GELOFTEDIENS 2013
Tema: Die aanstoot van die Evangelie
Skriflesing: Matteus 11: 2-6
___________________
16 Desember 1838 was ’n Sondag. Opstandingsdag. Die dag waarop Christus se kerk Sy oorwinning oor die dood vier – soos elke Sondag gedoen word.
Maar, wat ’n onbeskryflike paradoks/teenstrydigheid: Op dáárdie Sondag was dit oorlog en bloedvergieting toe Afrikaner en Zoeloe tot die dood toe teen mekaar veg.
Terwyl Jesus se oorwinning oor die dood – op die Sondag – gevier word, maak ménse mekaar dood.
Op Sondag 16 Des 1838 was Jesus se oorwinning & versoening gevier – ja – dit was immers Sóndag – maar helaas: daar was geen sigbare versoening tussen mens en mens sigbaar nie. Dít is die skreiende ironie wat aan 16/12/1838 kleef.
Om dit nog erger te maak sien ons hoeveel politiek (waarskynlik ten onregte) gedurende latere jare van die Slag v Bloedrivier gemaak is. So asof dit oor ’n rassekonflik gegaan het en die Here die een rás bó die ander rás gaan bevoordeel het. So asof dit nie gegaan het oor geloofsvertroue van die Here se mense nie – wátter ras hulle ookal was! En, dit alles vind plaas op die SONDAG en vlak voor KERSFEES wat spreek van Christus se VREDE.
Wat ‘n vreeslike skerp kontras!
Die teenstrydigheid sny soos ’n lem – sodat ’n mens byna in ‘n stuk vertwyfeling wil verval wanneer jy daaroor nadink. ’n Mens dreig om in vertwyfeling te verval en te vra: Wáár is die krag van die bevrydende evangelie dan?
Ja ons wil graag glo dat die Here God wonderbaarlik Sy kinders se gebed verhoor het. Maar nogtans kleef die teenstrydighede so erg aan die Slag van Bloedrivier dat ’n mens maklik in vertwyfeling kan verval by die nadink daarvan.
’n Twyfel wat iemand soos Johannes die Doper goed geken het toe hy vanuit die tronk – waar hy onskuldig gesit het a.g.v. sy ywer vir die koninkryk v God – vir Jesus ’n vraag gevra het – die gevaarlikste vraag in die hele Bybel — IS Ú DIE EEN WAT SOU KOM, OF MOET ONS ‘N ANDER EEN VERWAG?
Byna soos ’n mens voel wanneer jy aan Bloedrivier – met sy teenstrydighede – dink: IS Jesus die Een wat sou kom?? Dit is soos ’n mens voel wanneer dit wat jy ervaar/beleef vlóék teen die VREDE van Kersfees. Waar mense mekaar – ná gebed – doodmaak in die Here se Naam op die Sondag en vlak voor Kersfees.
Dis darem verbasend dat juis iemand soos Johannes die Doper in só ’n vertwyfeling kon val. Hý wat met sy skerp oë dwarsdeur alle skyn kon kyk. Hý wat met soveel oortuiging met die vinger vir Jesus kon aanwys as die Lam v God. Hý wat so ’n onverskrokke verkondiger van die koninkryk was! Hý wat nie gehuiwer het om koning Herodes se sondes uit te wys nie – soveel so dat dit hom sy eie lewe sou kos.
Hierdie kaliber man raak verstrengel in ’n vraag wat sy hele lewe onder ’n vraagteken plaas. Want sy ganse bestaan het om die Messias gedraai. Vergis hy hom t.o.v. Jesus, is sy hele lewe ’n vergissing!! Net soos elke gelowige se ganse lewe in ’n krisis kom met hierdie vraag. Gestel Jesus is NIE die Lewe nie, ís daar dan nog iets om voor te lewe? Gestel Jesus is NIE die weg nie, waarheen gaan ons dan? Gestel Jesus is NIE die waarheid nie, dan is die lewe ’n feeverhaaltjie wat deur ’n idioot ontwerp is – soos Shakespear vir Macbeth laat sê.
Dan stuur Jesus vir Johannes ’n antwoord.
Maar, ag tog: Dit is ’n baie vreemde antwoord. Jesus laat weet vir Johannes dit wat hy alreeds weet. Hy laat weet vir Johannes dat hy moet let op al die dinge wat Hy {Jesus} doen. Maar, volgens Mat 11:1 was dit juis die dinge wat Jesus gedoen het, wat Johannes laat twyfel het. Want Johannes het ’n meer gespierde Messias verwag – ’n forse bevryder wat die kaf verbrand en met die byl kap en die gespuis opruim.
Maar wat doen Jesus? Hy genees mense en Hy verkondig aan armes die blye boodskap. Dis ’n vreemde vrede wat Jesus bring. Hierdie vrede is nie maar net ’n pouse-tydjie in die oorlog nie. Dit is die radikaal teenoorgestelde van oorlog – naamlik liefde vir jou ergste vyand.
Dit was die oorsaak van Johannes se twyfel: Die oënskynlike teenstrydigheid/weerspreking wat hy by Jesus opmerk. Pleks van ’n gespierde Verlosser wees, praat Jesus van vyande liefhê! Wat ’n teenstrydigheid!!
Verstaan u waarom ’n mens so maklik aanstoot neem aan hierdie Jesus? Daarom is hierdie Vredevors nie gekroon met die Nobelprys vir vrede nie, maar met ’n doringkroon. ’n Magtelose gekruisigde verlosser! Dít is nou iets teenstrydig waaraan ’n mens aanstoot kan/sal neem.
Soveel so dat Jesus op Golgota ’n nóg baie meer vreemde en gevaarlike vraag as Johannes gevra het toe Hy uitroep: My God, My God, waarom het U my verlaat? Op daardie oomblik klink dit asof Jesus Homself nie herken as die Een wat sou kom nie. Dis asof Hy vra: “Is EK die Een wat sou kom?” Maar op die Sondagoggend by die oop graf antwoord Sy Vader: JA! U is die Een wat sou kom! JA!! JA!!
En 50 dae later – Pinkster – is die Gees van die gekruisigde Vredevors van anderkant die dood uitgegiet op hierdie wêreld. En waar die Gees beslag lê op mense, word iets van Sy vreemde vrede sigbaar MIDDE-IN hierdie vreeslike wêreld. Sy gelowige kinders – die mense wat glo dat Jesus se dood en opstanding hulle gered het van die duisternis – húlle word die vredemakers! Hulle is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld. Sónder hulle, word die aardse lewe ’n stuk hel, want hulle sorg daarvoor dat iets van die hemel nou reeds op aarde sigbaar word. Hulle is die mense wat veg teen vyandskap en wat oorlog verklaar teen oorlog en wat alle haat háát. Volgens Matteus 5 is HULLE ook die mense wat honger en dors na dit wat REG is. Hulle dors na geregtigheid. Dit beteken geregtigheid tussen mense. Want waar geregtigheid tussen mense heers, is daar ook vrede. Dit is 2 kante van dieselfde munt. Maar, omdat ’n geveg vir vrede & geregtigheid ’n stryd teen die stroom is, beteken dit selfverloëning, verguising, beledigings en belastering. Die vredemakers wat beheers word deur die Heilige Gees, is daarom ook die mense wat treur, maar wat deur die Here vertroos word (Mat 5:4). Daarom veg hulle met vreugde, want hulle word vertroos.
En op hierdie manier, rig die gelowiges TEKENS op in die wêreld – in die krag van die Heilige Gees. Tekens van HOOP. TEKENS van die koninkryk van God wat NABY gekom het. TEKENS van God se vrede wat gekom het. TEKENS dat God se nuwe aarde in aantog is.
En dit is na hierdie tekens wat Jesus vir Johannes die Doper verwys in sy twyfel. Juis die tekens wat daartoe gelei het dat Johannes begin twyfel het, was die tekens wat hom hoop moes gee. Sy oë moes net daarvoor oopgaan.
Ook 16 Desember kan só ’n teken wees. 16 Desember/Bloedrivier, wat vir ons dikwels so teenstrydig lyk.
Pleks van ’n teenstrydigheid, pleks van iets waaroor mense politiek maak, kan 16 Desember ’n teken van hoop wees.
16 Desember kan ’n teken van hoop wees wanneer die nageslagte van Afrikaner en Zoeloe nóú – 175 jaar ná Bloedrivier – daarvan blyke kan gee dat die bloed van Bloedrivier nie meer ’n muur van skeiding tussen hulle maak nie, omdat die bloed van Golgota reeds VREDE gemaak het – vrede met God en met mekaar.
DAN is 16 Desember nie ’n teken van teenstrydighede nie, maar is 16 Desember soos ’n Sondag – ’n teken van die oorwinning van die opstanding uit die dood – wat Jesus behaal het en wat mense hartstogtelik GLO – Afrikaners én Zoeloes.