NG KERK TAFELBERG
No. 4: Preekreeks uit Matteus 26 vir LydenstydTema: Getsémané
Skrif: Matteus 26: 36-46
‘n Mens is soms geneig om te dink dat Jesus-op-aarde ‘n soort super-mens was. ‘n Soort goddelike mens. En, dat Hy dáárom Sy lyding & dood so ‘n bietjie makliker kon deurstaan. Dit is ‘n groot misverstand. Jesus was/is volledig God – gelyk en een in wese met die Vader – EN Hy was/is volledig 100% MENS. Maar, Sy Godheid en mensheid is nie vermeng nie – so asof Sy Godheid Sy menswees ‘n bietjie help nie. Nee, in Sy menswees is Hy VOLLEDIG mens – uitgesluit die sonde. Dit beteken dat Hy Sy lyding net so intens ervaar het as wat enige mens dit sou ervaar. Hy was geen super-mens nie en die feit dat Hy óók GOD is, het nie Sy lyding versag nie.
Dit sien ‘n mens so duidelik in Getsémané waar Jesus letterlik psigies disintegreer. Die dissipels – wat so moedig was om saam met Hom te sterf – word die getuies van die Meester se sware gebedstryd waar Hy Hom psigies en emosioneel voorberei vir die bittere pad wat voorlê – wanneer die totale toorn van God oor ‘n mensdom se sonde – op Hom sal neerkom. Dis asof Hy deur ‘n pars gaan.
“Getsémané” beteken juis “Olyf-pars”. Dit was ‘n stukkie grond aan die oostekant van Jerusalem op pad na die Olyfberg. ‘n Klein tuintjie met Olyfbome waar die Olywe blykbaar gepars was om olyfolie te verkry.
Opvallend dat Jesus (as 2de Adam) juis na ‘n TUIN moes gaan. Dit was juis in ‘n TUIN waar die eerste Adam tot ‘n val gekom het. Die eerste Adam begin in ‘n tuin. Die tweede Adam eindig in ‘n tuin. Die eerste Adam kon maklik bid, maar stort die mensdom in die verderf. Die tweede Adam bid só moeisaam dat Sy sweet soos bloed word (Luk 22: 44) en Hy herstel wat die eerste Adam verloor het (Rom 5: 17).
Moet ook nie miskyk wat Joh 18:1 byvoeg nie. Jesus het, op weg na Getsémané, deur die Kedronspruit gestap. Tradisie sê dat, tydens die Paasfees, die bloed van 1000e paaslammers in die Kedronspruit gevloei het na die Dooie See. Ou Jode het geglo: dit bring lewe in die Dooie See. DUS: Op die oomblik toe Jesus deur die Kedron stap, was die bloed van die paaslammers reeds daar. Hy stap deur die bloed. HY, die Paaslam, loop daardeur. Want SY bloed sou lewe bring in dooie MENSE – nie in die Dooie See nie! Jesus se deurloop deur die Kedron ná Getsémané was die uur van die grootste deurbraak in menslike geskiedenis. Geen terugdraai was meer moontlik nie.
By Getsémané aangekom, laat Jesus 8 dissipels agter en neem DRIE verder – omtrent sover ‘n mens met ‘n klip kan gooi (Luk 22:41). Die drie was Petrus/Johannes/Jakobus. Uit die ganse mensdom, slegs DRIE wat getuies word van Jesus se gebedstryd. Dit was dieselfde drie vir wie Jesus by Hom gehad het op die Berg van Verheerliking en tydens die opwekking van Jaïrus se dogtertjie. Ná Pinkster en in die vroegste kerk is húlle drie as PILARE geag (Gal 2:9).
Moenie miskyk dat PETRUS ingesluit word by die 3 nie. Onthou: Petrus het net tevore Jesus se woorde weerspreek en gedwarsboom. Maar u sien: dit plaas die kollig andermaal op die sagtheid (“tenderness”) en vergewende liefde van Christus. Selfs al is Petrus se treurig, blý hy ingesluit by die kring van die uitverkorenes.
Toe sê Jesus vir Petrus/Joh/Jak: “Ek is bedroef en beangs en benoud tot die dood toe.” (NIV: “My soul is overwhelmed with sorrow to the point of death”). Dit is asof alles met eens vir Jesus te veel word. Sodat ONS/Ú – wanneer alles vir u te veel word & niemand u verstaan nie, u nie alleen is nie. Onthou: Jesus het álles plaasvervangend beleef.
Wát was dit wat so geweldig swaar op die Heiland neergekom het?
1. Optrede van Judas. Ruk Hom. Raak Hom intens. Nooit traak-my-nie-agtig teenoor Judas nie.
2. Optrede van die ander elf. Hy weet álmal gaan Hom verlaat. Absoluut totaal stoksielalleen. Raak Hom, want Hy is volledig méns. Seerste en swaarste wanneer ménse die rug op jou draai en jy verwerp voel. Was jare lank saam. Saam sakke sout opgeëet. Saam gelag en gehuil … en dan …
3. Skares wat vir lang tye saam met Hom geloop het. Eens het hulle Sy prediking geniet, wou niks mis nie, opgewonde oor lewende God – maar toe: ALMAL weggeval en teruggeval, want Hy het hulle mos teleurgestel – só sê húlle.
4. Hele volk Israel – die verbondsvolk. Hulle wat ál die voordele vir 4000jr lank gehad het. Hulle wat die Messias onmiddelik moes herken het. HULLE wil Hom nie hê nie. Met totale blindheid geslaan. Alles gaan vir hulle net oor tydelike dinge. Tydelike heil en tydelike voorspoed.
5. Bedroef oor die soen van Judas.
6. Dood wat voorlê. Baie baie erg. Hy – wat nooit in sonde ontvang is nie en wat daarom nie MAG sterf nie. Hy wat slegs moes oorloop in die Vader se teenwoordigheid in. Nou moet HY sterf soos ‘n moordenaar & skurk.
7. Die eintlike saak: die benoudheid oor die allerverskriklikste las van die toorn van God oor ‘n mensdom se sonde. Menslik ondenkbaar.
8. Verbreking van gemeenskap met die Vader. As Sy Váder tog net kon gebly het. Maar Hy het geweet: aanstons gaan die Vader Hom totaal verlaat vir enkele ure lank. Want DIT is die essensie van die oordeel van die hel: die Godsverlatenheid.
Dáárom sê Jesus vir die drie: “Ek is benoud tot die dood”. Hy gaan toe net ‘n klein entjie verder (“mikron” – Mrk 14:35) en val met Sy gesig op die grond voor Sy Vader. En Hy bid: “Abba (vlgs Mrk 14:36) Vader” – { “Abba” is die Aramees vir “Vader” – en dit was Jesus se moedertaal. Dus: Toe Hy in Sy diepste beproewing met Sy Vader praat, spreek Hy Hom in Sy moedertaal aan – nie Grieks nie}. “Abba Vader, indien dit moontlik is, neem asseblief hierdie beker van My af weg. Nogtans: Nie soos EK wil nie, maar soos U wil.”
“Vader, alles word nou vir my te veel. Ek sien glad nie kans nie. Maar, indien dit onmoontlik is dat hierdie beker by my kan verbygaan – laat U WIL dan heers.” Die belangrikste ding in Sy lewe – is dat Sy Vader se Naam verheerlik word. Hy gebruik nie GEBED om uit Sy situasie uit te kom nie. Dit is mos altyd ons grootste versoeking wanneer dit by gebed kom: 1) Om ons uit ons nood uit te bid en 2) om die Here se Seën oor alles te vra. Van nature is dit maar hoe ons koppe werk: Gebed is die instrument waarmee ek uit die moeilikheid kan kom: “Here help!”. “Here ondersteun.” “Here red”. Here verlos”. “Here hoor tog”. En, in beginsel het dit ook ‘n plek in ons gebede. Tóg: Vir Jésus het die praat-met-Sy-Vader ‘n ander betekenis. Terwyl Hy Sy eie dood in die gesig staar, soek & dors Hy net na één ding: die verheerliking van Sy Vader se Naam. Sy dors is na Sy Vader – nie na Sy eie gemak/gerief/voordele nie. Hy glo dat God Homself kan verheerlik selfs al gaan Hyself (Jesus) die dood tegemoet. Selfs al word Hy verneder.
Soms is dit God se wil dat Sy kind getoets/beproef word. Soms ly. Soms onregverdiglik beskuldig word. Soms verneder voor mense. Soms vertrap. Soms is dit die Here se wil dat die gety draai in ons lewens. Daar is min gelowiges wat nie een of ander tyd in ‘n soort Getsémané (olie-pars) beland nie. DAN is die vraag: Wat is werklik vir jou die belangrikste? Wat is die dors van jou hart? “Here, ek kan nie. Ek sien nie kans nie. Maar ek begeer dat U Naam verheerlik moet word. Al vergaan ek ook – Ú is die sentrum van my bestaan.”
U sien: Ten diepste is DIT waaroor GEBED in essensie gaan: NIE om eerstens ‘n klomp goed te kry en uit die moeilikheid gehelp te word nie, maar om te bely/erken dat GOD SELF sentraal in ons lewe is. Ek het eenmaal gelees van ‘n vrou wat ‘n halfuur lank op haar knieë gestaan het en slegs “Jesus” geprewel het. Dis gebed. En tog is dit juis hier waar Jesus se dissipels so swak was. Nie die innerlike mens nie, maar die vlees. Hulle was gewoon liggaamlik moeg en uitgemergel en wou net slaap. Die grootste krag in hulle lewe – om in gebed te waak – word hulle grootste swakplek. Tot vandag bly gebed ‘n stryd. Nie omdat ons innerlik swak is nie, maar omdat ons vlees so swak is. Dink net met hoeveel skuldgevoelens sit gelowiges dikwels oor hulle swakke gebedslewe.
Nou kom die wonderlikste van hierdie Skrifgedeelte: Jesus raas nie met hulle nie. Hy verwyt nie. Hy toon begrip. Hy sê: “Ek weet julle gees is gewillig, maar die vlees swak. Maar, juis dáárom moet julle des te meer BID! Juis omdat die vlees so ellendig is, moet julle MY in gebed soek. Want die oorwinning lê nie in julle gebedskrag nie, maar in MY vir wie julle in gebed aanroep. Dis EK wat die mag van die vlees breek.”
Dit is wat ons moet raaksien: Jesus het juis met Sy eensame gebedsworsteling in Getsémané, Sy dissipels van húlle swakke gebedslewe verlos!! Dit is die Blye Boodskap. Dit is nie waar dat Jesus vir ons ‘n voorbeeld stel wat ons moet probeer navolg (en élke keer misluk) nie. Die boodskap van hierdie Skrifgedeelte is NIE dat ONS moet probeer béter doen as wat die dissipels gedoen het nie – en elke keer misluk en met skuldgevoelens sit nie. Duisendmaal NEE! Die boodskap is dat Jesus ons swakheid deurbreek het met SY eensame gebedstryd in die Oliepars-tuin. SY gebedstryd was IN ONS PLEK – Hy het in Getsémané ONS PLEK ingeneem. Sy gebedstryd was soos ‘n hysbak waarin Hy ons ingesluit het en met krag opgetrek het tot die vlak waar óns nooit self kan kom nie!
Ons moenie lewe met die onophoudelike stryd om te probeer bid & waak omdat ons beter as die dissipels moet presteer nie. Die evangelie plaas nie op ons ‘n nuwe wet/las nie. Die evangelie verwyder juis die las. Sodat ons IN ons swakheid mag weet dat Christus ons van ons swakheid verlos het met SY stryd in Getsémané. Daarom mag ons NA HOM vlug met die swakheid van ons vlees en die swakheid van ons gebede om by HOM rus te vind.