RADIO TYGERBERG AANDDIENS 29 MEI 2014: DR CHRIS SAAYMAN
Gereinig deur Sy aanraking
Dr. Chris Saayman
Markus 2:17
Kom ons bid net saam:
Wat ‘n onbeskryflike voorreg Here Jesus, dat ons na die blye boodskap van die evangelie mag luister oor hierdie radio. So onbevange, vryelik daarna mag luister, wat ‘n voorreg… wat ‘n voorreg! Here ons dank U dat ons ore het wat kan hoor dat ons ore het wat hierdie boodskap kan opvang. Dat ons ‘n verstand het om dit te verstaan en dat die Heilige Gees in ons werk. Amen!
Ek het eenkeer gelees van ‘n vrou wat heeltemal fanaties was oor netheid en oor haar huis veral, wat absoluut skoon en absoluut onberispelik skoon moes wees. Sy’t byvoorbeeld elke liewe dag met handskoene aan deur die hele huis gestap om te soek na stof. Sy’t haar meubels met plastiek bedek en wanneer daar besoekers gekuier het, dan het sy, nadat hulle weg is, die meubels met ‘n ontsmetmiddel skoongemaak en dit gepolitoer. Die koppies waaruit die mense tee gedrink het en die pierings het sy in kookwater gewas.
Sy was heeltemal fanaties obsessief oor ‘n skoon huis en mense is geneig om te dink dat God ook so fanaties en obsessief is oor reinheid, skoonheid. Mense sê ja, God is Liefde maar … en dan kom dit. Maar Hy’s ook heilig…. maar dit en dat. Met ander woorde, mense sê God IS Liefde maar onthou Hy is fanaties en Hy is obsessief oor morele perfeksie. Mense dink aan God, dan dink hulle aan God as ‘n man, ‘n manlike figuur wat hoog op ‘n hemelhoë troon sit met ‘n skitterende wit kleed aan, hoog bo alle menslike sonde. Terwyl Hy begeer om ‘n verhouding met die mense te hê, maar dat Hy in Sy hart angsvallig raak om net daaraan te dink dat Hy moet raak aan een stinkende sondaar. Met ander woorde ons sondigheid maak dit vir God onmoontlik om met ons ‘n verhouding te kan hê.
Maar dis interessant dat – as jy na die Here Jesus gaan kyk toe Hy op die aarde was, dan sien jy mos vir God self, jy sien mos die Vader. Jesus het mos vir Filippus gese: ” Filippus, as jy my gesien het, dan het jy die Vader gesien. As jy na die Here Jesus kyk toe Hy op die aarde was dan sien jy ‘n totaal ander beeld van God.
Jy sien, as jy na Jesus kyk, dan sien jy dat God JUIS in sondaars belangstel. Daarom het Jesus gesê in Markus 2:17: “Dit is nie die gesonde mense wat ‘n dokter nodig het nie, die siekes het die dokter nodig.” Daarom het die Here Jesus toe Hy op die aarde was so vryelik gemeng met die sondaars, met die mense op wie die kerkleiers en die Fariseers letterlik gespuug het.
God is meer geinteresseerd in mense as wat Hy geinteresseerd is in reinheid en skoonheid. God is baie meer fanaties en obsessief oor mense as wat Hy fanaties is oor reinheid en skoonheid – soos daardie vrou oor haar huis.
Dink byvoorbeeld aan ‘n gedeelte soos Johannes 8. Daardie gedeelte in Johannes 8 waar die Fariseërs die owerspelige vrou gedwing het na die Here Jesus toe. Sy’s op ‘n daad van owerspel betrap. Sy was ‘n vrou aan wie die Fariseërs nie eers wou vat nie. Maar hulle sleep haar en gooi haar daar op die vloer neer voor die Here Jesus … jy kan dit gaan lees daar in Johannes 8.
Dink net hoe sou Johannes 8 geklink het indien God suiwerheid bo mense gestel het. Luister nou aandagtig! Dink hoe sou Johannes 8 geklink het indien God suiwerheid bo mense gestel het. Dan sou dit so geklink het: “Die Fariseërs bring die vrou, wat in owerspel betrap was. Hulle gooi die vrou op die grond neer voor die Here Jesus. Hulle sê vir die Here Jesus: “Here, hierdie vrou is betrap op owerspel en die wet van Moses sê dat sy onmiddelik met klippe doodgegooi moet word (en tussen hakkies, dit is wat die wet van Moses sê). Nou vra hulle: “wat sê U Here?” en dan antwoord Jesus: “wel die wet van Moses is duidelik, ons moet haar doodmaak, dadelik, nou, doodmaak.”
Toe tel Jesus ‘n groot rots op en Hy hou dit oor die vrou se kop en Hy laat dit val. Die Fariseërs is so opgewonde oor hierdie Jesus en die Fariseërs is so entoesiasties oor hierdie Jesus wat so opstaan teen sonde. Hulle elkeen vat ‘n klip en hulle gooi die vrou en gooi die vrou en gooi die vrou, totdat sy dood is.
Toe sy dood is toe sê Jesus: “Laat sy wat vol sonde is, gestenig word.” Toe die Fariseërs hierdie woorde uit Jesus se mond hoor, toe is hulle verwonderd oor hierdie verlosser. Hulle is verwonderd oor hierdie Jesus se toewyding aan die wet en Sy toewyding aan reinheid en Sy toewyding aan skoonheid en die heiligheid van God. Wat ‘n wonderlike Christus.
God dank dat dit nie in Johannes 8 staan nie. Weet jy wat staan in Johannes 8? Jesus wys elkeen van daardie godsdienstige mense op HULLE sonde en Hy spreek die vrou vry. Hy vergewe haar, Hy vee haar hel net so van die tafel af. Is dit nie aangrypend nie? Vir die Here Jesus Christus was mense belangriker as reinheid en daarom vir God die Vader is mense belangriker. God die Vader is meer fanatiek, meer obsessief oor jou as mens as wat Hy obsessief is oor jou skoonheid en jou reinheid. Hy sit nie op ‘n hoë verhewe troon met ‘n afstand van tien miljoen kilometer en Hy gril nie in Sy hart om te dink Hy moet net aan jou raak nie.
Jesus het nooit gedink dat Hy Homself besoedel deur aan sondaars te vat nie. Inteendeel, sondaars is deur Sy vat skoongemaak. Dink maar byvoorbeeld aan die melaatses. Jy weet dit net so goed soos ek, jy weet hoe – in daardie ou tyd – die melaatses uitgestoot is uit die dorpe, uitgestoot is uit die stede. Hulle moes buitekant woon want daar mag nie aan hulle geraak word nie, hulle was volgens die wet van Moses totaal onrein.
Wat doen Jesus in Matteus 8? Daar staan in Matteus 8 vers 1 en vers 2: ” ‘n melaatse man kom kniel voor Jesus en sê: “Here as U wil , Here as U wil, kan U my gesondmaak.” Vers 3: “toe steek Jesus Sy hand uit en … raak hom aan!”. Die Fariseërs het tot in hulle ingewande gegril om te dink dat hulle aan ‘n melaatse moet raak. Jesus raak hom aan en sê: “Ek wil, word gesond!”. Sy melaatsheid was onmiddelik weg.
Die meeste mense – en ek dink dalk ook baie wat nou na my luister – kom na God toe en as hulle na God toe kom dan is daar ‘n traagheid in hulle binneste. Dan is daar ‘n huiwering in hulle binneste, omdat hulle so bewus is van hulle sondes, omdat hulle so bewus is van hulle foute en hulle onvolmaakthede, dat hulle eintlik bang is vir verwerping. Dat hulle onseker is of die Here wil en of Hy nie wil nie.
Dink aan jouself gou vir ‘n oomblik. Dink nou mooi. Is jy nie traag en huiwerig in jou hart voor die Here omdat jy onseker is hoe Hy regtig oor jou voel nie? Omdat jy dink Hy sal dalk ook soos daardie obsessiewe vrou, wat nie kan wag dat jy jou teekoppie moet neersit en moet vertrek, sodat Hy gou, gou, gou die koppies in kookwater kan was en gou, gou, gou net die meubels waarop jy gesit het kan ontsmet nie.
Ek het vir jou goeie nuus! Hy wil! Die melaatse man sê: “Here, as U wil..” Kan jy hoor die huiwering? “As U wil, kan U my gesond maak.” Jesus RAAK aan daardie ou vuil melaatse vel en Hy sê:””Ek wil”, Ek wil, word gesond”. God is dol daaroor om Sy hande vuil te maak. God is mal daaroor om Sy hande vuil te maak!
Ek kan dit vir jou sê met die grootste blydskap en vrymoedigheid in my hart. Mense sê: “ja maar God is Heilig, die Heiligheid van God maak dat Hy sondaars moet straf”. Nee! Kyk wat staan in Hosea 11. Daar staan in Hosea 11:9: “Ek KAN jou nie uitwis nie, Ek SAL my toorn bedwing want Ek is die Heilige wat by jou is. Ek SAL NIE met woede ingryp nie!” Kan jy sien? God sê in Hosea 11:9 ‘Ek raak aan jou, Ek wil, Ek kan sien hoe melaats jy is maar Ek sal jou nie in my toorn uitwis nie, WANT Ek is Heilig!!!!!!”
Jy sien, die Heiligheid van God beteken nie dat God op ‘n doer ver troon tienduisend kilometer van ons af sit en dat Hy so frons dat Hy omtrent nie na ons kant toe wil kyk nie. Die Heiligheid van God beteken Sy ganse ANDERSHEID in Sy Liefde. Heilig beteken anders. Hoe is Hy anders? Hy’s anders in Sy Liefde! Sy Heiligheid dien Sy Liefde. Sy Heiligheid beteken dat Hy bly is om onreine mense te herstel. Dat Hy onwaardige mense in Sy arms kan neem en hulle verander. Daar is niks wat Sy Liefde nie kan verander nie!
Volkome Liefde verander mense. Jesus sê in Matteus 5:44: “Hierin is My Vader volmaak, in Sy Liefde vir Sy vyande.” Nie in Sy Liefde vir die mense wat Hom liefhet nie, maar “in die Liefde vir Sy vyande” sê Matteus 5:44 “is My Vader Volmaak”.
God se Volmaaktheid, God se skitterende, witte Heiligheid is geleë in die feit dat Hy Sy vyande liefhet! Ek sê dit nie, Jesus het dit gesê. My vriend, God het jou lief sonder voorwaardes.
Hoe kan ‘n mens dit so seker weet? Hoe kan ‘n mens so seker weet dat God my liefhet, sonder enige voorwaardes en my antwoord daarop is, ek weet dit vanuit die grootste, grootste, grootste daad van Liefde wat Hy verrig het. Weet jy wat was die grootste daad van Liefde wat Hy verrig het?
Dit is om, terwyl jy Sy vyand was, Hy jou saak met Hom reggemaak het. Daar’s geen groter daad van Liefde nie. Nie toe jy beter geword het nie, nee, terwyl jy Sy vyand was, het Hy jou saak met Hom reggemaak! Hoor wat staan in Romeine 5:10:”Toe ons nog vyande was, is ons deur die dood van Sy Seun met God versoen”. Die dood van die Here Jesus op die kruis, IS en was jou versoening met God, wanneer? Terwyl jy nog Sy vyand was, toe jy niks met Hom te doen wou gehad het nie, het Hy jou versoen met Homself.
Versoen beteken dat ‘n verhouding wat opgemors was totaal herstel is. Dis wat versoen beteken. Wat het jou versoen? Wat het jou saak reggemaak? Jou saak is nie reggemaak deur jou geloof nie. Hy sê nie: ‘toe ons nog vyande was is ons deur ons geloof met God versoen’ nie. Hy sê: “toe ons nog vyande was is ons deur die dood van Sy SEUN versoen.” So wat het jou saak reggemaak? Nie jou geloof nie maar die kruis, en jy is daarby ingesluit my vriend!
Al wat ons geloof doen is, ons geloof ontdek dit mosterd na die maal, ons geloof bou op die feit dat die KRUIS ons reggemaak het! Ons geloof reageer op iets, wat ons uit ‘n baie betroubare bron hoor, en die bron is die Woord van God!
Jy word nie vergewe omdat jy glo nie maar jy glo dat jy vergewe IS deur Jesus se bloed. Dink aan daardie pragtige Kolossense 2 waar Paulus sê dat God jou skuldbrief met sy eise teen jou vernietig het. Daardie skuldaanklagsbrief wat jou die heeltyd aankla van al jou sondes … God het daardie aanklagstaat teen jou vernietig deur dit aan die kruis vas te spyker, en so het Hy dit vir goed weggeneem. Blaai net terug na Kolossense 1 toe, dan sien jy in Kolossense 1:21 dat Paulus sê dat deur die fisiese liggaam van Christus, deur die fisiese liggaam van Christus op die kruis, waar Hy uitmekaar geslaan is, waar die bloed Sy hele lyf afloop, waar Sy ribbebene en Sy ingewande eintlik uitsteek, daardeur het jy heilig in God se oë geword.
Is dit nie die wonderlikste boodskap wat daar is nie? Jou oë gaan absoluut oop wanneer jy ontdek dat jy ingesluit is en as jou oë oopgaan daarvoor dat jy ingesluit is, weet jy wat doen jou hart? Jou hart vertrou dit nou, jou hart sit vertroue daarop neer en dis al wat dit beteken om te glo. Jy begin Hom liefkry wanneer jy ontdek hoe lief het Hy jou gehad terwyl jy Hom gehaat het.
Geloof beteken om te glo wat God van jou glo, dat jy onskuldig is, dat die oorlog verby is. Is dit nie wonderlik nie? Dis die wonderlikste boodskap wat daar kan wees. Hoor die blye boodskap my vriend, hoor die blye boodskap!
Die Jesus wat tweeduisend jaar gelede gekom het, was ‘n sukses, ‘n briljante sukses! Nie ‘n halwe sukses omdat jy nog nie die vrug in jou eie lewe so goed kan sien nie, dis mos wat ons dink. Ons sukkel nog met hierdie sonde en ons sukkel nog met daardie sonde en ons het hierdie probleem en daardie probleem en dit wil nie regkom nie en dit en dat en al die ander. Dan dink ons dat die Here Jesus se kruisdood en opstanding was net n halwe sukses.
Ek kom verkondig aan jou in hierdie oomblikke ‘n Christus wat ‘n volkome sukses IS! In die Here Jesus se Persoon het hemel en aarde bymekaargekom!
In die Here Jesus se Persoon het die einde alreeds aangebreek. Die einde van enige afstand tussen God en mens. Die einde van skande, die einde van skuldgevoelens, die einde van veroordeling, die einde van sonde. Jy hoef nie te sit en wag nie, dit het klaar gebeur. Toe die Here Jesus Christus mens geword het in Betlehem het Hy die hele mensdom, in Sy eie verhouding met Sy Vader ingetrek. Jesus se menswees, Jesus se menswording verteenwoordig die hele mensheid, dit verteenwoordig jou ook. Daarom is Jesus se Persoon die einde van jou afstand tussen jou en God, dis die einde van jou skande, dis die einde van jou veroordeling en jou sondes. Jy hoef vir niks te sit en wag nie, jy hoef nie meer ‘n lewe te lewe van voortdurende honger en voortdurende dors nie.
Hoor die blye boodskap! Jy hoef nie ‘n lewe te hê van voortdurende geestelike honger en dors nie. Jou dors is geles, jou honger is gestil, die afstand tussen jou en God is volkome uitgewis, deur die Persoon van Jesus Christus en deur Sy kruisdood en opstanding wat Hy in jou plek verrig het. Glo die evangelie!
Kom ons bid net saam:
Here, ons het U heldere, bevrydende, lieflike Woord gehoor. Here, U Gees praat so deur hierdie Woord en hierdie Woord Here, is werklik ‘n blye boodskap wat ons mag omhels in die geloof. Elke mens wat dit nou gehoor het oor hierdie radio mag dit omhels in die geloof. Seën dan ryklik elkeen wat hierdie Woord van bevryding gehoor het. Om Christus ontwil. Amen