GOD OPENBAAR SY HART (Evangelie van Johannes) Pieter Scholtz
GOD OPENBAAR SY HART (Evangelie van Johannes) deaur Pieter Scholtz
Die Evangelie van Johannes is die hart van die Evangelie, maar ook die grootste openbaring van God se hart! As sodanig was dit en is dit nog steeds vir die Christendom van alle eeue van onskatbare waarde. Dit kan begryp word dat daar nog altyd rondom hierdie Evangelie die hewigste teenspraak en woordestryd gevoer is met die gemene doel om die goddelikheid van Jesus, sowel as Sy menslikheid as ongeloofwaardig te bewys. Dit is dan die ankers van ons geloof!
Die Apostel Johannes, die een wat aan Jesus se bors gelê het, Hom met sy oë aanskou, na sy woorde geluister en met sy hande getas het, kon met gesag skryf (1 Joh.1:1,2). Hy het ook Jesus se moeder ná die kruisiging by hom aan huis geneem wat hom alles van Jesus se bonatuurlike geboorte kon vertel. Johannes se Evangelie was ook gerig op die steeds groeiende menigtes heidense gelowiges, soos die Grieke. Daarom verduidelik hy ook telkens sommige Joodse terme en gebruike aan sy lesers (Lees hierdie tekse: 1:38,41,42; 5:2; 9:7; 19:13,17; 20:16).
Johannes verswyg besonderhede van Jesus se geboorte, Sy kinderjare, doop en versoeking in die woestyn; asook Sy berg-verheerliking, Sy stryd in Getsémane, Sy hemelvaart en verheerliking aan die regterhand van die Vader ná Sy opstanding. Hy gaan egter in op kleiner en fyner besonderhede wat soveel meer betekenis heg aan gebeure. Thomas praat (11:16; 14:5; 20:24-29); Andreas lei ander na Jesus (1:40,41; 6:8,9; 12:22); Filippus is die soeker na praktiese, tasbare bewyse (6:5-7; 14:8,9); Judas protesteer teen die salwing deur Maria met ’n skyn van besorgdheid oor die armes (12:4,5); die seuntjie se brode was garsbrode (6:9); die dissipels het 5 km geroei voordat Jesus by hulle gekom het (6:19); daar was ses klipkanne by Kana vir reinigingsgebruike (2:6); vier soldate het oor sy naatlose kleed gedobbel (19:23). Johannes noem ook die presiese gewig van die alewee en mirre (19:39); hoe lank daar toe reeds aan die tempel gebou en gerestoureer was (2:20) en van die onversoenlike houding van die Jode teenoor die Samaritane (4:9). Hy ken die Skaapspoort en die poel daar naby (5:2), die bad van Siloam (10:23), die pilaargang van Salomo (10:23), die spruit Kedron (18:1), die plaveisel – Gabbatta (19:13) en Golgota, die Hoofskedelplek (19:17).
Om Christus se menslikheid te bewys, stel Johannes dit duidelik: Jesus was hewig ontstoke oor die verontreinigde tempel (2:15); Hy het moeg en dors (4,6,7), en honger geword (4:31); Hy het simpatie gehad met diegene wat honger en bevrees was (6:5,20); saam met bedroefdes gehuil (11:33,35,38) en sy werklike menslike, maar verheerlikte opstandingsliggaam aan sy dissipels vertoon (20:24-29. Vgl. Fil.3:21).
Ook word Sy Goddelike bestaan van alle ewigheid af bewys (1:1,2; 8:58; 17;5; 6:33-38). 23 keer vind ons die betekenisvolle: “EK IS …”, die Naam waarmee God Homself tydens Moses se roeping bekend gestel het. (4:26; 6:20,35,41,51; 8:12,18,28,58; 10:7,11,14; 15:1,5; 18:5,6,8). In die uitstaande 7 keer daarvan is Hy, in beeldspraak, die Redder van die mensdom: “EK IS die brood van die lewe … die Lig van die wêreld … die Deur van die skape … die Goeie Herder … die Opstanding en die Lewe … die Weg, die Waarheid en die Lewe … die ware Wynstok.
DAT JULLE KAN GLO! Johannes 20:31
Deur Mattheüs is Jesus Christus aan die Joodse volk voorgestel as Koning; deur Markus aan die besige Romeine saaklik as Dienskneg; Lukas sien vir Jesus as Mens wat Verlosser geword het maar Johannes wat 30 jaar later as die vorige drie geskryf is, rig dit aan beide Jode en heidene, en stel Hom direk voor as God! Alleen in hierdie Evangelie lees ons van die bruilof in Kana, Sy gesprek met Nikodémus oor die wedergeboorte, Sy besoek aan Samaria en die gesprek met die vrou by die put, die opwekking van Lasarus, die wassing van Sy dissipels se voete, Sy unieke lering aan die dissipels van die Heilige Gees en Sy hoëpriesterlike gebed in Johannes 17.
Die hoofdoel van die skrywe was ‘Dat julle kan glo’! ‘Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God …’ (20:31).
Teenoor die 20 wonderwerke in Mattheüs, 20 in Lukas en 18 in Markus, is daar in die Johannes Evangelie tot by 20:30,31 net sewe, maar hierdie sewe is sorgvuldig geselekteerde wonderwerke om vir Jesus Christus as Heer en Meester van elke moontlike situasie en menslike behoefte voor te stel. Net twee hiervan is ook in die ander Evangelies beskrywe nl., die vermeerdering van brood en as Hy op die water loop.
Dit is noodsaaklik om in die Nuwe Testament’n onderskeid te tref tussen die gebruik van kragte, wonders en tekens ten opsigte van die natuurlike of die bonatuurlike; óf enige daarvan afkomstig is van God, óf moontlik van die Satan (Vgl. Hand.2:22 en 2 Kor.12:12, 2 Thes.2:9). Kragte is die vermoë om sekere resultate te behaal deur beskikbare energie/mag in werking te stel. Wonders verwys na die feit dat dit bonatuurlike kragte is wat in werking is en resultate behaal. Tekens verwys egter ook na die bron, die kwaliteit en die doel van die resultate wat behaal word en wie die eer daarvoor ontvang. Die eerste twee kan die Satan namaak, maar nie hierdie tekens nie! ‘…. Sodat julle kan GLO …’ is hierdie sewe unieke en onweerlegbare ‘tekens’ telkens voor baie getuies gedoen. Die woord vir Jesus se sewe sorgvuldig geselekteerde wonderdade is tekens (Grieks ‘semeion’). Deur díé sewe voorsien Jesus, as meester van enige omstandigheid of noodsituasie in alles van elke mens se spesifieke behoefte. Lees dit a.u.b. in u Bybel .
Die eerste teken bewys Hom as die Meester van natuurwette (2:1-12):
Die tweede teken bewys Hom as die Meester van afstand en ruimte (4:43-54)
Die derde teken bewys Hom as die Meester van vervulde verwagting (5:1-15)
Die vierde teken bewys Hom as die Meester van die nood van mense (6:1-15)
Die vyfde teken bewys Hom as die Meester wat storms kom stilmaak (6:16-21)
Die sesde teken bewys Hom as die Meester wat die Lig laat seëvier (Hfst. 9)
Die sewende teken as die Skepper van Lewe uit die dood (11:1-44; vgl. Op.1:18)
In hierdie Evangelie is daar dus genoegsame bewyse deur die oorsprong, kwaliteit en resultate van Jesus se wonderwerke wat as ‘tekens’ beskryf word – dat dit uit God is, dat die duiwel nog nooit hierdie tekens kon naboots nie en dat die doel daarvan elke keer was en sal wees tot hulp en redding van die mensdom in nood.
CHRISTUS DIE WOORD (Joh.1:1,2,14)
Johannes stel vir Jesus Christus direk voor as God. Die Johannes Evangelie is die hart van die Evangelie en ook die grootste openbaring van God se hart! Jesus noem in hierdie Evangelie vir God 122 keer ‘VADER’! Reeds in hoofstuk een vind ons 7 wonderlike name vir Jesus, elk met ʼn besondere betekenis wat ʼn volledige weerspieëling van Sy karakter is. Die eerste 18 verse bring jou onmiddellik op heilige grond wat jou laat uitroep: GOD IS HIER! Benader dan hierdie waarhede met heilige ontsag, maar ook met bewondering en aanbidding want: “Ons hét sy heerlikheid aanskou …” (v.14). In die betekenis van die eerste van Sy sewe name in die eerste hoofstuk, kry jy alreeds ’n besef van die omvang, die grootheid, die majesteit en die heerlikheid van GOD geopenbaar in die vlees!
DIE WOORD: “Die Woord (Logos wat ’die rede waarom’/wysheid beteken), het vlees geword en het onder ons gewoon (getabernakel, tent opgeslaan). Ons woorde openbaar die gedagtes van ons hart, so ken ons ook God se hart aan die Woord wat Hy spreek. Jesus Christus is nie slegs God se Alfa en Omega nie, maar ook Sy duidelikste en laaste ‘Woord’ (Heb.1.1 ‘ … Hy het in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun’). Buiten Hóm het God NIKS om vir ons te sê nie!
Christus is die ewige Woord: “In die begin …” (v.1,2) hou verband met Sy ewige bestaan. In die begin was Hy reeds daar. As God die Seun was Hy ewig daar en is Hy steeds mede-Skepper met die Vader en die Heilige Gees. ‘Woord’ verwys hier spesifiek na die 2de Persoon in die Goddelike Drie-eenheid, anders sou Johannes gesê het: ‘God was die Woord’ wat na die Drie-enige God sou verwys. Die Woord was dus in sy wese, aard en karakter ware God, maar hier is Jesus Christus alleen: God die WOORD. Met sy vleeswording word God die Seun ook ‘Seun van die mens’ en deur die volmaakte offer van Sy sondelose menslike liggaam, word Hy Herskepper en Verlosser wat die verlore mensdom weer met God versoen!
Christus is die vleesgeworde Woord (1:14). Toe Jesus Christus op die aarde was, was Sy verskyning nie net ’n gedaante of ’n gees nie, maar het Hy net soos ons “vlees en bloed” deelagtig geword (Heb.2:14; 1Joh.1:1). Die Woord was nie ’n abstrakte ‘iets’ nie, maar ’n lewende Iemand, selfs ná Sy opstanding sê Hy …voel aan My …!
As volkome Mens het Hy, as die Herder kom soek en kom red wat verlore was en tot by ons – by jou en my – het Hy gekom! As Dienskneg om jou te dien, maar as Redder om jou te Verlos! Agter Sy ‘ope arms’ is ʼn tere hart van volmaakte liefde. Bekeer julle is ʼn bevel, maar daarop volg dan, ‘maar as iemand My dissipel wil wees … moet hy My volg … My vlees eet en My bloed drink …’. Toe Jesus hierdie woorde gespreek het, het baie omgedraai en gesê: ‘Hierdie woorde is hard, wie kan daarna luister?’ Sy heerlikheid word alleen aanskou en ontdek deur diegene wat in Hom glo, hulle wat dieper as die uiterlike kyk! Om dieper te kyk is die geheim van getroue volharding tot die einde! Hy roep nog altyd – KOM agter My aan!
CHRISTUS DIE WOORD (Vervolg Joh.1:1,2,14)
Christus is Self die skeppende Woord: As ‘Skeppende Woord’ het ALLE dinge (v.3) – ook die wêreld (v.10), deur Hom ontstaan. Die ewige skeppende ‘Woord’ van Johannes 1 praat van lig en lewe, en 1:4 sê, ‘in Hóm was die lewe (God se eie lewe (Gr.‘zoe’ ewige lewe v.4); die lewe wat slegs in God self kan bestaan – en – ook in die siel van die mens wat deur Hom gered en nuut gemaak is. ‘… en die lewe was die LIG van die mense’. Die LIG van verlossing en redding het deurgebreek!
Elke mens word geken aan sy woord: ‘ook jou spraak maak jou bekend’. Dit mag vals/vulgêr/leeg/onbetroubaar wees of aangenaam, opreg, vriendelik, leersaam en helend. Jesus Christus se WOORDE was ál die laasgenoemde, maar bo alles was dit skeppend; lig- en lewegewend … ‘aangenaam’ en met hemelse outoriteit! Elke keer as God iets nuuts geskape het, was dit slegs met ʼn WOORD! Elke keer wanneer Hy gespreek het, is ʼn duiwel uitgedryf, ʼn sieke genees en is selfs ʼn dooie opgewek; Elke keer was dit met ʼn WOORD! Die hoofman met die siek dienskneg het deur middel van sy intieme vriende vir Jesus laat weet: ‘spreek net ʼn woord’ en Jesus was verbaas oor só ’n vertroue wat hierdie man in Hom stel! Maar die grootste wonder – HOE om die verlore sondaar tot ’n nuwe mens te herskape, vind ons in vers 5. Die lig van God wat in ons harte skyn om die duisternis van óns dood in sonde, te verdryf! ‘Want God, wat gesê het dat daar uit die duisternis LIG moet skyn, het in ons harte geskyn (en dit gebeur as Hy sê, skyn!) om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus’ (2 Kor.5:6).
Wanneer Christus as die skeppende Woord, die lewende (Rhema) woord spreek en ons Sy stem hoor, is daar vir die siel wat dood is in sy sonde en misdade skielik lewe én lig (5:24; Ef. 2:1). Daarom lees ons ook in 1 Petrus 1:23 ‘Julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly’. Wanneer daar, deur die Heilige Gees, ook goddelike lewe in die woord is wat ons verkondig, word dit die onverganklike en lewende saad van God waardeur Hy in sondaarsharte die wonder van die ware wedergeboorte bewerk!
Hy spreek ook ’n reinigende Woord: Die melaatse het uitgeroep: ‘As U wil, kan U my reinig … Jesus antwoord, ‘Ek wil, word gereinig …! Omdat die sonde nie net ʼn ontsettende verslawende mag in die sondaar se lewe is nie, maar ook ʼn vuil, besoedelende uitwerking het, praat die Skrif duidelik van die reinigende bloed van Jesus, maar ook van daardie reinigende krag van die woord wat in werking kom wanneer Hý spreek! As ons Johannes 15:3 en Efese 5:25,26 noukeurig lees en dit verbind met God se belofte in Esegiël.36:25-27, verstaan ons dat die ‘rein water’ wat Hy simbolies op sy volk sou ‘giet/sprinkel’ om hulle te reinig, verband hou met die WOORD. Daarna volg onmiddellik die profetiese WOORD wat Eségiël namens God, in hoofstuk 37, tot die laagte vol doodsbene gespreek het. God se wonderkrag het hulle laat opstaan en LEWE!
Daar is voorwaar nog net soveel reinigende en lewegewende KRAG in God se woord wanneer Hy tot óns harte spreek! Maar … spreek Hy so intiem met jou en my … soos ’n vriend wat ook die geheime en begeertes van Sy hart met jou wil deel?
CHRISTUS DIE KONING … ‘Kyk, Hy kom na jou…’ Sag.9:9; Joh.12:15
Die wyse waarop die Here, die ‘KONING’ van die konings van die hemel en die aarde in die persoon van Jesus Christus gekom het, laat ons absoluut verbaas staan! As Dienskneg én as Koning, maar as ʼn besondere dienskneg en ʼn unieke Koning!
Na ons almal: Die ongelooflike het werklik gebeur toe Hy as Dienskneg van Sy Vader na óns toe gekom het; nie om gedien te word nie, maar om te dien en Sy hoogste diens was toe Hy Sy lewe as losprys gegee het vir baie. Langs die nederigste weg het Hy gekom want ʼn slaaf was gereken as die laagste, onwaardigste soort skepsel op aarde. Sy wiegie ʼn krip en Sy sterfbed ʼn Kruis! Aan mense gelyk … was Hy die Dienskneg van God, die slaaf van Sy Vader aan almal. As ‘dienskneg’ is Hy Dienaar en Helper van almal … want WIE anders sou jou kon onderhou, beskerm, versorg en dra, as Hý nie daar was nie? Vir alle sondaars, die laagste, die vuilste en die onwaardigste in hulle nood, was alle deure na Hom toe, altyd wawyd oop! Sy hele lewe het Hy net gedien, genees en verlos, maar terwyl Hy dit uit genade vir ons kom doen het, dink baie min ooit daaraan om ook iets spesiaals vir Hóm te doen! Die Gadareners het Hom selfs gesmeek om van hulle WEG te gaan … en Hy het! Dis verbasend dat Hy – die Meester en Here – NIKS van Sy waardigheid verloor het toe Hy Homself só diep verneder het nie. Ook toe Hy Homself nog verder verneder het tot die diepste veragting van mense wat Hom bespuug en bespot het!
Na Israel: … nederig, regverdig en ʼn oorwinnaar! (Sag.9:9). Israel sou, soos alle mense, Hom wou verwelkom as Dienskneg, want as Dienskneg sou hulle Hom kon gebruik en rondstuur, maar nie as ’n nederige Koning op die rug van ’n donkie nie! Vir húlle was dít té nederig! Sy afkoms, gesin, nering, tuisdorp, volgelinge … en … op ʼn donkie!!! Hulle het Hom verag as ’n verloorder! Meeste dink nederigheid pas net by swakkelinge en verloorders! NEE!!! Uit Sy grootheid, almag en heerlikheid, vrywillig en nederig, op die rug van ʼn donkie, word Hy ons almal se toeganklike Verlosser! En ‘Regverdig’? Om REG te laat seëvier, geregtigheid te laat geskied; niemand onskuldig te straf nie, berouvolle sondaars op grond van Jesus se verdienste te vergewe en te red, maar géén kwaaddoener met sy sonde te laat wegkom nie! Vir hulle met ‘geraamtes in die kas’ is Hy veels té regverdig!
Hulle vrees Sy septer, vlug van Sy oordeel en verwerp Sy heerskappy! En, roep hulle spottend uit – wanneer en waar was Hy ‘miskien’ ’n ‘Oorwinnaar’? Hulle sien Sý oorwinnings nooit raak nie en is té blind en te oneerlik om die groter, gevaarliker en listiger vyand as Rome daar buite – die giftige slang in eie boesem – te herken en raak te sien, want eiegeregtigheid, skynheiligheid en selftevredenheid verhard en verblind jou om die triomf van hierdie unieke en enige KONING nooit te erken of raak te sien nie!
Oneerlike en onsensitiewe mense het géén benul van Sy oorwinnings in die stryd teen die Satan in die woestyn nie; in Sy keuse om weer af te klim van die berg van verheerliking na die kruis; van Sy roemryke oorwinning in Getsémané toe Hy vir God JA gesê het; van Sy gebed toe hulle Hom kruisig: ‘Vader, vergeef hulle, want hulle wéét nie wát hulle doen nie …!’ Wat ’n Wenner! Met ‘hierdie gesindheid’ het Hy die Satan en die wêreld oorwin!
CHRISTUS DIE KONING … (Vervolg. Sag.9:9; Joh.12:15)
Ook na jóú toe: Nog altyd op ʼn die rug van ʼn ‘donkie’: soos HY werklik is – as ’n KONING om ordentlik, gasvry en met ope arms en deure ontvang en GEKROON te word: (1 Joh.3:1-3). Baie het nooit eens gewéét nie dat net daar by die kruis, as gevolg van Sy gebed, van die eerste ware hart-bekerings, plaasgevind het – die hoofman van die soldate en die kwaaddoener aan die kruis! Uit Sy gebed, ‘Vader vergeef hulle …’ het Stéfanus hierdie les geleer en hy bid toe dieselfde woorde toe hulle hom stenig, (hy was Geesvervuld en vol van God se heerlikheid!) en daardeur kry Saulus die pyl van oortuiging in sý hart! Die mees verbasende en ongelooflike dinge wat ooit kon gebeur – ʼn Koning wat oorgee as Hy nie gedwing word nie, en nie hoef oor te gee nie; wat oorgee sonder om iets van Sy majesteit, heerlikheid en oorwinnings-krag prys te gee! Hierdie ís nie ’n verloorder nie!
Liewe vriend, hierdie KONING se oorwinnings word nie behaal deur krag en wapengeweld nie, want Sy koninkryk is nie uiterlik en van hierdie wêreld nie, en Sy doel is heeltemal anders – nie om sondaars te verdoem nie, maar om harde harte deur LIEFDE sag te maak en te wen, want dáár – in hulle harte – word Hý dan gekroon. Vandag nog woed hierdie stryd nie daar ver of daar buite nie, maar in óns binneste waar Hy met LIEFDE die oorwinning behaal! ‘Ons het Hom lief omdat Hy ons éérste liefgehad het’. Dis vir geen mens moeilik om Hom lief te hê nie, want Hy het dit so maklik gemaak – Hy het óns eerste liefgehad – nie toe ons ‘soet’ seuntjies of dogtertjies was nie, maar wrede, besoedelde en afskuwelike sondaars! Toe Hy homself oorgegee het om vir sondaars te sterf het Hy nie verloor nie, maar die grootste oorwinning ooit behaal! Op hierdie beginsel en op hierdie alleen, is die koninkryk van die Koning … die koninkryk van die hemele … vas gegrond en 2 millenniums het bewys dat al die aanslae uit die hel nie so iets kan oorweldig nie … en nooit sal vernietig nie! (N.B. Mat.16:18: ‘Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie’; Joh.1:5 ‘En die Lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie’).
Die vraag is – wanneer gaan Sy tyd van ‘Dienskneg’ – om nog altyd net te ‘dien en bedien’ by jou en my verby wees? Alles hang van onsself af! As jy Hom net ken as jy Hom nodig het en Hom soos ʼn ‘spaarwiel’ wil gebruik, sonder om Hom ooit as jou Erekoning te eer en te kroon, beteken dit net eenvoudig – jy vee jou voete aan Hom af, want Hy bly net Dienskneg! Luister mooi – Sy tyd van ‘net Dienskneg’ is verby! Jou tyd om Hóm te eer vir Wie Hy IS, het aangebreek! Weer kom Hy vandag na jou toe – nog steeds nie in prag en praal, op ʼn wit pronkperd nie – maar nog altyd op ʼn donkie! EK en JY kan Hom verhef en verhoog tot die één plek wat Hom toekom – die TROON van ons hart! Abdikeer jou troon vir Hom! Hý word dan Koning en jý het die eer as Sy dienskneg! As God jou ware innerlike; jou bose hart van hoogmoed en ongeloof aan jou openbaar soos koningin Ester ‘Haman’ aan Ahasveros, sal jy seker net so min as Ahasveros, dit nie kan GLO dat só ʼn slegte, bose ‘Haman’ ooit by jou kon kom nes maak het nie! En jy het hom al die tyd as ’n eregas verwelkom en vet gevoer (met ‘braaivleis en wyn’)! Word eerlik, ontbloot ‘Haman’ en laat hom sterf! Kroon dan jou wettige Koning!
CHRISTUS, DIE LIG Joh.1:5; Joh.8.
‘God is LIG en geen duisternis is in Hom nie’ (1 Joh. 5:12). ‘So lank as julle die LIG het, GLO in die LIG, sodat julle kinders van die lig kan word’ (Joh.12:36). ‘EK IS die LIG vd wêreld …’ (Joh.8:12). Elke ware Christen weet dat LIG een van God se vernaamste eienskappe is! Die Bybel sê dit. ‘God is LIG en geen duisternis is in Hom nie’, verwys na God se heiligheid wat spreek van Sy geregtigheid, waarheid en betroubaarheid. ‘GOD IS LIG’ word gewoonlik verbind met ‘GOD IS HEILIG’. Dit spreek ook van Sy ewige bestaan, want voordat Hy eers op die 4de skeppingsdag die son, maan en sterre geskape het, het Hy reeds op die heel eerste skeppingsdag gesê, ‘laat daar LIG wees’… (en daar was lig!). Dit kon Hy sê, omdat Hyself en Hy alleen, vanaf alle ewigheid af die BRON en oorsprong van die LIG is!
In die Evangelie van Johannes is díé Evangelie waarin die eerste 5 verse ooreenstem met die eerste 5 in Genesis, en waarin Jesus Christus direk voorgestel word as GOD. Hy getuig in Johannes 1:4,5: ‘In Hom was lewe en die lewe was die lig van die mense. En die LIG skyn in die duisternis… en die duisternis het dit nie oorweldig nie’ (1 v.5). Alles dui daarop dat op daardie oomblik (soos Griekse werkwoord aandui) – toe AL die mag van die duisternis, soos dit verpersoonlik was deur die duiwel self, ʼn doelbewuste en desperate aanslag op die LIG gemaak het om dit uit te doof, het die ‘LIG’ in die Persoon van Jesus Christus heerlik, finaal en beslissend oor die duisternis getriomfeer! Dit het gebeur deur Sy oorwinning aan die kruis en is bewys deurdat Hy toe uit die dood opgestaan het. Toe Hy uit die donker graf uitgebreek en die dood se wrede angel verwyder het, het die LIG van die WêRELD in sy volle krag en glorie in donker harte begin skyn op daardie eerste kroningsdag van God se verlossingsweek. Dit het begin skyn in die harte van mense wat dood was deur die sonde en die misdade, om hulle deur die wedergeboorte drasties en duidelik te verander van kinders van die nag en duisternis, tot kinders van die dag en die lig!
Aangesien aanhoudende stikdonker duisternis so skrikwekkend is soos die ‘donker gat’ in die Kaap se kasteel en ‘ewige duisternis’ op verlore siele wag, is elke mens se dringendste nood seker om by die ware LIG – die ‘Lig vd wêreld’ – Jesus Christus self, uit te kom! Alleen by Hóm en deur Hom sal Sý vreugdevolle, vrymakende, helende, lewegewende LIG in jou siel kan deurbreek; ʼn LIG wat jou innerlik sal verlig; ’n lig wat nooit weer uitgedoof of verdof hoef te word nie! Kom ons help mekaar om vandag nog vrywillig en met vreugde na die LIG toe te kom … die ware LIG wat van Golgota af skyn en wat só ʼn verskil sal maak … sóós die verligting wat dit bring as die helderste lig skielik in ’n gevaarlike stikdonker situasie aangeskakel word! Die sékerheid wat dit bring is soos daardie blinde wat Jesus genees het ondervind het; hy wat uitgeroep het, ‘een ding wéét ek, ek was blind, nou sien ek’!
Op die vraag, wat sal ek vind as ek nou na Hóm toe kom as die Lig van die wêreld? is daar 3 antwoorde in Johannes hoofstuk een. Mag dit vir almal wat dit lees, ’n goddelike openbaring wees; ’n openbaring wat die grootste verskil in hulle lewe sal maak!
CHRISTUS, DIE LIG (Vervolg Joh.8)
1. ‘DIE WAARAGTIGE LIG was aan die kom in die wêreld …’ As jy na Hóm toe kom, sal jy die waaragtige Lig vind! Nie ‘iets’ nie, maar ‘Iemand’ – die Waaragtige self. Hý is waaragtig want Hy is daardie Een wat daar was en ewig daar sal wees! Hý is waaragtig want Hý is absoluut betroubaar. Hy is die Een wie jy altyd kan vertrou, wat nie draaie met jou loop of leuens verkondig, of leë beloftes maak nie. Hý is die ‘waaragtige lig’ wat skyn … tot in diepste dieptes van elke mens se lewe; sy hart, gedagtes en sy dade! Vir Hom kan ons NIKS wegsteek of verberg nie! Die mediese ‘tonnel’ sê vir die spesialis amper alles wat hy wil weet van die toestand van jou liggaam, maar dit sien en sê vir hom niks van wat in jou gedagtes aangaan en wat in die dieptes van jou siel en gewete skuil nie. Jy gaan daar deur sonder dat ’n enkele ander mens sal weet van al die gruwelike planne, gedagtes en begeertes van jou bose, verdorwe en bedrieglike hart! Maar in Hebreërs 4:13 sê God, ‘alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het’! Hoekom sal ons wag tot daardie dag wanneer al ons gedagtes, begeertes, motiewe en dade op God se ‘groot skerm’ oopgegooi sal word? Wat sal meer skrikwekkend wees as dit?
2. ‘DIE OPGAANDE LIG’ (Luk 1:78) is nou reeds aan alle mense goed bekend. Selfs voor Sy letterlike verskyning soos die Morestêr in die Ooste wat die nuwe dag aankondig, het selfs die eerste mense van die ou tyd al begin weet dat Hy kom. Jesaja voorspel die maagd sal swanger word; Daniël die tyd; Miga die plek en Sagaria die wyse (op ’n donkie). Die Morestêr het verskyn en dwarsdeur die Skrif het die ‘Son van geregtigheid’ al hoe duideliker en helderder begin skyn, totdat die ‘opgaande LIG’ wat die hele wêreld verlig, heerlik sigbaar geword het in ‘GOD wat vlees geword en onder ons kom woon het!’ Watter verskoning sal ons hê as ons geweier het om Sý ware lig raak te sien, dit te gryp en die krag daarvan te ervaar. Want net soos God ook ons wonderlikste orgaan, die oog, geskape het sodat ons die effek en werking van fisiese lig kan waarneem en duidelik tussen lig/duisternis kan onderskei, het God nog ʼn wonderliker geestelike oog – die gewete – in elke mens se boesem geskep, plus die allerbeste ‘GPS’ – die Woord van God – om te kan onderskei tussen skoon en vuil, waarheid of leuen, reg of verkeerd, lewe of dood en vernaamste van alles … om presies vas te stel wat elkeen van ons tot op hede met JESUS CHRISTUS gedoen het?
3. DIE SKYNENDE LIG! Die LIG skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie! HOE skyn dit? Sonder geraas, maar só kragtig dat dit die duisternis deurklief en verdryf met ’n spoed van 200,000 kilometer per sekonde! Dit is die spoed waarmee die Here God as die ‘Lig’, die vors van duisternis tydens sy rebellie teen God uit die hemel laat val het! ‘Want God, wat gesê het dat daar uit die duisternis LIG moet skyn, het in ons harte geskyn om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus’ (2 Kor.5:6).
Sy lig maak jou deurskynend eerlik, dan ook berouvol. Dan skakel God ook Sy weerkaatsende lig wat lewe gee in jou binneste aan! Kinders van die lig! (4 keer). Jy het ʼn keuse: Word nou ʼn ‘kind van die LIG! KIES die LIG met jou hele hart en wese en moet dan jou ‘lamp’ nie onder die maatemmer toemaak nie, maar sit dit op die staander, sodat almal wat inkom die lig kan SIEN!
CHRISTUS DIE ENIGGEBORENE (Joh. 1:14,18)
Eniggeborene (1:14) en Eniggebore Seun (1:18). Baie min mense verstaan werklik die waarde en geweldige betekenis hiervan: Die ‘Eniggeborene wat van die Vader kom, vol van genade en waarheid (Joh.1:14). Dit is die enigste keer waar Johannes die selfstandige naamwoord, ‘Eniggeborene’ gebruik, maar in vers18 en in 3 ander plekke verbind hy dit met ‘eniggebore Seun’. ‘Eniggeborene’ beteken NIE die enigste wat ooit gebore is nie, maar die unieke of enigste van sy soort. Dit het niks te doene met ʼn fisiese geboorte soos ons dit ken nie want Jesus Christus, die ‘Seun van God’, is nooit geskape of gebore nie. Hy IS en WAS en sal vir ewig dieselfde WEES gelyk aan God en self ook God (Vgl. Heb.11:17 waar Abraham Isak, sy eniggeborene offer). Eniggeborene beteken Enige, kosbaarste … Dit beteken God se unieke Seun! Dit beteken dat Christus, by Sy geboorte as Mens, nog altyd ook God was, steeds IS en ewig sal wees. Ook dat y wHyHy die enigste ooit IS wat die verlore mensdom en die sondige wêreld, weer met God kon versoen.
Daar is nog ʼn woord wat hierby aansluit: ‘Eersgeborene’; Maar selfs dit beteken ook NIE eerste in tyd nie, maar eerste in rangorde (Verg: Ps.89:20: ‘Ek het Dawid, my kneg, gevind … Ja, Ék sal hom ‘n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde’ (Ps.89:27). ‘Ek is vir Israel ‘n Vader, en Efraim is my eersgeborene’ (Jer.31:9). ‘Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene (die eerste) kan wees onder baie broeders’ (Rom.8:29). In Kolossense 1:18 en Openbaring 1:5 is Hy ‘die Eersgeborene uit die dode’ … d.w.s. die Eerste wat uit die dood uit opstaan om nooit weer te sterf nie!
Die eniggebore Seun wat ‘in die boesem’ van die Vader is, dié het Hom verklaar (Joh.1:18). Hierdie aanhaling spreek boekdele: Sewe keer in die Evangelies noem die Vader vir Jesus, ‘my GELIEFDE SEUN’! Hy wat in die boesem (naby of binne die hart) van die Vader was, verklaar aan ons die Vader (v.18). Verklaar beteken eksegese (exegesis) en beteken noukeurig ondersoek, ontvou, verduidelik, openbaar. Johannes 3:16 sê nie: Só lief het God toe sy Seun gehad dat Hy Hom gespaar het nie, maar eerder: ‘só lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom GLO nie verlore mag gaan nie, maar die Ewige Lewe kan hê’. Toe Hy die Een in sy eie boesem gee, was dit so goed asof Hy Homsélf gee – losgeskeur uit sy hart! Jy GEE mos jou lewe vir jou Geliefde!
Joh.1:18: Die eniggebore Seun wat ‘in die boesem’ van die Vader is, dié het Hom verklaar. Hy is wel van voor die grondlegging van die wêreld bestem, bepaal en afgesonder om ‘geslag’ te word, soos die korrekte vertaling van Openbaring 13:8 aandui: ‘And all those dwelling in the earth will worship it, those of whom the names had not been written in the Book of Life of the Lamb, having been slain from the foundation of the world’ (Literal Translation, I.S.Version e.a.). In Afrikaans sou die letterlike vertaling kon wees: ‘En al die bewoners van die aarde sal hom (die dier/Antichris) aanbid, almal wie se name nie (van die grondlegging van die wêreld af…?) in die boek van die lewe van die Lam wat (van die grondlegging van die wêreld af) geslag is, geskrywe is nie’. Plaas asseblief die woorde en klem op die regte plek!
CHRISTUS DIE LAM (1:29-36; Ek.12:5)
Bloedvergieting word deur God vereis: Die Skrif leer dat God ‘van voor die grondlegging van die wêreld ʼn plan van redding aangekondig het omdat elke mens, as ʼn rebel en oortreder van God se gebod, voor ʼn heilige God skuldig staan met geen mag om homself te red, geen middel om homself los te koop en geen manier om homself van sekere oordeel te vrywaar nie. Die plan was die boodskap van ʼn ‘LAM’ wat in die sondaar se plek geslag sou word! Hebreërs 9:22 sê: ‘Sonder bloedvergieting vind geen vergifnis plaas nie’. Om die sondaar se lewe te red, moet die plaasvervanger sy lewe aflê in die plek van die sondaar. ‘Enige iemand wat gewillig is om sy lewe vir jou af te lê, kan jy volkome vertrou!’ Die LAM is die sleutel, die deur tot die lewe!
Van Adam af was Al die ‘lammers’, eers vir Abel; toe in die plek van Isak en vir die Israeliet se eersgeborene in Egipte, die uitgesoekte lammers van die skape. Maar tog het daar deur eeue heen die één vraag gebly: ‘Waar is díé Lam … God se ‘Lam’?… daardie EEN, die belangrikste wat al die offers van duisende lammers sou vervang en vervul sodat dit nooit weer nodig sou wees om nog ʼn lam te slag om óns met God te versoen nie! Tot die dag toe Johannes uitgeroep het: ‘Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Treffend dat in die 4 Evangelies net eenkeer van die Lam melding gemaak word – hier deur Johannes – in Handelinge net een keer en so ook in die Sendbriewe, maar in Openbaring nie minder nie as 29 keer! In die ewigheid sal die lied van die verlostes, almal wat Hóm as hulle Plaasvervanger herken en Hóm as hul Verlosser gevind het wees: ‘Ere aan die Lam …waardig is die Lam …’
Johannes het twee baie belangrike dinge van Hom gesê: ‘Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem’! Nie langer ʼn skaaplam vir ʼn persoon of huisgesin of nog ʼn lam vir elke sonde van elke sondaar nie, maar net EEN LAM, God se Lam vir AL die sonde van die hele wêreld se sonde! Jesaja 53:6 sê, ‘Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom’. Die één plek waar Hy ons Plaasvervanger kon wees, was by die slagplek en ons lees, Hy is na die slagplek gelei! ‘Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie’ (Jes.53:7). By die ‘slagplek’ van die Kruis kniel ons. Dáár vind die wonder in óns plaas! Alleen dáár is ons ou lewe, ‘ons oue mens’, uitgekanselleer om plek te maak vir die wonder van ʼn nuwe lewe in Christus!
Johannes 1:35 sê, ‘dit is Hý wat met die Heilige Gees doop …’ En Matteus 3:11 voeg by ‘… en met vuur!’ Hoekom? Sodat ons gelouter en gereinig kan word. Jesaja 53:7 sê, ‘Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie’. Hierdie ‘Iemand’ wat só oorwin het, kan jy vertrou, des te meer as Hy daardie oorwinning namens jou behaal het en dit met jou wil deel om jou saam met Hom en onder Sy heerskappy, ‘meer as oorwinnaar’ te maak! En daar is net een plek van waar Hy ons sal doop met die Heilige Gees en vuur – en dit is vanaf die regterhand van God van waar Hy die heerskappy en die koningskap ontvang en oorgeneem het … met AL sy vyande ʼn voetbank van sy voete!
CHRISTUS DIE SEUN VAN GOD … (1:34,52)
Die eerste twee dissipels het Johannes se uitroep gehoor van, ‘dáár is die Lam …’ en ‘ek het gesien en getuig dat Hy die SEUN VAN GOD is …’! Johannes en Andréas het toe onmiddellik vir Jesus begin volg. Andréas het toe ook sy broer, Simon Petrus, gaan vertel en hom na Jesus gelei met die woorde: ‘Ons het die Messias gevind!’ In die evangelie van Johannes wat vir Jesus Christus direk as God voorstel, is daar inderdaad sewe getuies wat Hom as God en die Seun van God verklaar het: Johannes die Doper (1:34); Natánael (1:50); Petrus (6:69); Jesus self (10:36); Maria (11:27); Johannes die Apostel (20:31) en Thomas wat uitgeroep het: ‘My Here en my God!’
Jesus se eerste onderhoud met Simon Petrus het sy hele lewe drasties verander. Die voortvarende, onstabiele en impulsiewe Simon wat riet beteken, kry die belofte-naam Petrus wat rots beteken, want só sou God hom verander! Die derde dissipel, Natánael (Bartholoméüs), het onmiddellik in Hóm as die Messias GEGLO, want hy was diep getref deur die feit dat Jesus hóm éérste geken het, nog lank voordat hulle mekaar vir die ontmoet het! Verbaas roep hý uit: ‘U is die Seun van God, die Koning van Israel’! Toe Natánael uitroep: ‘Rabbi, U is die Seun van God, die Koning van Israel’ is dit asof Jesus vir hom sê, NEE Nataniël, nie nou al KONING nie, nou éérs ‘die Seun van die mens’. Daar is ʼn hele ent pad wat Ek eers moet stap voordat Ek by die Troon sal uitkom. En dit is die enigste pad! Petrus roep in Matteus 14:33 uit: ‘Waarlik, U is die Seun van God’! Nie alleen die Seun van God nie, maar ook GOD DIE SEUN, in essens dieselfde; een met God en gelyk aan God in wese, mag, majesteit, heerlikheid, heiligheid … almagtig, alwetend, alwys en alomteenwoordig! Selfs die duiwels het dit ook erken dat Hý waarlik GOD was! (Markus 3:11; Luk.4:41).
Toe Thomas ontdek dat Jesus leef, roep hy met verbasing, ontsag en heilige eerbied uit: ‘My Here en my God …!’ As God die Seun, was die Here Jesus die hemel se Liefling. In die ‘boesem’ van die Vader waar Hy volmaakte eenheid met die Vader en die Heilige Gees geniet het, was Sy hart nogtans in beroering oor die lot en die nood van die mensekinders. Maar dit was ʼn ander storie toe die ‘Seun van God’ na die aarde gekom en ook ‘Seun van die mens’ geword het. Nou was Hy binne bereik van die grypende hande van haters en moordenaars, en almal wat in Sy eie skepping teen Hom in opstand gekom het!
Om te dink dat Die Seun van God gewillig was om Die Seun van die mens te word! Na die aarde te kom wat Hyself geskape het om vervolg, beledig, bespot en deur Sy eie skepsels vermoor te word! Nie as GOD daar vêr bo in die hemel, buite ons bereik en onverskillig oor ons lot nie, maar tot by elke verlore mens! Dat Jesus Christus Homself vrywillig verneder het om as ʼn mens net soos ons, tot BY ons as verlore en hulpelose sondaars te kom! As Seun van die Mens het Hy nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys; gekom om te soek en te red wat verlore was! Filippense 2:6-9 sê, Hy het nie aan Sy posisie in die hemel en aan Sy status as God krampagtig vasgeklem nie, maar in alle opsigte aan ons gelyk geword en die gestalte van ʼn dienskneg aangeneem, en in die gestalte as mens het Hy Homself nog verder verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe … JA!!! … die dood van die Kruis, die dood van ʼn vervloekte misdadiger!
DIE NUWE LEWE Johannes 3
Nikodémus, die selfversekerde hoofrabbi van Israel, sien die tekens en erken dit as bewyse dat Jesus ’n ‘leraar is wat van God gekom het’, maar van die feit dat Jesus die Messias kon wees, is hierdie ‘professor’ onseker. Aan hóm verduidelik Jesus daardie nag die wonder van die wedergeboorte, die kern van die Evangelie – GOD se deel – die kroon-kant van die muntstuk as Hý hierdie sondaar uit genade wederbaar! Die mens se kant is bekering: ‘Bekeer julle en GLO die Evangelie …!’ (Markus 1:15). Jesus beantwoord sy vrae en beklemtoon die ‘moet’ van die wedergeboorte.
Hoekom is die wedergeboorte dan so uiters noodsaaklik? Omdat Jesus Christus self hierdie boodskap – en dit vir die eerste keer – met ʼn plegtige ‘voorwaar, voorwaar …’ kom verkondig wat net soveel gewig en krag as ’n eedswering dra! As iemand nie wedergebore word nie, kan hy/sy die koninkryk van die Koning nie sien en daar ook nie ingaan nie! (Johannes 3:3,5). Die één vereiste en enigste paspoort waardeur sondaars by God se heilige hemel kan ingaan is, ‘Julle móét wedergebore word’ (v.7). Daar is nog twee ander redes waarom elke mens éérs wedergebore moet word:
Eerstens: Die Bybel sê ’almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God’ en ‘Die siel wat sondig, die moet sterwe!’ Elke mens wat self deur woord, daad, gedagte of gesindheid gesondig het, is reeds veroordeel weens sy eie misdade en sy persoonlike rebelse houding teen sy Skepper wie se heilige wet hy verbreek en wie se liefde hy vertrap het. En elkeen ook wat nie IN die Verlosser, Jesus Christus GLO nie, is reeds geoordeel! Om by God, deur Christus Jesus se verdienste vergifnis te ontvang, moet die sondaar sy sondes met berou bely en laat staan.
Tweedens: Elke mens is weens die erfsonde van nature geestelik dood. Daarvoor is iets méér as vergifnis nodig. Die siel wat DOOD is in sonde en misdade het ʼn geestelike ontwaking … ’n goddelike opwekking … die inplanting van Goddelike lewe – die ewige lewe – in sy siel nodig met die verlossing en vrymaking van sy sonde!
Die dag toe Adam gesondig het sterf hy wel, nie dadelik fisies nie, maar wel geestelik. Sy lewende siel word toe ’n geestelike lyk, sy verheerlikte liggaam ’n sterwende tentwoning en sy God bewuste gees ’n liglose lamp. Daardie dag toe die eerste Adam sy onafhanklikheid opeis en sy eie pad begin loop, word hyself sy eie ‘god’ en laat erf hy by geboorte sy ganse nageslag hierdie selfde gesindheid – om die rug op God te draai en om oor homself te heers. Die vry geskapene word toe ’n slaafse gebondene (Johannes 8:34); die eens magtige heerser word ’n hulpelose swakkeling (Romeine 5:6); God se vriend word ’n rebelse vyand (Romeine 5:8) en die deurskynend opregte ’n bedrieglike skynheilige (Jeremia.17:9)!
Hierdie kroon van God se skepping is daardeur jammerlik verblind en skandelik bedrieg; geestelik dood en op koers na ewige dood! God in Sy groot genade antwoord met iets so drasties as ʼn geboorte – die wonder van die wedergeboorte! Daarom het die Verlosser-God as ‘Seun van die mens’ gekom om te soek en te red wat verlore is, om deur Sy nuwe skepping wat Hy Self die wedergeboorte noem die vuil, verwoeste, verblinde sondaar tot ’n nuwe skepsel in Christus te herskep! (2 Kor.5:17).
‘VANDAG’ AS JULLE SY STEM ‘HOOR’ Joh.5:25; Heb.3:15
Op die grootste dag van jou lewe – ‘dáárdie dag’ – wanneer díé grootste wonder van die wedergeboorte met jou plaasvind, beteken dit letterlik jy word ‘van bo’ of ‘uit God’ gebore! ‘Daardie dag’ is jou groot en blye dag; die dag van die redding van jou siel! Wanneer die Lig skyn (van openbaring) is die slaaf vry, die swakke is uit die diep modderput opgetrek (Ps. 40); die sondaar is nou ’n kind van God; die skuldige is vrygespreek; die vyand is versoen en die opstandige rebel se hele gesindheid en natuur verander! Jy word nou ʼn ‘deelgenoot van die goddelike natuur’ (2 Pet.1:4) en die Trooster, die Heilige Gees, kom in jou woon (Romeine 8:11)!
Dit is ‘daardie dag’ as jy Sý stem hoor, wanneer Jesus jou toeroep: “Daar kom ‘n uur en dit is NOU …” (Joh. 5:25). Om 3 dooies op te wek, het Jesus net gespreek: ’n dogtertjie, ’n seun en Lasarus! Maar om verlore siele lewend en nuut te maak, het Hy gebloei! Die resultaat van Sy nuwe skepping is ʼn splinternuwe skepsel! (2 Kor 5:17). Dít is die grootste wonderwerk wat vandag nog met enige mens kan gebeur!
Op ‘daardie dag’ en tyd wanneer God jou besoek, jou voorkeer, met jou praat, jou arresteer, jou vasgryp en jou dikwels platslaan, gebeur dit! Wanneer Hy Sy woord vir jou lewend maak; Sy lig laat deurbreek, die Kruis voor jou ophou, dit in jou pad plant, jou na Hom toe trek en met Sý eie kwaliteit, goddelike liefde oorweldig! Jou hart is dan teer, gebroke en vol berou. Nou staan jy verbaas en eerbiedig in die lig van Sy ongelooflike regverdigheid, heiligheid vir Sy groot genade, vir ’n sondaar soos jy!
Dis ‘daardie dag’ wanneer die Heilige Gees jou lewe totaal oorneem en jou lewend maak! Soos die wind wat daar waai en jy hoor sy geluid voel jy die krag van die storm en skrik vir sy geweld; die takke swaai, die gras buig, die stof trek en net so wéét jy dat iets diep in jou wese gebeur! Jy kom tot ’n geestelike ontwaking en ontnugtering: Die Heilige Gees oortuig jou ‘van sonde, omdat hulle IN My nie glo nie’ en ‘… hy wat nie GLO nie is alreeds veroordeel” (Joh.3:18). Jy kry ’n diepe sieledors en ’n begeerte na God; ’n vrees en eerbied vir God en sonde hou op om ‘lekker’ te wees! Jy WIL daarvan verlos wees! ‘Dit is die Gees wat lewend maak …’ (Joh. 6:63). God het die ‘Gees van Sy Seun in ons HARTE uitgestuur en Hy roep: Abba Vader!’ (Gal 4:6).
Dit gebeur op ‘daardie dag’ as jy net na die Kruis wil kyk en glo dis vir jóú! ‘Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het. só moet die Seun van die Mens verhoog word …’ Net één kyk het die wonder dáár en dan in die woestyn laat plaasvind! Bekeer jou! Bely jou sonde en erken jou verlore toestand voor God! Maak ’n onherroeplike ommekeer en jy vind tot jou verbasing – jy het verander en is nie meer dieselfde nie, jy het jou rug vir altyd op sonde gedraai!
‘Daardie blye dag’ is die dag wanneer jy die omvang en die waarde van God se oneindige liefde vir jou en my begin besef. Net by één plek – by die Kruis – waar ek en jy die Seun van God eens deur óns sonde gekruisig het (Joh.3:16), maar nou het ons Hom daar ook as ons persoonlike Verlosser ontdek as die Seun van die Mens wat gekom het om te soek en te red. Hý is die Een wat vir jou en my, en in ons plek daar aan die Kruis gehang het, om die vloek en oordeel te dra en ons skuldbrief totaal uit te wis (Kol.3:14): Sy vergifnis is volkome en ons ontvang Ewige Lewe!
SEWE TEKENS VAN DIE ‘NUWE LEWE’ Romeine 6:4.
1) Daar is ’n sekere WETE dat jy ’n wedergebore kind van God is want die ware wedergeboorte is só ʼn drastiese, heerlike en vreugdevolle ervaring; die grootste en belangrikste wat ooit op aarde met ’n sondaar kan plaasvind. Dit is só ʼn belangrike saak dat jy en ek dit nie kan bekostig om dit NIE te wéét nie! Wanneer iemand jou direk en persoonlik VRA – ‘is jy al ʼn wedergebore kind van God’? en jy antwoord: ‘Ek hoop so … ek dink so … ek probeer my bes’. Of jy sê, ‘dit is mý saak’ en jy word daarby ook nog kwaad, dan plaas 1 Petrus 3:15 ’n groot vraagteken agter jou naam! Luister hierna: ‘Dit het ek geskrywe aan julle wat GLO in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan WEET dat julle die ewige lewe HET …’ (1 Joh. 5:13). Dan weet jy ook dat die Ewige Lewe nie ʼn ‘iets’ is nie, maar Iemand: ‘Hy wat die Seun het, het die lewe, wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie!’ (v.12). Daar is dus net 2 soorte mense – die wat die ‘Seun het’ en die wat ‘Hom nie het’ nie. As iemand nie vrymoedig daarvan getuig nie, is daar fout! Net in die Sendbrief van Johannes kom ‘weet’ talle kere voor – lees dit gerus. 2) Jy ontvang die Heilige Gees, Hy woon in jou (Rom.8:16) en getuig met jou gees dat jy nou ʼn kind van God is! Dan kan jy juigend en vrymoedig uitroep: ‘KYK, wat ‘n gróót liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word …!’ (l Joh. 3:1-3).
3) Daar is Verlossing van sonde bande: Jy haat sonde; het daarmee opgehou en jou rug daarop gekeer. Jy noem Hom ‘Jesus’ want dis Hý wat Sy volk van hulle sonde verlos. Van sonde, nie in sonde nie. (1 Joh.3:8,9). ‘Hy wat sy sonde bedek sal nie voorspoedig wees nie, maar hy wat dit bely én laat staan, sal barmhartigheid vind’.
4) Daar is nou ook dankbaarheid en blydskap: ’n Wedergebore mens, in die gloed van sy ‘eerste liefde’, is nie ’n geheime dissipel nie; hy getuig daarvan! Dit is nie eens nodig om daarna te vra nie; hy verwelkom elke geleentheid om te getuig. Hy kan nie daarvan stilbly nie! Het jy al ooit getuig? Dit gebeur dat wanneer jy daarvan getuig, dan kom die gebrokenheid, die hemelse blydskap en die onwrikbare innerlike getuienis dat God jou sy kind gemaak het. Jou hele lewe verander! Jesus Christus kom nou eerste in jou lewe; Hy word gekroon en gedien en Sý gesindheid van liefde, nederigheid, teerheid en heiligheid word gesien!
5) Daar is nou openbarende LIG in die Skrif! Dit is nou ongelooflik lewend en interessant! Jy lees en bestudeer dit graag. Die kosbare waarhede wat die Heilige Gees aan jou openbaar en wat jy nou verstaan, maak jou opgewonde! Jou hart word brandend en jy smag daarna om die blye boodskap te verkondig en met ander te deel. ’n Onweerstaanbare drang en innerlike roeping dat alle ander mense ook gered moet word en tot kennis van die waarheid moet kom. Dissipelskap is jou spontane en vreugdevolle keuse!
6) Daar is nou ’n sterk drang, dors en soeke na heiligheid; aan gelykvormigheid aan Jesus Christus (Rom. 8:29; Heb.12:14). Jy het Hom liefgekry en wil graag soos Hy wees. Hy is nou vir jou ʼn lewende werklikheid en aanbidding is ’n vreugde! 7) Jy is met God en met alle mense versoen: Jy kan diegene wat jou leed of skade aangedoen het, van harte en volkome vergewe soos Christus jóú vergeef het. Géén lus meer vir vergelding nie! Jy kan geen wrok, verwyte of bitterheid meer koester nie!
SEWE DINGE WAT WEDERGEBOORTE NIE IS NIE!
Toe die Here Jesus die gelykenis vertel het van die man wie sy huis se fondament oppervlakkig en op sand gebou het, het hy almal baie ernstig gewaarsku! Elke huis waarvan die fondament nie diep en op die ‘rots’ vasgelê is nie, kan uiterlik stewig lyk en mooi versierd wees, maar die dag as die storms werklik losbreek, sal dit val!
1. Wedergeboorte is NIE net ʼn ‘nuwe blaadjie’ omslaan nie, maar ’n nuwe skepsel of skepping wat diep en deeglik deur die wonder van die wedergeboorte in die mens se hart en wese, deur God die Heilige Gees bewerk word! Bloot net ’n ‘nuwe blaadjie’ kan vergelyk word met ’n skuldenaar wat sy skuldeiser versoek om van al die ‘ou skuld’ te vergeet, dan sal hy alles wat hy nog wil koop, kontant betaal!
2. Wedergeboorte is ook nie net nuwe besluite en beloftes wat mense nooit uitvoer nie. Die Skrif sê dis beter om nie te belowe nie, as om te belowe en dit nie te doen nie. Moenie dat die Satan van jou net ’n ‘ja-broer’ en ’n leuenaar maak nie!
3. Wedergeboorte is selfs ook nie suksesvolle ‘rehabilitasie’ (hervorming) nie wat eintlik net beteken – jy ‘poets’ die sondaar so ’n bietjie blink en breek suksesvol met uiterlike vuil, verkeerde, sondige gewoontes en praktyke, maar heimlik smag jy tog nog na die genot van die sonde. Jy trek net ʼn mooi, meer godsdienstige uiterlike kleed aan bo-oor ʼn innerlike verrotte hart! Net die bietjie ‘meer fatsoenlike sondaars’ troos en bedrieg hulleself met, ‘God is ’n God van liefde en genade’ maar hulle sit met ʼn valse vrede, want dan het jy jou net bekeer ‘van die bose tot die goddelose’!
4. Wedergeboorte is nie ’n vorm of ‘gedaante van godsaligheid’ waarin daar geen krag is nie. Hierdie ‘slap riem’ waarmee die Satan baie pootjie, is een van sy vroomste liegstories, naamlik: Dis heeltemal genoeg as jy as lidmaat van die Kerk aangeneem en gedoop is. Die vraag is egter, is jou naam al in ‘die Boek van die Lewe’? Jou eervolle geboorte, jou goeie werke, jou gereelde bid en Bybellees en jou tevergeefse ‘probeer’ om Christen te wees nog voordat jy werklik een IS, tel niks sonder die wedergeboorte nie! Dit is beslis NIE net blote kopkennis dat Jesus Christus die Verlosser is wat jou red nie. Daar moet ʼn hartsverandering wees; verlossing van sondebande en reiniging van jou sondige bestaan!
5. Wedergeboorte is ook nie ʼn oppervlakkige en dikwels ‘maklike’ bekering sonder ware berou nie, iets wat nooit uitloop op ʼn egte, God-gewerkte wedergeboorte nie! Dit is NIE net ʼn kwessie van, om ‘Jesus net aan te neem’ sonder dat jy nog ooit gewéét en bely het dat jy, met al jou vroomheid en voordoen ʼn verlore, hel-verdiende sondaar is nie! Hoe sal jy dan anders ooit seker wees Hý het jóú ook ‘aangeneem’?
6. Wedergeboorte is NIE om net te sê, ‘maar die Here is so goed vir my, Hy beantwoord my gebede en ek doen my bes’ nie! Het jy al ooit in Romeine 2:4 gelees, van God se goedertierenheid – dat juis dit bedoel is om jou tot bekering te lei?
7. Maar die één gevaarlikste valse fondament is sekerlik, uitstel … die ‘elfder uur’ wanneer die Satan sê: ‘môre is nog ‘n dag’! Onthou dat God altyd sê – NOU! Genadetyd is altyd NOU! “Wie weet of môre ooit sal kom, genadetyd is weldra om. Dan wag die ewigheid vir jou; O laat Hom in, waarom nie NOU?”
VRUG WAT BY DIE BEKERING PAS (Luk.3:8; Hand.26:20)
Dra dan vrugte wat by die bekering pas! (Mat.3:8); Dit is ’n bevel! WYS nou dat jy gered is en verander het! ‘Bekering’ tot God is uit dooie werke tot die lewe … tot vergifnis … tot die waarheid … tot redding … en vir sondaars tot bekering. In Galasiërs 5:24,25 word die sewevoudige VRUG van die Heilige Gees genoem: ‘Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing’. En in Efese 5: 9 volg nog drie: ‘die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid’.
Die ware bekeerde mens word die wedergebore Christen en dit is die wedergebore Christen wat dikwels in die Skrif vergelyk word met ʼn boom. Dit kan ʼn palmboom wees met sy koel skaduwee in die woestyn, sy regop groei en sy geurige dadelpalms, of ʼn amandelboom wat heel eerste die koms van die lente aankondig met sy pragtige, oorvloedige dos blomme en sy gesonde vrugte. Of dit mag daardie soort vrugteboom wees ‘wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit’. (Ps.1:2
Maar die enigste soort vrugteboom waarby die Here Jesus Homself vergelyk en óns by Homself insluit – is die wingerdstok … daardie nederige rankboom met die krom en onaantreklike stam wat so onaantreklik lyk; wat net mooi, aantreklik en waardevol word as dit vol blare, lote en heerlike, ryp vrugte is! Hý is die wynstok, ons is die lote. Van hierdie ‘lote’ verwag God as die Landbouer en Jesus as die wingerdstok vrug. Jesus self het gesê dat die ‘lote’ net vrug kan dra as hulle in Hom bly, want apart van Hom en sonder Hom kan hulle niks doen nie; hulle word afgesny en verbrand! Die lewende lote wat in Hom bly, snoei Hy reg dat hulle meer vrug en baie vrug kan dra … en blywende vrug! Dus kwaliteit vrug … vrug met ʼn lang raklewe!
. Jesus het in Lukas 6:44 gesê, ‘Want elke boom word geken aan sy eie vrugte’. Vrug wat Sy hart nooit versadig nie is die vrug van dooie vormgodsdiens in ʼn groef, en die enigste verskil tussen ʼn groef en ʼn graf is net die diepte daarvan! Dit maak sy besitter net misrabel, want dit beroof hom van lewenskrag en daar is ook géén borrelende lewensvreugde in sy godsdiens nie! Baie ‘speel’ godsdiens; hulle speel toneel en maak godsdiens ʼn ‘afslagwinkel’ waaruit hulle die meeste kan kry, maar wat hulle die minste sal kos! Nougesette wettiese werke word gedoen, maar die swaarste van die wet laat hulle na – die liefde en die barmhartigheid, en die trou! Wettiese werke is soos iets uit ʼn fabriek, gepaard met baie geraas, maar wat niks fabriseer wat leef, lewe voed en lewe voortsit nie. Waar die ware Christen soos ʼn vrugteboom vrug dra – in stilte maar in krag – vloei dit vanuit sy binneste en vind uiting in Christus-gesindhede, onselfsugtige motiewe, eerlike handelwyse en opregte lewenswyse!
Vrugte wat by ons bekering pas is dit wat spontaan uit die wortel en die stam van die boom kom, sonder vertoon of geraas! Dit is in werklikheid die Heilige Gees wat onsigbaar, maar kragtig werksaam is. Hy skep lewe en deel dit mee. Jy kan net op één manier vrug dra – soos ʼn vrugteboom; hy gee wat alles weg wat hy dra! Wat God vir hom gedoen het, hou hy nie vir homself nie – soos ʼn geplante boom by waterstrome wat self deel gekry het aan die ‘Boom vd Lewe’ – Jesus Christus (Op.2:7).
WET … GENADE … EN WAARHEID (Joh.1:17)
Ons lees: ‘Die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom’ (Joh.1:17). Moses gee die wet (628 wette), maar deur Jesus kom die klemverskuiwing na genade vir die wetsverbreker (v.14,17). Dan verminder Jesus die 628 wette na net twee! Die waarheid bly altyd dieselfde, maar toe dit deur Jesus as die volledige lig van God verskyn, was die lig te skerp en te duidelik. Mense het dit gehaat en Hóm gehaat wat dit só fel laat skyn het! Jesus het gesê: die waarheid sal julle vry maak! Dawid sê, God het ʼn behae aan waarheid in die binneste!
Genade is ʼn baie, baie belangrike woord en God se genade is genoeg vir die grootste en vuilste sondaar wat berou het. Sommige hou van ‘genade’ net omdat hulle hul telkens kan beroep op God s’n, asof Hy net een groot stuk liefdevolle genade is, maar hulle vergeet graag van Sy geregtigheid, heiligheid én waarheid! Sonder waarheid is daar geen genade nie! Die woord ‘genade’ word baie gebruik en misbruik om God se arm te probeer draai! God moet so verplig word om hulle sonde te ‘verskoon’ al gaan hulle daarmee voort! Hy moet voortdurend net vergewe!!!
Onthou net – al is genade verniet, is dit nie goedkoop nie, want om dit te laat kom en te laat werk, moes Jesus Christus self kom en die ontsettend dure prys betaal … en bewaar daardie mens wat alreeds baie genade ontvang het, maar dit nog altyd misken, misbruik en vertrap! Dit is net so goed asof jy trap op Jesus self en Sy offer!!! En trotse, selfstandige mense wat dink hulle het niks van God nodig nie, haat selfs ook hierdie woord ‘genade’, want om ʼn kandidaat daarvoor te word, vereis om arm en bankrot te word, en daarvoor sien hulle nie kans nie. Daarom is daar meer hoop vir die arm en hulpelose, sondaarmens! Genade staan nooit los van waarheid nie!
Deur genade bied God vergifnis ja, – onverdiende guns – maar daar is net een plek waar genade en vergifnis bymekaar uitkom – by dieselfde plek waar genade en waarheid mekaar vind – by die KRUIS! Dit is ook die enigste manier waarop jy, op grond daarvan, kan weet en vertrou jy het wel by God genade gevind en Sý genade deelagtig geword! Dr. A. Murray het gesê: ‘daar sal mense wees wat met die Bybel onder die arm en met genade op hulle lippe aan die hemelpoort verby sal skuur en daarvandaan reguit hel toe gaan’! Die woord ‘Genade’ kom net 3 keer in Lukas en net 4 keer in Johannes 1 voor, maar 78 keer in die Sendbriewe van Paulus want hý het dit oorvloedig ondervind! Selfs die woord ‘genadig’ vind ons net een keer in die Evangelies waar die Tollenaar uitroep: ‘O God, wees my, sondaar, genadig!’
Daar is ’n tyd wanneer en ’n plek waar genade vir elke mens beskikbaar is, maar dit vertoef dikwels nie te lank nie, dan gaan dit verby … moontlik vir altyd! Dit kan dus baie, baie gevaarlik wees om te lank met God se genade te speel!
‘En daarom sal die HERE met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees!’ (Jes.18:30). John Newton: ’n goddelose, harde, roekelose slawehandelaar, het ná sy bekering hierdie lied gedig: ‘Amazing grace how sweet the sound … that saved a wretch like me … I once was lost, but now I’m found … was blind but now I see’!
TWEE GROOT WATERSKEIDINGS (Johannes 6:60)
Baie van die skare wat vir Jesus uit Galilea gevolg en wat Hy gevoed en genees het, het ná die breking van die brood nie huis toe gegaan nie, maar hulle vooruit na die oorkant gehaas. Dáár het hulle, deur Jesus se preek oor, ‘Ek is die brood van die Lewe’ aanstoot geneem, veral toe Hy die toepassing gemaak en die uitdaging gerig het dat elkeen wat Hom enduit wil volg, ‘Sý vlees moet eet en Sy bloed moet drink’. Dit het slegs beteken dat hulle in Sy menswording moes glo en dat die kruisiging van Sy menslike liggaam die offer sou wees wat hulle met God sou versoen, en van hulle sonde verlos! Hulle het nooit verwag dat, om ʼn volgeling van Jesus te wees met ʼn prys en ʼn pad gepaard sou gaan waarop dit hulle alles sal kos van vereenselwiging, selfverloëning en selfs bereidheid om saam met Hom die hoogste offers te bring; om jou eie lewe tot die dood toe nie lief te hê nie! Toe hulle dit besef, het baie gesê: ‘hierdie woord is hard, wie kan daarna luister … en baie het daar weggegaan … omgedraai en nie meer saam met Jesus gewandel nie! Hier het die eerste van die twee tragiese groot waterskeidings plaasgevind. Die skare wat vir Jesus gevolg het, het húlle rug op Hom gedraai. Die vraag is as jy omdraai; by WIE haak jy dan in?
Hierdie soort mense se ‘geloof’ in Christus het nie ver en diep genoeg gegaan om hulle hele hart en wese, en die hoofdoel van hulle menswees radikaal te verander nie! In Johannes.2:23,24 lees ons van hulle wat ‘in Hom geglo het omdat hulle die tekens gesien het wat Hy gedoen het, maar Jesus het nie in húlle geglo nie!’ Hy het geweet hulle is oppervlakkig en halfhartig. Ook was hulle motiewe waarom hulle gevolg het, altyd onder verdenking; net rondom aardse voorspoed – brode en tekens! Hulle godsdiens was bedoel om soveel as moontlik vir hulleself daaruit te kry.
Met die ‘Jode’ van Judea (Jerusalem) het Jesus die duidelikste en die hardste gepraat – soos in Lukas 11:42-52: ‘Wee julle …’ is gelyk aan: ‘vervloek is julle …!’ Onder die dekmantel van godsdiens en talle wette vol moete en moenies was húlle harte so hard soos yster. Hulle het vooraf klaar besluit om NIE na Hom te luister nie! Toe Jesus met hulle praat oor vrymaking van die slawerny van sonde, ontken hulle dit heftig! Húlle het nog nooit slawediens verrig nie! (Joh.8:33)! In 8:59 wou hulle Hom stenig toe Hy vir hulle gesê het, ‘voordat Abraham was, IS EK’! Hulle het ‘klippe opgetel om Hom te stenig, maar Jesus het stilletjies (ongemerk) uit die Tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop … en só het Hy (uit hulle midde; uit die Tempel) vertrek’. Hier het die tweede groot waterskeiding plaasgevind toe Jesus húlle verlaat het! En tog lees ons in Joh.12:42 dat ‘selfs baie van die owerstes in Hom ‘geglo’ het, maar terwille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie …want hulle het die eer van mense meer liefgehad as die eer van God’.
Die derde groep volgelinge was die klein oorblyfsel getroue dissipels. Toe ander omdraai en sê, ‘hierdie woorde is hard …’ vra Jesus: ‘wil julle nie ook weggaan nie?’ Maar húlle gee net EEN antwoord: Hulle het reeds té ver saam gegaan om nou om te draai. ‘Here, na wie toe sal ons gaan, U het die woorde van die Ewige Lewe!’ Toe wend Jesus Hom hiervandaan net tot Sy lojale volgelinge. Met húlle deel Hy die mees intieme gesprekke en die mees goddelike en openbarende onderwysing; met lewende woorde uit Sy eie mond wat nêrens anders in boeke te vinde is nie!
INTIEME ERE-TITELS VIR DISSIPELS
In die Johannes Evangelie staan Jesus gereed om drie van Sy eie eienskappe – Sý allerbeste en óns allernodigste – met Sy dissipels te deel: “My vrede …”(14:27); “My liefde …”(15:9,10) en “My blydskap …”(15:11; 16:24: 17:13). Vanaf hoofstuk 10 spreek Hy hulle op ses maniere aan as: “My dienaar …” (12:26), “My vriende …” (15:14), “My skape …” (10:27), “My kinders …” (13:33), “My dissipels …” (8:31; 13:35) en“My broeders …” (20:17; Heb.2:11). ’n Kykie in Sy hart openbaar die teerheid daarvan; Sy liefde vir hulle, Sy omgee en Sy kosbare beloftes. Elke ware dissipel is vir Hóm uiters kosbaar ten spyte van Sy kennis van elkeen se agtergrond, swakhede, gebreke en mislukkings. Hy sou nooit een van hulle die geringste afkraak of veroordeel nie. Jesaja 43:4: “Omdat jy kostelik is in My oë … hoog geag is … en Ek jou liefhet – daarom sal Ek gee mense in jou plek en volke vir jou lewe … wees nie bevrees nie, want Ek is met jou.”
1. “My dienaar …” (12:26) “As iemand My dien, laat hom My volg en waar Ek is, daar sal My dienaar (Grieks: ‘Diakonos)’ ook wees. En as iemand My dien, sal die Vader hom eer.” Nie dieselfde as ‘diensknegte’ (‘doulos’ Liefdeslaaf) in 15:15 nie. Diakonos beteken daardie dienskneg wat altyd byderhand en beskikbaar is, en regstaan om te spring om enige doodgewone opdrag en nederige taak stiptelik uit te voer. Jesus Christus, die Seun van God, is vir húlle ook hierdie ‘dienskneg’ toe Hý laag buig om hulle voete te was! ‘Die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie’ (Mark.10:45).
2. “My dissipels …” (8:31; 13:35). ʼn Dissipel is die lojale volgeling van ʼn Leidsman soos Jesus. en die leerling van ʼn Leermeester soos Hy (nie ʼn stilsitter of wegkruiper nie). Jesus het sy dissipels uitgestuur, nie om soveel ‘bekeerlinge’ as moontlik te gaan maak nie maar dissipels, net soos húlle. Hulle moes hierdie dissipels ‘leer’ om alles te onderhou wat Jesus hulle beveel het. Wat is die hoofkenmerk van ʼn dissipel? “Hieraan sal almal weet dat julle My dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” ʼn Ware dissipel het ʼn kenmerkende ‘streep’ van Jesus … ‘hulle het hul as dissipels van Jesus erken’. Dis so goed asof Hy sê: ‘My afdeling heldhaftige soldate … My kampvegters … My ligdraers …!’
3. “My vriende …” (15:14) “Julle is My vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.” Vers 15: ‘Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het’.
’n Vriend deel in sy vriend se geheime, verstaan sy opdragte en beskerm sy naam en belange, terwyl ’n dienskneg net maar moet gehoorsaam. ‘ʼn Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is ʼn VRIEND wat sterker aanhang as ʼn broer’ (Spr.18:24). As jou beste vriend jou laat laat struikel en sondig is hy of sy eintlik jou grootste vyand! Net EEN mens het die eer gehad om 3 keer in die Skrif die ‘vriend van God’ genoem te word – Abraham! Maar elke dissipel het NOU die eer om ‘’n vriend van Jesus’ genoem te word. Is jou verhouding met Hom intiem, persoonlik en kosbaar? ‘Maak tog vriende met Hom, sodat jy vrede kan hê’.
INTIEME ERE-TITELS VIR DISSIPELS (vervolg)
4. “My kinders …” (13:33) “My kinders (Teknia is die verkleinwoord wat ʼn moeder besig wat met groot teerheid haar liefling kindjie aanspreek) nog ʼn klein tydjie is Ek by julle …” ‘KYK watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word … Geliefdes, nou is ons kinders van God …’ (1 Joh,3:1-3). “Julle moet My NAAM op hulle (Christene) lê.” (Num.6:27). “Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren spreek die HERE …” (Jer.3:12). Elke familie bestaan uit kinders met ʼn Vader en elke kind het ʼn Vader! (1 Joh.3:1-3). ‘Ek sal julle nie as wese agterlaat nie …’
Nooit is die kind van God op aarde, soos ʼn weeskind, alleen en sonder sorg en liefde nie! ‘Soos ʼn vader hom ontferm oor sy kinders, só ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees’. ‘En omdat julle kinders (‘huios’ wat volwasse is en kan erf) is, daarom ook erfgename …’ (Rom.8:17).
5. “My skape …” (10:27): (v.27). Die verhaal van skape en hulle herder kom reeds van ver af. Reg aan die begin het Abel ʼn lam geoffer. Maar skape is geneig om te dwaal: “Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop”. Die goeie nuus vir ‘skape’ is, daar is ’n Herder wat die verdwaalde een soek en vind. Dan leer Hy ‘hulle’ om te luister – ‘My skape luister (daar is ʼn oor wat hoor) na My stem en Ek ken hulle’ – en te volg, ‘Ek roep elkeen op sy naam en hulle volg My, omdat hulle My stem ken’ (Johannes 10)
In die Ou Testament lê die skaap sy lewe af vir die behoud van die sondaar se lewe, maar in die Nuwe Testament lê die ‘Goeie Herder Sý lewe af vir die skape! (D.L. Moodie preek oor ‘Die Goeie Herder’ en vra Sankey om iets pasliks te sing. Sankey lees ʼn gedig op die trein na Skotland, krip uit en bêre dit in sy Bybel. Dadelik inspireer die Heilige Gees hom om vir die heel eerste keer die trefferlied, ‘There were ninety and nine that safely lay, in the shelter of the fold. But one was out on the hills away, far off from the gates of gold …’ te sing! Duisendes is en word nog steeds deur hierdie lied aangegryp en gered!)
6. “My broeders …” (20:17; Heb.2:11). ‘Gaan na My broeders en sê vir hulle …’ – dat EK, Jesus, LEEF! Daar is nie altyd goeie rede om trots te wees op ‘broers’ van dieselfde familie nie! Wat van die ‘swartskaap’ in die familie? Daar is egter vir hierdie ‘swartskaap’ EEN wat nog beter is as ʼn broer! ‘Daar is ʼn vriend wat sterker aanhang as ʼn broer’! Dit is Hy wat nie vir jou skaam is nie, want dit is dan Hý wat jou verander en nuut gemaak het! ‘Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle (Sy) broeders te noem nie’ (Heb. 2:11). En die beste boodskap oor hierdie ‘Broer’ is dat Hy LEEF!
Die één waarheid wat die boodskap van die Bybel so uniek maak, so anders as ALLE ander godsdienste, is dat Jesus LEEF! Baie kan wys na hulle leier se graf! Maar Hebreërs 7:25 sê van Jesus: ‘Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hóm tot God gaan, omdat Hý altyd LEEF om vir hulle in te tree’!
WAT JESUS AAN SY DISSIPELS BEMAAK HET
Die afskeidswoorde van Jesus aan sy dissipels was baie innig, persoonlik en vertroostend, maar ook vermanend. Hy het ook die beste vir hulle gedoen wat ʼn mens vir iemand anders kan doen – Hy het vir hulle gebid! Maar die drie dinge wat Hy vir hulle nagelaat en aan hulle meegedeel het was vir hulle uiters belangrik en kosbaar … onmisbare aspekte van karakter en toerusting wat absoluut noodsaaklik is vir enige iemand wat homself ‘Christen’ wil noem! Hierdie drie dinge wat Hyself, deur die vure van versoeking, stryd en pyn só deeglik gesuiwer en gelouter en op hulle beste in Sy eie lewe ten toon gestel het, dat Hy dit nou nie net by hulle kon aanbeveel nie, maar aan hulle kon meedeel!
Wat Jesus hier beloof het om te GEE, klink soos ʼn testament wat iemand vir begunstigdes voorlees. Hierdie begunstigdes staan gereed om alles te erf! Die Testateur of Testamentmaker lees dit kort voor Sy dood self vir Sy dissipels voor en maak dit geldig, ook vir jou en my met Sy erewoord-waarborg, en onderteken dit met Sy eie naam! Ook met die belofte dat na Sy dood Sý ‘Eksekuteur’, die Heilige Gees, na jou toe sal kom met die goeie nuus dat dit vir jou is en boonop onmiddellik beskikbaar is, en dat jy dit dadelik in die geloof kan neem. Hy verséker jou dat dit die lewende God self is wat só ryk, magtig en vrygewig is dat Hy self dit onderskryf en waarborg. Dit sal vir Jesus Christus die grootste vreugde verskaf as ons net sal kom en by Hom sal aanspraak maak op alles wat Hy aan ons bemaak het.
Hierdie bemaking aan Sy dissipels bestaan uit 3 lewensbelangrike items naamlik, ‘My vrede … My liefde … My blydskap’. Bekyk en oorweeg dit deeglik. Die ware dissipel sal wéét dat hierdie dinge te doen het met geestelike stamina, trefkrag en karakter, en dat hy die egte daarvan nêrens anders – nie by die wêreld nie en ook nie by mense of dinge sal kan kry nie. Hy sal ook weet dat niks minder as dit die mas in die hitte van die stryd sal opkom en in elke toets sal kan slaag nie. Hy sal ook weet dat om hierdie eienskappe in al hulle dinamiese krag in werking te stel, dit vir hom of haar die hoogste offers, en moontlik die lewe self sal kos!
Is jy desperaat en gewillig vir hierdie, God se allerbeste, gawes? As dit so is en jy sê, dít is presies net wat ék nodig het maar hoe kan ek dit kry, dan wil ek aan jou meedeel dat jou eerste behoefte is om die Eksekuteur, die Heilige Gees, as die Eregas van die hemel in jou lewe te ontvang (Luk. 11:13). Hý sal die Here Jesus se volle, egte erfenis aan jou oordra, want Hý het gekom as die Een wat ALLES wat Jesus vir jou verdien en beloof het, aan jou te bestel. Hý kom as die ‘Paracletos’ of Trooster om Christus se belange en eer by jou en my te behartig en te handhaaf.
Hierdie drie dinge is inderdaad elkeen die VRUG van die Heilige Gees. In daardie mees intieme laaste gesprek van Jesus met Sy dissipels het Hy elkeen van hulle verseker dat hierdie eienskappe net gebore kon word uit die warm vure van toetsing en lyding van Homself, dat dit klaar gelouter en beproef is, en dat dit werk! Besef ons dat hierdie drie kosbare vrugte van die Gees net deur ons in stand gehou en voortdurend vernuwe kan word om hulle varsheid en krag te behou, as dit daagliks prakties uitwerk, juis in die moeilikste omstandighede en in die hitte van die stryd?
DRIE DINGE WAT HY AAN SY DISSIPELS BEMAAK
“My vrede gee Ek julle …” (14:27). Elke enkele mens in die hele wêreld se grootste behoefte is vrede, daardie soort wat jou siel versadig, innerlike harmonie bewerk en jou kalm, sterk en rustig maak, selfs onder die moeilikste omstandighede. Maar die Here sê, ‘géén vrede vir die goddelose nie’ en so lank as wat die wêreld (en elke mens) die Vredevors ‘kruisig’, sál daar geen vrede wees nie! O ja! Die duiwel sal probeer troos en bedrieg met ʼn valse vrede. Soos Jeremia 8:11 dit stel: ‘hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: VREDE …VREDE…. terwyl daar geen vrede is nie’. As die vrede van ‘die God van vrede’ innerlike heelheid en rustigheid beteken soos dit werklik is, en vrede met God en met jou medemens versoening beteken, is dit die bewys dat jy reeds die Vredevors leer ken het en jou stryd en belange, ja jou hele lewe aan Hom oorgegee het! Ware vrede wat net Jesus jou gee, is daardie soort vrede wat deur geen onreg, belediging, verlies of bedreiging versteur kan word nie. ‘En die vrede van God sal …’ (Fil.4:7)
“My liefde …” (15:9,10) Liefde wat gee kos iets en maak soms seer! Dit het één uitstaande kenmerk – dit gee al ontvang dit nooit self nie! Hooglied leer ons die kuns, die krag, die kosbaarheid en die kern van liefde. (Hooglied 8:6-7). Hierdie liefde in God se hart brand en vlam soos ‘n verterende vuur! Hy is ‘n jaloerse God en die Heilige Gees wat in ons woon, begeer met jaloersheid ons onverdeelde liefde vir Hom. Hierdie brandende, verterende vlam verhit en versterk, inspireer en motiveer. Selfs strome water kan die liefde nie uitblus nie en riviere kan dit nie afkoel nie! “Al wil iemand vir die liefde al die rykdom in sy huis betaal, hy sal daarvoor uitgelag word” Dit is nie op die mark te koop teen ’n prys nie, want dit woon in die hart van ‘n persoon! Hierdie liefde kan ook nie “iets” liefhê nie – altyd net iemand! As daar enige sprake van ‘n koopprys vir God se liefde is – dan is dit Jesus Christus – Sy lewe! As u dit wil bekom is die koopprys vir jou ook dieselfde – jyself! Niks minder as dit nie!
“My blydskap …” (15:11; 16:24: 17:13). Die singende hart het, volgens die Spreuke van Salomo, ’n wonderlike drievoudige vernuwende, versadigende en genesende werking. ‘ʼn Vrolike hart maak die aangesig bly … het gedurigdeur fees … bevorder die genesing’ (Spr.15:13,15; 17:22). ‘Die blydskap in die Here – dit is julle beskutting’. Die Dirigent van die skoonste melodie van blydskap wat van binne, uit die hart uit kom, is die Heilige Gees.
Die Here Jesus het bedoel dat alle mense Sy dissipels maklik sal uitken aan hierdie kosbare eienskappe. Só ’n dissipel wéét ook dat hierdie drie items nie ‘luukses’ is wat jy gratis ontvang om daarmee te speel vir eie plesier en ekstase nie; dat dit nie met ʼn ‘afstandbeheer’ aan geskakel word sonder dat dit deur jou werk om rekenskap te gee aan die Een wat jou daarmee vertrou het nie. Die ware dissipel sal ook wéét hierdie is die dinge wat Jesus self in die smeltkroes van Sy eie lewe so gelouter en gesuiwer het dat dit nou die kosbaarste, heiligste, en noodsaaklikste eienskappe en skatte is wat elke ware dissipel kenmerk. Só deeglik het Hy dit beproef en gelouter, dat Hy nou die volle krag en waarde daarvan kan waarborg; dat dit eienskappe en karaktertrekke van Homself is, dat dit dinamies helend en vernuwend werk, soos die doeltreffendste heel- en geneesmiddel; iets wat die wêreld niks van weet nie.
WAT VROUE AAN JESUS GEE
In die Evangelie van Johannes is dit treffend hoeveel plek en met hoeveel deernis, Jesus aandag aan vroue gee; hoe Hy goeie vroue eer en vir misbruikte vroue genade en genesing bied. Elke man wat óf ʼn vrou óf ʼn moeder, of ’n suster of ’n dogter het, het belang hierby. Die Bybel en geskiedenis leer dat die vrou ʼn vernietigende instrument van die Satan, of ʼn geheiligde instrument vir die lewende God kan wees waardeur geslagte, nasies en koninkryke óf gebou en gered, óf verwoes en verdoem kan word. Dank God vir elke goeie vrou wat haar huis goed bestuur, haar kinders vir God grootmaak en ʼn ongelooflike positiewe rol in God se groot plan vervul, en ’n groot bydrae lewer om die wêreld te red.
1. Die vrou wat Hom die beste geken het: Dit was Maria, Sy eie moeder wat aan Hom geboorte gegee het as die Seun van die mens: Maria was die één persoon wat geweet het vanwaar Hy is; dat Hy ook die Seun van God en God self is. Tydens die bruilofsfees waar wyn kort gekom het, het sy Hom reeds geken as die ‘ware wynstok’ wat sonder behulp van enige wingerdstok ʼn proses van wyn, wat gewoonlik maande duur, tot een oomblik kan verkort. Hy het gewone water in die beste wyn verander – daardie soort wyn wat vreugde bring sonder ʼn kopseer agterna, wat vrede gee sonder berou. So asof sy vir Hom wou sê: ‘Begin nou met jou roeping …!’ Jesus het haar liefgehad, gerespekteer en waardeer, en was haar onderdanig totdat Hy haar, toe Hy aan die Kruis gehang het, aan die sorg van sy geliefde Johannes toevertrou het.
2. Die vrou wat Hom as háár Messias ontdek het: Die Samaritaanse vrou wat Hom eers net fisies water kon gee om sý dors te les; maar Hý kon en het vir háár die ‘water van die lewe’ gegee wat haar siel kon versadig en haar in ’n nuwe skepsel verander! Sý ontdek Hom met daardie soort geloof van ’n dorstige na die water van die lewe en gee Hom toe haar hele hart! Toe hierdie vrou Hom as háár persoonlike Messias ontdek het, het sy haar gehaas om dit te gaan vertel! Sy doen dit só eg en opgewonde dat haar kragtige getuienis haar hele dorp in oproer bring, en hulle ook laat haas om self te gaan kyk WIE die Een is wat háár in een oomblik so ongelooflik verander het!
3. Die vrou wat Hom – haar Regter – ook haar Here genoem het: Sy was op heterdaad in egbreuk betrap (Joh.8:11), maar nie regverdig behandel nie, want wáár was die ander medepligtige wat skotvry weggekom het? Hoekom het die Fariseërs hom nie ook saamgesleep nie? So weerloos was sy en bevrees, dat sy maar geswyg het en nie één enkele woord vir haarself, of teen hom wat haar misbruik het, gesê het nie! Met uiterste verbasing staan sy stilswyend en toekyk, en sy hoor hoe hierdie ‘Advokaat’ uit die hemel haar saak opneem en hanteer; hoe Hý háár verdoemende oordeel eers op haar beskuldigers terug werp, en haar oordeel toe ophef! Toe hulle verdwyn en Hy vra: ‘Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou … het niemand jou veroordeel nie?’ gee sý Hom die eretitel ‘Here’ en sê, ‘niemand nie Here’ … en ’n sondares ontvang nie net genade en vryspraak, maar ook nuwe lewe in haar siel, sodat Hy kon wegstuur met die vermaning om nie langer te sondig nie!
WAT VROUE AAN JESUS GEE (vervolg)
4. Die eerste vrou wat Hom die Naam van‘Seun van God’ gegee het, was Martha: Sy is, soos die spreekwoord sê, die ‘dienende Marta’; maar met haar eerste ontmoeting met Jesus klae sy toe sy moes bedien – sy alleen moet hard werk en haar suster Maria sit net en help haar nie! Later, ná die opwekking van haar broer Lasarus, toe sy vir Jesus beter leer ken en innig liefgekry het, ontvang Sy Hom én al Sy dissipels egter op ’n nuwe, waardige manier as die Eregas in haar huis en bedien almal teenwoordig met blydskap, sonder een enkele klag of murmurering. Martha gee toe vir Jesus nie net haar diens nie, maar haar allerbeste – haar hart vol liefde!
5. Die vrou wat eers aanstoot aan Hom geneem het: Lasarus het gesterf en sy suster Maria gaan nie vir Jesus tegemoet nie! Sy was so teleurgesteld in Hom omdat Hy nie betyds opgedaag het om haar broer te genees nie! Toe beweeg Jesus nie nader nie, maar vertoef buitekant hulle dorp! Marta gaan roep haar en toe sy dadelik reageer en haastig opstaan en na Jesus toe gaan word haar verhouding met Hom, aan Sy voete, weer volkome herstel toe sy merk hoe Hy ween! Hy was weer háár Verlosser en die Beminde van haar hart. Die derde en laaste keer sit sy weer aan Sy voete en bring Hom haar hoogste en beste OFFER – dit wat elke jong vrou van daardie tyd as haar kosbaarste skat beskou het en NIE kon bekostig om te verloor of weg te gee nie!
Maria gee toe vir Jesus – ongevraag en vrywillig – haar spesiale, duurste, geurigste en baie kosbare salfolie wat sy bewaar het vir háár troudag! Sy stort dit uit op Sy hoof om Hom as Koning te kroon en te salf met die oog op Sy begrafnis; sy giet ook daarvan op Sy voete om Hom te aanbid en te dank vir die hele pad wat Hy geloop het om sondaars te vind en te red! Sy gee dit met vreugde as die ‘blomme’ vir Sy begrafnis en as ʼn tydige en gebroke offer; in totale oorgawe, dank, toewyding en aanbidding!
6. Die vrou wat Hom gesoek, gevind en gevolg het, tot selfs by Sy graf! Maria Magdalena. Wat sê haar handelwyse vir ons? Wat het vir Maria Magdalena, die laaste vrou in die Johannes Evangelie, so anders en so uniek laat optree? Jesus het haar reeds verlos toe Hy sewe duiwels uit haar uitgedryf het! Vir iemand soos sy wat goed geweet het watter groot dinge Jesus vir haar gedoen het was dit nie swaar, of ’n probleem om haarself nou volkome, as ’n liefdeslaaf , aan Hom weg te gee nie!
Maria Magdalena het alleen, daar die oggend baie vroeg, na Jesus se graf gegaan en tot haar verbasing en vreugde Hom daar lewend ontmoet! Dit was toe dat sy Hom die hoogste eretitel gee, naamlik die unieke, nuwe naam: Rabboni! Dat sy dit só gedoen het, is ongelooflik as ons die betekenis daarvan weet en dat sý die eerste en enigste vrou in die Nuwe Testament was wat Hom so genoem het!
Wanneer iemand die woord ‘Rab’ gebruik het, het dit net verwys na ’n gewone ‘meester’ gelyk aan ons erkenning van ‘meneer’. ‘Rabbi’ was egter gebruik as ’n eerbiedige erkenning van iemand met hoë waardigheid wat jou meerdere en moontlik jou leermeester is. Maar ‘Rabboni’ het verwys na ‘my grootste en mees verhewe MEESTER aan wie ek behoort en aan wie ek altyd die hoogste eer, bewondering en onderdanigheid wil betoon!
WARE LIEFDE VRA EN GEE DIE BESTE
As daar één ding is wat Jesus Christus die meeste van ons begeer, dan is dit ons egte, heelhartige, lojale, vrywillige, vurige en onverganklike liefde; díé soort wat nie net praat (en dikwels baie mooi kan praat en selfs bid) nie, maar doen! En Hý het die volste reg om wedersydse liefde van ons te vra, ‘omdat Hy ons eerste liefgehad het’ (1 Joh.4:19) en vir ons dieselfde kwaliteit liefde aanbied. Hy, ons Skepper, het Sy goedertierenheid (loving-kindness) aan jou en my betoon deur ons die enigste wesens in Sy ganse skepping te maak met die vermoë om God se eieliefde in ons boesem te huisves! Hy het Sý liefde aan ons só duidelik ‘geopenbaar’ (1 Joh.4:9) en ‘bewys’ (Rom. 5:8) toe Hy vir ons kom sterf het aan die kruis, dat ons dit maklik kan glo! Wát wil jy hê, moet Hy nog meer doen voordat jy dit sal raaksien, met oorgawe glo en jou kosbaarste skat – jou hart – aan Hom toevertrou, dat Hy dit met Sý liefde vervul?
As God se liefde in ons uitgestort word deur die Heilige Gees, is dit so maklik om Hóm ook uit dankbaarheid lief te hê, te eer, te bewonder en te aanbid! Dit sal uiters tragies, ja, ’n skande wees as jy Hom nie sal toelaat om ook Sy eie kwaliteit liefde in jóú hart deur Sy Heilige Gees uit te stort nie! Daarom sê Hy: ‘My seun/dogter, gee my jou hart’! Daar is hoegenaamd NIKS wat Hy meer as dit begeer om nou vir jou te doen nie! Die gloed en vuur van ware liefde wat uit God is gee jou, soos niks en niemand anders nie, ’n voorsmaak van die hemel en maak jou ’n vreugdevolle mens. Salomo beskryf die hoogste pieke van die liefde so: ‘Die liefde is sterk soos die dood, die liefdes ywer hard soos die doderyk, sy gloed is ’n gloed van vuur, ’n vlam van die Here’ Hooglied 8:6. Niks kan dit keer, beperk, uitdoof of demp nie!
Die grootste wonder van God se liefde, is dat Hý wat géén diskriminasie ken of ‘witbroodjies’ het, of net ‘soet seuntjies’ of ‘dogtertjies’ liefhet nie, ALLE sondaars ewe liefgehad het. Hy het vir die wat Hom kruisig gebid – ‘Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie’. Hy het sondaars liefgehad – toe hulle nog vuil en verlore was; nog vóórdat sommige uit genade deur die bloed van Jesus gereinig en in heiliges verander is – met ʼn liefde wat bloot menslike liefde duisendmaal oortref! Daarom is géén sondaar te diep verlore of te vêr afgedwaal, wat nie met Sy opsoekende, vergewensgesinde liefde bereik kan word of deur die dinamiese daadkrag daarvan in ’n nuwe skepsel, en in’n heilige verander kan word nie!
Nog ’n onbegryplike, groot wonder van hierdie liefde, is dat dit nooit verkoel, wankel, verander of vergaan nie; net so min as wat die God van liefde wat gister en vandag en tot in alle ewigheid dieselfde bly, kan verander! In Jeremia 3:12 roep die HERE die afkerige ‘Israel’ toe: ‘Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren …’ en in Hosea 14:5: ‘Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê’. Is dit jou passie om as ʼn ‘liefdeslaaf’ van Jesus Christus, aan Hom oorgegee te wees, om Sý eiendom en besitting te word? Lees dan Exodus 21:1-6! Toe ’n rou heiden, ’n ‘Rooi Indiaan’, vir die eerste keer die verhaal van Jesus gehoor het, hoe Hy alles verlaat en na die aarde gekom het, het dit hom só diep geraak dat hy opgestaan en sy strydbyl ‘vir Jesus’ gaan ‘gee’ het. Toe hy verder hoor dat Jesus te voet geloop het om sondaars te red, het hy weer opgestaan en sy perd gaan ‘gee’. By die verhaal van die kruis het hy self kom neerval en gesê, ‘nou gee ek myself vir Jesus!’
AS JULLE MY LIEFHET … BEWAAR MY GEBOOIE (Joh.14:15)
Dit is baie treffend hoe die ‘Apostel van liefde’ – Johannes – wat baie fyn geluister het hoe Jesus die liefde van God uitspel en aan die onderhouding van Sy gebooie verbind. In die Evangelies van Matteus en Markus kwoteer Jesus self die woorde in Deuteronomium 6:5: ‘Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag’, as ‘die wet’. Toe ’n owerste Hom vra wat hy moet doen om die ewige lewe te beërwe, vra Jesus hom wat staan daar in ‘die wet’? Toe ook hy in sy antwoord Deut.6:5 kwoteer sê Jesus, doen dit en jy sal lewe. Hier, in Johannes, sê Jesus keer op keer dat om Sy gebooie te onderhou, die kerntoets is van ware liefde. (Lees dit: Joh.14:15,21,23,24 en 15:10). Hy maak dit so eenvoudig want Hy reduseer die 10 ‘gebooie’ plus al die ander 628, tot net twee – liefde vir God bo alles en liefde vir jou naaste, soos jyself! En Hy maak dit ook so maklik en moontlik, want Hy sê ook: ‘Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is nederig en sagmoedig van hart en julle sal rus vind vir julle siele; want My juk is sag en My las is lig’. Onder Sý sagte juk, dra Hý die swaar kant en so vervul Hy en ek ‘die wet’.
In 1 Johannes 5:3 voeg die bejaarde Apostel van liefde, Johannes, iets baie kosbaar by as hy skryf: ‘Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar en sy gebooie is nie swaar nie’. Die geheim is – dis ʼn saak van die hart en praat van daardie een wie se eens sondige en verdeelde hart nou deur God se genade onverdeeld geraak het, met ʼn goddelike passie en ʼn heilige vuur van liefde in sy binneste! ʼn Vuur wat elkeen wat net lou is en nie koud of warm nie, beskaamd laat staan. Christus Jesus wil jou tot ʼn passievolle dissipel verander en verhef as Hý jou doop met Sy liefde! Wanneer dit ʼn saak van die hart word, sal jy God se wil vreugdevol, vrywillig en ‘van harte’ wil doen (Rom.6:17; Efes.6:6; Kol.3:23)! Jesus het geweet die soort liefde wat eerste beweeg en alles gee, is Sý kragtigste en onfeilbare wapen waarmee Hy die hardste hart sag maak en breek. Ook dat onmoontlik is vir die hardste sondaar om aanhoudend só ʼn liefde te vertrap, en in Sy gesig terug te gooi!
Jesus Self het die volgende gesê en dit beklemtoon: ‘Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees’! Salig is hy wat AL sy ‘aandele’ betyds verskuif het uit hierdie korrupte, onseker wêreld na veiliger, hoër grond en voortbou op die ewige, vaste rots – Jesus Christus – en Sý onwankelbare koninkryk! Dáár, by Hóm en aan Hom as Persoon, het hierdie soort Christen se hart vas en verkleef geraak! Dáár het hy gedurigdeur fees en smaak hy hemelse geluk en vrede, want sy verbintenis is met die Kroonprins van die Hemel wat hy liefhet en volkome vertrou!
Wat van jóú ‘eerste liefde’? Die van Israel was ‘soos ’n môre-wolk en soos dou wat vroeg weer verdwyn’ en met hulle was God raadop! (Hosea 6:4). Toe ʼn mede-student een oggend, om drie-uur, in C.T Studd se kamer lig sien, die deur oopstoot en vra wát op aarde hy so vroeg doen, was sy antwoord: ‘ek lees hier, in Johannes14:15, dat Jesus gesê het, as iemand My liefhet, bewaar My gebooie … En ek het Hom lief, nou merk ek al Sy gebooie, want ek WIL dit graag doen!’ Geen wonder nie; dat C.T. Studd alles kon offer – sy groot erfporsie, selfs sy vrou en kinders wat hy verlaat het; en dat God hom so kragtig – in 3 Kontinente kon gebruik!
AS IEMAND DORS HET … (Joh.6:37)
Twee keer roep die Here Jesus mense toe om na Hom toe te kom – eers in Matteus 11:28: ‘Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is’ en dit sien op ons redding. Maar in Johannes 7:37,38, by geleentheid van die laaste van die sewe groot Joodse feeste; op die laaste dag daarvan, roep Jesus staande en meer dringend uit: ‘As iemand dors het, laat hy na my toe kom en drink … Hy wat in My glo soos die Skrif sê, strome van lewende water sal uit sy binneste vloei’. Hy belowe dat elke kind van God die Heilige Gees sou ontvang en dat Hý ons nie net sou bewoon nie, maar ook vervul tot al die volheid van God se strome van lewende watter! ‘Salig is hulle wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word! Jesus spreek hier die dorstige aan; nie die dorstige na fisiese water, óf na die ‘slym’ en ‘rioolwater’ van sonde, of die gebarste reënbakke van die wêreld wat nooit kan versadig nie, want die Almagtige Skepper het jóú en my vir Homself geskape met ʼn leë plek in die siel waar net Hý alleen daardie ‘ander’ soort dors – die sieledors diep in jou binneste kan les!
Treffend dat die Heilige Gees in die Skrif dikwels na die mens se ‘binneste’ verwys; daardie diepste deel van sy wese. Jesus bedoel hier mense met ʼn baie sterk innerlike en onlesbare geestelike dors. Hy verwys ook na die skoon en rein innerlike waaruit strome van lewende water sal vloei. Dit is noodsaaklik om te besef dat Jesus by die put van Samaria ʼn duidelike onderskeid gemaak het tussen die twee soorte water – die van ’n put waar mense weer dors kry, en daardie ‘ander soort’ fontein wat Hý gee wat, as hulle daarvan drink, IN hulle ʼn wonderwerk laat plaasvind – dit maak hulle self dan ʼn fontein van lewende water wat opspring tot die ewige lewe!
Honger en dors is ’n bewys van blakende van gesondheid: Die beste teken van ʼn gesonde geboorte is wanneer ʼn pasgebore baba skree en dors na sy ma se voedsame melk! (1 Pet.2:2). Die wat reeds tydens hulle redding as moeg en belaste sondaars na Jesus GEKOM en by Hom vergifnis, vrede en RUS gevind het, ondervind die intense pyn van ʼn onlesbare geestelike dors wat veel erger en dringender kan wees as fisiese dors. Net húlle smaak ook die aanhoudende, volkome versadiging/vreugde van daardie lewende water wat Jesus in Johannes 4:14 aan die vrou by die put beloof het! Net húlle ag dit die moeite werd om na Jesus te kom … tot BY Homself om deur Hom vervul te word tot AL die volheid van God. Jy kom dit dadelik agter by hierdie mense – hulle harte loop daarvan oor, hul monde is daarvan vol en hulle gesigte wys dit!
Hierdie mense sal enigiets doen en alles gee, en geen moeite ontsien nie; hulle sal opoffer en uit hulle pad uit gaan vir ‘hierdie water wat Ek hom sal gee, wat IN hom sal word ʼn fontein van water wat opspring tot die ewige lewe!’ Net hulle is die mense wat smag na hierdie water; hulle wat daarna dors en dit só versadigend, verkwikkend en onmisbaar vind dat hulle nie genoeg daarvan kan kry nie! Keer op keer betaal hulle die hoogste prys daarvoor en jaag dit na! Waar vind jy daardie Fontein? Net by Jesus! (Hoogl.4:15). By Sy Woord … Sy kinders … in Sy teenwoordigheid en …in Sy diens.
Strome (riviere!) bly vars/vol/vry/vrugbaar – AS dit uitvloei … uit jou binneste in strome, bewys dit jy het die ‘Fontein’ ontdek en self daarvan begin drink! Jesus praat met die enkeling – as ‘iemand’ …’ want net Hý weet dat net enkeles die Fontein raak sien. Sal jý daardie ‘iemand’ wees? Of sal jy net ʼn ‘dam’ bly wat net opgaar en nie ʼn fontein nie; dan sal selfs die water in jou ‘dam’ net slyk en modder vergader!
EK GAAN OM VIR JULLE PLEK TE BEREI … (Joh.14:2)
Met hierdie woorde vóór sy kruisiging voorspel Jesus twee dinge wat Hy sou doen ná Sy opstanding en hemelvaart: Een daarvan is Hy nou mee besig – dat Hy gegaan het om vir sy uitverkorenes ʼn plek voor te berei en dat Hy dan weer sal kom om hulle te kom haal, sodat hulle vir altyd met Hom verenig en by Hom kan wees.
Vir WIE sal Hy kom? In die Bybel is die ‘bruid’ van die Lam die ‘ecclesia’ – die uitgeroepenes uit al die nasies; die geheiligde kinders van God wat soos Openbaring 7:14 dit sê, ‘dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, wat hulle klere gewas en wit gemaak het in die bloed van die Lam’ En Op.19:7:8 bevestig dit: ‘… die bruilof van die Lam het gekom en Sy vrou het haar gereed gemaak, en aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne …’ In beeldspraak is die ‘bruid’ die vrou van die Lam. Sy is die liggaam van Christus waarvan Hy die Hoof is, die geestelike huis of heilige tempel waarvan Hy die Hoeksteen is. Hierdie groep duur gekooptes met die bloed van Christus … húlle is die bruid van Christus, die verlostes uit elke volk en taal en stam en nasie. Die uiters belangrike vraag vir elke mens is – wie sal deel uitmaak van Sy uitgeroepenes, Sy gemeente, Sy liggaam en Sy ‘bruid’? EN moet ons let op wat presies die vereistes van die Bruidegom is as óns graag deel van Sy bruid wil wees? Virséker is ‘sy’ die reine maagd wat Paulus so graag volmaak aan Christus wil voorstel (2 Kor.11:2). Sy is die bruid op haar skoonste en op haar fleur … en haar klere is sonder vlek of rimpel, of iets dergeliks (Ef.5:25-17)!
Hoe seker is Sy koms? Die koms of wederkoms van Christus, waarin elke ware Christen glo, dui op die grootste gebeurtenis wat nog ooit in God se heelal plaasgevind het. Só akkuraat as wat die plek en die tyd en die manier van Sy eerste koms as Seun van die mens was wat deur die profete voorspel was en plaasgevind het; dat Hy gekruisig sou word, uit die dood uit sou opstaan en dan sou opvaar om te gaan sit aan die Regterhand van die Majesteit in die hoogte, net só en nog sekerder sal Sy wederkoms as hemelse Bruidegom wees! Hy self en Sy dissipels ná Hom het dit net so duidelik voorspel. Wanneer die plek vir Sy bruid klaar en gereed sal wees, en as sý ook self voltallig en gereed sal wees om Hóm te ontmoet, sal Hy verskyn. Skielik, onverwags en vir almal sigbaar – soos die weerlig wat uit die ooste skyn en tot in die weste skyn (Matteus 24:27) sal Hy weer verskyn! Hierdie keer nie om bespot, beledig en gekruisig te word nie, maar in groot majesteit en heerlikheid!
Hoe naby is Sy koms? Oor die nabyheid van Sy koms het Hy self aan sy dissipels vir ons die sekere, kenbare en sigbare tekens gegee wat ons almal duidelik kan waarneem. In die lig daarvan kan daar nie veel meer twyfel bestaan nie dat dit NABY is – voor die deur! Van die 736 profesieë in die Bybel is amper 600 reeds vervul. Baie min moet nog vervul word voordat Jesus kom.
Die Here Jesus het gesê dat dit net so sal wees soos in die dae van Noag, toe die vloed skielik die aarde oorspoel het. Paulus sê in 1 Korintiërs 7:29: ‘maar dit sê ek broeders, die tyd is kort …’ Hy skryf in 1Thessalonisense.5:2: ‘die dag van die Here kom soos ʼn dief in die nag’. En in vers ses: ‘Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees’!
DAN KOM EK WEER … (Joh.14:3)
Van die ‘PLEK’ wat Hy gaan voorberei het, het die Bybel net genoeg te sê om nou al vir ons te verseker dat dit by God, met die Here Jesus en saam met die verlostes en heilige engele sal wees. Dit sal ʼn heilige plek wees; ʼn ewige, heerlike, vaste en veilige tuiste, vol lig en ewige vreugde. ʼn Plek en toestand waar ons Hóm vrymoedig, sonder vrees sal sien soos Hy is en met vreugde sal dien. Dáár – sê Johannes – sal nie meer lyding, pyn, trane, droefheid of dood wees nie. Geen ouderdom of swakheid nie; net maar ewige jeug en gesondheid! Geen vyande, verwyte, haat of sonde nie want die duiwel is nie daar nie! Met verheerlikte liggame, gelyk aan die opstandings-liggaam van Christus (Fil.3:21), sal ons vir altyd BY Hom en aan Hóm gelyk wees!
Vir die wat nie vir Jesus waarlik liefhet nie, sal die heerlikheid van die hemel en God se heilige teenwoordigheid eerder ʼn ramp en ’n verleentheid wees! Die toets is of ons alreeds hier tuis voel in Sy teenwoordigheid; dikwels met Hom vertoef, daagliks met Hom wandel en Hom met vreugde aanbid. Ook WAT ons dink en maak van die Bybel; hoe ons dit lees en na Sy woord luister, of ons Sý stem ken en of ons elke dag en elke nag heilig en oorwinnend voor God en mense leef, met olie in ons lampe wat dit helder laat brand! As dit nie só is nie, HOE sal ons daarmee besig kan wees en dit verduur om ewig met en naby God te verkeer? Ons idee en verwagting van Christenskap is gewoonlik mos net – dat ons hier gelukkig moet wees en eers eendag dáár heilig, maar by God werk dit net andersom – as ons nie hier heilig kan wees nie, sál ons nooit daar gelukkig kan wees nie! Iemand het gesê – ‘to be with the saints above, that will be glory … but to live with them here below – that’s another story!’ Om met Christus in die hemel te kan wees, sal iets onbeskryflik wonderbaar wees (1 Korintiërs.2:9). Ewige vreugde sal op hulle voorhoofde wees. Hemelse sang, versadiging by die Boom van die lewe, verruklike eenheid met al die heiliges, die diens van engele en bo alles die heerlikheid wat van Jesus self sal uitstraal (1Joh. 3:2).
Die Joodse gebruike tydens ʼn huwelik gee ons ʼn goeie begrip wat Jesus bedoel het: Voordat ʼn huwelik voltrek kon word, moes die families ooreenkom oor die prys wat die bruidegom aan die familie van die bruid moes betaal. Daarná moes die bruidegom, terwyl die bruid haar gereed maak, ook eers vir haar ʼn huis bou wat sy pa dan moes inspekteer en goedkeur. As die groot dag dan uiteindelik aanbreek, vind die optog van die bruidegom plaas met basuingeklank en kom die bruid en haar gevolg te voorskyn. Tot op die geluid van die eerste basuin, het ook sy nie geweet wanneer haar bruidegom kom nie. Op die geluid van die laaste basuin moet sy reeds, ten volle gereed, hom buite staan en inwag. Dáár ontmoet hulle dan mekaar en vertrek saam na die bruilofsfees! 2 Kor.11:2; Ef.5:25-27; Op.19:7,8 en talle ander Skrifgedeeltes dui aan dat Christus, wanneer Hý weer kom, nie na ʼn stokou, vuil, louwarm ‘egbreekster’ van ’n vrou sal kom vir wie Hy skaam sal wees nie, maar na ’n reine maagd op haar fleur op wie Hy trots sal wees; een wat in Sy afwesigheid rein en getrou/lojaal en brandend van verwagting en liefde, op Hóm gewag het!
‘Middernag’ is die enigste woord wat die TYD van Sy koms aandui. Treffend dat die eerste wêreld-oorlog om 11uur, die elfde dag, die elfde maand, 1918 eindig. Die laaste wêreld-oorlog eindig egter presies om middernag in 1948!
DIE HEILIGE GEES AS DIE TROOSTER (Joh.14:16)
Die belofte van Jesus aan Sy dissipels was dat Hy hulle nie as wese sou agterlaat nie, maar dat Hy die ‘ander Trooster’, die Heilige Gees, na hulle sou stuur ‘om IN hulle te wees en BY hulle te bly tot in ewigheid’ (14:16). Daardeur verstaan ons dat Jesus self die een Trooster is en die Heilige Gees die ‘ander Trooster’. Die Amplified Bible het ses kosbare woorde om die woord ‘Trooster’ te verklaar: ‘Counselor, Helper, Intercessor, Advocate, Strengthener, Standby’. Die betekenis van die korrekte Griekse woord vir ‘Trooster’, wat net deur Johannes in sy Evangelie gebruik word en na die Heilige Gees verwys, en in sy eerste Sendbrief na Christus verwys, is nie letterlik Trooster nie. Maar ‘Parakletos’ wat in werklikheid eerder beteken, ‘nader geroep om by te staan en te help.
Parakletos: In die tyd van die Grieke, was so ʼn ‘Parakletos’ iemand soos ʼn regsagent of advokaat wat amptelik aangestel is as ʼn persoon se voorspraak of wettige verteenwoordiger. Sy viervoudige verpligting was: 1) Hy moes regstaan en gereed wees om self vir die beskuldigde in te staan, om hom of haar te verteenwoordig. 2) Hy moes self sy of haar saak – tot in die hoogste geregshof – ten volle behartig en verdedig. 3) Hy moes die naam van die een wat hy verteenwoordig beskerm en waar nodig, in ere herstel. 4) Hy moes waarborg gee om al die belange en besittings van die een wat hy in sy afwesigheid verteenwoordig te beskerm, te beveilig, in stand te hou en weer daarvan rekenskap te gee.
In 1 Johannes 2:1 skryf Johannes, ‘ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige’. Hieruit is dit duidelik dat die Here Jesus, namens óns, ons ‘Voorspraak’ of Parakletos’ by die Vader se regbank is. Hy is voortdurend daar as jou Verteenwoordiger om voorspraak te doen op grond van sý verdienste en jou belange so by die Vader, op bogenoemde viervoudige wyse te behartig. Ons lees in Hebreërs 7:25: ‘Hy kan volkome red dit wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree’. En in Romeine 8:34: ‘Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree’. Maar die ‘ander Trooster’ (‘Parakletos’) – die Heilige Gees – wat Jesus in Johannes 15:26 beloof het om namens Hómself na sy dissipels te stuur, is Jesus se Voorspraak by jóú en mý, om Hóm by óns te verteenwoordig, Sý saak te bepleit, Sý Naam in ere te hou en waar nodig in ere te herstel. Ook om Sý belange by ons te beskerm en te beveilig en Sý verdienste by óns te bedien, met al die nodige waarborge!
Hierdie ongelooflike funksies en optrede van die Here Jesus Christus in Sy amp as óns Paracletos by die Vader se regbank, en van die Heilige Gees as Jesus se Paracletos by ons, verseker ons van die liefdevolle voorsorg van ons Hemelse Vader, dat ons ‘regsaak’ by Hom van alle kante gewaarborg en beveilig is. Dat die Heilige Gees ook, waar nodig, as ‘Trooster’ na ons toe kom om stukkende harte heel te maak en te troos, is ook baie waar. Die Engelse woord, ‘Comforter’, is juis afgelei van twee Latynse woorde wat beteken, ‘with strength’. Hy kom nie net as Trooster om te bemoedig of as Voorspraak om Jesus se saak by ons te bepleit nie. Hy ‘kom’ wel om jou en my in die stryd te bemoedig en te vertroos, maar ook om ons vir die stryd sterk te maak en met krag toe te rus! (te ‘fortifiseer’ afgelei van ‘Com-fort-er’).
DIE ROL VAN DIE HEILIGE GEES: ‘EPICHOREGEO’ (2 Pet.1:3-11)
Jesus beloof in Johannes 14:18 dat Hy sy dissipels ‘nie as wese agterlaat’ wat soos weeskinders, verlate en sonder versorging of beskerming sal wees nie. ‘Ek kóm weer na julle toe’ het beteken dat Hy nie die Heilige Gees na ons toe sou ‘stuur’ terwyl Hyself daar ver in die hemel sou bly nie! Die werkwoord ‘kom’ (‘erchomai’) word in Grieks net in die teenwoordige tyd gebruik; dus bedoel Jesus hier sy dadelike en persoonlike, maar nie-fisiese terugkoms na hulle toe wanneer Hý, deur die Heilige Gees weer na hulle sou ‘kom’, lank voor sy uiteindelike wederkoms!
By hierdie kosbare belofte dat Hy dadelik weer na hulle sou kom, is ook hierdie versekering: ‘En KYK, Ek is mét julle tot aan die voleinding van die wêreld’ (Matteüs 28:20). Emmanuél – God met ons! Hy het aan sy groepie geliefde dissipels gesê dit sou beter wees as die ‘ander Trooster’ na hulle toe sou kom want Hy self as die Seun van die mens was op aarde net tot een plek beperk. Hy kon dus fisies, net by hulle wees, maar deur die Heilige Gees sou Hy self altyd en oral, sonder gebondenheid aan plek of tyd, in al sy opstandingskrag nie net met hulle, maar ook in hulle kon wees.
‘EPICHOREGEO’: In 2de Petrus 1:5 en 11 verskyn hierdie unieke Griekse woord twee keer. Eers in vers 5 waar ons dit ken as byvoeg (‘add’) en ook in vers 11 waar dit as verleen word (‘ministered unto’) vertaal is. Volgens Dr. A.B.Simpson word hierdie woord verbind met die wonderbare werkinge van die Heilige Gees in die lewe van die ware Christen. Die Grieke het hierdie benaming gebruik vir ʼn baie vername, beroemde en vermoënde koorleier – ’n ‘Epichoregos’. Aan hom is dit by groot feestelike geleenthede amptelik opgedra om met perfekte harmonie en groot vertoon van kleur en klank, en met ʼn verskeidenheid van musiekinstrumente en koorstemme, vername eregaste te vermaak. Hy moes self die koor afrig, in al hulle optrede lei, sorg dat alle koste betaal word en sorg dat alles perfek en glad verloop.
In sy kommentaar hieroor meen Dr. A.B. Simpson dat dit presies die rol is van die Heilige Gees wat al die eienskappe wat Petrus in 2 Petrus 1:3-9 noem, vir ons laat byvoeg en dit alles soos in ʼn optrede met koorsang, by ons wil laat sinkroniseer en harmonieer. By die geloof as fondament … word die deug van standvastige karakter gevoeg … en by karakter die kennis van goddelike wysheid en waarheid … en by die kennis die selfbeheersing van dissipline … en by die selfbeheersing die lydsaamheid van blymoedige en vreugdevolle uithou en aanhou … en by die lydsaamheid die godsvrug van oorvloedige lewenskrag … en by die godsvrug die (‘vurige’ 1Pet.1:24;4:8) broeder-liefde … en by die broederliefde die (agapé) liefde van God.
Die konteks van hierdie woord in vers elf het ’n ryke betekenis; ‘so sal dan ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk …’ Dit kan vertaal word met, ‘so ʼn ingang in die ewige koninkryk, sal julle met harmonieuse koorsang begelei’. Dit beteken dat al die goddelike eienskappe wat tydens ons aardse stryd verwerf is, dit wat ons in geloof bygevoeg het deur die kragtige werking van die Heilige Gees, ons by die hemelpoorte sal inwag, ons met hemelse koorsang sal verwelkom en ons dan na ons bekroning begelei! Hoe sal ons dan nie graag só ʼn belangrike en onmisbare Besoeker (die EREGAS van die hemel) ordentlik, met ons volle medewete en goedkeuring wil ontvang en met eerbied en ontsag wil behandel nie!
BREEKBAAR AAN DIE DUSKANT (Joh.6:35,41; Mat.14)
Hierdie teken wat Johannes beskryf meld dat dit garsbroodjies was en dat die mense agterna vir Jesus met geweld (brood) koning wou maak en dat Jesus toe vir hulle Homself, as die ‘Brood vd Lewe’, aangebied het. Juis by hierdie punt het daar ʼn waterskeiding plaasgevind. Baie sogenaamde ‘dissipels’ het net daar omgedraai en gesê: ‘Hierdie woorde is hard, wie kan daarna luister …?’ Aan die wat gekies het om NIE om te draai nie, het Jesus, deur die Heilige Gees, 3 uiters belangrike vereistes vir die kwaliteit van ware dissipelskap bekend gestel: Hulle hoor Hy is self die Brood …(‘wat uit die hemel neergedaal het’… aan die duskant). Hulle herken en bely Hom as die Seun van God (wat op die water loop aan die diepkant). Hulle ‘aanskou’ en leer (v.40) iets van die deernis van Sy HART (aan die oorkant).
Breekbaar aan die duskant: Hierdie kosbare voorbeeld en wet uit die natuur – van voedsame, vars brood van ʼn koringkorrel wat sterf, het Jesus gebruik en geestelik toegepas as ʼn absolute vereiste vir enige vrywilliger wat ʼn ware dissipel wil wees. Elkeen wat kies om maar net ʼn ‘volgeling’ of selfs net ʼn ‘gelowige’ te wees, wat wel kan saamsing: ‘Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom’, sal verseker die toets ‘dop’ en omdraai by hierdie plek van waterskeiding! Maar die ware dissipel roep daar uit: ‘HERE, na wie toe sal ons gaan … U het die woorde van die Ewige Lewe!’
Jesus het altyd, wanneer Hy die ‘skare sien’ soos skape sonder herder (in hulle nood), vir hulle INNIG jammer gevoel … soveel so dat Sy hart in beroering was, ‘omgekeer in My binneste …’ (Hos.11:8). Sy antwoord op die nood van die skare was dan elke keer Sy dissipels, (wat) Hy dan ‘na Hom toe geroep’ het. In Matteus 5:1-16, ‘toe Hy die skare sien’, het Hy die dissipels na Hom geroep en vir húlle gesê, ‘Júlle is die sout … die lig …’ In Matteus 9:36-38 sien Hy weer die groot oes en weer roep Hy húlle na Hom toe en sê: ‘die oes is groot en die arbeiders min, bid dan ….’ Hier sê Hy vir hulle: ‘Húlle hoef nie weg te gaan nie, gee júlle vir hulle iets om te eet!’ (Matteus 14:16). Sy probleem is nie by die wat omdraai nie, maar om die vrywilliger ʼn bruikbare dissipel te maak op net één manier – ‘AL die pad van die ‘koringkorrel’ …!
Hierdie krisis/nood het niks te doen met die afwesigheid van ʼn ‘broodlorrie’ nie! Sy bloudruk was Hy self as die ‘brood wat uit die hemel neergedaal’ het, en Sy hoofdoel is – om húlleself ook te verander/omskep in heerlike, vars en gaar ‘brood’ vir hongerige menigtes! Wat was Sy eerste hoofles? Breekbaarheid aan die duskant:
Om die Brood vd Lewe te word, moes Hy self die pad van die koringkorrel stap voordat Hy die varsgebakte, gaar ‘brood’ kon wees wat mense kon aangryp om hul dieper hongernood – die van die siel – te versadig! Om heerlike, vars, gaar brood voor te sit moet die ‘koringkorrel’ eers in die grond val en sterf’ voordat dit vrug kan dra; dan word die ryp graan met ʼn skerp sekel afgesny, op die dorsvloer getrap, in die meule gemaal, in die bakskottel geknie en in ’n warm oond gebak! Dan weer as vars, gaar brood word dit oorgegee, weggegee, gebreek en uitgedeel! Het Jesus so ‘iemand’ aan die ‘duskant’ gevind? Ja! ’n Seuntjie met garsbroodjies en vissies! Presies wat Hý ‘nodig’ het! Dit was nie nodig om hóm eers vas te bind en te beroof nie! Hy was ’n vrywilliger om sy alles weg en oor te gee aan Jesus!
BUIGBAAR AAN DIE DIEPKANT (Joh.6:35,41; Mat.14)
Hoe word die koringkorrel heerlike vars, voedsame brood? As dit volkome in Sý hande beland het en … Hy alleen dit BEGIN hanteer … Hy ‘mors’ nie net heilige dinge. As Hy eers na die hemel opkyk vir Vader se hulp om dit meer te maak, want min kan slegs baie word as God daarin is! As Hy eerbiedig daarvoor dankie sê, wys Hy hoe heilig dit vir Hom is, hoe innig Hy dit waardeer. As Hy dit dan ook seën om die kwaliteit te verhoog na ‘super’. Hy ‘mors’ nie met kosbare lewes nie, verhoog net die kwaliteit! As Hy dit dan BREEK – the blessing is in the breaking “Amazing what Jesus can do with a broken heart … IF He can get all the pieces.” Hy wil/en kan net gebroke dinge gebruik om dit weer UIT te GEE en dit aaneen AAN te GEE … totdat almal ‘nie net ʼn stukkie’ kry nie, maar versadig is!
In die hande-ketting om die heerlike brood aan te bied, het God 7 paar HANDE nodig! Terug na waar die seuntjie se pa se vlytige hande dit vrugbaar maak (saai, sterf en oes). Sy ma se tere hande wat dit eetbaar maak (tussen klippe maal tot fynmeel, knie, bak en inpak). Seuntjie se gewillige hande wat dit aandra, beskikbaar maak toe hy dit oorgee. (vrywillig!). Jesus se deurboorde hande wat dit bruikbaar maak. Hy sê vir die dissipels: Bring dit hier vir My hier! (JESUS alleen ken die kuns om te breek, uit te deel en weer volkome heel te maak). Die Dissipels se leë hande wat dit bereikbaar te maak. (Met Jesus BY hulle praat hulle eers die taal van ongeloof!’ Verwag geen wonderwerk nie; tel koppe …‘wat is dít vir só baie mense? Maak somme wat dit sal kos!). Beland in skare se oop hande om hulle weerbaar te maak! ‘Voorwaar, voorwaar …! As die koringkorrel nie in die grond VAL en STERF nie … bly dit alleen, maar as dit gesterf het, dra dit veel vrug …’ (Joh.12:24). AS dit NIE sterf nie, sal dit vergaan … soos miet in jou ‘koring’… en soos die mot jou klere verniel – of soos die roes jou yster verteer …!
Buigbaarheid aan die diepkant: (Mat.14)? Weg van die ‘herlewing’?… al aand … wind van voor … Jesus gaan nie saam! Dwing is nie soebat nie en Hy verwag van ʼn dissipel om Sy wil te respekteer. Nou is hulle ‘liefdeslawe’ wat hul ore spits vir Sy geringste wens. Verlaat ‘herlewing’ van ‘genoeg brood’ en vertrek na die oorkant van nood! Sy skuit van genade/geleentheid lê gereed, duidelike skeidslyn tussen skares ‘gewone mense’ wat net smag na sensasie; iets soos ‘brode’, ‘visse’ en tekens en wonders wat aardse konings kan gee – en ware dissipels wat dors na iets meer … ‘iets’ van Sý heerlikheid! Desperate mense met ʼn visie en ʼn passie is op soek na iets vars en nuut … iets dieper, hoër en beter! God se eerste roeping is “uit die duisternis tot Sy wonderbare lig” (1 Pet. 2:9); dan vir élke ligdraer Sy roeping tot “heiligmaking” (1 Pet.1:15; 1Thes.4:7); dan verder tot ’n meer intieme vriendskaps-verhouding, ’n beter vertrouens-verhouding, gekroon met ’n tere liefdes-verhouding. Dit ALLES opgesluit en saamgevat in elkeen se roeping om Sy “voetstappe na te volg” (1 Pet. 2:21).
Jesus het geweet van hul ‘gevare’ op land – die verharding van hul harte wat dáár niks verander het, gebreek of gebuig het nie terwyl Hy duidelik met hulle praat deur gebroke brood en mandjies vol ‘gebreekte’ stukke in elkeen se hand! Gevaar van voorspoed en sukses – hulle is ‘die skare se helde’ met vol mandjies! Gevaar van onherstelbare, ewige verliese op ’n maklike, populêre pad waar jy sonder veel inspanning net kan saamdraf, maar sonder dat jy dit besef rustig begin AFDRYF! (Afvalligheid begin in die hemel, die vaderhuis, op die fees, en dikwels IN Sy werk!) Gevaar van verdeeldheid waar elkeen sy ‘eie groepie’ bedien, sy ‘eie ding doen’ in die een hoek van die skuit! PARTYSKAP (Gal 5:20) is een van die allergevaarlikste soorte suurdeeg! Één gróót gebrek aan – ootmoed en onderdanigheid aan mekaar! (maal eers die koring en stamp eers die mielies, dan eers sal dit ‘bind’ anders bly dit ‘kaboe!’). Toe gebeur die wonder in die donker nag, op die diepwater – almal VAL vir die eerste keer voor Hom neer en roep uit, ‘waarlik U is die Seun van God!
BRUIKBAAR AAN DIE OORKANT (Joh.6:35,41; Mat.14)
Vergeet van ‘herlewing’ totdat jy ook eers leer om aan Sy voete te ‘val’. Duidelik nie die “roues” wat VAL nie, maar die “rypes” soos Abraham, Moses, Josua, Daniël en Johannes. RYP vrugte hang laag en kom maklik af. Die een wat maklik voor Hom neerval, sal sterk bly staan. As jy vandag buigbaar is – is jy môre bruikbaar!
Toe Hy sien die dissipels is in doodsgevaar in ‘n geweldige storm – toe KOM Hy! Hy is altyd betyds! OPENBARING WIE HY IS! Hy loop dan op water! Dis nie so wonderlik nie want Hy is mos God! Maar dat Hy ook vir Petrus op die golwe laat loop! En dat Hy met die water en die wind kan PRAAT! ‘n Ander soort “vrees” het hulle beetgepak – WIE IS HY? – dit het iets aan die dissipels gedóén! Toe “KOM” Hy na die bewende dissipels en roep – EK IS! HOU OP OM TE VREES!
Hy KOM na hulle want Hy is bekommerd oor hulle – nie oor die gevaar van die storm nie, maar oor ’n baie groter GEVAAR. Daar is niks met hulle diens en vaardigheid met roeispane verkeerd nie, maar BAIE met hulle HOUDING teenoor Hom! Op land was ’n duidelike illustrasie van Sy almag en oorvloed daardeur wat Hy gebreek het, maar nie één van húlle het dáár met verbasing gebroke neergeval, en met bewondering, aanbidding en OORGAWE aan Sy voete nie! Die PLEK was op die stormsee en die TYD daarvoor was in die vierde nagwaak – toe dit baie, baie donker, gevaarlik en koud was! Vir Jesus was die berg die plek van Sy KRAG; op see die plek van Sy ALMAG waar Petrus kon uitroep: “Waarlik, U is die Seun van God!” Hulle het Hom nog net geken as die Seun van die Mens; nou ook ontdek hulle Hy is waarlik GOD! Hy is die groot “EK IS”! Paulus – WIE IS U HERE? Hier BUIG hulle en VAL voor Hom neer in die skuit wat ’n ongemaklike plek is om te VAL!
Bruikbaarheid aan die oorkant. In angs, afsondering en doodsgevaar het hulle Hom in Sy majesteit en volheid gevind en met soveel blydskap, eerbied, geloof en aanbidding saam na die oorkant geneem dat hulle dadelik ook vir almal aan die oorkant laat HOOR het WIE Hy is, en WAT Hy kán doen! ALMAL het gou geweet wat op see gebeur het en geweet dit is HY wat hulle probleme kan oplos, hulle siele kan red en hul siekes genees. Oorkant was minder geraas, maar meer krag; minder vertoon maar meer vrug; minder reputasie, maar meer karakter! Reputasie is wat jy voor mense is; Karakter is wat jy in die donker is! Geen wonder nie – hierdie ‘oorkant’ word één van die plekke waar mense soveel geloof bykry – húlle raak net Sy soom aan! Daar is ’n groot verskil tussen die duskant en die oorkant:
Aan die duskant wil hulle mense wegstuur – oorkant maak hulle mense bymekaar!
Duskant dien hulle mense – oorkant dra hulle gebrokenes nader.
Duskant klae hulle dis laat – oorkant sê hulle dis nog lekker vroeg!
Duskant is hulle harte louwarm – oorkant is hulle harte brandend!
Duskant dra hulle brode – oorkant dra hulle die boodskap: “Hý IS DIE BROOD!”
Duskant raak Jesus mense aan – oorkant raak húlle net Sy soom aan!
Duskant is daar helingskrag – maar oorkant is daar herlewingskrag!
DIE HEILIGE GEES OORTUIG … VAN SONDE (Joh.16:7-11)
Jesus Self sê dit : ‘As Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van …SONDE, geregtigheid en oordeel. Maar die groot verskil is dat die Heilige Gees, as Hy jou die eer aandoen om by jou besoek af te lê, dan kom Hy nie soos ʼn mens wat jou so maklik uit die hoogte aankla, skuldig bevind of dreig en vermaan om ‘jou sokkies op te trek en ʼn nuwe blaadjie om te slaan’ nie. Want Hý kom om te oortuig! Nie te beskuldig, verwyt, afskryf of te dreig nie, maar jou ‘oor- te haal’ en jou vrywillige samewerking en toestemming te verkry dat Hy God se spieël voor jou kan ophang; sodat jy kan SIEN wie en wat jy werklik is, op watter pad jy is en wat jou eindbestemming is. As Hý jou tederlik, maar dringend ‘oortuig’ (eerlik en vrywillig laat saamstem dat alles die volle waarheid en niks as die waarheid is nie) sal jy weet Hý hou ook ʼn wonderlike DEUR vir jou oop om betyds – in die dag van genade wat altyd NOU is –te kan omdraai en te vind daar is ʼn volmaakte Verlosser wat op jou wag!
Wanneer Hy die Heilige Gees na die sondaar wil kom is daar egter baie loopgrawe waarin die sondaar spring; net om van Hom en Sy oortuiging ontslae te raak: Vlug! Weg van die lig en waarheid wat hy onderdruk, verruil en aan ongehoorsaam is (Rom.1,2). Verskonings! ‘Niemand kan weet of hy gered is nie en geen mens is volmaak nie’. Kies die meerderheid; daar is veiligheid, al is almal maar louwarm …! ‘God is mos ’n God van liefde! Hy sal mý nooit in die hel verdoem nie’! ‘Daar is nog baie tyd … die elfde uur’?
Die Heilige Gees alleen kom met die betroubare Woord van God! Die eerste wat Hý sal sê is – hierdie God van liefde is eerste ‘heilig’ en sonde is vir Hom ’n gruwel! Dit verlaag, verneder, verwoes en verdeel en is die dodelikste wapen in die hand van die moordenaar! Buiten dat dit jou vermink en besoedel, is dit ook die dodelike tydbom van die Satan wat hy in elke mens hart geplant het. As God sê: ‘die sonde lê en loer voor jou deur’, sê dit die Satan hou jou dop en wag sy kans geduldig af om vuur by sy lont te bring! Die sonde is die skrikwekkende angel van die dood!
Dis maklik om maar net te sê, ‘ek is jammer’, maar wie is daar wat desperaat sal uitroep: ‘ek het gesondig teen die hemel en voor U’ … of … ‘teen U alleen het ek gesondig…?’ Josef het gesê, hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God? Was jy al ooit verlore? Het jy al ooit gebid: Wees my sondaar genadig? Hoekom is hierdie soort bewyse van ware berou so bitter skaars en vandag feitlik heeltemal ‘uit die mode’? Kan ons dan nie eers ‘raai’ dat die Satan ʼn hand daarin het nie?
Die Heilige Gees – as Hy ‘kom’ sal Hy jou ‘oortuig’ en as jy na Hóm luister, sal Hý jou blindheid genees, die gordyne wegtrek en jou wys hoe gevaarlik die sonde is, hoe aansteeklik dit is en hoe arrogant dit jou maak! Ook hoe misleidend dit is – hoe dit jou tevrede stel met jou eie geregtigheid, ’n werke-en-DOEN godsdiens wat by God as ’n besoedelde kleed gereken word! Hý sal jou ook wys hoe finaal dit is – dat jy verlore kan gaan, nie noodwendig deur wat jy gedoen het nie (want die grootste sondaar vind genade), maar oor EEN DING wat jy NIE doen nie – om nie IN Hom te GLO nie … (‘oortuig van sonde … omdat hulle IN MY nie glo nie’). Dit help nie om selfs aan Hom te glo as daar geen verandering, vooruitgang, getuienis of LEWE sigbaar is nie! Hy roep – KOM! Die vader hou die pad dop en die verlore seun ontdek God die Vader se arms is oop! Die sonde waardeur mense verlore gaan en voor geoordeel sal word is – ‘wat het jy gedoen met Jesus wat genoem word die Christus?’
DIE HEILIGE GEES OORTUIG VAN … GEREGTIGHEID (Joh.16:7-11)
‘Geregtigheid’ is een van die mooiste en noodsaaklikste woorde wat bestaan – nie net in die Bybel nie, maar in elke ordelike samelewing. Dit word deur elke eerbare mens behalwe die skelm, die leuenaar en die kwaaddoener verwelkom en waardeer!
Die betekenis van ‘geregtigheid’ is sékerlik dít – om reg te wees, reg te doen en reg te laat geskied. Dit kan net gebeur waar wet en orde reg ingestel en regverdig gehandhaaf word. Dit kan ook alleen werk waar die wetgewende en uitvoerende gesag volkome eerlik, regverdig, betroubaar en bekwaam is, én waar die onderdane gehoorsaam en onderdanig is om die reëls/wette stiptelik en vrywilliglik te gehoorsaam. Slegs dan is daar orde, sekerheid, veiligheid en vrede! Sonder wette is geen sekerheid … sonder gesag – geen orde … en sonder geregtigheid – geen vrede.
Die wyse waarop die Here God Sy wette ingestel het is – Hy verlos éérs die volk deur geloof in die offer van die Paaslam en gee dan Sy wet by Sinai. Alle ander godsdienste glo hulle moet éérs wetties werk en self probeer om deur verdienste gered te word. Die wonder van God se wette was in Sy toegeeflikheid – volkome vryheid om na hartelus van AL die ‘bome’ in God se tuin te eet, behalwe net EEN! Net by daardie één sou die mens moes ‘eksamen skryf’ om die toets van volkome vertroue in sy Skepper-God te slaag! Ons weet wat het gebeur toe hy gekies het om God se juk af te gooi. Hy het wetteloos geword en ʼn maklike en weerlose prooi van Satan geword! Vrees, wantroue, opstand en dood het ingetree. Toe kom JESUS, die Verlosser! Nog ’n wonder daarvan is die liefde en lankmoedigheid van God (1 Pet.3:20; 2:3:9). Sy verdraagsaamheid, goedertierenheid en lankmoedigheid (Rom.2:4) waardeur Hy, uit louter genade, Sý geregtigheid aan ons toesê en wil meedeel.
Hebreërs 1:1-3 sê: ‘In die begin … (maar nou) … in hierdie laaste dae het Hy tot ons gespreek deur die Seun, deur Wie Hy ook die wêreld gemaak het’. Die een klein stippeltjie in God se Groot Heelal vir Sy seun! Net HIER het die Kruis gestaan en net HIER is die mens geplaas; vir Homself bedoel! Maar net HIER het die Satan die mens versoek, verlei en laat val … hom wetteloos gemaak en in ongeregtigheid gedompel wat hom totaal onbekwaam en onwaardig as burgers van God se koninkryk gemaak het. Nie net onbekwaam en magteloos nie, maar ook onwillig en moedswillig … vervul (Rom.1:19) met … hoogmoed, haat, wantroue, kritiek en opstand teen God, Sy heilige wet en Sy Gesalfde – Jesus Christus! Daarom dat die ‘landbouers’ aan wie Hy die wingerd verhuur het die een ná die ander gestuurde vermoor het en uiteindelik ook die Eienaar se eie Seun! Maar Jesus – toe Hy Jerusalem op ʼn donkie binnegery en die skares geskree het: ‘Hosanna!’ wat beteken, ‘Koning, VERLOS ONS NOU’ nie gesê het: ‘Gee my ʼn perd, kry reg julle wapens en laat ons die Romeine bestorm en verjaag’ nie! Maar Hy het besluit: ‘Ek bly sit op die ‘donkie’ (nederig) en wys julle iets van My hart. Net daar het Jesus geween! Hy het geweet hulle sou Hom nie só aanvaar nie. Hy het weggedraai na die Tempel om die JODE daar te slaan, hulle uit te dryf en uit te roep: ‘die huis van my Vader moet ʼn huis van gebed genoem word, maar julle het dit ʼn rowerspelonk gemaak!’ Oppas! Sy oop hand kan wel in ʼn ‘vuis’ verander! Mense kan landswette breek en dalk daarmee wegkom, maar niemand, ja NIEMAND kan God se wette breek nie, dit sal jóú eerder breek! (Lukas 19:14).
DIE HEILIGE GEES OORTUIG VAN … OORDEEL (Joh.16:7-11)
Alleen die Heilige Gees kan die mens oortuig (nie beskuldig nie)… ook van oordeel. Dis dit ʼn woord waarvan mense niks hou nie, veral as dit dui op iets gelyk aan ʼn dagvaardiging voor ʼn geregshof! Die verskil is dat dit hierdie keer voor God se hoogste hof sal wees waar elke mens opgeroep sal word om persoonlik vir sy lewe, al sy dade en veral vir sy houding teenoor God en Sy genade-aanbod rekenskap te gee … met geen geleentheid tot appél nie! As ons in ʼn Skepper-God GLO wat alles geskape het en in ʼn Verlosser-God wat vir ALLE mense aan die Kruis gesterf het, dan is dit logies dat ons ook sal moet glo in ʼn Regter-God wat die reg, die vermoë en die verpligting het – AS Hy regverdig wil wees – om elkeen van Sy verantwoordelike skepsels tot verantwoording te roep. Dit is presies wat Hy gaan doen! Luister dus asseblief vir ʼn oomblik eerlik na hierdie feite wat jou geweldig mag seën!
WIE IS DIE REGTER? : Reeds in die Ou Testament het ons ʼn aanduiding toe een van die 3 engele (‘mans’) wat vir Abraham besoek het, deur hom aangesien is as ʼn ‘Man’ en uiteindelik deur hom aangespreek is as, HERE (Jehovah) – die Redder-God in menslike gedaante. Dieselfde ‘Man’ van Wie ons in Handelinge 17:31 lees: ‘God het ʼn dag bepaal waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ʼn ‘Man’ wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan ons almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek!’ Géén misverstand oor WIE Hy is nie! Dieselfde ‘Man’, toe Hy op aarde was, sê in Johannes 5:22: ‘Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee’. Hierdie ‘Man’ van hoë geboorte’ wat in Lukas 19:12 na ʼn vêr land gereis het om vir Homself ʼn koningskap te ontvang en dan terug te kom, is niemand anders nie as die Een van wie Daniël in 7:13 ook sê: ‘Ek het gesien in naggesigte en KYK, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ʼn mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae (Daniël 7:9) … en …aan oHHhHom is gegee heerskappy en eer en koningskap …’ Aan Hom, die Heilige, Regverdige, Ewige Seun en Verlosser is die oordeel toevertrou!
VIR WIE is die oordeel reeds klaar opgehef? : ‘Hy wat in Hom glo, word nie geoordeel nie …!’ (Joh. 3:18). ‘ … wie My woord hoor en Hom GLO wat My gestuur het, kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe’ (Joh.5:24). ‘Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat IN Christus Jesus is nie …’ (Rom. 8:1) ‘… wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak …Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is …!’ (8:33,34).
Maar beteken dit dat die kind van God glad nie voor Hom sal verskyn nie? Ja, hy sál wel; nie voor die groot wit troon nie, maar voor die ‘regterstoel’ van Christus waar die gelowiges se werke deur God se heilige ‘vuur’ getoets sal word. Dáár verskyn hulle; nie om veroordeel te word nie, maar loon te ontvang (2 Kor.5:10). Dis duidelik uit Lukas 19 waar die ‘Man van hoë geboorte’ wat na ʼn vêr land gereis het om vir Homself ʼn koningskap te ontvang, as gekroonde KONING sal terugkeer en elkeen van sy diensknegte wat Hy agtergelaat het met een pond om daarmee handel te dryf, na Hom toe sal ‘roep’ (v.15) om rekenskap te gee en loon te ontvang.
DIE HEILIGE GEES OORTUIG … VAN OORDEEL (vervolg)
OOR WIE is die vonnis klaar bevestig? Oor die ‘owerste van hierdie wêreld’ wat – Goddank – klaar geoordeel is! ‘…en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is’.
WIE IS HIERDIE ‘owerste van hierdie wêreld’? In Ef.esiërs 2:2 is hy ‘die owerste vd mag van die lug, die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk’. 2 Kor.4:4 praat van, ‘die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het sodat die verligting van die Evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie’.
Maar die Evangelie van Johannes stel ons verder op drie plekke bekend aan hierdie gesiglose, agterbakse, onderduimse aartsvyand van God en mense as … die ‘owerste’ van hierdie wêreld. Johannes 12:31 sê, ‘nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word’. Johannes 14:30 sê, ‘ … die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My NIKS nie’ en in Johannes 16:11 sê Jesus: ‘ … OMDAT die owerste van hierdie wêreld (klaar) geoordeel is!’ Dit is seker die beste nuus wat ʼn lydende mensdom kon gekry het, dat hulle grootste vyand se lot klaar verseël is. Hy is reeds klaar oorwin en veroordeel!
Hy is alreeds uit hemel gewerp, het reeds in die woestyn verloor, is reeds verpletterend aan die Kruis verslaan en by die leë graf is sy lot finaal verseël! Sy finale oordeel wag vir daardie groot dag wanneer die Oorwinnaar op die wit perd sy kop uiteindelik sal vermorsel! Die Satan, die Antichris en die vals Profeet sal tydens hulle finale aanslag finaal deur die Lam vasgevat en in die ewige verdoemenis gewerp word wat gemaak is vir die duiwel en sy engele,.
WIE IS DIE MENSE WAT ALREEDS VEROORDEEL IS?:
God sê in Johannes 3:18: ‘… maar hý (of sy) wat NIE (in Hom) GLO nie, is alreeds veroordeel!’ Die vonnis – om vir ewig dieselfde lot met die duiwel en sy engele te deel – moet nog net voltrek word. God gee so iemand nog geleentheid tot berou en bekering tot die lewe, maar net solank hy nog leef! AL wat hierdie skuldige en reeds veroordeelde moet doen om die oordeel op te hef, is om in Jesus Christus te GLO, dat Hy as plaasvervanger in sy plek gesterf en reeds die oordeel gedra het. Hy moet Hom as Verlosser aanvaar en aanneem, en homself volkome aan Jesus Christus oorgee. Wanneer hy die versekering en innerlike getuienis van die Heilige Gees ontvang het dat die Here Jesus hóm ook aangeneem en sy sondes vergewe het, moet hy Hom ewig daarvoor dank, eer en aanbid!
Helaas! Al staan die deur van genade vandag nog vir die sondaar so wyd oop, sal baie mense te laat uitvind dat hulle nooit gered of gereed was nie! Dit moet ’n verskriklike ontnugtering en verskrikking wees as iemand daardie dag voor hierdie Regter van hemel en aarde moet verskyn, en van Hom moet hoor – ‘Ek het jou nooit geken nie, gaan weg van My af …!’
GEBED VAN JESUS (Johannes 17)
Een van die grootste wonders van die menswording van Jesus, die Seun van God, was dat Hy so lief was vir Sy Vader en op aarde so diep van Hom afhanklik, dat Hy dikwels hele nagte in gebed deurgebring het; dikwels alleen op die berg. Die dissipels het opgemerk hoe Hy bid en eenkeer gesien hoedat … terwyl Hy bid … Sy aangesig stralend soos die son, en Sy klere skitterend wit geword het! Geen wonder nie dat hulle Hom gevra het om hulle te leer bid, want húlle gebedslewe was pateties en het eintlik net bestaan uit uitroepe wanneer hulle in groot gevaar of nood verkeer het. Hulle het nog nie vir Jesus as die Oorwinnaar wat selfs die dood en die hel oorwin het, geken nie. Maar toe die Heilige Gees uitgestort is en hulle met die Gees vervul is, het hulle diakens aangestel om na die gelowiges om te sien, want húlle wou AL hulle tyd en krag gebruik vir hierdie twee dinge – om te BID en die Woord te bedien!
Gebed is die asemhaling van die wedergebore mens se nuwe lewe! Daarsonder kan jy nie klaarkom nie! Jou binnekamer is die beste maatstaf van die diepte van jou geestelike lewe; die termometer van jou liefde vir Christus en die betroubaarste teken van die kwaliteit van jou verhouding met jou God. Lukas skryf vir ons meer oor HOE Jesus gebid het. Johannes weer, het meer onthou WAT Hy gebid het. So ʼn diep indruk het dit op Johannes gemaak en só ʼn blywende verandering in sy lewe te weeg gebring, dat hy die inhoud van dit wat Jesus vir dissipels van alle eeue in hoofstuk 17 gebid het, nooit weer kon vergeet nie. Hy kon dit woordeliks weergee en vir ons neerskryf. Hierdie gebed is SO belangrik omdat Jesus hierdie één keer die deur van ‘Sý binnekamer’ so effens wyer laat oopstaan het en hierdie dissipel wat naaste aan Hom was, die een wat teen Sy bors geleun het, het Hom ‘afgeluister’!
Jesus se gebed vir ‘dissipels’; die grootste, mees volledige en intense gebed wat ooit gebid is – die een in Hfst.17 – gee vir ons ʼn kykie in Sy las, Sy omgee en Sy liefde vir Sy eie. Jy kan vir niemand ʼn groter guns aandoen, as om vir hom/haar te BID nie. Veral as so iemand weet dat die bidder iemand is wat met God wandel en die pad na die Troon van genade ken. Daar kom ʼn dag in elke mens se lewe wanneer NET GEBED vir jou saak maak … niks of niemand anders nie!
As jy vandag séker is dat jy ʼn kind van God is, ʼn dissipel van Jesus, weet dan verseker dat Hy elke woord en versoek wat Hy tot sy Vader in Johannes 17 gerig het, Hy dit ook vir jóú bedoel het (v.20). En van hierdie feit, dat Hy steeds vir jou en my bid, lees ons telkens in die Bybel. Soos Hy eenkeer vir Simon Petrus by die naam gebid het toe die Satan begeer het om hom, tydens ’n groot krisis, soos koring te sif!
‘Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd LEEF om vir hulle in te tree…’ (Heb.7:25). Volgens hierdie teks is dit asof dit Sy lewensvreugde is om vir ons te bid! Lees ook Romeine 8:34. In Openbaring 5:8 lees ons van die ‘…goue skale vol reukwerk voor die troon van God, waarin die gebede van die heiliges is. Lees in Openbaring 8:3 verder van die hemelse Wese wat dit – die gebede van die heiliges – saam met Sy eie ‘baie’ reukwerk aan God op die goue altaar voor die Troon offer. Dit is dan wanneer Hý – ons Voorspraak by die Vader – ons reukwerk van gebed met Sy wierook en met vuur van die altaar meng, die goue wierookbak dan omkeer en dinge op aarde laat gebeur!
HOOR GOED WAT JESUS HIER BID (Joh.17)
Hier betree ons ongetwyfeld die Allerheiligste in die Heiligdom! Dit is die onmiddellike teenwoordigheid van God self! Vier partye word opgeneem in hierdie wonderlike gebed – Hyself, die Vader, die dissipels en die wêreld. Hy bid vir hulle – Sy dissipels en sê Hy bid nie vir die wêreld nie, maar tog word die ‘wêreld’ 18 keer in Sy gebed genoem! Hy bid vir Sy dissipels juis met die doel dat deur húlle, die wêreld bereik sal word. Hy sê, ‘die wêreld sal dan weet en glo!
Jesus se gebed vir Sy dissipels is uniek en openbarend want dit wys wat Hy van hulle dink en hoe Hy teenoor hulle voel, en hoe veel Hy vir hulle omgee. Maar Hy sê spesifiek dat Hy nie vir hulle alleen bid nie, maar ook vir almal wat deur hulle woorde in Hom sou glo – dus ook vir jou en my! Wat Hy presies van hulle sê, bewys dat hulle reeds radikaal verander het en volkome aan Hom behoort .
Hulle is mense wat geestelik lewend gemaak is (v. 2).
Hy het aan hulle sy Vader se Naam geopenbaar en hulle het Sy woord bewaar (v.6).
Hulle is daarom mense met volkome sekerheid en sterk oortuigings (v.7).
Hulle weet in Wie hulle geglo het, erken Sy outoriteit en kan onderskei (v.8).
Hulle is afgeskeie van die ‘wêreld’; met die stempel van ‘andersheid’ op hulle (v.14).
Hulle is gestuurdes met ʼn opdrag, na ’n spesifieke teikenveld: ‘die wêreld’ (v.18.)
Hulle is mense wat die eenheid in Christus bevorder, maklik om mee klaar te kom, vol genade vir ander en geduld het met die foute van ander (v.21; Gal.6:1,2).
Hulle mense is wat reeds besef en ondervind dat Christus in hulle woon (v.23; 26b: “Ek in hulle … en U in My …!” “Ons sal kom en by hom woning maak (14:23).
Ons luister ook met toenemende verbasing HOE Hy die Vader aanspreek: ‘Heilige Vader’ vir wie Hy IS en ‘regverdige Vader’ vir wat Hy DOEN.
Hy vra SEWE dinge vir hulle van die Vader. Drie daarvan is: Hulle eenheid, hulle heiligmaking en hulle bewaring. Hy bid vir hulle bewaring en eenheid (v.11): ‘Heilige Vader, bewaar in U Naam … sodat hulle een kan wees net soos Ons’. Vers 12: ‘Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar!’
Die kerngebed van Jesus is vir hulle heiligmaking. “Heilig hulle in U waarheid” (v.17). Heiligmaking is beslis nie vir die ongeredde of die afvallige nie, maar vir die dissipel; die ware wedergebore Christen! Die woord ‘heilig’ of ‘heiligmaking’ bestaan nie in die woordeskat van die wêreld nie. Dit behoort net tot die woordeskat van die heilige Skrif en heiliges en kom telkens daarin voor. In die boek Levitikus weerklink die refrein: “Ek is die Here wat julle heilig maak”. En Petrus herhaal dit as ’n bevel in sy Sendbrief: ‘Wees heilig want Ek is heilig!’ Paulus bid dit in een van sy grootste en kragtigste gebede vir die Christene in Tessalonika: ‘En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!’ (1Tes.5:23,24). Heiligmaking is dus nie opsioneel nie; dis die bevel van God, die wil van God, die voorsiening van God en die vereiste om die HERE te sien … dit is die KERN van Jesus se gebed en die las van Sy hart vir elkeen van Sy dissipels.
DRIEVOUDIGE BETEKENIS VAN HEILIGMAKING
‘Heiligmaking’ is ’n saamgestelde woord met ’n kosbare, drievoudige betekenis. Die Amplified Bible omskryf dit baie goed; afgesonder (separate) … gereinig (purify) … toegewy (consecrate).
Afsonder … Van sonde in sy elke vorm deur regverdigmaking en heiligmaking. Regverdigmaking gebeur met mense wat hulle tot God bekeer, wat om vergifnis bid en vryspraak van die skuld van hulle oortredinge ontvang … sondes wat tevore gedoen is (Rom.3:25); sondes wat hulle berouvol bely (1 Joh.1:9); die sondes waarmee hulle gebreek het of wat hulle laat staan het (Pr. 28:13). Maar heiligmaking bied vir die Christen vrymaking van die mag van ‘DIE SONDE wat in my woon’ … die ingebore verkeerdheid en boosheid van die mens se geërfde sondige natuur! Verlossing deur vereenselwiging in geloof met Christus aan die kruis en reiniging van die boosheid en onreinheid van sy hoogmoedige, afgunstige en selfsugtige hart … van onwaardige motiewe, sondige gedagtes en begeertes wat diep binne nog mag skuilhou en daar vasskop. Deur die vervulling met die Heilige Gees bied dit dan ʼn lewe van oorwinning en krag om heilig te lewe, en ’n getuie van Jesus te wees.
Deur die wonder van die wedergeboorte breek God die mag van uiterlike sondige gewoontes en sonde-bande. Jy word vrygespreek van jou sondige verlede en ondervind ʼn nuwe, geestelike lewe deurdat die Heilige Gees dan IN jou kom WOON! Die wedergeboorte is die eerste groot krisis in ons geestelike lewe. Maar met heiligmaking word ons vrygemaak van innerlike bedorwenheid en gereinig van die boosheid en smet van ons sondige hart. Dan eers sal die Heilige Gees wat reeds IN jou woon, jou vervul, versterk en bewaar om heilig te lewe. Dit is dan die tweede krisis wanneer die Gees oorneem en jou vrugbaar maak tot lof van Sy heerlikheid om die vrug van die Gees in die proses van heiligmaking te dra. Deur gehoorsaamheid en geloof word jy dan meer en meer gelykvormig aan die beeld van Sy Seun!
Reinig: God vereis ʼn rein hart … salig is die wat rein van hart is! ‘Skep vir my ʼn rein hart o God …’ As jou hart rein is, is dit die BRON van jou hele lewe wat rein is … jou gedagtes, begeertes, motiewe … en die stroom wat daaruit voortvloei is rein, skoon, opreg en betroubaar. Die Heilige Gees sal nooit in ʼn onrein hart woon of tuis voel in ʼn louwarm of verdeelde hart nie! In 1 Petrus 1:22 skryf Petrus: ‘As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ʼn rein hart’.
Toewy: Dit beteken volkome en onvoorwaardelik oorgegee aan Hom wie jy volkome vertrou en wat jy vurig liefhet met daardie soort liefde wat oorloop en uitgee sonder om so te probeer wees, of selfs daarvan te weet, want dit is die wese van Sý natuur en aard in jou binneste. Die toets van daardie soort liefde is of jy dit aaneen en suiwer GEE, selfs aan hulle wat dit nooit waardeer nie, nooit daarvoor dankie sal sê nie, dit glad nie sal erken en niks terug sal gee nie. Liefde wat sal aanhou GEE sonder om iets terug te verwag! Om soos Jesus te wees, Hy wat Homself volkome oorgegee het aan onwaardige en ondankbare mense wat Hom gekruisig het. Om jouself en jou beste te GEE … selfs aan daardie een wat aanhou om jou heiligste offers van liefde onder sy voete te VERTRAP en te verwerp – dit is LIEFDE!
CHRISTUS IN DIE TUIN. ‘waar daar ʼn tuin was’ (Joh. 18)
Wanneer die Christendom die kern van die Evangelie – die Lydenstyd – herdenk, val die klem gewoonlik op die kruisiging en opstanding van Jesus, en dit is reg so. Tog is daar min wat besef dat Jesus Christus reeds die grootste oorwinning wat hierdie wêreld ooit gesien het, in die tuin van Getsémané behaal het.
Die stryd in 2 tuine: Waar die ander Evangelies in meer besonderhede oor hierdie belangrike gebeurtenis berig en sê die plek se naam was Getsémané, is dit net die apostel Johannes wat net een versie hieroor skryf, die naam van die plek weglaat en net hy wat meld dat daar ʼn tuin was. Was dit doelbewus om ons te daaraan te herinner dat dieselfde vyand van Jesus in Getsémané die ‘eerste Adam’, die stamvader van die hele menslike ras, juis ook in ʼn tuin aangeval het? In hierdie eerste helder verligte, vrugbare tuin van Eden, het die ‘eerste Adam’ sy geveg skandelik verloor, maar in hierdie tweede tuin – in die bitter koue, donker-nag tuin van Getsémané – het Jesus Christus, die ‘laaste Adam’, die Satan die stryd aangesê met die doel om al die skade, skande en verwoesting uit daardie eerste verloor-geveg, om te keer! En wat ʼn stryd was dit nie! Al die gekonsentreerde magte van duisternis onder aanvoering van die vors van duisternis, die Satan self, was hier teen Jesus in die stryd gewerp. Die beslissing was tussen LIG en DUISTERNIS! Hier is die hewigste stryd gestry, die duurste transaksie beklink, die kragtigste jawoord aan God gegee en die grootste oorwinning behaal wat hierdie wêreld ooit gesien het! Aan die uitslag van hierdie geveg het die ewige lot en bestemming van die ganse verlore mensdom afgehang!
Die aanloop tot hierdie stryd was toe daar in een van die aarts-engele, in Lucifer, die ligdraer en sangleier van die hemel, se hart HOOGMOED en rebellie teen God en sy Gesalfde ontstaan het! Hy self, met die engele wat hom gevolg is uit God se heilige hemel verban en het na die aarde neergedaal met groot woede! Met bittere haat het hy wraak gesweer, maar omdat hy nie vir God self kon bykom nie, spits hy toe sy aanval toe op die mens en hier in Getsemané op Jesus, die Seun van die mens. Die mens is die voorwerp van God se liefde en deur hom te laat sondig, sou hy God se hart kon breek! Die stryd het gegaan oor net één woord rondom die mens se WIL, om dit weer reg in te stel, want sonde het God se orde omgekeer – die ‘U WIL’ is vervang met ‘EK WIL’! Dis dieselfde hoogmoedige, arrogante, astrante, uittartende ‘EK WIL …’ wat die Satan teen GOD se heerskappy en troon laat mik het!
Toe die mens sy infame leuen GEGLO het, naamlik dat God ʼn despoot is; ʼn tiran en leuenaar wat jy nie kan vertrou nie, wat die mens net Sy slaaf wil maak, het hy geskree: ‘wil jy graag VRY wees’? Word dan net jou eie baas, jou eie god! Verander jou slagspreuk net met één woord! Ruil net jou ‘U WIL …’, om na: ‘EK WIL …’! Toe voeg hy nog ʼn leuen daar by; ‘Dan is jy VRY’! Maar net daar is slawerny aangeskaf en by elkeen wat die sonde doen, gaan dit voort! Die Satan se ‘vlieg in die apteker se salf’ was Jesus Christus! Hy het Sy koms gevrees en telkens het hy Hom probeer vermoor! In die woestyn het hy Hom versoek, op die berg Hom aangepor om saam met Moses en Elia weer op te vaar, maar hier – in die TUIN van Getsémané – het die Satan geweet, is dit finaal en het hy moord gesweer! Hier moes die ‘duisternis’ die ‘LIG’ finaal uitdoof! Anders – het hy geweet – sou die ‘LIG’ ewig seëvier!
LAAT U WIL GESKIED Matteus 26:42
Die intensiteit van die stryd was so hewig, dat Jesus drie keer gaan bid het. Elke keer het Hy diep ingekyk, die inhoud van die ‘beker’ raakgesien en gesidder! As óns ʼn beker opneem en drink, dan geniet ons dit; ons doen dit vir ons gesondheid, om ons te verkwik en innerlik te reinig. As jy ’n beker drink maak jy dit een met jouself. Die inhoud deurtrek jou hele wese! Hy het Hom wat geen sonde geken het nie sonde vir ons gemaak sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom’ (2 Kor.5:21).
Waarom was Jesus tot die dood toe bedroef en benoud? Hoe het hierdie ‘beker’ se inhioud dan gelyk? Al die gekonsentreerde gruwels van sonde; die vuilheid daarvan en al die afgryslike, afskuwelike smerigheid in die ergste graad, was daarin! Soos al die vloeke, laster, haat, onsedelikheid, bedrog en moord! ‘Die smaad breek my hart’ was egter van die bitterste galdruppels en in die afsaksel lê die slang van hoogmoed, ongeloof! Die ondankbaarheid wat selfs Sy liefde in Sy gesig terug gooi, het Sy hart gebreek. Daarom het Hy bloed gesweet! Hy kon reeds daar in die tuin gesterf het as ’n engel Hom nie versterk het nie! Jesus het in die ‘beker’ ingekyk, die inhoud duidelik raakgesien en die sonde-beker leeggedrink om die straf en oordeel van ’n heilige God te dra, en van ons af te weer! Die oomblik toe Hy dit doen, kyk God op Hóm asof Hý die skuldige van die hele wêreld se sonde is. Toe volg smaad, marteling, Godverlatenheid en die afgryslike vloekdood van die Kruis! Dit was die enigste offer wat al die vereistes van die wet kon bevredig en versoening kon bewerk!
Christus se oorwinning in die stryd was op die spel solank Hy gebid het – ‘My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil’, want die Vader se wil sowel as Sy eie was nog ter sprake. Maar die derde keer het Hy gebid, ‘My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied’. Daardie oomblik het Jesus die ‘beker’ geneem en gesê, ‘laat U wil geskied’ en het Hy Sy wil oorgegee om dit een te laat word met die Vader se wil. Die was oorwinning beklink! Hierdie oorwinning van die ‘LIG’ in hierdie nagdonker, koue, eensame ‘tuin’, het die gang van hierdie wêreld se geskiedenis SO radikaal van koers verander, dat die ‘LIG’ kon deurgebreek en ʼn deur van hoop vir ʼn verlore mensdom kon oopgegaan het … selfs vir die grootste sondaar! Dank God vir die uitklophou … die grootste oorwinning wat die wêreld ooit beleef het! Want die LIG is sterker as die duisternis! Johannes 1:5 stel dit só: ‘die Lig SKYN in die duisternis en die duisternis het dit NIE oorweldig nie’ (aoristus tyd)!
Die uitkoms van die stryd: Om die sataniese gesindheid van ‘EK WIL’ in die mens se hart te verbreek, het Jesus Christus gekom en hier, in die donker tuin was die plek waar Hy daardie één groot, eerlike en beslissende JA vir die Vader moes gee om daardie rebelse NEE wat mense vir God in hulle binneste gee, om te keer in ʼn heelhartige en vrywillige JA; die enigste wat die mens weer VRY en oorwinnaar kan maak. Die keuse van Jesus Christus, waarop Hy self JA of NEE moes sê, sou die uitslag bepaal! Hy kon die ‘beker wat my Vader my gegee het’ neem, die inhoud Sy eie maak en die gevolge self dra. Of Hy kon die hele inhoud daarvan, met al God se toorn en oordeel daarin, op die Satan self én op die skuldige mensdom omkeer! Sý JA sou beteken dat mense weer vir God JA en vir die Satan NEE kan sê.
OP PAD NA DIE WENPAAL
Hoe het Jesus die wenpad, die ‘Via de la Rosa’ verder betree?
Die oomblik toe God se ‘offerlam’ vir Sy Vader ’n onvoorwaardelike JA gesê het, het Hý die beker geneem, dit leeg gedrink en ‘sonde vir ons geword’ (2 Kor.5:21). Toe het Hy begin om die pad na die ware lewe verder oop te trap vir elke sondaar na die hemel; asook ʼn wenpad vir elke verloorder na oorwinning! As God die Seun, het Hy GOD gebly, Sy outoriteit behou en Sy vyande met vrees en verskrikking op die grond laat val toe Hy uitroep: dit IS EK! Maar ook as God die Seun, kon Hy ook vir Petrus sê, ‘sit jou swaard in sy plek terug want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan. Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir my meer as twaalf legioene engele beskikbaar sal stel nie? Maar as die Seun van die Mens het Hy ook vir Petrus gesê: die beker wat die Vader my gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie? Hierdie eensame pad het Hy doodsveragtend enduit gestap tot BY die plek en die die oomblik toe Hy triomfantlik kon uitroep: Dit is volbring!
Die Satan se troefkaart is sy reuse!
Elke skrikwekkende REUS het op die pad van Getsémané tot by die kruis voor die Seun van die Mens opgedoem, maar gesneuwel! Hierdie ‘Seun van Dawid’ het net soos Dawid, (en nog beter as Dawid) elke Goliat en sy broers vir ons klaar verslaan; die reuse van ‘angs’, vrees, smaad, verwerping, pyn; ook van die DOOD en wat ná die dood sal volg! Watter ‘reuse’ is daar wat jou en my nog bedreig? Tree toe tot die geveg en weerstaan die vyand! As die ‘Seun van die Mens’ was Jesus nou aan die verskrikking van die duisternis en aan die genade en vuil hande van verharde sondaars en wrede moordenaars oorgegee. Alles wat sondaarmense (hulle almal wat óns daar verteenwoordig het) toe aan Hom begin doen het was onregverdig, onwettig, gruwelik en boos; tot die uiterstes toe van laagheid en gemeenheid! L.W. – saam op Sy lydensweg was en ís niemand van ons neutraal nie! Ons moet kant kies!
Elke mens MOET ʼn keuse doen, soos Pilatus:
‘Wat moet EK dan doen met Jesus wat genoem word Christus …?’ Wanneer elke mens die grootste en belangrikste keuse van sy lewe moet maak, naamlik om te besluit wat om met die Jesus te doen, Hy wat Homself vrywillig oorgegee het, is daar sewe rampspoedige foute moontlik: Mense se eerste fout – Jy waag dit nie om die Seun van God te probeer ‘gevange’ neem nie! Tweede fout – ʼn Mens boei nie ʼn ‘lam’ nie; dis immers nie eers nodig nie en ook dit waag jy nie; veral nie as dit die Lam van God is nie! Derde fout – ʼn mens bring nie die ‘Regter van die hele aarde’ (soos Abraham Hom noem) om tereg te staan voor ʼn korrupte menslike regbank nie! Vierde fout – ʼn Mens slaan nie ʼn vuishou in die gesig van ʼn geboeide, geblinddoekte gevangene nie, veral nie as jy weet Hý sien tog wat jy doen nie! Vyfde fout – ʼn Mens sleep nie ʼn onskuldige van die een lafhartige en korrupte regter na ’n ander lafhartige en korrupte regter toe nie! Sesde fout – jy probeer nie skynheilig neutraal bly terwyl jy klaar die kant van die skare en die guns van die Keiser teen Jesus gekies het nie! Jou sewende fout – is om te dink, met al hierdie ‘foute’ op jou kerfstok, dat jy van God se dag van oordeel. volgens Handelinge 17:31, sal kan wegkom!
OPPAS VIR DIE SEWENDE REGBANK!
Vandat wrede moordenaars vroeg in die môre hulle hande aan die Lam van God geslaan het, het hulle Hom binne die bestek van ’n paar uur voor ses regbanke gesleep en probeer om Hom skuldig te laat verklaar aan die dood.
Die eerste was baie vroeg, lank voor sonop voor Hoëpriester Annas, die skoonpa van die dienende Hoëpriester, Kajafas. Hý het Jesus uitgevra oor sy dissipels en sy leer. Dáár het Jesus die eerste vuishoue in die gesig gekry! Annas kies toe dat hy geboeid (asof reeds skuldig bevind) na Kajafas weggestuur moet word!
By die tweede regsaak voor Kajafas en die hele Joodse Raad het vals getuies wat opgestel was om teen Hom te getuig, met allerhande flou aanklagte gekom. Toe hulle niks kon vind om Hom skuldig te bevind nie, doen die Hoëpriester uiteindelik iets heeltemal buitengewoon en ongrondwetlik – hy plaas die Beskuldigde onder eed, verplig Hom om te antwoord en te beken dat Hy die Seun van God is! Jesus bevestig toe dat Hy dit is. Baie vroom verontwaardig daaroor, skeur die Hoëpriester toe sy gewaad! Van daardie oomblik af het Israel nie meer ’n Hoëpriester nie! Die hele Raad stem toe saam Hy is die dood skuldig, weens laster. Daar is Hy toe geblinddoek, met vuiste in Sy gesig geslaan, op Hom gespuug en het hulle Hom met Sý profetiese amp bespot toe hulle gesê het, ‘profiteer wie het jou geslaan’!
Vir die derde regsaak moes hulle volgens wet, tot ná sonop wag. Daarop het hulle Hom toe amptelik, volgens húlle wet, die doodvonnis opgelê en gereed gemaak om die Romeinse owerheid te dwing om die doodvonnis aan Jesus te voltrek!
By die vierde regsaak voor Pilatus, om Hom deur die Romeinse owerheid skuldig te laat bevind en te laat kruisig, moes hulle hul taktiek verander. Dáár het hulle Hom toe nie van laster nie, maar van hoogverraad teen die Keiser beskuldig! Pilatus was tussen twee vure – die Jode eis Sy bloed, maar sy gewete sê vir hom Jesus is onskuldig (hy het geweet hulle het Hom uit nydigheid oorgelewer en sy vrou het hom ook gewaarsku!). Toe hy verneem dat Hy uit die magsgebied van Herodes was, was hy baie verlig om hierdie moeilike keuse op Herodes af te skuif.
Tydens die vyfde regbank voor Herodes het Jesus doodstil gebly, want God se stem het reeds by hom stil geword toe hy Johannes laat onthoof het! Herodes het klaar gekies! Hier hang hulle Hom ’n blink kleed om, druk die doringkroon op Sy hoof, stop Hom’n riet in die hand, val spottend voor Hom neer en spot met Sy koningskap!
Die sesde regsaak is toe weer terug by Pilatus want met Jesus kan niemand neutraal bly nie! ‘Wat moet ek dan doen met Jesus wat genoem word Christus’? Die geskree van die skare dat as hy sou weier, hy nie die keiser se vriend is nie, kry die oorhand. Hý laat Jesus toe gesel en lewer Hom oor om gekruisig te word!
By die sewende toekomstige regbank sal die orde egter omgekeer word want, ‘God het ‘n dag bepaal waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek’! (Hand.17:31). Nou is Hy ons Redder … dan … ons Regter!
JESUS AAN DIE KRUIS – SEWE WONDERS
Wanneer Johannes die Doper vir Jesus aan die wêreld voorstel, verwys hy na Hom as die Lam van God. Maar Paulus skryf, God het Hom voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof’ (Rom.3:25). Wanneer ons voor die belangrikste en grootste gebeurtenis te staan kom wat hierdie wêreld ooit gesien het – die kruisiging van Jesus Christus – dan staan ons stom van verbasing, nie soseer net vir die onbeskryflike fisiese pyn en lyding nie, maar vir die ongelooflikste wondere wat daar gebeur het! ‘As ek die kruishout gadeslaan, waaraan die Hemelkoning hang, dan ag ek al my wins slegs waan, verfoei my trots en selfbelang …!’
Kruisiging was die pynlikste en vernederendste dood wat wrede mense ooit kon bedink! Só erg was dit, dat die Romeine – die enigste nasie wat dit ooit toegepas het – nooit een van hulle eie burgers gekruisig het nie. Húlle metode met eie burgers was onthoofding Jesus was ʼn Jood en volgens húlle wet moes Hy ook eers gegésel word (39 houe: ‘ploeërs het op My rug geploeg, hulle het hul vore lank getrek!’ Ps.29:3). Wanneer die veroordeelde dan eindelik op die paal met die dwarsbalk daaraan vasgepen word, word sy arms oopgesper en ysterpenne deur sy polse of hande gedryf. Dan word ook sy voete so aan die onderkant vasgeslaan. Dan word die kruis opgelig en met soveel geweld in die gat wat daarvoor gegrawe is gegooi, dat sy wonde geskeur en sy gewrigte dikwels uit lid geruk was.
Iemand wat vir ure so aan ʼn kruishout hang, kry moeilik asem en met die opbou van water wat in sy longe opstoot weens die verswakking van sy hart, moet hy homself later by elke asemteug hoër aan sy arms probeer optrek om asem te kry, totdat hy letterlik versmoor. ‘Ek is uitgestort soos water, al my bene raak los!” (Ps.22:15). Psalm 22 beskryf dit en word ook genoem die ‘Psalm van snikke.’ In Hebreeus is die eerste verse slegs onvoltooide sinne, ’n reeks kort uitroepe soos dié van ’n sterwende persoon wat met elke moeitevolle snak na asem, net enkele woorde kan uiter!
Die eerste wonder: Dat Hy Homself kon GEE en so volkome oorgee, sonder om Sy kalmte en waardigheid te verloor! Dat Hy, die GOD en HERE, Sy hande vrywillig kon uitsteek dat mense wat Hyself geskape het, Hom kon boei sodat Hý vir die gevangenes in sonde vrylating kon uitroep! Dat Hy, die Almagtige nou na die slagplek gelei is soos ʼn Lam wat stom was voor sy skeerders, sodat Hy Sy lewe kon aflê as ʼn losprys vir baie! Dat Hy, die Onskuldige, vir Sy moordenaars om vergifnis kon bid terwyl hulle Hom vals beskuldig; Hom bespuug, Hom gésel en kruisig!
Die tweede wonder: Dat die Vader Sy Geliefde kon oorgee om deur sondaars as ʼn uitvaagsel vertrap, verneder en verbrysel te word, en dat Hy dit kon toelaat sonder om hulle daar en dan te vernietig, en hel toe te stuur! Dit wil egter voorkom asof die Vader, ná die eerste 3 ure wat Jesus in die bloedige son aan die kruis gehang het, dit nie langer kon aanskou nie en Sy aangesig moes wegdraai. Dit was tydens hierdie drie ure van duisternis wat AL die magte van die hel teen Jesus losgebars het … toe Hy moes hoor hoe word met Sy goddelike almag gespot toe hulle roep, ‘kom af van die kruis’! Maar iets sterker as die spykers het Hom daar gehou – Sy liefde! Dit was toe dat Hy letterlik gevoel het wat ʼn verlore siel in die hel moet verduur. Deur God VERLATE het Hy uitgeskreeu, O!!! My God!!! My God!!! waarom het U my verlaat??? Op aarde word óns nooit deur God verlaat nie!
‘SÓ IS EK GESLAAN IN DIE HUIS VAN MY VRIENDE’ (Sag.13:6)
Die derde wonder is dat God se Lam Sy kosbare bloed uitgestort het. Maar die fontein wat daardeur geopen is teen die sonde en die onreinheid, het Hom sewe oop wonde gekos! Van die sewe was die bloedigste seker Sy rug, waar ‘ploërs op Sy rug geploeg het’ (Ps.129:3). Maar die pynlikste was beslis Sy hart van liefde wat gebroke was weens die sonde van ongeloof en ondankbaarheid van mense! Die eerste druppels bloed het in die tuin van Getsémané deur Sy vel gepers. Die laaste druppels het die soldaat getap wat met sy spies Sy hart deursteek het. Sy hart was toe reeds gebreek!
Die vierde wonder: ‘Dit het die Here behaag om Hóm te verbrysel!’ (Jes.53:10) Hoe is dit moontlik dat dit die Vader kon behaag terwyl Sy eie hart gebloei het? Seker omdat die Vader Sy oorgawe kon goedkeur, Sy gesindheid kon raaksien, Sy kreet van oorwinning kon hoor en die geboorte kon waarneem van die kosbare, skoon en edel ‘bruid’ wat uit hierdie ‘Bruidegom’ (die ‘laaste Adam’) se sy, die naaste plek aan Sy hart, gebore is! Die hemel kon juig want deur Sy opstanding sou Hý ook bewys dat Hy op Sy heerlike troon sal gaan sit om te heers en ook die laaste woord te spreek!
Die vyfde wonder: Die oorwinningskreet! Sy sterwens-oomblik was juis Sy grootste oorwinnings-oomblik – TETTELESTAI – wat beteken klaar, volbring, afgehandel! Wát was afgehandel? Die prys is betaal … die wet is vervul … die skuldbrief is uitgedelg … die vyand is uitgeklee en oorwin … die dood is verslaan en sy angel is verwyder … en veilige grond is bereik want ‘anderkant die graf’ kan selfs die duiwel geen kind van God meer bykom nie! Duur gekoop … nie met silwer en goud nie, want jy is té duur! Maar losgekoop met die kosbare bloed van die Lam …!
Die sesde wonder: Die wonderwerk van die eerste bekering! Dat die mees hopelose, magtelose, reeds vervloekte (‘vervloek is elkeen wat aan ʼn paal hang’ (Deut.21:23) die voorreg kon hê om só naby aan Jesus te kom; tot binne sien, hoor- en roepafstand, en kon dophou HOE die God van lewe sterf! En nog voordat Jesus Sy laaste oorwinnings-kreet kon uitroep, kon hierdie sterwende kwaaddoener met sy hele hart GLO Hy is y sssdie Verlosser en dit ook bely, want hy bid: ‘Here dink aan my as U in U heerlikheid kom’. Hy kon dit nie bid sonder om ook te GLO dat die dood NIE oor Hom sou heers nie! Die weg van saligheid en verlossing is só eenvoudig dat hierdie man kon raaksien dat Jesus Christus vir hóm die vloek afgeweer en self in sy plek die vloek van God se oordeel op sý sonde, op Hóm geneem het! (Gal.3:13).
Die sewende wonder: want dáár gee God aan jou en my … en aan elke mens … die kans/geleentheid om die grootste en noodsaaklikste keuse van sy lewe te doen, want hier is die plek en tyd waar en wanneer die twee belangrikste paaie van die lewe die duidelikste uitvurk en van mekaar wegdraai! Jou keuse moet gegrond wees op wat jý werklik van Jesus dink. As jou opinie van Hom laag is, sal jy dit ook regkry om Hom te verag en vir Hom ʼn ‘koue skouer’ te draai! Maar as jy hier verby gekyk het – by die doringkroon en die kruis – het jy ook miskien ontdek Hý is die ERE-KONING want Sý koninkryk is gegrond op waarheid en jy ontdek dat aan die Kruis word Hy in werklikheid as die Liefde-Koning gekroon! Jy kan nie anders nie, as om Hom vandag nog as jou geliefde KONING te kroon!
ALLE WERKE IS VOLBRING (Joh.4:34; 5:36; 17:4; 19:30)
Toe die dissipels vir Jesus Christus by die put van Sigar, in Samaria, voedsel aangebied het om te eet, het Hy hulle in Johannes 4:34 geantwoord: ‘My voedsel is om die wil te doen van die Vader wat My gestuur het en om Sy werk te volbring’. Later – by Johannes 5:36, 17:4 en 19:30, gebruik Hy weer dieselfde woord – volbring – in verband met die werk wat Hy gekom het om te doen. Alles wat Hy finaal afgehandel het toe Hy sterwend uitgeroep het – dit is volbring – volkome afgehandel!
Johannes 5:36 ‘… want die werke wat die Vader My gegee het om te volbring – die werke self wat Ek doen, getuig van My dat die Vader My gestuur het’. Hierdie gesprek met die Jode was na aanleiding van een van die sewe tekens wat in hierdie Evangelie beskrywe word naamlik, die genesing van die siek man by die bad van Betésda. Hy het al 38 jaar daar gelê sonder hoop. Die Jode was woedend omdat Jesus dit op die ‘Sabbat’ gedoen en boonop die man wat genees was, sy bed ook op die ‘Sabbat’ laat dra het! Hulle het Hom ’n ‘teken’ (‘teken uit die hemel’ soos ander Evangelies dit stel) gevra, nadat Hy vir hulle ook die teken van die vermeerdering van brood gedoen en hulle dit self as ’n ‘teken’ herken het. Jesus het Homself as die ‘brood wat uit die hemel neergedaal het’ vir hulle aangebied. Hy het weer in Johannes 7:21-23 na die genesing van hierdie man verwys as die ‘een werk’ wat Hy gedoen het om hulle te oortuig dat dit vir hulle maklik sou wees om in Hom te glo. Maar in plaas van te GLO, wou hulle Hom doodmaak omdat Hy dit ‘op die Sabbat’ gedoen het. Treffend dat Hy van daardie gebeurtenis gesê het: ‘Ek werk en my Vader werk ook …’
Johannes 17:4: In Sy hoëpriesterlike gebed vir Sy dissipels het Jesus, toe Hy die Vader vir hulle gedank het, gesê: ‘die werk wat U my gegee het om te doen, het Ek volbring’. Dit – daardie aspek van die werk waarvoor Hy ook ‘gestuur’ was; waarvoor Hy ‘neergedaal’ het en wat te doen gehad het met hulle opleiding en voorbereiding – was toe volbring. Eers in 17:4 kon Hy vir Sy Vader in verband met Sy dissipels sê: ‘die werk wat U my gegee het om te doen, het Ek volbring’. Hier verwys Hy na die volmaakte lering, leiding en voorbeeld wat Hy teen die einde vir hulle gestel het wat nou, by die aanbreek van Sy fisiese afskeid van hulle, volbring was!
Johannes 19:30: Die Evangelie van Johannes is die enigste wat sê, dit is volbring … die laaste van Sy 7 kruiswoorde. Volkome afgehandel! Jesus het daardie oomblik geweet dat ‘alles al volbring was, sodat die Skrif vervul sou word’ (v,28). Dank God dat Iemand soos Hy namens die sondaar kon werk, want elke ‘werk’ wat Hý gedoen en volbring het, kon géén sondaar ooit vir homself doen om sy sondeskuld daarmee uit te kanselleer nie! Maar elke ‘werk’ wat Jesus gedoen het was volmaak verdienstelik. Dit was die volmaakte vervulling van die wet en die Vader se wil deur Sy volmaakte gehoorsaamheid, oorgawe en Sy heilige lewe. Toe mense Hom gevra het: ‘wat moet ons doen om die werke van God te volbring? was Sy antwoord: ‘Dit is die (een) werk van God, dat julle in Hom GLO wat Hy gestuur het’. Dit – om in Hom te glo – is die één en enigste ‘werk’ wat van ons kant af nodig is wat die sondaar ooit tot sy eie redding kan bydra; soos Jesus dit self in 6:28,29 gestel het. Alle ander werke, pogings OF selfs dade van ‘gehoorsaamheid’ van ons kant af, kan nooit opweeg teen hierdie een enkele vereiste, om in Jesus Christus te GLO nie !
SIMON … HET JY MY WAARLIK LIEF? (Joh.21)
Van al die karakters in die tyd van Jesus is Simon Petrus, die broer van Andreas, seker die beste aan ons bekend as die impulsiewe soort. Petrus – die groot man met die passievolle hart – het ʼn egte bekering gehad toe hy ALLES verlaat het om Jesus te volg. Nie net sy skuite, nette of visbedryf nie; ook sy dierbares (want hy was ʼn getroude man). Hierdie besliste keuse van Petrus reg aan die begin, het hom in staat gestel – toe die meeste dissipels omdraai en sê, ‘hierdie woorde is hard, WIE kan daarna luister – om te sê, ‘Here na wie toe sal ons gaan … U het die woorde van die ewige lewe!’ Hý was ook die een wat namens al die ander bely het: Ú is die Christus, die Seun van die lewende God’. Ook die enigste wat soveel vertroue in Jesus gehad het dat hy uit die skuit tot in die stormwater geklim en gewaag het om op die water te begin loop. Toe hy sy oog van Jesus aftrek en wegkyk na die hoë golwe en die sterk wind, toe sink hy! (Maar Jesus het hom gegryp!).
Die les wat Jesus hom hier wou leer, was dat hy altyd die oë stip op Jesus alleen moet hou, want erger dinge as sterk wind en hoë golwe sou nog oor hulle losbars! En toe die toets kom en hy die geleentheid kry om sy stand in te neem en sy kleur te wys, toe faal Petrus skandelik; toe volg hy Jesus van ver af, gaan sit in die geselskap van die wêreld en verloën sy Meester drie keer!
Maar ons kan wel vra: (1) Het Petrus dan nie ʼn egte bekering gehad nie? (2) Het hy Hom dan nie vir jare gevolg, na die wonderlikste lering geluister en al die wonderdade van Jesus gesien nie? (3) Was die drastiese verandering met sy bekering en al sy voorregte en eerstehandse kennis van Jesus, dan nie genoeg om hom staande en oorwinnend te hou nie? (4) Waarom was sy geloof teen die einde dan nog so wankelmoedig dat die Here Jesus spesiaal vir Petrus daarvoor moes bid toe die Satan vurig begeer het om hulle soos koring te sif? (5) En waarom moes daar eers ʼn haan kraai, en waarom moes Jesus hom eers vol deernis aankyk voordat Petrus besef het hoe GROOT die smart en teleurstelling in Jesus se hart was oor sy gedrag?
Redes van sy mislukking: (1) Eers het Petrus vleeslik gehandel toe hy probeer het om Jesus af te raai om gekruisig te word. Hy het weggeskram van die smaad en pyn van die Kruis en dáár het hy reeds innerlik van ver af begin volg! (2) Hy was arrogant, vertrou op eie krag, roem in homself en teenoor ander toe hy verklaar: almal sal en kan vir Jesus verlaat, maar nie hý nie! (3) Petrus het aan die slaap en gerus geraak toe hy moes gewaak en gebid het. (4) Petrus het van ver af gevolg. (5) Petrus het by die vure van die wêreld gaan sit om hom warm te maak en dáár het hy Jesus verloën! (6) Die vernaamste rede was dat Petrus nog nie met die Gees vervul was nie!
Stappe tot sy herstel: (1) Liefde was diep gewond, maar Jesus het hom nog liefgehad met ’n ewige ‘liefde’; nie soos mense sʼn wat terugtrek of skel en verwyt nie. Hy het hom gewaarsku, vir hom gebid en hom aangekyk! Daar was nog hoop want hy was nog binne oogafstand! (2) Daar was onmiddellike, egte en hartverskeurende berou! Hy het bitterlik geween! (3) Hy kry ‘n boodskap van Jesus: ‘Gaan sê vir My dissipels EN vir Petrus …’ (4) Jesus verskyn aan almal en toe net aan Petrus (1Kor.15:5) waar Hy hom herstel en vergewe. (5) Ook deur die finale, persoonlike gesprek en opdrag (Joh.21). (6) Hy vervul en doop Hom later ook met die Heilige Gees en vuur!
PETRUS ONTDEK HY HET JESUS WAARLIK LIEF! (Joh. 21)
Die laaste stap om vir Petrus volkome te herstel nadat hy vir Jesus verloën het, was om hom hier voor sewe ander getuies aan te spreek oor sy grootste probleem en hom ʼn opdrag te gee wat sy roeping en toekoms sou bepaal. Petrus het geworstel met die vraag hoe eg, diep en kragtig sy liefde vir Jesus werklik is.
Dat Petrus se vertroue in homself ʼn laagtepunt bereik het, kan ons goed glo. Dus was dit nie snaaks nie, dat hy besluit het om weer te gaan visvang! Maar Jesus roep nie hierdie visserman na visvang nie, maar as herder van Sy kudde! Dit is wanneer ons begin wonder – is dit nog waarlik die moeite werd – dat die duiwel sy vangtou uitgooi om ons na ons ‘ou lewe’ terug te ruk! Daar is niks verkeerd met visvang nie, maar as die Here jou eenmaal geroep het om alles te verlaat vir iets beter, is dit verkeerd en gevaarlik om om te draai! Hy sleep toe sewe ander met hom saam, maar die hele nag lank vang hulle niks!
Met dagbreek staan Jesus op die strand, nie om hulle toe te roep: Dit is julle verdiende loon dat julle niks gevang het nie, maar om vir hierdie moedelose, twyfelende dissipels ʼn heerlike warm ontbyt voor te berei! Hy wou met hulle en veral met Petrus praat, maar eers voed Hy hulle! Hy roep nie vir Petrus ‘kantoor toe’ vir ʼn skrobbering nie, maar doen eers vir hom ʼn wonderwerk – die vangs van 153 groot visse! Jesus ontmoet telkens mense by hulle werkplek om dáár met hulle te praat. Tydens die maaltyd vra Jesus toe vir Petrus die één, mees direkte, indringende en persoonlike vraag! ‘Simon, seun van Jona, het jy My waarlik (agapé) lief?’ ‘Ja Here, U weet dat ek U liefhet’ (Phileos, vriendskapsliefde). Jesus het geweet Pinkster het nog nie plaasgevind nie, maar Hy stel nou reeds die standaard vir Petrus!
Die vraag word toe weer net so herhaal, asof die Vraesteller nie ʼn voldoende antwoord gekry het nie; so asof Hy daarop aandring dat Petrus moet nadink en daarvan kennis neem dat daar by God ʼn soort en kwaliteit liefde bestaan wat hoër en sterker en edeler is as die hoogste en die beste van mense! Dit het Hy so duidelik aan Petrus gedemonstreer deur hom eerste lief te hê, hom te verdra, te vergewe en hom nooit sy arrogante vertroue in homself, sy biddeloosheid, sy lafhartigheid en ontrou te verwyt, of dit teen hom te hou nie! Selfs hier waar Jesus so intiem, persoonlik en op die man af met Petrus praat, is dit nie om hom te verwyt of voor ander te verneder nie, maar voor hulle vry te spreek en hom weer rigting, koers en sekerheid te gee.
Die derde keer verander Jesus sy vraag. In plaas van ‘waarlik lief’ kom Hy af na Petrus se vlak en is dit net – ‘het jy My lief’? (Phileos). Asof Jesus nou vir hom wil sê: ‘Ek weet dat jy My liefhet en dat met die koms van die Heilige Gees alles sal verander, maar Ek ken jou hart, dat dit eerlik, opreg, dorstig en gebroke is (want toe Jesus hom die derde keer vra, het hy weer bedroef geword!). Toe Petrus hierdie vraag vir die derde keer beantwoord, toe WEET hy self ook skielik – hy hét Hom waarlik lief met ALLES waartoe hy op daardie stadium in staat was; Hy weet ook dat Jesus hom nou volkome vertrou, vir hom die hart van ʼn herder sal gee om Sy lammers te laat wei, Sy skape op te pas en te laat wei en BOWEAL, dat hy tot die dood toe getrou en lojaal aan Hóm sal bly. Hy sal Hóm volg en hom nie langer bekommer oor wat ander doen of wat Jesus oor hulle besluit nie. Jesus se bevel aan hom is nou: ‘VOLG JY MY …!’