TAFELBERG GEMEENTEGod se koninkryk is verseker hier!
DANIëL 2 (Deel 2 in reeks van 3 boodskappe)
Ons het verlede week gesien dat die inhoud van die boek Daniël afspeel in die tyd van Babiloniese ballingskap – ongeveer 600vC. Ons het ook gesien dat koning Nebukadnesar se aanslag gerig was teen die HERE self en dat Hy wou hê die ware Woord vd Here vervang moes word met sý afgodiese godsdiens.
Nou is hoofstuk 2 absoluut skitterend. Dit wys hoedat die HERE absoluut vrymagtig vanuit die hemel werk, sonder dat enige mens Hom hoef te help. Hy laat eenvoudig Sy Woord voortgaan sonder enige menslike hulp. Eintlik ‘n stuk hemelse humor. Dieselfde Woord van God – wat Nebukadnesar gedink het dat hy uitgeroei en oorwin het – word skielik ‘n brandende vuur in sy eie binneste!
Die groot fout wat ons dikwels maak wanneer ons Daniël 2 lees, is dat ons dink dit is net ‘n stukkie mooi geskiedenis. ‘n Oulike slaaptydstorie vir kindertjies. Of, ons dink dat dit ‘n voorbeeld is wat ons moet probeer navolg. Ons dink ons moet ook probeer om so vroom soos Daniël te wees en ons moet ook hemelse boodskappe in drome kan kry. Die waarheid is dat Daniël 2 eintlik glad nie oor Dániël handel nie. Ook nie oor sy vroomheid nie. Ook nie oor Nebukadnesar nie. Ook nie oor drome nie. Ook nie oor mooi lessies wat ons moet leer nie. Dit handel in teendeel oor die magtige werk wat die HERE besig is om te doen. Indien u mooi dink sal u moet erken dat dít juis is waarby ons nooit uitkom wanneer ons Daniël lees nie! Ons ontdek nie die magtige evangelieboodskap in Daniël 2 nie.
Gemeente, koning Nebukadnesar het nie slegs maar net ‘n droompie gehad omdat hy die vorige aand te veel vleis geëet het nie. Nee, die WOORD VD HERE het uitgegaan. Die oormag vd Woord vd Here is instaat om alles op sy kop te draai! Die Woord wat van GOD kom, KAN en SAL vrymagtig oorwin. Nie omdat wonderlike profete dit preek nie, maar omdat dit van die Hére kom!! Wanneer die Here Sý Woord laat kom, staan Nebukadnesar en sy vals profete magteloos. Kyk hoe pateties lyk Nebukadnesar eweskielik teenoor Daniël ::: Nebukadnesar is ontsteld en verward, Daniël het sekerheid en rus. Hy glo die Here se Woord wat opgeteken staan in sy Bybel: naamlik dat die Here Sy volk nie sal begewe nie. Dit glo hy. Daarom het hy geloofsrus en sekerheid. Hy is so seker van sy saak. Hy ken die werklikheid van die Woord. Hy sê vir die koning: Ek sal die droom uitlê. Gee my net tyd om die Here daaroor te gaan raadpleeg. U sien: Daniël BESKIK nie oor die Woord nie. Hy beveel nie die Here wat Hy moet doen nie. Maar hy REKEN op die Woord. Want die Woord vd Here kan nooit gebind word nie. Profete kan gebind word. Kinders vd Here kan gebind word en kan val en struikel. Maar die Woord kan nie gebind word nie. Daniël 2 sê níé vir ons dat dit altyd met ons goed sal gaan nie. En dat ons net moet probeer om soos Daniël te wees nie. Nee, Daniël 2 sê : Die Here se majesteit en eer en heerlikheid SAL deur Sy Woord triomfeer – tot reg aan die einde. Hy sorg self daarvoor. Al kom die antichris ook. Onthou: CHRISTUS kom ook! As die HERE spreek kan woestyne bewe en vuurvlamme uitslaan ( Psalm 29).
Die droom wat die HERE aan Nebukadnesar gegee het was geen gewone droom nie. Hy gee ‘n antwoord op die vrae waaroor Nebukadnesar gelê en top het. “Wat gaan in die toekoms van my magtige koninkryk word?” In hierdie droom gee die HERE veel meer as net ‘n antwoord op Nebukadnesar se vrae. Die Here kom gee ‘n profetiese oorsig oor hele geskiedenis en die toekoms van die wêreld. Hy wys met Goddelike akkuraatheid presies wat op aarde aan die gang is dwarsdeur die geskiedenis. Hy wys ook wat die toekoms van planeet aarde is.
Ons let eers op die inhoud van die droom : Reuse beeld. Beeld van ‘n man. Reusagtig groot en glansend. Verskillende afdelings. KOP: Goud. BORS EN ARMS: Silwer. BUIK: Koper. BENE: Yster. VOETE: Yster en klei gemeng. Skielik raak daar ‘n klip los, sonder toedoen van ‘n mens. Die klip tref die beeld aan die voete en maal dit fyn tot poeier. Die beeld word soos kaf wat deur die wind weggewaai word. En die klip sélf: word ‘n groot rots wat die hele aarde vul en vir áltyd bly bestaan.
Wat beteken dit alles? Wat openbaar die lewende God hier? Dit is ‘n profetiese prentebeeld van die hele toekoms. Die Here staan nie afsydig en koud teenoor die goed wat in wêreld gebeur nie. Hy staan nie magteloos nie. Die wêreld is nie soos ‘n speelbal wat rondgeskop word tussen allerlei magte nie. Die Here werk na ‘n goedbeplande oplossing vir alles. Die mens hoef Hom nie daarmee hand te gee nie. Oplossing lê ook nie by die god vd Islam, Hindoes, Boeddiste nie. Ook nie by ‘n sameflansing van al die godsdienste nie. Slégs by die lewende God. Die God van die Woord. Die Vader van Jesus Christus. Hy wat die KLIP laat losraak sonder mense toedoen.
Die 5 afdelings van die beeld is ‘n voorstelling van die 5 wêreldkoninkryke wat sou kom vanaf Nedukadnesar se Babiloniese Ryk verder in toekoms in. KOP=Babiloniese, BORS=Mede en Perse, BUIK=Grieke, BENE=Romeine, VOETE= Verskeidenheid wêreldkoninkryke wat sou volg, tot in ons dag. Dit is alles presies net so vervul in die geskiedenis. Gaan kontrolleer dit maar in die geskiedenisboeke: Op die Babiloniese ryk hét die Persiese Ryk gevolg. En toe die Grieke onder Alexander die Grote. En toe die Romeinse Ryk – so sterk soos yster. En toe ‘n verskeidenheid politieke stelsels wat in geen eenheid met mekaar leef nie. En die klip het begin rol met Jesus se koms. Met Jesus se opstanding het die klip in beginsel die beeld getref. Met die koms van die Gees en die uitbreiding van die kerk oor die hele wêreld d.m.v sending, is die klip besig om die aarde te oordek. Met Jesus se tweede koms, sal die klip alleen oorbly – God se koninkryk. En dit sál gebeur. Net soos wat die eerste aantal afdelings van die beeld presies vervul is, sal die laaste deel ook vervul word. Slégs die klip sal vir ewig bly – Gód se koninkryk sal alle menslike politieke & ekonomiese stelsels vervang. Dit spel die boek Openbaring in alle tale uit.
Wat ons goed moet raaksien: Dit is net EEN beeld. Nie 5 nie, maar EEN. Teenoor die klip wat losraak, staan EEN wêreld koninkryk. ALLE wêreldpolitieke magte kan oor een kam geskeer word. Voortdurende stryd en konflik. Dit versleg die heeltyd: Let op: Goud > silwer > brons > yster > klei. Almal probeer beter koninkryke bou. Voortdurende verskuiwings & veranderings. Nooit wesenlike verbetering nie. Niks verander ooit regtig nie. Al verander wat ookal, dit bly EEN BEELD. Die wêreld kan nie van klei weer opklim tot by goud nie. Ná die klei, kom die klip. Maar die wêreld is daarvan salig onbewus. ‘n Mens sien dit so duidelik in Zimbabwe, maar dit geld vir hele wêreld. En dit is so duidelik deur die Gees geopenbaar in Daniël 2.
Kyk hoe manjifiek praat hierdie beeld oor die huidige tyd – die afgelope 2000 jaar nadat die Romeinse Ryk geval het. Dit is ‘n tyd van vele konings (voete en tone), maar geen eenheid nie. Klei en yster gemeng, maar HEG nooit. Nooit stabiliteit en groei nie. Sterk en swak gelyktydiglik. Yster en klei gemeng. Geen werklike eenheid. Ja, ‘n kunsmatige eenheid word telkens geskep (bv Europese Unie). Kom vreeslik sterk voor (yster), maar is in werklikheid so broos soos klei. Eintlik is die glorie van die beeld net pure skyn. Wanneer die klip hom tref, word hy soos poeier.
Soms lyk dit asof die HERE totaal onkant betrap is met dit wat in wêreld aangaan. Lyk asof Hy alles net so gelos het. Moenie glo nie. Daniel 2 maak dit vir ons oop : Here is konstruktief en doelgerig besig met planeet aarde én met ons persoonlike lewens. Iewers buitekant die beeld, raak ‘n klip los sonder mense se toedoen. En dit tref die beeld. Die beeld verdwýn totaal. Die klip sélf vul die aarde vir EWIG. En moenie dit miskyk nie: Die klip sal tref gedurende die tyd van die vele konings (voete en tone). Die finale fase is die tyd waarin ons tans leef. Daar is geen verdere fase ná die voete en tone van yster & klei nie. Ná hulle, bly die klip vir ewig.
Wat ‘n manjifieke vooruitsig vir elke mens wat Jesus Christus deur die geloof ken en leef vanuit die Woord van God. Terwyl ons só vooruitsig het, moet ons alles in die stryd werp om die sending te ondersteun. Want deur sendingwerk, vul God se koninkryk die aarde en word die tyd verhaas dat die beeld tot poeier word. Dit stem presies ooreen met Jesus se woorde in Matteus 24: 14 > Die finale wederkoms vind plaas wanneer alle nasies die evangelie gehoor het.