TAFELBERG GEMEENTE
No. 5: Preekreeks uit Matteus 26 vir LydenstydTema: Brood en Wyn
Skrif: Matteus 26: 26-30
“Wát op aarde maak pappa nou?” vra die oudste seun vir sy pa wat besig is om bloed aan die buitekant van die voordeur te smeer. “Ek het ‘n lam geslag en nou smeer ek die bloed aan die deurkosyn, want vannag gaan ‘n engel van die Here by al ons mense se huise verbyloop en oral waar hy nie bloed aan die deure sien nie, gaan hy die oudste kinders met die dood tref” antwoord die pa. Met ‘n uitdrukking van afkeur kyk die seun na sy pa: “Pappa speel seker. Hoe is so iets moontlik?” “Ek speel nie” antwoord sy pa, “die Here het uitdruklik deur Moses gesê dat Hy ons volk uit Egipte/uit die kloue van die Farao sal red deur alle eersgeborenes te tref. Dan sal die Farao se hart sag word en sal hy ons laat trek. Maar, waar ‘n lammetjie in die plek van die oudstes sterf, sal die kinders bly leef. Waar die engel die bloed sien, sal hy die huise oorslaan, want dan weet hy: dáár het ‘n lam gesterf in die plek van die eersgeborene.”
En só het dit toe ook gebeur. Eksodus 12. Die Here het Sy volk letterlik deur die bloed van 1000e lammers uit Egipte gered. Oral waar die bloed gesmeer was, het die engel die eersgeborenes oorgeslaan en het hulle bly leef. Maar in die huise van die Egiptenaars, waar daar geen lammers gesterf het nie, het alle eersgeborenes gesterf. Dit het die Farao gebreek en hy het God se volk laat trek. En vir alle eeue daarná het hulle hierdie groot redding gedenk deur jaarliks in Maand Nissan (April) ‘n pasgafees (“pass over”) te vier deur lammers te slag en dit te eet saam met wyn, vrugtemoes, bitterkruie, ongesuurde brood en die sing van lofsange (Die HALLEL – Pss 115-118). Deur alle eeue het die Here se verbondsvolk hierdie pasgafees gevier en teruggedink aan die verlossing uit Egipte sónder om te verstaan wat die profetiese betekenis daarvan in werklikheid is. Hulle het nie besef dat die redding-uit-Egipte-deur-die- lammertjies-se-bloed en die deurtog-deur-die-Rooi See en die uiteindelike intog in die Beloofde Land, al die tyd ‘n prentjiesbeeld was van die verlossing wat die beloofde Verlosser sou kom bewerk nie. Hoe HY, met Sy eie bloed, mense sou bevry van die Egipte van sondeverlorenheid. Hoe HY mense sou lei oor die grens van die Rooi See – uit ‘n ou lewe, ná ‘n nuwe lewe. Tot in die beloofde land van die Nuwe Hemel en Nuwe Aarde.
Toe Jesus en Sy dissipels hierdie einste pasgamaal eet, die Donderdagaand voor Sy kruisiging, raak alles meteens duidelik toe Hy letterlik ‘n nuwe feesmaal skep. Voor hulle oë gee Hy aan die Pasgamaal ‘n splinternuwe betekenis. Hy vervul die Pasga in Homself! So teen die einde van die ete, neem Jesus die ongesuurde brood en die wyn en Hy maak daarvan tekens van Sy eie sterwe: “Sien julle hoe breek Ek hierdie brood en hoe skink Ek hierdie wyn? Só is die paaslammetjie gebreek & geslag en só het die lammetjie se bloed gevloei. Só – soos die brood breek en die wyn vloei. Só sal My liggaam gebreek word en My bloed vloei. DIT is die EINTLIKE betekenis van die redding van die volk uit Egipte en duisende jare se pasgafeeste. Dit het alles vooruit na MY gewys. En dit sal nóú, hierdie nag nog vervul word. Dan sal My bloed finaal gestort word. Daarom is die brood & wyn nie meer bloedtekens nie. Daarom geen geslagte paaslam meer nie. Tóg sal julle nog steeds die Paaslam eet. Want deur die brood & wyn eet julle MY – die Paaslam. Hierdie brood IS my liggaam en die wyn IS my bloed.”
Sien u hoe GEE Jesus letterlik Homself met die brood & wyn aan Sy mense – tot in hulle binneste – deur die brood & wyn wat hulle eet en drink en insluk. Dit beteken nie dat die brood letterlik die fisiese Christus is/word soos wat sommige kerke glo nie. Die brood word nie verander om Jesus se vlees te word nie. Wanneer Jesus sê: “Dit IS my liggaam”, sit Hy liggaamlik by hulle aan tafel. Die brood is NIE Sy liggaam nie, maar tog IS dit Sy liggaam. Wat beteken dit? Dit is ‘n TEKEN van Sy gebreekte liggaam, maar dit is ook MEER as slegs net ‘n teken. MEER as ‘n simbool. Hoe só? Deur die brood en wyn, verseker Hy ons dat Hy ons werklik deel gee aan Homself/Sy liggaam. Hy verenig ons met Homself, waar Hy as verheerlikte Mens by die Vader is. In die brood & wyn kry ons deel aan die geofferde liggaam wat Christus vandag nog het. Onthou: Christus besit nog STEEDS Sy geofferde liggaam – ná Sy opstanding en hemelvaart – tot vandag toe!! Deur die Heilige Gees gee Hy ons déél aan Sy geofferde liggaam sodat die Vader ons IN HOM sien. Sodat ons IN HOM die mense kan wees wat ons veronderstel is om te wees. En dit alles moet ons GLO wanneer ons die brood eet en wyn drink. Ons moet aanvaar/glo dat Hy ons by Homself insluit en ons deelgee aan Sy liggaam. 1 Korint 10:16: “die gemeenskap met die brood IS gemeenskap met Sy liggaam”. Baie méér as blote simbole. Dit is ‘n Goddelike versekering dat ons gelowig mag aanvaar dát Hy ons werklik deelgee aan Homself/ Sy liggaam en dat ons dáárom verlos/gered/gewas/geregverdig is en dat die Vader ons menswees sien as INGESLUIT in Jésus se Menswees en dáárom die mense is wat Hy wil hê ons moet wees. Wat ‘n onbeskryflike diepte!
DIT is die VERBOND wat deur Jesus se bloed verseël is, waarvan Hy in vers 28 praat. Die verbinding/permanente verhouding met God is herstel. Die VERBOND is God se kontrak waarmee Hy Homself aan mense – wat nie aan Hom verbind wil wees nie – verbind. Hy verbind Hom aan Sy vyande en Hy versoen hulle sondes deur Sy eie bloed te gee en sodoende wen Hy hulle harte sodat hulle in ‘n verhouding (verbind) met Hom kan leef tot in ewigheid. Maar u sien: hierdie verbinding kan nie realiseer sonder ‘n offer nie, want die mens se skuld versper die pad. En die offer neem die skuld weg. Daarom Hebr 9:22 – sonder bloedvergieting geen vergifnis. Daarom kon die volk nie die berg Sinai betree en in God se teenwoordigheid gaan alvorens Moses hulle nie besprenkel het met offerbloed nie (Eksodus 24). Daarom kon die Hoëpriester nie die tempel se allerheiligste betree voordat hy nie bloed op die versoendeksel gesprenkel het nie (Lev 16).
Ten slotte wys ek u op twee wonderlike versekerings wat ‘n mens nie moet miskyk nie. Jesus sê in vers 28 dat Sy bloed vir BAIE vergiet word. Nie vir MIN nie. Ook nie vir ALMAL nie. Wel vir BAIE. Soos Hy in Joh 10:11 sê: “Die goeie Herder lê Sy lewe af vir die skape.” U sien: Jesus se bloed het ‘n spesifieke groep mense met 100% sekerheid met die Vader versoen: die gelowiges. Die skape. Díé mense wie die Vader voor die grondlegging van die wêreld aan Sy Seun gegee het (Joh 17:2) . HULLE is op die kruis verlos en versoen. Is dit nie ‘n onbeskryflike wete dat – indien ek ‘n gelowige is – ek mag weet dat die versoening tot in ewigheid nooit sal misluk nie. EK is ingesluit by die “BAIE” vir wie Jesus na die kruis gegaan het. Hy het nie sommer so in die algemeen vir almal gesterf en kyk nou maar wie dit wil aanvaar nie. Nee – Hy het met voorbedagte rade vir MY (al die skape) met die Vader versoen. Dit is ‘n voldone feit. Dis vas. Dis waar. Dis ewig. Dis onvernietigbaar.
Geen wonder dat Jesus – daardie Donderdagaand – met soveel sekerheid ook reeds oor die TOEKOMS kon praat nie. “Júlle gaan die nuwe wyn saam met My drink in die koninkryk van My Vader.” Hy verwys na die ewige saamwees op die nuwe aarde. Maar kyk na die verbysterende sekerheid waarmee die Here praat. Hy koppel daardie kringetjie van elf mensies met die verre toekoms. Daardie eerste nagmaalsaand bepaal die verste toekoms. En dit is & bly die sekerheid wat die Here tot vandag gee wanneer Hy die brood & wyn laat uitdeel: “Niks kan julle van My skei nie. En niks kan julle van mekaar skei nie.” Tot ons sáám die nuwe wyn sal drink – op die nuwe aarde.