HIERDIE MAN ONTVANG SONDAARS”
Lukas 15:2
Was jy ook al opgewonde oor Jesus? Dit wat die Fariseërs en Skrifgeleerdes hier met veragting kwytgeraak het, is vir my die mooiste beskrywing van Hom in die Nuwe Testament! Dit is merkwaardig dat Hy, wat só ’n hoë standaard van heiligheid geleef en gepreek het … hoër as enige ander wat ooit geleef het … só dat selfs sy vyande geen wettige aanklag teen Hom kon opdis nie – dat juis Hý die Een is wat gedurig, nie die ‘goeie mense’ of die wat so gedink het, na Hom toe sien kom het nie, maar juis die ‘uit-en-uit’ sondaars! Waarom? Omdat ‘hierdie man …’ Sy karakter, Sy gesindheid en gedrag húlle verseker het dat só een soos Hy, húlle sal ontvang, verander en tot Sý standaard ophef, want – en hulle het geweet – Hý IS‘n vriend van tollenaars en sondaars’, nie hulle vyand nie! (Mat. 11:19). Dit is absoluut verbasend hoe effektief en dikwels Jesus self hierdie waarheid oor en oor onderstreep het deur die een na die ander gelykenis wat hier, in Lukas 15-17, volg! Dat die wat geweet het hulle is buite en verlore, juis húlle was wat saam met Hom binne en gered was en dat die wat gedink het hulle is binne en uitverkore, wel nog tragies buite was … en verlore! DRIE FEITE:
HIERDIE MAN ONTVANG NET SONDAARS – HOE doen Jesus dit? Eerstens – hier waar die sondaars en tollenaars wel wéét hoe ‘verlore’ hulle is, maar húlle ondervind hulle is binne, want Jesus sit saam met hulle aan by die maaltyd … en die Skrifgeleerdes en Fariseërs wat dink hulle is goed, is in die ‘koue’ daar buite! Tweedens – die gelykenis van die verlore skaap daar buite wat geweet het hy is verlore, maar deur die Herder gedra word tot binne die kraal … en die verlore penning binne die huis wat geen besef gehad het van sy verlorenheid nie, want hy lê nog tussen die stof en vullis op die vloer! Dank God dat die ‘vrou’- as ‘n tipe van die Heilige Gees – die huis uitvee en soek totdat sy dit weer vind … want … dra die penning dan nie die beeld van die Keiser nie! Derdens – die ‘verlore seun’ wat geweet het hy is verlore, maar uiteindelik is hy saam met die Vader binne die feesmaal … en die oudste seun wat gedink het hy is die uitverkorene wat nooit in ‘n vêr was land nie, maar nie geweet het dis hý wat daar ‘buite’ in die ‘veld’ is … en Hy weier selfs ook om later in te kom! Vierdens – in Lukas 16 is die verhaal van die ryk man wat gedink het hý is binne – ‘n kind van die Verbond – want hy sê, ‘Vader Abraham’ en Abraham noem hom ook ‘kind’, maar wáár bevind hy hom? – uitgewerp daar buite … en Lasarus wat buite gelê en geweet het van sy tragiese toestand, maar toe hy sterf vind hy homself ‘binne’ … aan Abraham se boesem! Vyfdens – die ryk jongman wat gedink het hy is binne as hy net ál die gebooie onderhou, maar toe hy alles moes verkoop en Jesus volg, draai hy sy rug op Hom en vertrek na buite … en Saggeüs wat geweet het hy is korrup en verlore, maar hy gooi sy deure vir Jesus oop en met baie ander soos hy, hou hy maaltyd saam met Jesus! Sesdens – die gelykenis van die Fariseër wat by die tempel gaan bid en gedink het (en ook so gebid het) dat hy darem nie so sleg is ‘hier binne’ as die Tollenaar ‘daar buite’ nie, tog gaan hý nie ‘geregverdig’ daar weg nie … en die Tollenaar wat daar ver weg gestaan en dit geweet het, wat op sy bors geslaan en gebid het: ‘O God, wees my, sondaar, genadig!’ Hý het geregverdig huis toe gegaan! Lukas 18:9.
HIERDIE MAN VERANDER SONDAARS – Soos ‘n Saggeüs. Hy maak hulle nuut en vry, en verander hulle in kinders van God … Sý eie! IN CHRISTUS word hulle verlostes, heiliges, geliefdes, mede-erfgename met Christus. Luister hoe Jesus hulle noem in die Evangelie van Johannes, “My dissipels” (8:31;13:35); “My skape” (10:27); “My dienaar” (12:26); “My kinders” (13:33); My vriende” (15:14); “My broeders” (20:17).
HIERDIE MAN ONTVANG NOG SONDAARS –- Hier is die beste goeie nuus – die werkwoord ‘ontvang’ is in die Teenwoordige Tyd! Hý stuur nooit een sondaar weg nie, maar …: ‘Ek sal hom/haar wat na My toe KOM, nooit uitwerp nie’! Joh.6:37. Dít sal jou anker en waarborg wees – as jý tog net wil KOM!
Hoekom is dit tog so swaar vir ‘goeie’ mense om tot bekering te kom? Ek was een Pinkster betrokke by ‘n gemeente in Pretoria. By die eerste diens het ek dit beklemtoon dat dit niks sal baat vir iemand om te bid vir die Pinksterseën as daardie persoon nog nie eens wedergebore is nie! Selfs baie kerklidmate het nog nooit daardie sékerheid ontvang nie … al doen hy/sy ook uiterlik AL die goeie dinge, want goeie werke en eie verdienste kan jou nooit red as jy nog nie in die bloed van Jesus gewas is en jy Hóm nog nooit as ‘n verlore sondaar en as jou persoonlike Saligmaker aangeneem het nie! Vroeg die volgende oggend was daar ‘n klop aan die deur en die staatmaker- en voorslag-vrou van die gemeente, word binnegelaat. Sy het die vorige aand huis toe gegaan en daar eerlik en opreg bely dat sy ‘n VERLORE sondaar was, en God om genade gesmeek, totdat sy – vir die eerste keer en tot almal se verbasing – die versekering ontvang het dat God haar AL haar sondes vergewe as Sy kind aangeneem het! Haar stralende gesig het daarvan getuig dat sy ‘n nuwe skepsel in Christus geword het! Ek het net weer geweet – ‘hierdie Man ontvang nog sondaars! Is jy al ‘binne’, of nog ‘buite’? Daar is hoop, selfs vir een soos jý – en versékering (1Joh.5:12,13) as jy net by die Kruis wil kniel dat Jesus jou kan was en reinig met Sy kosbare bloed … vir jóú gestort! Word éérs ’n verlore sondaar – eerlik en erkentlik – een wat nie jou sonde wegsteek en goedpraat nie – dan sál jy genade vind!