Tema: Christus vul alles met Sy teenwoordigheid Skriflesing: Efesiërs 4: 1-16, Handelinge 2: 32-36

Die eerste Rus wat ’n ruimtevlug onderneem het was Jurie Gagarin. Nuuskonferensie: “Ons het oral rondgekyk en wonderlike dinge gesien, maar ons het nêrens ’n God gesien nie.” Konklusie: Hemele is leeg. Dit weerspieël dalk iets ook van die gees van die tyd waarin ons leef in 21ste eeu: Wetenskap nuwe hoogtes. Swetterjoel nuwe ontdekkings. Kennisontploffing. Ons weet van sterre en hemelliggame wat miljoene ligjare vêr is. Ons wetenskaplike kennis het nuwe hoogtes bereik. Nog nooit was “koning mens” só in beheer nie!

En nou is die vraag op hemelvaartdag 2008: Maak die hemelvaart van Jesus Christus dan nog enige sin en betekenis? Kan die moderne slim geleerde 21ste eeu se mens dit nog aanvaar? Kan ons aanvaar dat ons Here Jesus (in liggaamlike gestalte) eenvoudig van die aarde af vertrek het sonder enige tegniese hulpmiddels? Is dit nie dalk maar net ’n fantasieverhaal wat die eerste Christene uitgedink het nie?

Ons moet egter versigtig wees om so iets te dink. Want waarheid & feite is soms nog méér vreemd as fantasie en verdigsel (X 2). Onthou: Fantasie en fiksiestories word deur die mens self uitgedink/gefabriseer om by die méns te pas. Fiksie word juis deur die mens uitgedink volgens wat die mensdom graag wil glo. Die wáárheid en feite pas egter nie altyd so goed in by die mensdom se grille nie. Daarom praat die Heilige Skrifte van dinge wat nie altyd vir ons pas nie, maar wat absoluut wáárheid is – al bots dit soms met ons briljante kennis! By die hemelvaart van ons Here Jesus was daar soveel ooggetuies teenwoordig dat dit moeilik later verdraai kon word. Om die waarheid te sê: Sónder die realiteit van die hemelvaart val die hele Bybelse boodskap plat.

Daar is ’n baie besondere REDE in God se ewige Raadsplan waarom Jesus in menslike gedaante & met Sy menslike opstandingsliggaam vertrek het. En dit is: Eers dán kon Sy verlossingswerk – wat Hy in ‘n klein beperkte geografiese area (Jerusalem) bewerk het – ’n enorme effek hê op die hele planeet aarde. Koninkryk kon ontplof tot ver buite die grense van Jerusalem. Dit is die rede waarom die dissipels vol blydskap was toe hulle Meester vertrek & in die hemele opgeneem word (Luk 24:52). Tog baie vreemd : ’n Mens verwag tog trane en droefheid by ’n afskeid. Maar die dissipels was vol vreugde omdat hulle besef het: NOU begin die éintlike avontuur waarop daar vir duisende jare gewag is! Nou begin ons Meester se werk eers regtig. Hulle het meteens besef dat dit geen vaarwel is nie. Hy het vertrek sodat Hy ALLES kon vul met Sy teenwoordigheid (Efes 4:10). Wat ‘n magtige vers. (Lees dit weer). Jesus het nie weggegaan omdat Hy niks verder op aarde te doene gehad het nie, maar juis sodat Hy 10 miljoen maal méér op aarde kon doen! Hy sou nou álles met Sy teenwoordigheid vervul. Ja, dis kragtens Sy hemelvaart dat die Heilige Gees kon kom en daarom kan jy ‘n kind van die Here wees enige plek op aarde en kan jy naby die Here wees al sit jy iewers in ‘n hysbak vasgekeer en kan jy 24-uur gebedstoegang tot Hom hê!!

Ons moenie die hemelvaart van Jesus só verstaan dat Jesus nou wég is nie! Ek is bevrees dit is presies wat mense dink. Is dit nie waarom soveel Christene so angstig raak oor die lewe, so selfgerig is, só selfgerig dat hulle nie meer offers kan bring nie, te bang om hul lewens te waag én te verloor, dink hulle moet vir hulself sorg. Waarom so? Ons vermoed Jesus is weg ná Sy hemelvaart. Juis die teendeel is waar. Ons kan weet Iemand is by ons in die deurmekaarheid van die lewe rondom ons en die chaos waarin ons lewens verstrik raak – selfs al kan ons Hom nie sien nie! Hy is allermins weg.

Maar hóé doen Hy nou Sy aardse werk? Volgens Efesiërs 4: Verrassing: Doen dit deur Sy plaaslike gemeente! Noudat Hy opgevaar het, deel Hy letterlik gawes uit. Deel AMPTE uit: herders & leraars. Jou kop raak duiselig as jy daaraan dink dat Jesus opgevaar het bo alle hemelruimtes uit – om alles met Sy teenwoordigheid te vul sodat daar ‘n Tafelberg gemeente in Kaapstad kan wees, allerlei GAWES kan wees, AMPTE kan wees — sodat Hy daardeur Sy werk kan doen. Watter werk? > Verse 13-16: Almal moet die EEN waarheid van die EEN evangelie liefhê en in die eenheid van die EEN geloof leef en SODOENDE groei na Christus toe (X2). Die aardse werk van die hemelse Jesus is om die kerk/gemeente te versamel en te bou op die EEN waarheid vd Evangelie. Nie rondgewaai deur enige wind van dwaalleer nie. En, die AMPTE moet daarvoor sorg. En die hemelse Christus werk deur die ampte in die plaaslike gemeente.

Dit is iets wat mense darem moeilik verstaan. Hoe kon Jesus fisies/liggaamlik vertrek het en tóg op aarde werk? Hoe kan Hy dáár wees en hier en in Amerika? Die Roomse Kerk verstaan die saak so dat Jesus nog steeds duisende fisiese/liggaamlike verskynings op aarde maak – gedurigdeur – elke dag. Veral in die nagmaal/MIS. Brood en wyn verander… Só is Hy fisies/liggaamlik teenwoordig op aarde. Daarom aanbid hulle die nagmaalsbrood.

Op grond van die Bybel glo ons anders. Ons glo dat Jesus se fisiese liggaam slegs in die 3de hemel bly. Hy hou Sy liggaam dáár. Maar, dit is deur Sy Godheid wat Hy in die krag van Heilige Gees oral op aarde teenwoordig is en alles vul. Hy doen Sy aardse werk deur Sy Godheid in die krag van die Heilige Gees. Hy maak nie fisiese liggaamlike verskynings op aarde nie – nooit nie. Maar tog regeer Hy ons lewens.

Dit is die tweede waarheid wat ons moet ontdek. Hand 2. Met Sy hemelvaart het Hy aan die Vader se regterhand gaan sit. Hy het dus die gesag om te regeer. Hy is Here en Christus. Hoe regeer Hy? Vers 33: “Hy is verhoog en het die Heilige Gees uitgestort”. Hy regeer deur die Gees op sondaars uit te stort. En wat doen die Heilige Gees? Romeine 5:21: Hy regeer deur vryspraak. Hy regeer deur mense vry te spreek. Die Heilige Gees lyf ons in Jesus in. Sluit ons in. Wat beteken dit om deur die Gees in Christus ingesluit te wees? Alles wat God aan Jesus moes gee, ontvang ék en alles wat God aan mý moes gee, ontvang Jesus. Die toorn, woede, verwerping – kry Hy. Die genade, aanvaarding, vryspraak – kry ék. In Christus weet ek ek ís heilig, onskuldig, toegewyd. En as ek dit glo, kom skep die Gees in my dít wat ekself nooit kan skep nie: Die vrug van die Gees. Hierdie vrug van die Gees is vir God aanvaarbaar. Dit is so aanvaarbaar dat EK vir Hom goed genoeg is, al is ek nie goed genoeg nie.

Sien u hoe regeer Christus my vanaf die hemel? Genaderegering!

Kan u verstaan dat Jesus se hemelvaart absoluut alles te make het met ons aardse lewens? Hy het nie vir ons soos weeskinders agtergelaat nie. Hy is nou baie méér teenwoordig as toe Hy fisies op aarde gewandel het. Baie baie nabye verhouding/verbintenis. Dit is nie nodig om Jerusalem toe te gaan om met Jesus te ontmoet nie. Hy mag oral aangeroep word. Jerusalem is nou daar waar die plaaslike gemeente is. Die lewende Here Jesus Christus is dinamies aktief BESIG met regeerwerk > Efes 4:10: Hy VUL alles. Hy is besig om ’n manjifieke strategie uit te werk. Hy is altyd gereed om tot aksie oor te gaan.

So het Stefanus die martelaar Hom gesien (Hand 7:56). “Ek sien die Seun van die Mens staan aan die regterhand van God”. Hy ken presies elke detail van ons lewens en Hy handel met almag en krag. Open 1:20: Staan tussen die gemeentes. Open 2:1 : KEN jou werk, arbeid, geduld. Indien ’n mens dus wil weet hoe aktief Christus is, dink aan woorde soos: beweging, aksie, vooruitgang, aktiewe diens, simpatie. Een doelwit: Om die koninkryk van die Vader uit te bou.

Hy kyk nie na die aarde van ’n afstand af nie (From a distance). Hy is absoluut betrokke by die aarde & aarde lewens. Hy neem inisiatief in alles. Hy beheer, regeer, help, beskerm, beveilig. Hy druk alles na die laaste dag. Hy maak die wêreld-arena gereed vir die laaste dag. Indien jy die koerant lees en TV nuus kyk met jou oë gefokus op Christus in die hemele, verstaan jy alles baie beter : Oorstromings, droogte, wêreldleiers, rewolusies, politieke intriges, oorloë, oproermakers, VIGS, aborsies en raaisels. Alles word deur ’n almagtige hand geroer in ’n pot. Sodat daar geboortepyne kan ontstaan. Want, die NUWE AARDE moet gebore word. Daarom is geboortepyne nodig.

Sien u hoedat die hemelvaart eintlik ’n saak van vreugde is. Sy weggaan was ’n vreugdevolle totsiens sodat Hy vir altyd bý ons mag wees. Sodat Hy met ons op pad kan wees na ’n beter toekoms. Gaan kyk gerus deur hierdie bril na die lewe daarbuite. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00