HY HET SY REGTERHAND OP MY GELÊ

Op.1:17; Dan. 8:18; 

 

’n Paar dinge is baie treffend, ooreenstemmend en insiggewend in albei hierdie gevalle:

 

  Dit het God behaag om d.m.v. hierdie twee mees geliefde profete Sy vaste plan van verlosssing vir die wêreld en die Kerk bekend te maak … vir Daniel … ‘geliefde man’ – die geskiedenis vir die Joodse volk dmv die 70 jaarweke in Dan. 9, tot by die eerste koms van hul Messias;  en … vir Johannes … die ‘geliefde dissipel’ wat aan Sy bors geleun het, die aankoms vd Messias op aarde, tot by Sy wederkoms in die boek Openbaring.

  Maar baie treffend ook, dat hierdie twee heiligste manne albei in hulle direkte, persoonlike ontmoeting met God, soos dooies aan Sy voete neergeval het! Húlle kon dit verduur en daarmee vertrou word, éérs nádat hulle albei persoonlik deur vure van beproewing en vervolging gelouter was – Daniël tot in die leeukuil en Johannes, wat na Patmos verban was.

  Maar die treffendste van alles is, dat in albei hierdie gevalle, die Here self Sy hand op hulle gelê het en dat dáárdie ‘Hand’ hulle weer opgerig en hulle versterk, genees en vernuwe het, Ná hierdie eerbiedige en verlammende ontsetting en skrik, in die heilige teenwoordigheid van God, het God hulle weer opgerig en toe persoonlik met hulle gepraat! En al het Sy stem ook tot albei met groot gesag gespreek, was dit tog met deernis en teerheid. Met ‘Sy HAND op hulle…’ was hulle dadelik in staat gestel om weer op hulle voete te staan en God se wil te verstaan … dat Hý ’n spesiale opdrag en ’n spesifieke, eervolle roeping vir hulle het om te vervul.

 Toe die Seun van God ook Seun vd mens geword het, het die MENS Jesus Christus, Sy hand, die hand van ’n MENS, ook ‘uitgesteek’ en dan het daar elke keer iets gebeur, want dit was die Almagtige ‘Hand van God’ wat werksaam was deur die krag vd Heilige Gees! (Hand.10:28). Hy het dit uitgesteek na blindes, kreupeles, verlamdes en melaatses om hulle te genees, siende en gesond te maak … Hy het selfs vir Petrus Sy hand uitgesteek en hom gegryp, toe hy wou sink!

  Maar hier is die grootste wonder van alle tye: Jesus Christus, die Seun van God en self ook God het selfs … tot verbasing van mense en engele … dáárdie Almagtige HAND uitgehou vir die vyande se boeie … om daardeur verslaafdes aan sonde te VRY maak. Ook vir die spykers … om daardeur die wat deur pyn en smart deurboor word, uit die greep vd Satan te kan weggryp en hulle te genees! Tevergeefs het die Satan probeer om daardie Hande magteloos te maak deur dit te boei en met wrede spykers aan die Kruis vas te nael, maar ná Sy oorwinning – die grootste wat hierdie wêreld ooit beleef het – het die verrese Heiland Sy hande oor Sy verskrikte en beskaamde dissipels  opgehef en gesê, ‘vrede vir julle! (3 keer kom dit in Johannes 20 voor). En, terwyl Hy daardie hande opgehef en hulle geseën het, terwyl Hy na die Hemel opgevaar het, het Hy gesê … ALLE mag is aan My gegee in die hemel en op aarde … en … gaan die hele wêreld in en verkondig die Evangelie… en KYK, EK IS met julle tot aan die voleinding van die wêreld (Luk.28:50,51).

 Goeie nuus! (i) Vir elkeen van Sy ware wedergebore kinders aan wie die Satan en sy trawante nou probeer ruk en pluk, belowe die Here Jesus in Joh.10:28,29 – niemand sal julle uit my HAND ruk nie … of, in vers 29 – ook nie uit die hand van my Vader nie! 

 

 

 

Het jy al ooit die liedjie gehoor of gesing wat sê:

 

Hy wys my Sy hande, deurboor vir my sonde … Hy wys my Sy voete, vasgenael aan die Kruis …

 

Hy wys my Sy sy en sy hoof met die wonde … en nou min ek Jesus en Jesus min my!

 

“Waarom is Mamma se gesig so mooi, maar u hande is so lelik?” vra die ou dogterjie haar ma. ‘My kindjie, toe jy nog ’n baba was, moes Mamma jou uit jou brandende bed optel en red’. Haar  ‘dogtertjie het diep nagedink en toe gesê, terwyl sy haar mammie se hande vryf en soen: ‘Mamma, u gesig is nog altyd mooi, maar u hande is nou vir my die mooiste!’

 

Wie se magtige Regterhand was wel deurboor, maar nou is daar nie meer ‘n ‘riet’ of ‘n spyker in Sy hand nie, dis God se ‘goue septer’ oor Sy groot Heelal … ook oor jou kosbare lewe – soveel só, dat Hy jou verseker, dat selfs ook al die hare op jou kop, almal getel is! Dit is Hý alleen wat vir jou sê: VREDE … MOENIE VREES NIE!

 

In Ps. 139:5 sê Dawid: ‘U sluit my in van agter en van voor, U lê U hand op my’. Mag u Hom toelaat om vandag en vir altyd, Sy HAND op u te lê!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00