TAFELBERG GEMEENTE Reeks oor gelykenisse nr 4
Tema: Die koninkryk is hier! Al lyk dit nie so nie
Skrif: Matteus 13: 24-43
Het u ook al uself betrap dat u soms effens kriewelrig/geïrriteerd/ongemaklik raak met die Here se manier van doen?
Waarom is dit byvoorbeeld dat Jesus mens geword het in Betlehem, gesterf het en uit die dood opgestaan het, maar die duiwel maak steeds moeilikheid so ver as wat hy gaan? Waarom is die duiwel nie uitgewis nie? Waarom bely ons die opstanding van Christus, maar die wêreld is steeds so erg deurmekaar? Waarom vier ons Kersfees en juig oor die vrede van Kersfees, maar sien ons so min daarvan wanneer ons rondom ons kyk? Hoe moet ’n mens dit rym? Waarom is dit so dat die Here oënskynlik nie gebed hoor nie? Waarom: So lank wag? Waarom gebeur daar so min dinamiese dinge?
Jesus se volgelinge het destyds net so kriewelrig geraak met Sy optrede. Hy was soms so onverstaanbaar. Wanneer iemand dodelik siek is, bly Hy met opset weg. Hy was soms net té gelate, té rustig, té oop, té sag, té genadig na hulle sin! Hulle sou graag wou sien dat Hy sterker, fermer, meer beslis optree. Hulle sou graag wou sien dat Hy mense ewiglik vernietig, maar Hy praat van die één uit honderd skape wat gesoek en gesoek en gesoek sal word tótdat ál 100 in die kraal is! Hulle wil hê Hy moet dankbaar wees oor die 99, maar Hy soek na die één! (Luk 15:4).
Daar was ’n stuk spanning tussen dít wat die ménse verwag het van die koninkryk van die Here EN die eenvoudige, nederige manier waarop die Here Jesus opgetree het. Hy was net té sag en soms passief om die Verlosser te kon wees – na hulle gevoel. Hoekom vee Hy nie die ongelowiges in die see nie? Waarom laat Hy nie vuur val op die dorpe en stede wat Hom verwerp nie? (Luk 9:54-55). Hoe kan Hy ‘n owerspelige vrou wat nie eens berou het oor haar dade nie sommer net so vryspreek – sommer net so maklik vee Hy al haar sonde van die tafel af!! (Joh 8:11).
U sien: die geïrriteerdheid/ongemak wat óns soms met die Here se optrede ervaar, het húlle reeds ervaar.
Hulle kon nie verstaan wátse “koninkryk vd hemele” is dit dan wat so swak lyk nie!!
Dit is waarom die Heiland hierdie gelykenisse vir hulle (en vir ons) vertel het. Om hulle (en ons) beter te laat verstaan hoe die ratwerke van die koninkryk vd hemel werk. Om duidelik te maak: Die koninkryk IS regtig hier, al voel/lyk dit nie altyd so nie. Dit is die tema van vanoggend se preek… 4 indelings…
a) Laat ons in die eerste plek sien.. >> hoe geweldig klein & gering die koninkryk begin.
Ons Here Jesus skets drie beelde: ’n Saaier wat maar net die saad saai. ’n Piepklein mosterdsaadjie (byna onsigbaar: 1 mm). ’n Bietjie suurdeeg wat in meel /deeg gemeng word.
Niks triomfanklik nie. Eintlik heel gewoon.
Dit is waarom Jesus – uit die oogpunt van die mense – té sag lyk vir die groot mag waaroor Hy beskik en waarom Hy oënskynlik toelaat dat die Fariseërs en diegene wat Hom verwerp, Hom vertrap.
Dit is egter geen rede om aan Hom te twyfel en in ongeloof van Hom af weg te bly nie. Want, die koninkryk wérk juis só!
Die koninkryk is nie ’n kant-en-klaar pakket wat uit die hemel geval het nie. Dit word gaandeweg gebou – uit ménse. Dit ontwikkel – uit allerlei soorte mense — mense wat nog tot geloof moet kom, wat nog deur onkunde gebind is, wat nog nie verstaan nie, wat nog moet groei, wat nog moeisaam moet leer wat dankbaarheid is. Die mosterdsaadjie wórd ’n boom. Die suurdeeg neem tyd om die deeg te deursuur. Die koninkryk word langsaam gebou deur ’n Saaier wat met groot geduld goeie saad saai binne ’n bose wêreld – en sodoende God se skure (silo’s) volmaak.
Die koninkryk begin op ‘n baie klein en geringe manier…
b) Laat ons nou in die tweede plek sien.. >> dat die koninkryk WÉRKLIK hier is.
Ons moet ons nie laat mislei deur die geringe manier waarop die koninkryk begin nie, en ons dáárteen blindstaar nie! Ons moet ons nie laat mislei deur dit wat ons ervaar/voel/rondom ons sien/wat mense sê nie. Ons moenie toelaat dat die koerant en TV die werklikheid vir ons bepaal nie. Dán voel dit vir ’n mens asof jy net ’n slagoffer is van allerhande goed wat jou van buite af oorval —- goed waaraan jy niks kan doen nie. Ons moenie dit toelaat nie. Die Waarheid is die Woord van God! En, die Woord sê dat die Here se koninkryk reeds hier is, omdat Jesus gekom het. Let baie mooi op hierdie woorde: Omdat JESUS hier is, is die koninkryk hier!
Kyk hierna: Al is dit hóé gering, die Saaier is besig om die goeie saad te saai. En die Saaier is Christus self. Die feit dat Hy gekom het (en opgestaan het uit die dood) bevestig die feit dat die koninkryk reeds hier is. Die koringkorrels is gesaai, die mosterdsaadjie is geplant, die suurdeeg is ingewerk in die deeg.
Ja dit lyk asof daar niks aangaan nie, maar dit is daar. Omdat Jésus daar is!!
Ons is nie magtelose slagoffers van allerhande goed wat ons oorspoel en waarvan die koerante verslag lewer nie. God se hemelryk het gekom!
c) Laat ons derdens sien… >> hoe geduldig die Saaier is.
Die saaier is nie die enigste een wat saai nie. Die satan saai ook – onkruid (((letterlik in Grieks: ’n Giftige onkruid wat aanvanklik nes koring lyk — wortels verstrengel later met koring s’n: Dolik))).
Oral waar die Here ’n gemeente oprig, slaan die vyand sy pondokkie langsaan op. Dit is geen fiksiestorietjie nie – dit is ’n realiteit. Met die gevolg dat daar massas mense is wat in hul ongeloof en onbekeerdheid en verharding bly voortleef.
Ai, hoe graag sou ons wou hê dat die Here nou reeds van die ongeloof ontslae moet raak deur dit in geloof te verander of die onkruid in koring moet verander. In die gelykenis hoor ’n mens die slawe se verontwaardiging: Hóékom moet daar onkruid (alles in ons wat téén die koninkryk is) tussen die koring (alles in ons wat uit die geloof in die Evangelie is) staan? Laat ons dit sommer nou uittrek! Maar, hoe trek jy dit uit as jy nie behoorlik kan sien wat onkruid is en wat nie. En, as die wortels verstrengel is. Netnou beskadig jy die koring. Los maar liewer die onkruid tot by die oes.
Sien u die Saaier se eindelose geduld? Watter boer sal só boer? Die onkruid tussen die koring los?
Maar kyk mooi: Eintlik gaan dit vir hierdie Boer slegs oor die goeie plante. Dít moenie beskadig word nie. Die sagtheid van die Saaier is glad nie magteloosheid nie – dit is roekelose genade. Hy wil die koring bewaar tot by die oes. Hy is bereid om self te lý onder die vyand t.w.v die koring. Hy duld opposisie t.w.v. die behoud van die koring. Hy wil nog die onkruid in koring verander. Hy is besig om van vyande vriende te maak.
U weet, wanneer ’n mens se oë vir hierdie dinge oopgaan, dan verander jou eie houding teenoor ander mense. Jy begin sélf meer geduldig/lankmoedig word met mense. Jy verloor jou lus om altyd te wil oordeel oor ander. Want, jy kan dalk onkruid vir koring aansien en koring vir onkruid aansien en in die proses die ware koring beskadig. Indien jy dan moet oordeel, oordeel jy eerder jouself/ eie lewe. Doen liewer sélfondersoek..om duideliker en duideliker te SIEN dat Hy alreeds die onkruid uit jou lewe verwyder het.
d) Ek wil ’n 4de indelinkie maak sodat u uit die gelykenis kan sien… >> op wat ’n geweldige EINDE die koninkryk afstuur.
Kyk dit staan soos ’n paal bo water. Daar kom verseker ’n dag van oes. Hierdie Jesus, wat soms so ság lyk en wat soms dinge doen wat ons nie verstaan nie, werk met ’n doelgerigte plan. Hy werk na die oestyd toe. Daar kom ‘n dag wanneer ALLES herstel sal word (Hand 3:21) – ALLES wedergebore sal word (Mat 19:28). Ondanks die satan en ondanks die onkruid, sal Christus se graanskure nie leeg bly nie. Daarvoor sorg Hysélf. Die satan is nie ’n godjie nie. Hy domineer nie. Die Saaier (wat so swak gelyk het) sal die Een wees wat op die Troon klim en wat koring (vrug vd geloof) en onkruid (vrug van ongeloof) skei. Alles wat onkruid binne-in ons was, sal verteer word. Die vuur dien immers as sout (Mark 9:49). Alles binne-in die mens wat uit die sondeval gebore is, sal ewiglik brand. Maar die koring – alles binne-in die mens wat die vrug van Christus se verlossingswerk is – sal in Sy skure versamel word. Die hout/hooi/stoppels word geskei van die goud/silwer/kosbare stene sodat die mens deur vuur heen gered word (1 Kor 3). In die Dag van die Here sal die vlees verteer word sodat die gees behoue bly (1 Kor 5:5). Hý wat so verdraagsaam is, is ook die Regter van hemel en aarde. Let op die woordjie IS: Dit is absoluut seker. Sy oordele sal ‘n transformasie meebring wat die mensdom nog nooit gesien het nie. Hy gaan álles nuut maak (Open 21:5). Daarom moet Sy oordele geprýs word, sê Psalm 96:11. Dit gaan goeie uitkomste bring.
Die fokus sal egter nie wees op die vernietiging van die onkruid nie, maar op die verheerliking van die koring – die vrug van Jesus se verlossingswerk in Sy mense se lewens. Dit is waaroor alles ten diepste gaan. Geen gelowige, wat alleen op Christus se dood & opstanding vertrou het, sal per ongeluk vir onkruid aangesien word nie. Niks wat binne-in die mens is – wat die vrug is van Christus se verlossingswerk, sal per ongeluk vir onkruid aangesien word nie! Daarvoor sorg Hy wat self die goeie saad gesaai het, en ook eiehandig sal oes.
Hoe wonderlik is die sekerheid waarmee ’n kind van die Here mag leef : Ons lewe tans nog in die tyd van die Here se geduld. Maar, ons moenie Sy geduld misbruik nie. Ons moet volhardend glo: Die koninkryk is reeds hier – al lyk dit nie altyd so nie. Dan tree ons op soos koringmense – vanuit die perfekte werk wat Jesus se verlossingswerk in/met ons verrig het (gees/koring) en nie soos onkruid – vanuit ongeloof en opstand (vlees/onkruid) nie.
Dis die mense wat op grond van die getuienis van die Skrif & op grond van die mensgeworde Christus, met geopende geestelike oë kyk en sien dat die koninkryk reeds hier ís – dis húlle wat soos koringmense leef binne-in die huidige deurmekaar wêreld. Daardie tipe koring – wat vanuit geloof in die Skrif en Christus se verlossingswerk binne-in ons gegroei het, sal nooit verbrand word nie, maar in God se ewige skure versamel word. En hoe dankbaar moet ons wees dat al die hout/hooi/stoppels uit ons uitgebrand sal word en ons vir ewig daarvan bevry sal wees! Dit is waar en dit is seker!! Amen.