samewerking/oorgawe in geloof aan die KRUIS en geloof in die oorwinningskrag en werking van die Heilige Gees, omdat HY in werklikheid die stryd VIR ons voer en die oorwinning waarborg in ons andersins hopelose stryd teen die “sinnelike” én die “sondige” vlees (Gal 5:16-18)!
· 3.3 VRYMAKING VAN DIE VLEES . GEREGTIGHEID TOEGEPAS (Romeine 8).
· Waar ons vanaf 5:12 – 7:6 die regsaspek van toegepaste geregtigheid het, vind ons nou, in 7:7 – 8:39 die praktiese aspek van toegepaste geregtigheid. In laasgenoemde gedeelte is dit baie duidelik hoe DIE SONDE nog deur twee bondgenote – nl., die wet en die swak, sondige ‘vlees’ in die gelowige werk – hulle wat nog nie die volle waarde en krag van volkome vrymaking van díé sondé ontdek het deur die “weet” van 6:6 of ondervind deur die “reken” en “stel” van 6:11 en 6:13 nie! Romeine 8 is die Christen se verklaring van vrymaking – van veroordeling (v.8:2); neerlaag (v.5-17); ontmoediging ; (v.18-30) en van vrees (v.31-39)!
· Romeine 6-8 bly nie net by regverdigmaking/vergifnis van sondes nie. Dit gaan oor vrymaking van die heerskappy, die mag en besoedeling van “DIE SONDE” deur die krisis van heiligmaking in die Christen se lewe. Eers is daar die vryspraak deur Christus se verdienste vir ons, dan vrymaking van die sonde deur vereenselwiging met Christus in Sy Kruisdood in Romeine 6 en van die veroordeling van die
– 22 –
· wet in 7. In die proses van heiligmaking daarná in Romeine 8, volg die vrug, krag, oorwinning en gesonde groei in gelykvormigwording aan die beeld van Sy Seun, deur die Heilige Gees se werk in ons.
· Romeine 8 spruit uit die donker agtergrond van Romeine 7 – van neerlaag en burgeroorlog – en kondig een van die grootste en heerlikste OORWINNINGS in N.T. geskrifte aan! Dit is ‘n wegswaai van die “selflewe” van neerlaag, mislukking, val-en-opstaan, na ‘n Geesvervulde, Geesbeheerde lewe van krag en oorwinning! Die “ek ellendige mens” van 7:24 word die “meer as oorwinnaar” mens van Romeine 8!
· In die vorige hoofstuk gaan dit gedurig om “ek”, en “my”, en die Heilige Gees word skaars genoem, maar in 8 word die Heilige Gees 19 keer genoem – o.a. ook as “die Gees van God” (v.9,14), “die Gees van Christus” (v.9), “die Gees van aanneming” (v.15), “die Gees van die lewe in Christus Jesus” (v.2) en “die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het” (v.11). Die verskeidenheid van funksies en werkinge van die Gees in verlossing, kan afgelei word uit die verskillende benaminge van die Heilige Gees in hierdie hoofstuk. Dit is baie kosbaar en goed om noukeurig daarop te let!
·
· 3.3.1 DIE NUWE HEERSKAPPY (Die WET vd Gees van lewe in Christus Jesus – v.2)
· 3.3.1.1 Geen verdere veroordeling (v.1). Vryspraak van veroordeling, van die vrygespreekte sondaar wat nou “in Christus Jesus” is – maar let op die kwalifikasie – “vir die wat NIE na die vlees wandel nie, maar na die Gees!” Hierdie laaste sinsnede word in v.4 herhaal, waar Paulus verklaar dat deur so ‘n wandel deur die Gees – ‘n oorwinningslewe – die reg of vereistes/aansprake (‘eise’ – NAB) van die wet, vervul word! Dit begin met “geen veroordeling” en eindig met “geen skeiding!”
· 3.3.1.2 Geen verdere voortsetting (v.2) “Vrygemaak” van die WET van die SONDE en die dood, deur die in-werking-stelling van ‘n nuwe, kragtiger wet – die WET van die LEWE in Christus Jesus! Losgemaak en uitgelig van die “swaartekrag” of invloedsfeer van die een wet, deur die verbondenheid en vereniging met ‘n ander wet! Waar die wet van die sonde en die dood werksaam en verskans was “in die vlees”, en die mens so verswak en verneder het tot ‘n hulpelose, hopelose wese wat nooit in eie krag die wet van God kan onderhou nie, het die Here Jesus gekom in die gelykheid van die sondige vlees en die “sonde veroordeel IN die vlees” waar dit verskans was en geheers het (v.3)!
· 3.3.1.3 Geen verdere ‘vleeslike’ wandel (v.3,4). Vervulling van die reg (eise) van die wet deur vrymaking van die krag en heerskappy van die sonde, beteken ‘n einde aan die “wandel na die vlees”, en die begin van die “wandel na die Gees!” Hierdie “wandel na die Gees” hou die belofte in om dan nóóit die begeerlikhede van die vlees te volbring nie (Gal.5:16) en slaan die bodem uit van die teorie dat die gelowige gelyktydig “na die vlees” EN “na die Gees” kan wandel, soos dit hom pas! Iemand wat so wandel en lewe, ondervind geensins ware vrymaking nie!
· 3.3.2 DIE NUWE HEERSER – (Die HEILIGE GEES – v.5-13).
· 3.3.2.1 Hy beheer die denke (v.5-7): “Vleeslik” of “vlees” in al drie hierdie verse verwys na die mens in sy vleeslike denke en optrede, onder die mag en heerskappy van die sonde waarvan hy nog nie volkome gereinig en vrygemaak is nie. In al drie verse vind ons die woord, “bedink” en let op die onderwerp waarmee hierdie denkwyse behep is in v.5 nl., “vleeslike dinge”. Dit lei dan in v.6 progressief tot ʼn toestand van “die dood” en daarvandaan in v.7, tot die gesindheid van “vyandskap teen God!”
·
· Vleeslike denke is in sy wese vyandskap en opstand teen God wat hom nie aan God se wil KAN, of WIL onderwerp nie! Hierdie vleeslike denke, word ‘n vaste lewenspatroon van sondige gedagtes wat van binne, uit ‘n onrein hart kom en die mens besoedel (Mark.7:21-23). Die gelowige wat homself en sy liggaam tot beskikking van God GESTEL hét (6:13; 12:1,2) se gemoed word verander na ‘n ander denkwyse en vernuwe tot ‘n nuwe lewenspatroon! Let in v.6 daarop dat die HEILIGE GEES ingryp in die gedagtes waar die gemoed vernuwe is, om daar lewe en vrede te laat heers i.p.v. dood en vyandskap! Dit is ‘n feit, dat die een wat die mens se gedagtes beheer, die mens beheer!
·
· Volgens Kol.3:10 is hierdie vernuwing in gedagtes of denkwyse ‘n proses van verandering van die nuwe skepsel na die “beeld van sy Skepper”, nl. Jesus Christus! (2 Kor.3:18).
·
– 23 –
·
· 3.3.2.2 Hy beheer die doelwitte (of motiewe – v.8,9) Wat die mens bedink, kan God óf behaag, óf nie behaag nie, maar die woorde in v.8, “die wat in die vlees is” is baie meer as net verkeerde en vleeslike denke; dit dui op ‘n algehele verkeerde toestand met ‘n verkeerde HEERSER in beheer! In die konteks van hierdie hele gedeelte, is hierdie vreemde indringer sekerlik nie net verkeerde dade nie, maar die verkeerde TOESTAND onder die mag van DIE SONDE. In v.9 kom Paulus tot die logiese gevolgtrekking dat die Heilige Gees as INWONER (“as die Gees van God in julle WOON”) die Eienaar en ook die absolute inwonende HEERSER behoort te wees! Daar moet ‘n radikale, volkome VRYMAKING van die sonde en ‘n algehele, volkome VERVULLING met die Heilige Gees wees!
·
· 3.3.2.3 Hy beheer die dade (v.10-13). Aangesien die nuwe mens deur sy “sterflike liggaam” (vlg 6:12) die nuwe lewe moet uitlewe, praat Paulus hier van die praktiese uitlewing in dade deur die liggaam in die werking van al sy lede, van hierdie nuwe wet van lewe en van die nuwe Heerser, die Heilige Gees. Daar is DRIE stadiums waardeur die liggaam in die proses gaan – nie net negatief van vrymaking van sonde nie, maar ook positief in gelykvormigwording aan die beeld en lewe van Christus in Sy opstandingskrag: Die EERSTE is in v.10 – as die gees “lewe” vanweë die geregtigheid, dan is die liggaam “dood” vanweë of t.o.v. die sonde. Die TWEEDE in v.11 – die Gees maak die liggaam “lewend” deur die opstandingskrag van Jesus; dat dit vir God ‘n “lewende, heilige en aan God welgevallige offer” in Sy diens en tot Sy eer kan wees! Die DERDE in v.13, praat van “die werke van die liggaam” (sondige gewoontes; die gevolg van langdurige ‘na die vlees lewe’) wat deur die Gees doodgemaak word, dat die HELE mens in ‘n vrygemaakte en geheiligde liggaam kan LEWE!
·
· Let daarop dat Paulus nie sê dat die wat “in die liggaam is, kan God nie behaag nie”, maar “die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie”. Dit bewys dat ‘vlees’ nie hier verwys na die menslike liggaam nie. Baie teoloë maak ‘n groot fout om SONDE in die menslike liggaam te plaas met al sy gebreke, swakhede en beperkinge as gevolg van die sondeval! Gevolglik glo en verkondig hulle dat die mens, so lank as hy lewe, vol van sonde sal wees en bly, en NOOIT verlossing van sonde kan smaak nie!
· Die liggaam moet, as die tempel van die Heilige Gees (1 Kor.3:16,17; 6:19,20), ten volle en onvoorwaardelik as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer, tot God se beskikking GESTEL word. Dan alleen sal Hy alleen en soewerein daarin as Sy heilige ‘tempel’ kan heers! (Rom.12:1,2).
· 3.3.3 DIE NUWE HEERLIKHEID (WAT GEESVERVULDE GELOWIGES ONDERVIND) v.14-39).
· 3.3.3.1 Die klem op Volwassenheid (v.14-27) in sy werking van:-
· 1) ‘Aanneming tot kinders’ (v.15,17 vgl. ook Gal.4:5; Efes.1:5). Waar hierdie term in die N.T. voorkom, beteken dit altyd dat die gebore kind – al is hy pas wedergebore – dadelik van God se kant die reg, volmag en status van ‘n volwasse kind ontvang. Hy kan onmiddellik sy volle erfenis wat God vir hom deur die Kruisverdienste bedoel en bewerk het, deur die geloof in besit neem! “Abba Vader” (v.15) is eintlik ‘n herhaling van God se Vaderskap, want “Abba” in Aramees beteken, “Pappie”. Die Jood en Griek het nou dieselfde Vader. Die kindjie, of kind, kan óf “Pappie” óf “Vader” sê. Albei is reg!
· 2) Aanpassing as kinders (v.18-27) – om die erfenis in besit te neem.
· Ten eerste m.b.t. die skepping (v.18-22), wat nou nog ly onder verganklikheid, dood en slawerny, en “sug” (v.22) na volkome herstelling deur God. Hierdie vrymaking tydens die openbaarmaking van die kinders van God, sal ‘n heerlike dag wees wanneer selfs ook die skepping verlos sal word van elke spoor en letsel as gevolg van sonde en die sondeval!
·
· Ten tweede m.b.t. die skepsel (v.18,19,23,24,25). Die openbaarmaking van God se heerlikheid aan die hele skepping, vind uiteindelik slegs plaas IN en DEUR die mens, en die hele skepping wag in groot afwagting op die volle openbaarmaking van hierdie heerlikheid! Die gelowige/verloste kind van God “sug” (v.23) ook in afwagting op daardie dag, om twee redes – omdat die innerlike voorsmaak (“eerstelinge van die Gees”) wat elke verloste nou reeds het, hom/haar laat smag na die volmaakte volheid van die heerlikheid – en omdat selfs ook die liggaam dan eers ten volle sal deel in dié verheerliking, deur nog meer volkome gelykvormig te word aan die opstandingsliggaam van Christus (Fil.3:21). Daar word met “hoop” (v.24,25) uitgesien na hierdie toekomsverwagting!
· – 24 –
·
· Ten derde m.b.t. die Skepper (v.26,27). Net soos die skepping en die skepsels, “sug” ook die Gees met onuitspreeklike sugtinge (“stenagmos” v.26). Hierdie woord kom ook slegs in Handelinge 7:34 voor, waar dit deur Stéfanus gebruik word m.b.t. wat God aan Moses gesê het van die Israeliete in Egipte – dat Hy hulle ‘versugtinge’ gehoor het, toe Hy hulle wou uitlei en verlos. Dieselfde versugtinge van die Heilige Gees, wat nie uitdrukking in woorde kan vind nie, is vir ONS as Hy (die Heilige Gees) vir en deur ons, ooreenkomstig die wil van God bid. Ons kan daarvan seker wees, dat hierdie egte versugtinge van die Heilige Gees ALTYD effektief is, terwyl Hy ons harte ken en deursoek. God weet wat die bedoeling van die Gees is, terwyl Hy vir die heiliges intree!
· 3.3.3.2 Die klem op Veiligheid (v.28-39) vir die verloste in sy:-
· 1) Bestemming tot heerlikheid (v.28-30). In hierdie paar verse kom die onveranderlike voorneme van God (v.28), die onverbeterlike voorbeeld van God (v.29) en die onaanvegbare vooruitsig van God (v.30) in hierdie bestemming tot heerlikheid, duidelik uit!
· Dit is onveranderlik: God laat ALLE omstandighede meewerk ten goede.
· Dit is onverbeterlik: God verlang dit volgens die volmaakte beeld van Jesus.
· Dit is onaanvegbaar: volgens ‘n volmaakte plan wat Hy self uitvoer.
· 2) Bewaring in heerlikheid (v.31-39).
· Ten eerste het ons die fondament van die hoop (v.31,32): God is VIR ons! Hy het boonop geen koste ontsien om aan ons die beste, grootste en vrye Genadegawe te skenk nie en saam met Hom, ALLE ander gawes.
·
· Ten tweede het ons die volheid van die hoop deur Sy volmaakte oorwinning en verlossing (v.33) en Sy volmaakte opwekking en voorspraak by die Vader (v.34).
·
· Ten derde het ons die finaliteit van die hoop (v.35-39) deur “meer as oorwinnaars” gemaak te word, deur Hom wat ons liefgehad het – oor tasbare en teenswoordige dinge (v.35) en onaantasbare en toekomstige dinge (v.38,39).
· In hierdie heerlike, onoortreflike oorwinningshoofstuk word die gelowige dus heerlik en wonderlik deur die Heilige Gees BEVRY (v.2), BEWOON (v.9), BEHEER (v.12-17), BEVORDER tot volwasse kind/erfgenaam (v.14-17), BYGESTAAN (v.26), BEVEILIG (v.31-39) en BEMOEDIG (v.18-39)!
·