TAFELBERG GEMEENTE Reeks oor gelykenisse nr 7
Tema: Die koninkryk is hier! Al lyk dit nie so nie
Skrif: Matteus 13: 24-43
Het u ook al uself betrap dat u soms effens kriewelrig/geïrriteerd raak met die Here se manier van doen? Waarom is dit byvoorbeeld dat Jesus uit die dood opgestaan het, maar die duiwel maak steeds moeilikheid so ver as wat hy gaan? Waarom is die duiwel nie uitgewis nie? Waarom bely ons die opstanding van Christus, maar die wêreld is steeds deurmekaar? Hoe moet ’n mens dit rym? Waarom is dit so dat die Here oënskynlik nie gebed hoor nie? Waarom: So lank wag? Waarom gebeur daar so min dinamiese dinge?
Jesus se volgelinge het net so kriewelrig geraak met Sy optrede. Hy was soms net té gelate, té rustig, té oop, té sag, té genadig na húlle sin! Hulle sou graag wou sien dat Hy sterker, fermer, meer beslis optree. Daar was ’n stuk spanning tussen dít wat die ménse verwag het van die koninkryk van die Here EN die eenvoudige, nederige manier waarop Hý opgetree het. Hy was net té sag en passief om die Verlosser te kon wees – na hulle gevoel. Hoekom vee Hy nie die ongelowiges in die see nie? Hoekom laat Hy nie vuur val op die dorpe en stede wat Hom verwerp nie? U sien: die geïrriteerdheid wat óns soms ervaar, het húlle reeds ervaar. Hulle kon nie verstaan wátse “koninkryk vd hemele” is dit dan wat so swak lyk nie!! Dit is waarom die Heiland hierdie gelykenisse vir hulle (en vir ons) vertel het. Om hulle (en ons) beter te laat verstaan hoe die koninkryk vd hemel werk. Om duidelik te maak: Die koninkryk IS regtig hier, al voel/lyk dit nie altyd so nie. Dit is die tema van vanoggend se preek… 4 indelings…
a) Laat ons in die eerste plek sien… >> hoe geweldig klein & gering die koninkryk begin. Ons Here Jesus skets drie beelde: ’n Saaier wat maar net die saad saai. ’n Piepklein mosterdsaadjie (byna onsigbaar: 1 mm). ’n Bietjie suurdeeg wat in meel /deeg gemeng word. Niks triomfanklik nie. Eintlik heel gewoon. Dit is waarom Jesus – uit die oogpunt van die mense – té sag lyk vir die groot mag waaroor Hy beskik en waarom Hy oënskynlik toelaat dat die Fariseërs Hom vertrap.
Dit is egter geen rede om aan Hom te twyfel en in ongeloof van Hom af weg te bly nie. Want, die koninkryk wérk só! Die koninkryk is nie ’n kant-en-klaar pakket wat uit die hemel geval het nie. Dit word gaandeweg gebou – uit ménse. Allerlei soorte mense — mense wat nog tot geloof moet kom, wat nog deur onkunde gebind is, wat nog moet groei, wat nog moeisaam moet leer wat dankbaarheid is. Die mosterdsaadjie wórd ’n boom. Die suurdeeg neem tyd om die deeg te deursuur. Die koninkryk word langsaam gebou deur ’n Saaier wat met groot geduld goeie saad saai binne ’n bose wêreld – en sodoende God se skure (silo’s) volmaak.
b) Laat ons nou in die tweede plek sien… >> dat die koninkryk WÉRKLIK hier is. Ons moet ons nie laat mislei deur die geringe manier waarop die koninkryk begin nie, en ons dáárteen blindstaar nie! Ons moet ons nie laat mislei deur dit wat ons ervaar/voel/rondom ons sien/wat mense sê nie. Ons moenie toelaat dat DIE BURGER en TV die werklikheid vir ons bepaal nie. Dán voel dit vir ’n mens asof jy net ’n slagoffer is van allerhande goed wat jou van buite af oorval —- goed waaraan jy niks kan doen nie. Ons moenie dit toelaat nie. Die Waarheid is die Woord van God! En, die Woord sê dat die Here se koninkryk reeds hier is, omdat Jesus gekom het. Let baie mooi daarop: Al is dit hóé gering, die Saaier is besig om die goeie saad te saai. En die Saaier is Christus self. Die feit dat Hy gekom het (en opgestaan het uit die dood) bevestig die feit dat die koninkryk reeds hier is. Die koringkorrels is gesaai, die mosterdsaadjie is geplant, die suurdeeg is ingewerk in die deeg. Dit lyk dalk asof daar niks aangaan nie, maar dit is daar. Omdat Jésus daar is!! Ons is nie magtelose slagoffers van allerhande goed wat ons oorspoel en waarvan die koerante verslag lewer nie. God se hemelryk het gekom!
c) Laat ons derdens sien… >> hoe geduldig die Saaier is. Die saaier is nie die enigste een wat saai nie. Die satan saai ook – onkruid (((letterlik in Grieks: ’n Giftige onkruid wat aanvanklik nes koring lyk — wortels verstrengel later met koring s’n: Dolik)))). Oral waar die Here ’n gemeente oprig, slaan die vyand sy pondokkie langsaan op. Dit is geen fiksiestorietjie nie – dit is ’n realiteit. Met die gevolg dat daar massas mense is wat in hul ongeloof en onbekeerdheid en verharding bly voortleef.
Ai, hoe graag sou ons wou hê dat die Here nou reeds van die ongeloof ontslae moet raak of die onkruid in koring moet verander. In die gelykenis hoor ’n mens die slawe se verontwaardiging: Hóékom moet daar onkruid tussen die koring staan? Laat ons dit sommer nou uittrek! Maar, hoe trek jy hom uit as jy nie behoorlik kan sien wat onkruid is en wat nie. En, as die wortels verstrengel is. Netnou beskadig jy die koring. Los maar liewer die onkruid tot by die oes.
Sien u die Saaier se eindelose geduld? Watter boer sal só boer? Die onkruid tussen die koring los? Maar kyk mooi: Eintlik gaan dit vir hierdie Boer slegs oor die goeie plante. Húlle moenie beskadig word nie. Die oënskynlike sagtheid van die Saaier is glad nie magteloosheid nie – dit is genade. Hy wil die koring bewaar tot by die oes. Hy is bereid om te lý onder die vyand t.w.v die koring. Hy duld opposisie t.w.v. die behoud van die koring. Hy wil die onkruid in koring verander.
U weet, wanneer ’n mens se oë vir hierdie dinge oopgaan, dan verander jou eie houding teenoor die kerk. Jy begin sélf meer geduldig/lankmoedig word met mense. Jy verloor jou lus om altyd te wil oordeel oor ander. Want, jy kan dalk onkruid vir koring aansien en koring vir onkruid aansien en in die proses die ware koring beskadig. Dit beteken nie dat ons maar net almal as Christene beskou en nie ‘n passie het om uit te reik met die evangelie nie. Ons weet dat verreweg die meeste mense is nie koring nie. Maar dit beteken wel dat ons nie meer veroordeel nie. Indien jy dan moet oordeel, oordeel jy eerder jouself/ eie lewe. Doen liewer sélfondersoek….
d) Ek wil ’n 4de indelinkie maak sodat u uit die gelykenis kan sien… >> op wat ’n geweldige EINDE die koninkryk afstuur. Staan soos ’n paal bo water. Daar kom verseker ’n dag van oes. Hierdie Jesus, wat soms so ság lyk en wat soms dinge doen wat ons nie verstaan nie, Hy werk met ’n doelgerigte plan. Hy werk na die oestyd toe. Ondanks die satan en ondanks die onkruid, sal Christus se graanskure nie leeg bly nie. Daarvoor sorg Hysélf. Die satan is nie ’n godjie nie. Hy domineer nie. Die Saaier (wat so swak gelyk het) sal die Een wees wat op die Troon klim en wat koring en onkruid sal skei. Hý wat so verdraagsaam was, sal die Regter van hemel en aarde wees. Let op die woordjie SAL: Dit is absoluut seker. Die fokus sal egter nie wees op die vernietiging van die onkruid nie, maar op die verheerliking van die koring – die gelowiges. Dit is waaroor alles ten diepste gaan. Geen ware gelowige, wat alleen op Christus se dood & opstanding vertrou het, sal per ongeluk verlore gaan OF vir onkruid aangesien word nie. Daarvoor sorg Hy wat self die goeie saad gesaai het, en ook eiehandig sal oes.
Hoe wonderlik is die sekerheid waarmee ’n kind van die Here mag leef : Ons lewe nog in die tyd van die Here se geduld. Maar, ons moenie Sy geduld misbruik nie. Ons moet glo: Die koninkryk is reeds hier – al lyk dit nie altyd so nie. Dan tree ons op soos koringmense en nie soos onkruid nie.