TAFELBERG GEMEENTE REEKS OOR DIE GELYKENISSE NR 1
TEMA: LEEF UIT WOORDE VAN VRYSPRAAK
SKRIF: LUKAS 18: 9-14
In ’n erediens soos vanoggend s’n, lyk ons almal (na die uiterlike geoordeel) soos opregte Christusgelowiges. Ons sien egter net die uiterlike. Niemand van ons kan/mag oor die ander se hart/binneste oordeel nie. Óf daar werklik vertroue is wat op Christus bou, kan niemand sien nie. Dit is verborge. Daarom aanvaar ons dit wanneer iemand met die mond voor baie getuies bely dat hy/sy die Evangelieboodskap omhels en daaruit leef.
Wat is die Evangelieboodskap nou weer? Dat Gód die verhouding tussen jou en Hom reggemaak het op die kruis (Rom 5:10). Kant en klaar. Geloof begin om dít te sien en daaroor te juig. Geloof skep niks. Geloof ontdek wat klaar geskep is!
Ons sien iets hiervan in die gelese gelykenis.
Twee mense wat in die kerk is. Uiterlik lyk albei soos kinders van die Here – mense wat die Blye Boodskap ontdek het. Maar, die Here wys vir ons die verborge fokuspunt van hulle vertroue. Hulle hart. Die een stap as ‘n vrygespreekte (as verloste) uit die kerk uit. Die ander een stap in selfopgelegde ongeloof en duisternis uit die kerk. Die een stap uit die kerk uit met volle sekerheid oor die ewige lewe en die ander met ónsekerheid oor die ewige lewe.
Die groot skok is: Die een in duisternis nie dié een wie almal (wat na Jesus geluister het) gedink het wat in ongeloof leef nie. En, die een wat vrygespreek is, is ook nie die een wie almal gedink het verlos is nie!!
Wat ’n reusagtige skok!
Uiterlik gesien lyk dit of die Fariseër die een is wat uit sy vryspraak/redding leef (verloste kind van God) is. Uiterlik gesien lyk dit of die Tollenaar in duisternis is.
Dit is tog net 100% logies: Die Fariseër leef tog voorbeeldig. Hy sien alles in sy lewe as ’n gawe van die Here. Hy vermy die sonde. Die Tollenaar, daarenteen, is ’n openlike dief. Hy steel mense se geld.
Maar, wanneer die lewende Here na die saak kyk, is dit net mooi andersom!! Dit is die skok!
Die skokkende is nie dat die tollenaar sy vryspraak ontdek en begin glo nie. Hy wás immers ’n gruwelike sondaar. As daar nou iemand was wat kop-onderstebo móés staan – té skaam om op te kyk – en God se genade biddende begin glo, dan wás dit juis hý! Die groot skok is nie dat die tollenaar gebroke is voor God en vergifnis as vrye geskenk ontvang nie. Die groot skok is dat die Fariseër nie nog méér vrygespreek is as die tollenaar nie. Dit is immers wat ons logika verwag. Die Fariseër het tog ’n baie beter lewe geleef as die tollenaar. As die Tóllenaar vrygespreek word, moet die Fariseër mos 100X méér vrygespreek word.
Maar, wat sê Jesus?? Die Fariseër ontdek GLAD NIE sy vryspraak en verlossing en kindskap nie! En dit terwyl hy so ’n wonderlike goeie mens is!
Ons moet tog nie dink dat die Fariseërs slegte mense was nie. Ons het soms ‘n verkeerde prentjie van hulle in ons gedagtes. Hulle was ontsettend ernstig in hulle godsdiens. Hulle het probeer om nougeset te leef. Hulle het probeer om uiterlike sondes te vermy. Hulle het probeer om méér te doen as wat van hulle verwag was: Byvoorbeeld om ekstra vasdae te hou: Op Maandae en Donderdae te vas. Hulle was ook nie trots & hoogmoedig op hulle goeie lewens nie. Hulle het dit as gawes van die Here gesien. Kyk net hoe dank hierdie Fariseër die Here vir alles! Hy leef so opreg uit die Here se hand… In Filip 3 sê Paulus van homself as gewese Fariseër, dat hy – as Fariseër – só onberispelik gelewe het, dat, indien hy dáárdeur gered kon word, hy met vlieënde vaandels gered sou word.
As die slegte Tollenaar – wat mense beroof het & onregverdige rentegeld afgepers het – net deur ‘n simpele gebedjie sy verlossing as ‘n vrye geskenk ontdek en vertrou – en bewustelik as vrygespreekte uitstap – DAN MOET DIE GOEIE FARISEËR MOS 100X MÉÉR GEREGVERDIG WORD!!
En tog werk dit nie so nie…..
Wat is dit dan wat die verskil tussen sekerheid-van-die-ewige-lewe EN onsekerheid-van-die-ewige-lewe maak? Wat maak die verskil tussen redding en duisternis? Wat het die verskil tussen hierdie twee kerkgangers gemaak?
As dit nie jou goeie voornemens is wat die verskil maak nie, as dit nie jou erns is nie, as dit nie jou heiligheid is nie, as dit nie is dat jy alles (die hele lewe) as gawes van die Here erken nie, as dit nie is dat jy béter as ander probeer leef nie, as dit nie jou passie en toewyding is nie… as dit nie jou GELOOF is nie…….. WAT IS DIT DAN? Wáárvan wil Nicolene en Wilmari kom getuig – wát het hulle ontdek? Hulle kom baie beslis nie getuig DAT hulle glo nie!!! Hulle kom getuig WAT hulle glo!!! En daar is ‘n reuse verskil!
Die verskil was dat die tollenaar slégs wou vaskleef aan die woorde van vryspraak wat uit Jésus se mond kom. Hy het geen selfvertroue op sy eie meriete nie. Ook nie op sy geloof nie. Hy kyk heeltemal weg van homself, na Jesus! Die kosbaarste skat in sy besit was Jesus se woorde van genade: “Ek het jou skuld van A-Z 100% betaal”. Dááraan het hierdie kerkganger soos ’n parasiet vasgekleef.
Terwyl die Fariseër ánder dinge belangriker/ewe belangrik geag het as Christus se genadewoorde. Natuurlik was Christus se genadewoorde belangrik, maar dit moes aangevul word. Sy eie geestelike inspanning / godsdienstige erns / sy vroomheid / hoe hy hom bekeer het, het – na sý gevoel – bietjie meer gewig gedra.
Dit is altyd weer die gees & gesindheid van die fariseër in ons almal se harte: Ons sê so maklik dat ons slegs van genade leef, maar diep in ons harte dink ons tog maar dat dit ons eie godsdienstigheid is wat EINTLIK finaal die ding doen. Óns passie, erns, oorgawe, keuse, beslissing, ONS GELOOF….. DIT haak EINTLIK die knoop deur….. Ons praat van genade, maar diep in ons harte dink ons dit is eintlik ons geloofsbeslissing wat die knoop deurhaak.
Maar, kyk ’n bietjie mooi na die soort beslissing wat die tollenaar maak: Hy kom tot rus in die beslissing wat CHRISTUS oor hóm fel: “Ek het jou skuld betaal”. Al waaruit die tollenaar wil leef, is uit die genadewoord van die Here. Al waarop hy hom kan beroep is die genade van die Here soos dit op Golgota konkreet gestalte gekry het.
Die Skrifgedeelte wil ons vanoggend indringend en reguit vra: Waarop vertrou u & ek ten diepste vir ons saligheid? Almal van ons vertrou tog op iets. Die meeste mense vertrou op hulle geloof. Hier in die erediens lyk almal uiterlik baie goed. Maar, die gelykenis ondersoek ons hart. Dít waarop ons vertrou vir die ewigheid. Klou ons werklik soos parasiete vas aan Christus se woorde van vryspraak? Of voel ons dit is effentjies te min, te lig? Voel ons daar moet dalk nog iets bykom by Jesus se kruisdood, Sy opstanding, Sy plaasvervangende meriete? Wel, dit is die gees van die Fariseër. Daarmee moet ons finaal breek. Ons moet ten ene male leer om ons vertroue te vestig slégs op die woorde van vryspraak uit Jesus se mond.
Nicolene en Wilmari julle kom vanoggend openlik bely dat julle soos parasiete vaskleef aan Christus se belofte dat Sy kruisdood julle perfek met God versoen het. Dié belofte wat Hy by julle doop reeds aan julle op julle naam swart op wit verseël het. Nou bely julle dat die Heilige Gees julle daartoe gebring het om julle vertroue op daardie belofte neer te sit.
Die Fariseër-gees wat in alle mense se binneste skuil – en wat ook in julle skuil – sal altyd probeer om julle te wil wys maak dat die Here Jesus se kruisbloed nie genoeg is vir julle volkome verlossing nie. Teen hierdie aanslag sal julle moet strý – lewenslank. Dis die goeie stryd van die geloof – om daagliks weg te draai van die Fariseër-gees in jou binneste ná die Blye Boodskap van volkome verlossing deur Christus Jesus se kruisverdienste alléén!