TAFELBERG GEMEENTE HANDELINGE - REEKS NO 23
Skrif: Handelinge 20
Tema: Hartklop van die Herder vir Sy kudde
Verlede week het ons gesien hoe Paulus rakelings ‘n groot oproer in Efese (in Turkye) vryspring. Nou vertrek hy terug Griekeland toe om oral die gelowiges op te soek en te bemoedig (hy sou beslis in Korinte ‘n draai gooi). Die Jode beplan egter ‘n komplot teen hom en hy besluit om die lang reis – terug na Jerusalem – te begin, want hy wil graag tydens Pinksterfees in Jerusalem wees. Vanaf die Griekse stad Filippi, gaan hy per skip oor die Egeïse See na Turkye en spesifiek die stad Troas. Troas is noord van Efese. In Troas vertoef hy 7 dae. Dit was daar waar hy een hele nag deur preek en Eutichus by die venster uitgeval het. Vanaf Troas is hy weer per skip op pad. Met opset vaar hy verby Efese om tyd te bespaar, maar hy gaan by Milete aan land. Milete is suid van Efese. Vanaf Milete laat haal hy die Efese-gemeente se ouderlinge (‘n reis wat ongeveer 3 dae kon duur) om vir oulaas met hulle te praat, want hy het geweet dat hy hulle nooit weer sou sien nie. Dit klink of dit maar net ‘n verhaal is. ‘n Stukkie geskiedenis. Tog is daar, verweef met die verhaal, ‘n baie besondere boodskap wat ons vanoggend helder moet hoor: Ons hoor die Herdershart van God klop vir Sy gemeente/kudde. Hand 20 gaan oënskynlik oor Paulus se herderlike sorg vir die gemeentes (‘n mens sien dit in sy optrede & sy woorde aan die gemeentes), maar ágter Paulus se herderlike hart, klop die Here se herdershart. Vers 28: Dit is die Heilige Gees wat die ouderlinge aangestel het en die gemeente is ‘n bloedgekoopte kudde!
Wat ons vanoggend gaan hoor, is die Apostel Paulus se herdershart vir die destydse gemeentes. Die hartklop wat ék en elke kerkraadslid (wat opsieners is) ook behoort te hê. Maar, ágter dit, gaan ons die lewende God se herdershart vir Sy Tafelberg-kudde hoor klop en gaan ons agterkom met watter onsterflike liefde Hy ons liefhet & versorg.
Kom ons kyk nou binne-in die herdershart van Paulus. Nadat die oproer in Efese bedaar het en hy byna daar gesterf het, vlug hy nie onmiddelik nie, maar roep eers die gelowiges bymekaar om hulle vir oulaas moed in te praat. (v 1). Dít is waar sy hart is, nie by sy eie veiligheid & gerief nie. Daarná reis hy na Griekeland, maar oral waar daar gemeentetjies is, spandeer hy tyd en bemoedig hulle met sy prediking (v 2). Daar is níks wat die Here se volk méér bemoedig & versterk as die prediking van God se Woord nie. Ná 3 maande vlug hy uit Griekeland vanweë die Jode se komplot, maar ongeveer 8 Christene van verskillende plekke reis saam met hom. O.a. Lukas self. ‘n Hele span. Waaruit ons sien watter vrug daar was op Paulus se sendingwerk en hoedat die nuwe Christene weer sendelinge geword het. Die nuwe gemeentes was absoluut sending-georiënteerd.
In Troas vertoef Paulus 7 dae by die jong gemeente. ‘n Mens wil lag kry vir die preek wat die hele nag deur aangehou het (Sondagaanddiens wat eers Maandagoggend ophou), maar juis daaruit sien ‘n mens weer die Apostel se herdershart. Sy ywer. Sy erns. Sy passie. Hy weet dat hy min tyd het en daarom gebruik hy elke oomblik om hulle met die Woord te bedien. Heel waarskynlik het hy nie heeltyd alleen gepraat nie, maar het hy die gelowiges se vrae beantwoord. Dít was die herdershart van die Apostel: Géé homself. Spandeer homself. Offer homself. Nie bang dat stremming en ooreising hom sal uitbrand nie. Niks van versigtig wees om nie uit te brand nie!
Die rede waarom Eutigus (wat ‘n jong seun was vlgs Grieks) so vaak geword het, was a.g.v. die dampe wat die olielampe afgegee het (v8). Hy het op die vensterbank gesit en die venster was waarskynlik slegs ‘n opening in die muur en hulle was op die 3de verdieping. Toe hy aan die slaap raak en val, het hy hom werklik dood geval. Lukas was self teenwoordig en hy was ‘n dokter (Kolos 4:14). Onmiddelik het Paulus ondertoe gegaan en hom oor Eutigus uitgestrek, nes Elia met die liggaam van die weduwee se seun gedoen het (1 Konings 18) en Elisa met seun van die Sunamitiese vrou (2 Konings 4). Die Here het vir Eutigus lewend gemaak en Paulus het tot dagbreek voortgepreek. En die mense was buitengewoon bemoedig deur alles – die prediking en ook die opwekking van die dooie. Sien u? Alles is daarop afgestem om die Here se kudde te versorg.
Tussen hakies: uit Lukas se beskrywing van die deurnag-erediens in Troas, leer ons ‘n paar dinge van hoe daar kerk gehou is in die destydse gemeentetjies. Eerstens: hulle het op Sondag vergader en nie die Sabbat (Saterdag) nie (v7). Verder was die twee hoofbestanddele die nagmaal & die prediking. Die nagmaal is destyds gevier te same met ‘n gemeenskaplike maaltyd. Opvallend is egter die baie tyd wat aan die prediking gegee word. Daarby was die gemeente klein: geen kerkgebou, maar vergader op die 3de verdieping van ‘n huis. Hoe klein ookal: dit is die Here se duurgekoopte gemeente.
Kom ons kyk nou verder in Paulus se herdershart. Beter & mooier kan ‘n mens dit nie sien as in sy afskeidsboodskap aan die ouderlinge van Efese nie! Hoe maklik kon hy nie maar by hulle verbygegaan het nie. Maar, vanaf Milete stuur hy mense om die ouderlinge vanaf Efese te laat haal. Dié reis kón tot 3 dae duur! Maar hy móés hulle vir oulaas onderrig, want hy het geweet dat daar vir hom ‘n swaar pad in Jerusalem wag en heel waarskynlik die dood. Daarom praat hy dít wat werklik prominent op sy hart lê – soos ‘n mens op jou sterfbed sou praat: dit wat saakmaak. Juis daarom kan ons Paulus, die herder, so goed leer ken uit hierdie toespraak.
Hy sê vir die ouderlinge van Efese: “Julle moet altyd onthou hoe ek onder julle geleef het. Hoe ek vir julle ‘n voorbeeld was. Dink hoe ek julle dag & nag in alle nederigheid gedien het, te midde van baie trane a.g.v. die komplotte van die Jode. Ek het absoluut niks teruggehou van dit wat vir julle tot voordeel kon wees nie. Vir 3 jaar lank het ek julle dag & nag onderrig – soms met trane. Ek het in die openbaar gepreek, maar ek het julle ook op huisbesoeke in julle eie huise onderrig. Die kern van my boodskap was altyd die vrye genade van God en die oproep tot bekering. Maak nie saak of ek met verbondsmense (Jode) of heidene (Grieke) gepraat het nie. Ek het God se genade verkondig. Die feit dat Hy helverdiende sondaars met Sy eie hand met die Here Jesus se kruisdood gered het – sonder om vooraf hulle toestemming te vra óf Hy mag red. En daarom het ek almal vermaan & beveel om om te draai (bekeer) na hierdie God toe en te glo/vertrou op Jesus se redding. Want, álle mense móét die evangelie glo, anders gaan hulle verlore. Dis nie waar dat dit nie saak maak wát mense glo nie – solank hulle dit maar net opreg doen nie. Nee! Dis Jesus of dis niks. Dis Christus of ‘n vlammende hel. Dit het ek vir julle Efesiërs gepreek. Daarom is dit nie my skuld as enigeen in Efese verlore gaan nie. Ek het nie nagelaat om die volle verlossingsplan in sy volle omvang te verkondig nie. En dit terwyl ek nooit enigeen van julle se geld of goed begeer het nie. Ek het nie belanggestel in besittings & geld nie. Ek kón van julle ‘n salaris ge-eis het, maar ek het met my eie hande self gewerk, want ek wou liewer gee as om te ontvang. Dit is mos die eerste rede waarom ‘n mens werk en ‘n inkomste verdien: om ander mense te kan help en nie om jouself te verryk nie. En tog weet ek dat ek julle heelwaarskynlik nie weer sal sien nie, want die Gees het aan my geopenbaar dat daar in Jerusalem vervolging & gevangenskap op my wag. Heel waarskynlik die dood. Maar, ek gee nie eintlik om nie. Ek reken my eie lewe nie vir myself kosbaar nie. O, as ek maar net my lewenstaak kan voltooi. As ek maar net die dienswerk wat ek van die Here ontvang het, kan voltooi: dit is om die evangelie van God se genade te kan verkondig. En nou, wat julle betref, ek vertrou julle toe aan God se Woord. Die Woord van Sy genade, want dít is magtig om julle op te bou. Geen mens nie, nét die Woord is magtig om julle op te bou. Die Woord van God alléén. Sola Scriptura. Maar julle moet twee goed doen: Pas julleself en die kudde wat die Gees aan julle toevertrou het, goed op. Onthou die gemeente is uiters kosbaar. Dis nie sommer ‘n groepie mense versamel soos by ‘n tennisklub nie. God het die gemeente vir Homself gekoop met die bloed van Sy Seun. Elkeen van die gemeentelede is duur gekoop en kosbaar. En wanneer ek weg is, sal valse profete soos wrede wolwe probeer om die kudde te verskeur deur die Woord te verdraai en te vervals. Dit sal mense uit julle eie geledere wees, nie wolwe van buite nie, maar uit eie kring. Daarom: wees waaksaam en pas die kudde op.”
‘n Boodskap spesifiek aan mý gerig en elkeen van ons 8 opsieners/kerkraadslede. Die 9 herders van Tafelberg Gemeente. O, as ons meer en meer die herdershart kan hê. Die passie. Die passie vir die Woord en vir die Here se mense. Die kudde. Die selfloosheid – om jou eie lewe vir jouself nie kosbaar te ag nie! Hoe wonderlik indien elke lidmaat verantwoordelikheid vir mekaar sal neem. Mekaar versorg. Mekaar vermaan. Mekaar dra & opbou. Dit gebeur wanneer die Here se herdershart oorspoel in ons eie lewens.
Nou moet ons baie mooi luister. Hóór hoe klop die Herdershart van die Here vir Sy Tafelberg-kudde – as geheel, maar ook vir ú as individu. Hoor en besef hoe kosbaar & waardevol u is. Soms lyk & voel ons probleme & aanvegtinge só groot, en tog is ons waarde voor die Here báie groter & sterker. Uit die Here se openbaring in Handelinge 20 sien ons hoe Sy herdershart vir hierdie gemeente & u as individu klop:
Ten duurste losgekoop. Met respek gesê: Sy eie lewe nie kosbaar geag nie. Wil en sal Sy plan & roeping vir ons volbring. Begenadig. Dra met die krag van Sy Woord. Bemoedig. Omgee en nogmaals omgee. Passievol. Opofferend. Waaksaam oor ons. Wil nie hê dat wrede wolwe skade aanrig nie. Wil opbou en ons uiteindelik laat deel in erfenis. Géé duisend maal meer as wat Hy vrá.