Goeie Vrydag Tema: Die krag van vergifnis

Skriflesing: Kolossense 2: 13-14


Heidelbergse Kategismus Sondag 21 Vraag 56 


Sir Arthur Conan Doyle (skepper van speurder Sherlock Holmes) het eenkeer – in London waar hy gewoon het – vir 12 van sy vriende ’n poets gebak. Hy het ‘n anonieme telegram aan elk gestuur. Met die volgende inhoud: “Vlúg, want alles van jou het bekend geword”


Die volgende dae gaan besoek hy toe elk van die 12 – en hy vind dat al 12 skoonveld wég is!


Nie een van ons is (wat ons eie gevoel en ervaring aanbetref) sonder hierdie ding – sonde – nie. Ons voel ons sou wou wegvlug as al ons dinge bekend moet word – veral dit wat in ons gedagtes en harte aangaan…


Maar – omrede die onverklaarbaarheid van Sy barmhartigheid – het God daarmee totaal klaargespeel op Goeie Vrydag 2000 jaar gelede. Slegs een enkele Godsdaad het die sondeprobleem van die mensdom eens en vir altyd opgelos. “God het in Christus die wêreld met Homself versoen” (2 Kor 5:19). In die kruisdood van Jesus Christus het daar iets met elke mens gebeur wat die mens herstel het tot die beeld van God. En dit is die ontdekking van hierdie reeds-realiteit wat daartoe lei dat ‘n mens in eie ervaring volkome bevry word. Op óns maak hierdie realiteit die appèl om dit persoonlik te GLO!


Jy ontdek dat die Christelike lewe nie Slangetjies-en-leertjies is waar jy jou lewe lank probeer en mik om by die “finish” te kom, maar gedurig voel of jy teruggly omdat slange jou insluk nie. Mense voel hulle kom nooit by die “finish” uit nie want hulle is op ‘n manier sku vir God – “dalk hou Hy nog sondes teen my, dalk glo ek nie goed genoeg nie, dalk glo ek nie reg genoeg nie, dalk is daar nog ‘n onbelyde sonde iewers wat Hy teen my hou, dalk weerhou Hy sy seëninge van my omdat ek vergeet het om iets te bely..” U sien mense probeer om God vriendelik te maak deur hulle pogings om beter te glo – beter kwaliteit aan die dag te le! Hulle werk hulleself blokkie vir blokkie op na die “finish” toe en probeer om nie in die slangetjies se greep te kom nie.


O nee – die Goeie Nuus is dat ons by die “finish” BEGIN!! Dit wat ons soms gedink het die eindbestemming is, is al die tyd die vertrekpunt waar ons alreeds deur een enkele Godsdaad volkome gemaak is sodat al wat oorbly die avontuur is van ewige romanse en genieting van ‘n realiteit wat my tot in ewigheid nooit weer ontneem kan word nie! Dit is deur ‘n Godsdaad gewaarborg! Net EEN ewige Godsdaad op Golgota!


Ek wil vanoggend praat oor die krag van sonde-vergifnis. ‘n Vergifnis wat hoegenaamd nie gebou is op ons menslike beslissings nie, maar op dit wat die Here God man-alleen gedoen het, maar waarby elke mens ingereken is.


Ek wil 4 kort indelinkies maak – met die gebed dat die wonder evangelie sal oopgaan ….


1 Wat vergewe God? > Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus > wat eintlik ‘n lied is, nie ‘n belydenis nie.


WAT het (afgehandelde verlede tyd) God so algeheel en totaal vergewe? Wat is dit wat Hy – volgens Hebreërs 9:17 – heeltemal ge-”delete” het – totaal uitgewis uit Sy geheue?


Antwoord: AL MY SONDE. Nie net dit waarmee ek gebore is nie – erfsonde/erfsmet – maar ook wat ek gedoen, gedink, gepraat, nagelaat het. My huislike, persoonlike, kerklike sondes. Hele kaboedel. En HY sê – en jy moet Hom daarvoor glo – EK het jou persoonlik regtig vrygekoop, toe My Seun gesterf het op Goeie Vrydag en fisies/liggaamlik opgestaan het op Paassondag.


Kyk maar na daardie onvergelyklike Kolossense 2. Terwyl ek nog pens en pootjies binne-in die sondedood was, het God my daar – met sondedood en al – gevat en binne-in die Opstanding van Jesus ingesluit en my só – met daardie insluiting – lewend gemaak! Hy het die totale aanklagstaat – met al sy duisende aanklagte teen my – geneem en aan die kruis gespyker en dit só weggeneem!


Dit is die weergalose boodskap van Goeie Vrydag!


Maar, nou kom die spoke van gister mos na ’n mens se hart toe. En hulle kom grynslag by jou: “God vergeef klein goedjies, maar hierdie en daardie sondes….” Juis daarom sê die Kategismus so duidelik: ALLE sondes.


In HK Sondag 21 staan daar iets geweldig diepsinnig …. daar staan: ook MY SONDIGE AARD. My sondige AARD is ook vergewe!


Dawid het al gekerm: In sonde en skuld ontvang en gebore. In die baarmoeder het die bloed van Adam en Eva in die klein fetus ingepomp. Paulus kerm: O, ek ellendige mens, wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood, want sê hy, ek is verkoop onder die sonde. Dit wat voel of dit in my woon. Vanaf die skilfer op my kop tot die eelt op my voet, is my ervaring dat ek ’n deurdrenkte sondaar is. DIT is wat God op Golgota vergewe het …. Ek is volkome en volmaak reggemaak – deur een enkele Godsdaad! My sondige natuur is afgesny – Kolos 2:11. Hy het my met Sy eie hand gevat en my regoor die hele Snakes&Ladders-bord geskuif sodat ek by die “finish” begin!


2 Waarom is Hy so goed dat Hy dit KAN vergewe? Sondag 21 sê op voetspoor van die Skrif: “Ter wille van die genoegdoening van Xp”


En dit bring ons by Golgota. Goeie Vrydag. En die heerlike opstanding vroeg daardie Paasoggend. Soos die Skrifwoord in Jes 53 sê: “Hy is t.w.v ons sonde deurboor en t.w.v. ons ongeregtighede verbrysel en die straf wat vir ons die vrede bring was op Hom”


Ons het dit so duidelik in Kolossense 2 gesien. Só het God dit gedoen – toe Jesus op die kruis vasgespyker is, álles wat ek in Adam was, saam met Hom vasgespyker is. En só is ek verlos.


Sien u dit raak?? Die vergifnis van sonde het ’n PRYS gekos. Dit het iemand se LEWE gekos. CHRISTUS s’n! Waarom? Omdat letterlik ALLES wat die mensheid in Adam was, op Hom neergesit is.


3 HOE vergeef God? Wil u ore en hart vra. ’n Mens vergeef nie regtig nie. Want om eg & rojaal te vergewe, beteken om ook eg te vergeet. Dit kan ’n mens beswaarlik doen. Nét God vergeet volkome. Net God grawe nie ou koeie uit die sloot nie. Net God kan sê in die woorde van Miga: “Ek gooi/werp jou sondes agter My rug tot in die dieptes van die see.” Net God kan deur die Psalmdigter sê: “So ver as die ooste van die weste verwyder is en die hemel bo die aarde, so ver verwyder ek jou sondes van my af” As dit nie in die onfeilbare Woord gestaan het nie sou ek dit moeilik geglo het. Maar, met ons hand op hierdie Woord kan ons leef en sterf.


Hoe moeilik dit ookal is om dit te glo: God vergeef volkome! Nie wanneer jy Hom daarvoor smeek/vra nie, maar voordat jy nog kan smeek – op die kruis! Op Golgota het Hy ons almal voorgespring.


4 WAARTOE vergeef God? > En nou gaan dit hier oor die krisispunt. Dit gaan hier oor die laaste finale dag wanneer perfekte geregtigheid sal geskied. Dit gaan hier oor wat Paulus sê: “Ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn” EN dit is die kritieke punt. Is daar nog ‘n finale strafgerig waarin ‘n Christus-gelowige kan kom.


Die kategismus bely en sê: “God vergewe SODAT ek nooit in die strafgerig van God kan kom nie”


Daar bestaan nie ’n manier hoe ’n gelowige-in-Christus in enige strafgerig sal kom nie. Geen veroordeling – Rom 8:1. Ek het vrymoedigheid in die dag van finale geregtigheid. Midde-in daardie dag, sal ek met blydskap sing van die versoenende sterwe en opstanding van Jesus!! Dit is my lewende hoop! Dit is wat die lewe die moeite werd maak! Ek is absoluut onverbiddelik oortuig dat die versoeningsdood van die Here Jesus Christus ‘n volkome sukses was! Dat ek DEEL van daardie sukses is.


In die geweldige aanslag van Adolph Hitler op Nederland (in die Tweede Wêreldoorlog) het Hitler een aand sy fosfor- en brandbomme met sy Messerschmidt vliegtuie oor die stad Rotterdam afgegooi. Dit was ’n ontsaglike inferno van vlamme. Die geskiedenis vertel dat die Hollanders uitgehardloop het en dat die teerstrate aan die brand geraak het en mense lewend vasgebrand het in die strate.


In Rotterdam was daar egter ’n sekere prominente kerktoring wat ’n horlosiewerk gehad wat op die halfuur en uur verskillende melodieë uit die Psalm en Gesang boek gespeel het. Deur al die jare heen het hierdie melodieë – vanuit die kerktoring – oor die stad gespeel.


Daardie aand – met Hitler se aanval op Rotterdam: Tussen die geraas van Messerschmidts en die geskreeu van mense en die vuurvlamme – het dié horlosie se uurwerk weer begin speel. Toe weergalm die bekende lied oor die brandende stad – (en so sal dit in die voleinding wees, met die Christus-gelowiges):


“Jezus, Uw verzoenend sterve, blijft het rustpunt mijne hart. Al zou ik alles hier moet derve, blijft Uw dood mij bij in smart.”


Kom ons sing nou dieselfde gesang:


Jesus, U versoenend sterwe,


bly die ruspunt van ons hart.


Nou kan ons die hemel erwe!


Dis ons hoop in alle smart.


Ja, wanneer my oog eens breek,


sterwens-angs my laat verbleek,


laat U bloed my hoop herlewe:


U het al my skuld vergewe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00